Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Oorlogskorrespondente by die Boere
Boerepropaganda, gesaboteerde kabels en geheime drukperse.
Daar was heelwat minder oorlogskorrespondente by die Boeremagte in die Anglo-Boereoorlog as wat daar by die Britse leër was, waaroor ons in die vorige bydrae berig het. Maar in die eerste sewe maande van die oorlog was hulle besonder bedrywig. Krygsoperasies en allerlei wetenswaardighede is tot in die fynste besonderhede vir 'n gretige leserspubliek opgedis.
In die eerste maande van die oorlog het veral De Volksstem van Pretoria, The Standard & Diggers’ News van Johannesburg en De Express van Bloemfontein ywerige oorlogskorrespondente gehad. Vir De Volksstem was dit Gustav Preller op die Natalse front en 'n Nederlander, Frederik Rompel, op die wesfront, wat hul lesers ingelig het.
Rompel is in Maart 1900 na Nederland gedeporteer. Kort voor die Britse besetting van Pretoria op 5 Junie 1900 het De Volksstem sy deure toegemaak. Voordat dieselfde lot The Standard & Diggers’ News op 31 Mei 1900 getref het, was C.F. Beyers, 'n familielid van die Boeregeneraal met dieselfde naam, sedert Desember 1899 oorlogskorrepondent daarvan op die suidelike front rondom Colesberg.
In die guerrillafase het verskeie klein koerantjies hul verskyning gemaak. Hulle was – meer as die gewese dagblaaie – vol propaganda en het periodiek verskyn wanneer papier êrens opgediep is. Een van hulle, De Zoutpansberg Wachter, het tussen Augustus 1900 en April 1901 in Pietersburg verskyn voor die Britse besetting van die dorp. Gustav Preller het oorlogsberigte daarvoor geskryf.
In die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat het Mels J. Meijers tussen Desember 1900 en Oktober 1901 tien uitgawes van De Brandwacht uitgegee op 'n verouderde drukpers van die Vrystaatse regering. Ander koerantjies met oorlogsnuus het ingesluit Jong Transvaal (in die Wes-Transvaal), De Ermelo Post (Oos-Transvaal), De Bazuin en The Vrede Chronicle in die Oos-Vrystaat, en Smaldeel Daags Blad in die Noord-Vrystaat. Dit was hoofsaaklik eenman-bedrywe wat nie oorlogkorrespondente gehad het nie.
Vir Reuters het Jimmy Roos tot 6 Junie 1900 in Natal en die Vrystaat as oorlogskorrespondent opgetree. Sy berigte is per kabelgram via Lourenço Marques en die Brits-beheerde Aden deur die Suezkanaal na Londen gestuur.
Die Britse militêre sensor in Aden het dikwels pro-Boer korrespondente se kabels vertraag of gesaboteer. Nogtans het 'n paar buitelandse korrespondente vanuit die Boerekommando’s berigte deurgekry. Dit het Howard C. Hillegas van die New York World, A.G. Hales van The Daily News in Londen en Richard H. Davis ingesluit. In die voorwoord van sy boek, With the Boer Forces, gebaseer op sy oorlogsberigte, skryf Hillegas: “I have written truthfully, but with a kindly spirit and with the intention of presenting an unbiased account of the struggle as it was unfolded to the view from the Boer side.”
As teenvoeter vir Britse propaganda het dr. H.J. Kiewiet de Jonge in Oktober 1899 namens die Algemeen Nederlandsch Verbond 'n pro-Boer-perskantoor in Dordrecht, Nederland, opgerig. Die joernaliste was in Nederland gesetel, en moes staatmaak op Britse berigte of verslae wat van tyd tot tyd vanaf Suid-Afrika deurgesmokkel is. Hulle het ingesluit Bas Veth en sedert middel 1900 Frederik Rompel en dr. F.V. Engelenburg (oudredakteur van De Volksstem).
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog artikels deur prof. Fransjohan Pretorius:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: