Kallie versus Gert: Bring nou slotbetoë oor dié kwessies
Konsensus is verkieslik bo herhaalde strydpunte.
Terwyl ons nou lekker op OntLaer in hierdie week verneem van die mens se verlange na balanse tussen vrye individuele kritiekvorming en behoud van gemeenskapsbande, duik die vraag op: wanneer, in 'n samelewing geskoei op vrye uitdrukking en debatvoering, moet ons halt roep en 'n beleidsrigting inslaan?
Hierdie is 'n moeilike vraag, wat terughapper na eeue oue breinbreker-onderwerpe soos die aard van waarheid, selfs die moontlikheid daarvan. Die doel van vrye uitdrukking en debatvoering in 'n (minstens in beginsel) vrye samelewing soos Suid-Afrika, is om in die gees van John Stuart Mill en sy voorganger John Milton, goeie idees te distilleer en slegte idees deur oortuiging en retorika uit te filtreer. Dit voorveronderstel dat vrye uitdrukking die waarheidsoeke sál bevorder. Daar is ook grondige kritiek teen hierdie gedagte van 'n “vrye mark van idees”, soos al saamgevat in die regsfilosofiese sin daarvan, in werk deur Professor Pierre de Vos.
Dis alweer Jan se skuld
Teen hierdie agtergrond lees ek die debat tussen Netwerk24 se Gert van der Westhuizen en Kallie Kriel van AfriForum. Salvo’s van hierdie debat kan hier, hier en hier gelees word. Kortliks, is die debatsoorsaak as volg: Die Suid-Afrikaanse gemengde gevegskunsvegter Dricus du Plessis het (saam met die arme Proteas en Springbokke) sy moses teëgekom teen sy Russiese teenstander tydens 'n UFC titelgeveg in die VSA. Du Plessis moes gevolglik sy middelgewig wêreldkampioentitel aan Khamzat Chimaev afstaan. Aldus Kallie Kriel het Dricus nie net onder sy teleurgestelde ondersteuners deurgeloop nie, maar onder die aanlynburgery van sogenaamde “swart Twitter”, synde 'n soort uitgebreide aanlynvoortsetting van kulturele gemeenskapslewe onder sommige mense van Afrika-herkoms.
Volgens Kriel het talle gebruikers op X met onsmaaklike en rassistiese leedvermaak op Dricus se nederlaag gereageer. Dis een ding om Dricus se verlies of prestasie in die agthoek te beoordeel, selfs krities en afbrekend, maar dis iets heel anders om weg te kom met rassistiese opmerkings oor Dricus se herkoms en etniese identiteit. Hy is glo onder andere 'n “f*cking Dutchie” genoem, en die stomme Jan van Riebeeck is bygesleep om vir Dricus by te kom. Kriel gebruik hierdie voorval met Dricus as voorbeeld om te ageer dat daar 'n wesenlike probleem en bedreiging bestaan in die soort onbestrede anti-wit Suid Afrikaanse en anti-Afrikaner sentimente wat op aanlynplekke soos “swart Twitter” sirkuleer. In 'n poging om te antwoord waarom hierdie soort sentimente vrylik gehuldig word, koppel Kriel dan hierdie verskynsel aan - onder andere - die President se onwilligheid om die strydkreet “Kill the Boer” te veroordeel, en verskeie ander voorbeelde waar invloedryke politieke elites in Suid-Afrika sentimente teen Afrikaners uitspreek sonder om aangevat te word. Die slotsom is dat die viktimisering van Afrikaanswees deur elites straffeloos gelaat en 'n aansporende impak op lede van die Suid-Afrikaanse publiek het.
Op die oog af kan 'n mens insien waarom sommige lesers hierdie gevolgtrekking as ietwat van 'n gewaagde kwantumsprong sal beskou. Soos Gert van der Westhuizen ook heel geldig vra, kan dit ook net wees dat sommige mense vir Dricus bespot omdat hulle nie eintlik van UFC-gevegskuns hou nie? Of meer pertinent, omdat Dricus se politieke voorkeure sommige nie aanstaan nie? In 'n vry samelewing moet iemand soos Dricus by wyse van spreke die houe kan vat soos hy dit ook uitdeel. Om 'n geteikende Dricus in die beperkte slagpale van die rede wat X vandag is as 'n soort steekproef van algemene anti-Afrikanersentimente onder Suid-Afrikaners te lees, is dalk wel te dik vir 'n daalder. Daar word byvoorbeeld algemeen en op goeie gesag aanvaar dat X nie 'n goeie peil van algemene openbare mening is nie, en weinig Suid-Afrikaners, selfs uit die meerderheid, se sentimente verteenwoordig. Dit mag dan wel so wees dat rassiste van alle kleure en geure graag agter anonieme rekeninge op X boer, en hulle mag selfs aangespoor word deur 'n tierende Malema, 'n leedvermakerige Lesufi of 'n stom-indien-nie-bontpratende Ramaphosa. Behels hulle 'n kritiese massa van die Suid-Afrikaanse publiek, of is hulle besig om kritiese massa te nader? Miskien moet ons eerder die data bekyk?
