Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Lugballonne in die Anglo-Boereoorlog
Verkenningsveldtogte van bo af.

U het dalk al foto’s van lugballonne in die Anglo-Boereoorlog gesien, met ’n Britse soldaat wat in ’n mandjie onderaan rond dobber.
Lugballonne is al in 1794 vir verkenning deur die Franse tydens die revolusionêre oorloë gebruik. In Brittanje was daar ook eksperimente by die Military School of Ballooning te Aldershot, wat 'n afdeling van die Royal Engineers was. Die Britse leër het lugballonne vir die eerste keer in 1885 in Betsjoeanaland en in die Sudan gebruik.
In die eerste agt maande van die Anglo-Boereoorlog het die Britte verkenningsballonne met gemengde sukses aangewend. Hierdie ballonne was van die membraan van die vel van jong osse gemaak. Hulle is met waterstof gevul wat in staalbuise vervoer is of op die toneel vervaardig is deur verdunde suur met korrelsink te meng.
'n Rottangmandjie is onderaan die ballon vasgemaak en met 'n tou verbind aan 'n toestel op die grond. Die verkenner in die mandjie is met 'n teleskoop, sketsboek en telefoon sowat 60 meter die lug ingestuur.
Drie balloneenhede met tien ballonne is na Suid-Afrika gestuur. Seksie Nr. 2 is in Oktober 1899 na Ladysmith in Natal versend (voor die dorp deur die Boere beleër is), Seksie Nr. 1 het 'n maand later by lord Methuen se mag aan die wesfront aangesluit, en Seksie Nr. 3 het in Maart 1900 by Warrenton aan die wesfront aangekom. 'n Vierde seksie is op die toneel vir genl. Buller aan die Tugelarivier in Natal opgerig.
Ballonne is in Ladysmith opgestuur om op die Boereposisies buite die beleërde dorp te spioeneer. Met hierdie inligting kon hulle 'n kaart van die terrein saamstel en heliografiese boodskappe met Buller verwissel. Buller se ballonne het hom weinig gehelp, aangesien die heuwels die Boere se posisies versluier het en bowendien heelwat turbulensie veroorsaak het, wat hul taak bemoeilik het.
Seksie Nr. 1 het Methuen net voor die Slag van Magersfontein van 11 Desember 1899 bereik. Tog het hulle nie die Boere se loopgrawe vóór die heuwels raakgesien nie – posisies wat juis die Boere se sukses verseker het. Tydens die geveg is ’n ballon ná dagbreek opgestuur, maar toe het die Highland Brigade hulle alreeds in die Mausers uit die loopgrawe vasgeloop. Op 16 Februarie 1900 kon die ballonne darem berig dat die Boere hul stellings verlaat het.
Met lord Roberts se opmars na Pretoria in Mei-Junie 1900 is lugverkenning by die gevegte aan die Vet- en Sandrivier en buite Pretoria onderneem, maar betekenisvolle inligting is nie ingewin nie.
Seksie Nr. 3 het tydens die westelike aanmars die Boereposisies by Veertienstrome opgespoor en selfs kanonvuur op die vyand help rig.
In die guerrillafase het die bergagtige Oos-Transvaal en die Boerekommando’s wat in kleiner groepe opgebreek het die ballonne ná Julie 1900 nutteloos gemaak.
Die ballonne was dus nie besonder suksesvol nie, maar hul teenwoordigheid daar bo in die lug het 'n demoraliserende uitwerking op die Boere gehad. Talle van hulle het gedink die verkenners in die ballonne kon alles raaksien. Hulle het soms op die ballonne geskiet, sonder enige sukses.
Ballonne sou in beide wêreldoorloë gebruik word, maar satelliet- en hommeltuigtegnologie het die gebruik daarvan intussen vervang.
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog geskiedenisbrokkies deur prof. Fransjohan Pretorius:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.