Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Die Boere-Ultimatum van 9 Oktober 1899
Die voorspook van die lang oorlogskaduwee.

Met die verslegtende betrekkinge tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Brittanje het die ZAR op 9 Oktober 1899 'n ultimatum aan die Britse regering gerig. Dit is deur Brittanje verwerp, en twee dae later het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek.
Ná die Bloemfonteinse konferensie wat pres. M.T. Steyn van die Vrystaat in Mei-Junie 1899 belê het in die hoop op 'n vreedsame oplossing van die politieke geskille tussen Brittanje en die ZAR, was dit duidelik dat oorlog onvermydelik was.
Wat hierna gevolg het, was 'n diplomatieke skaakspel.
Op 27 Julie het sir Alfred Milner, Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, met die steun van die Britse minister van kolonies, Joseph Chamberlain, geëis dat die ZAR se stemregwet deur 'n gesamentlike kommissie van die ZAR en Brittanje ondersoek moet word. Daartoe was die ZAR-regering egter nie bereid nie, want dit sou regstreekse inmenging in die binnelandse beleid van die ZAR beteken.
Jan Smuts, staatsprokureur van die ZAR, het vervolgens onsuksesvol met die Britse agent in Pretoria, sir William Conyngham Greene, samesprekings gevoer.
Op 19 Augustus het die ZAR 'n vyfjaarstemregwet met terugwerkende krag voorgestel. Dit was presies wat Milner by Bloemfontein voorgestel het. Die voorwaarde was dat die Britse regering nie in die toekoms in die binnelandse aangeleenthede van die Republiek inmeng nie. Dit was vir die Britte onaanvaarbaar.
Op 22 September het die Britse kabinet onderhandelinge afgebreek. Chamberlain het 'n ultimatum opgestel. Die belangrikste eis was dat alle wetgewing sedert 1881 wat teen uitlanders se burgerskap diskrimineer, opgehef moet word. Aflewering van die ultimatum moes wag totdat die militêre versterkings in Suid-Afrika aangekom het.
Die ZAR-regering het 'n ultimatum opgestel met geleenthede vir insette deur die Vrystaatse regering. Veral uitvoerende raadslid Abraham Fischer het daaraan aandag gegee. Die ZAR se staatsekretaris, F.W. Reitz, word as die oorspronklike opsteller van die ultimatum voorgehou, maar dit kon moontlik Smuts gewees het, wat 'n meester met die opstel van konsepvoorstelle was – soos later met Uniewording en die stigting van die Volkebond en die Verenigde Nasies.
Op 27 September het kmdt.genl. Piet Joubert die ZAR-kommando’s opgeroep.
In die hoop dat oorlog vermy kan word, het Steyn telkens die ZAR-regering gevra om die oorhandiging van die ultimatum uit te stel. Hierdeur het die republieke kosbare tyd verloor en aan die Britse troepe die geleentheid gegee om op die republikeinse grense te versamel.
Eindelik, op 7 Oktober, het Steyn besef Brittanje stel nie in vrede belang nie. Om 17:00 op Maandag 9 Oktober het Reitz die ultimatum aan Conyngham Greene oorhandig.
Brittanje moes onderneem om alle geskille deur arbitrasie te laat besleg; om sy troepemagte van die grense af terug te roep; om alle troepeversterkings wat sedert 1 Junie 1899 in Suid-Afrika aangekom het, uit Suid-Afrika te verwyder; en dat die versterkings wat nog op see was, nie sal land nie.
“They have done it!” het Chamberlain uitgeroep. Sy eie ultimatum was nie meer nodig nie. Nou was die ZAR volgens die internasionale reg die aggressor. Die Britse regering het die ultimatum verwerp en sedert 17:00 op Woensdag 11 Oktober 1899 was Brittanje met die ZAR en sy bondgenoot die Vrystaat in 'n staat van oorlog.
Wat voorgelê het, was twee jaar en agt maande van 'n oorlog wat 'n lang skaduwee oor Suid-Afrika sou gooi.
Nog geskiedenisbrokkies op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.