Die debat oor die radiogolwe
Gert van der Westhuizen se geldige vrae ten spyt, is die vuurwarm mikrofoon van RSG 'n goeie plek om die kaf van die koring in debatte soos hierdie te skei. Ek moet opmerk dat die RSG gesprek tussen die twee here uiters beleefd en met groot respek gedoen is. Daarvoor kan Gert en Kallie geëer word. Trouens, ek hoop dat daar onderwysers is wat hierdie RSG Potgooi sal aflaai en vir hul leerders speel om iets oor wedersydse respek tydens debatvoering te leer.
Kriel het oor die radio daarin geslaag om te verduidelik waarom hy die sprong van Dricus na Afrikaanse viktimisasie gemaak het. Hy het ook klem geplaas daarop dat die politieke elites die probleemoorsaak is, en het skynbaar toegegee dat die meerderheid Suid-Afrikaners nie die soort rassistiese trolle is wat op “swart Twitter” oor Dricus getier het nie.
Die vraag wat opduik, met verwysing na Kriel se aanvangsartikel in Rapport, is of sy erkenning dat die meerderheid van Suid-Afrikaners na alle waarskynlikheid nie hul met die rassistiese sentimente wat teen Dricus gebruik is vereenselwig nie, of met die rasbehepte politieke elites nie, dalk dan tog die angel van dringendheid uit sy bekommernisse oor Afrikaanse viktimisasie haal? As die meerderheid nie geskeel word nie, is dit nodig en selfs geldig om witvellige en Afrikaanse viktimisering aan die groot klok te hang?
Dalk kon Gert van der Westhuizen meer van hierdie invalshoek gemaak het. Maar selfs dit sou reeds-deurtrapte debatte oor vryheid van uitdrukking, die limiete daarvan en regsprekende inkonsekwentheid oor haatspraak opper.
Valse keuses word aangebied
Van der Westhuizen se sinvolle betoog en billike caveat dat Suid-Afrikaners oor Dricus en sy politiek kan verskil, en dat verskille nie noodwendig dui op 'n rasgedrewe of etniese vervolgingswringkrag in ons samelewing nie, word egter 'n onguns aangedoen aan die einde van die radio-onderhoud. Hy rig 'n pleidooi aan Kriel in die aar dat "ons" (ek aanvaar hy meen Afrikaners) nie moet onttrek en afsonder van die groter Suid-Afrikaanse projek nie. Wat hiermee deurskemer suggereer die algemene oortuiging onder afdelings van die Afrikaanse intelligentsia dat Afrikaners moet kies tussen die “RSA-projek” en bevordering van die Afrikaanse leefwêreld.
Dit is 'n valse tweedeling en inderdaad 'n vals keuse wat ons aangebied word. Nie slegs in die aangesig van die Grondwet nie (wat taal- en kultuurregte vervat), maar ook as 'n soort elite-aangedrewe ontkenning van die geleefde ervaring van hierdie land se diverse burgery.
Hierdie algemene elite-oortuiging verkeer wel onder druk: Theuns Eloff en Jan Bosman, byvoorbeeld, is van die vername eietydse Afrikaanse denkers wat al male sonder tal daarop gewys het dat Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap nie onderling uitsluitend is nie. Die abstrakte idee van hierdie sinkretiese sin vir identiteit word inderdaad onderskraag deur hoe die meerderheid Afrikanermense leef: As aktiewe, belastingbetalende (eintlik oorbelaste!) en patriotiese landsburgers wat ook innig lief is vir hul kulturele identiteit en die leefwyse wat dit help voortdra. Bevraagtekenbare invalshoeke van moderne progressivisme, aan die linker- en regterkant daarvan, klou egter soos nete aan die diskoerse gevoer deur die risiko-beskutte kommentaarklasse en invloedryke intelligentsia, wat neersien op pogings om Afrikaansheid deur die "behoud van die goeie" te bevorder, en dit brandmerk as noodwendig 'n aversie vir vooruitgang (in die aar van Daniël Eloff se skrywe op OntLaer vandag). Die ironie is egter dat dieselfde hovaardigheid nie ook gereserveer word vir daardie pogings om Suid-Afrikaansheid te bevorder deur "behoud van die goeie" nie.
