Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Die Uitbreek van die Anglo-Boere-Oorlog op 11 Oktober 1899
Hoe imperialisme en die soeke na goud die republieke se lot bepaal het.
Om vyfuur die middag van Woensdag 11 Oktober 1899 het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek. Dit was toe die ultimatum verstryk het wat die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR, of Transvaal) van pres. Paul Kruger twee dae tevore aan Brittanje gerig het. Daarvolgens moes die Britse troepe op die republikeinse grense teruggetrek word, en die troepe wat op see onderweg was, teruggeroep word.
Die Britse regering het die ultimatum van die hand gewys. Nou was daar oorlog tussen Brittanje aan die een kant en die ZAR en sy bondgenoot, die Oranje-Vrystaat, aan die ander. Die oorlog sou twee jaar en agt maande duur, en onmetelike lyding vir wit, swart en bruin in Suid-Afrika meebring. Dit sou ook 'n enorme invloed op die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die 20ste eeu hê.
Die Britse regering het self 'n ultimatum voorberei. Toe hy egter die ZAR se ultimatum ontvang, het Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, geesdriftig uitgeroep: “They’ve done it!” Sir Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, se aggressiewe beleid van “working up to a crisis” en “reform in the Transvaal or war” het gewerk.
Talle historici het al oor die oorsake van die Anglo-Boereoorlog geskryf. Die meeste is dit vandag eens dat Brittanje se aandrang op stemreg vir die Uitlanders aan die Witwatersrand slegs 'n skynrede was, 'n kapstok waaraan Brittanje sy beleid van imperialisme – die uitbreiding van sy kolonies – gehang het.
Onderliggend aan die stryd tussen Boer en Brit was die verdeling van Afrika wat besig was om hom af te speel, met Brittanje, Frankryk en Duitsland die grootste grondgrypers. En natuurlik die ryk goudveld van die Witwatersrand. Dit het gemaak dat die ZAR potensieel die politieke en ekonomiese beheer oor suidelike Afrika by die Brits-beheerde Kaapkolonie kon oorneem. Soos die geskiedkundige Bill Nasson tereg sê: As daar sampioene in die ZAR was in plaas van goud, was hier nie 'n oorlog nie.
Die ultimatum is deur maande van spanning voorafgegaan. Toe die Bloemfonteinse konferensie tussen Kruger en Milner op 5 Junie 1899 misluk, het Kruger glo gesê: “Dis nie die stemreg nie, dis my land wat jy wil hê.”
Pres. M.T. Steyn van die Vrystaat het soos Kruger hardstogtelik geglo in die behoud van die republieke se onafhanklikheid. Hy het onvermoeid vir vrede gewerk, totdat hy eindelik ingestem het dat die ultimatum aan Brittanje gerig word. Reeds op 27 September het kmdt.genl. Piet Joubert as voorsorg die Transvalers vir krygsdiens opgeroep. Vyf dae later het Steyn die Vrystaters gemobiliseer.
Sommige burgers was bekommerd oor die stryd wat voorlê. Die meeste het egter geesdriftig by hul kommando’s aangesluit. Die algemene gevoel was dat die oorlog teen Kersfees verby sou wees. Net een goeie oorwinning soos by Majuba 18 jaar tevore, en die oorlog is iets van die verlede. Daar was uitroepe van: “Ons gaan piesangs eet in Durban!”
Daarvan sou daar dadels kom. Hulle sou eerder die wrang vrugte pluk van politici wat oor hulle lot beslis. Baie burgers het Durban darem gesien, maar as krygsgevangenes op pad na Ceylon.
Nog artikels deur Fransjohan Pretorius:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











