Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Die onbesonge held, Hendrik Frederik Prinsloo
Die dapper Lydenburger wat Spioenkop help wen het.
Hierdie verhaal gaan oor Hendrik Frederik Prinsloo, 'n bykans onbesonge held van die Anglo-Boereoorlog.
Prinsloo is op 10 Mei 1861 in die Kroonstad-distrik in die Vrystaat gebore, maar hy veg as Lydenburger in die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880-1881. In die oorlog teen Mapog (1882-1883) waag hy sy lewe deur 'n gewonde makker na veiligheid te dra. In 1898 tree hy as veldkornet van die Carolina-kommando op in die veldtog teen Mphephu.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 is Prinsloo reeds drie maande kommandant van die Carolina-kommando. In Desember word die kommando na die Tugelafront in Natal gestuur om genl. Buller se beoogde ontsetting van die beleërde Ladysmith te help stuit.
Dis hier waar Prinsloo se heldhaftige optrede grootliks tot genl. Louis Botha se oorwinning by Spioenkop op 24 Januarie 1900 bygedra het. Met die nuus dat die Britte die kop in die nag beset het, het Botha vir Prinsloo met sy Carolina-burgers teen die kop uitgestuur.
Ná die woorde: “Burgers, ons gaan onder die vyand in en ons sal nie almal terugkom nie. Doen julle plig en vertrou op die Here”, het Prinsloo teen ses-uur die oggend Spioenkop met 84 man vreesloos bestorm.
Op die kruinrand het die Boere op kort afstand teen die Britte in hul vlak loopgrawe gestuit. Boer en Brit het selfs weerskante van dieselfde klip op mekaar gevuur. Later het die Pretoria-kommando by die Carolina-burgers aangesluit.
Toe die son net ná agt-uur deur die mis breek, kon Prinsloo van die aangrensende kop, Alwynkop, met behulp van heliografis Louis Bothma die Boere-artillerie onder op die vlakte met Morse-kode inlig oor die presiese Britse posisies in die vlak loopgrawe bo-op Spioenkop, sodat die bomme net-net oor die Boere se koppe getrek het. Saam met die akkurate Boere-geweervuur van die omringende koppe het dit verwoesting onder genl. Woodgate se 1 700 troepe gesaai. Die gevolg was 'n groot Britse nederlaag. Maar meer as 50 Carolina-burgers is gedood of gewond.
Tydens die guerrillafase veg Prinsloo in die Oos-Transvaal teen die Britse oormag, totdat hy en genl. Joachim Fourie op 7 November 1900 by Witkloof in die Carolina-distrik sneuwel in 'n hinderlaag wat genl. Smith-Dorrien voorberei het vir die Boere wat hom soveel las besorg het.
Smith-Dorrien het 25 jaar later met 'n fondsinsameling in Brittanje £213 ingevorder vir 'n monument wat ter nagedagtenis aan Prinsloo en Fourie by Witkloof opgerig is.
Dit bly 'n raaisel waarom die uitsonderlike dapper, talentvolle en minsame Prinsloo nooit tot generaal bevorder is nie. Maar hy het bewonderenswaardige roem verwerf.
Nou kan u dalk verstaan waarom die familie so ontsteld was toe die SAUK-TV in 1979 in ’n TV-dokumentêr oor die Anglo-Boereoorlog fouteer het met die woorde: “Toe gee generaal Prinsloo met 4 400 man in die Brandwaterkom oor”, en Hendrik Frederik Prinsloo se foto op die skerm verskyn in plaas van 'n foto van die oorlogsmoë Marthinus Prinsloo wat in die Brandwaterkom oorgegee het. Ek was bevoorreg om versoek te word om in 'n TV-uitsending die feite reg te stel.
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog geskiedenisbrokkies deur prof. Fransjohan Pretorius:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.