Eietydse dogmatiese progressivisme onder afdelings van die Afrikaanse intelligentsia stort eenvoudig ineen onder die gewig van sy eie ongeëksamineerde teenstrydighede. Dit is 'n besinning op sy eie werd, maar teen hierdie trant sal selfs progressivisme se sinvolste insigte aanhou veld verloor teen liberaal-konserwatiewe, libertariese en links-konserwatiewe oplossings, soos gemik op die klassestryd onder Afrikaners (en Suid-Afrikaners) oor onregverdige risikoverdelings in ons kultuurgemeenskap en samelewing. Progressivisme verloor reeds veld teen onderstrominge van nasionaal-populistiese konserwatisme wêreldwyd, ook soos daardie tendens oorspoel na die Afrikaanse leefwêreld, met al die bevraagtekenbaarheid wat redelikerwys daaroor opduik.
Ons het al hieroor gepraat
Die oorhoofse tematiek van die Kriel en Van der Westhuizen debat raak aan kwessies soos die moontlikheid van Afrikaanse slagofferskap, die aansnydings van Afrikaanse identiteit en die werklikheid en wesenlikheid van inter-etniese haatstokery in ons samelewing.
Hierdie temas was nie net besprekingspunte tydens die Trump-regering se streng aandag op Suid-Afrika en die Afrikaanse vlugtelinge-vraagstuk van vroeër vanjaar nie. Ons praat al in een of ander vorm oor hierdie vrae sedert die aanvang van die nuwe bedeling en waarskynlik al voor dit. Afrikaanse rockbands het al oor hierdie kwellinge gesing, romans is geskryf, navorsing is gedoen. Mense soos Chris Louw het reeds die klowe tussen die Afrikaner-elites en die gewone mense, veral jong mans, oor die konseptualisering van Afrikaanswees in die na-1994 bedeling treffend saamgevat.
Miskien moet ons nou begin om 'n paar van die mees geskikte en deutrapte debatsonderwerpe vir onsself te lys en besin of dit werklik nog nodig is om nog hare te kloof daaroor. Ten spyte van vrye debatvoering as kleinood vir waarheidsoeke, word debatte oor dieselfde dinge nie maar eintlik 'n opvoerigheid nie? Die geveinsde erns van intellektuele twiste, wat op die ou end geen nuwe praktiese invloede het nie? Wat geen nuwe projekte van stapel stuur of nuutskeppende kragte loslaat om die lewe van Afrikaners en Suid-Afrikaners te verryk en te verbeter nie, ongeag opvoedingsvlak of inkomstegroep?
Skik 'n paar vraagstukke en bou voort
'n Leidende beginsel is die duimreël dat baie dinge terselftetyd waar kan wees.
Dit is waar dat Afrikaners onaanvaarbare aanlynrassisme en stelsel-geregverdigde diskriminasie beleef. Maar dit is ook waar dat dit nie dui op die noodwendige vestiging van voorwaardes vir uitwissing of volksmoord nie.
Dit is waar dat die Suid-Afrikaanse projek 'n belangrike een is, in die sin daarvan dat mense wat vir eeue in stryd verkeer het nou 'n gedeelde sin vir gelykwaardige burgerlikheid probeer uitkerf. Maar dit is ook waar dat etnies-kulturele identiteit vir mense waardevol, betekenisvol en rigtinggewend is, sonder dat hulle per se hul Suid-Afrikaansheid die rug keer. Suid-Afrikaansheid hoef nie jaloers te staan teenoor Afrikaansheid nie.
Dit is waar dat platforms soos X drogbeelde kan skep van immerdreigende gevare teenoor Suid-Afrikaanse minderhede, maar dit is ook waar dat ons vir goeie rede anti-haat wetgewing het: vrylik-verspreide hatigheid skep die toestande waarvolgens eskalasie oor tyd soos 'n kanker kan ontstaan. Voorkoming is beter as behandeling. Dit is boonop waar dat die regering verantwoordelik gehou moet word as amptenare, politici en gewone burgers nie hierdie anti-haat wetgewing nakom nie, of dit nie konsekwent en sonder vrees of vooroordeel toepas nie.
Miskien moet ons gewoon meer inskiklik teenoor mekaar wees, en probeer insien dat hoewel almal verskillende begripsvorme van die Goeie vir hulself bedink, is konsensus moontlik. Mits ons bereid is om die moontlikheid van die Goeie in mekaar raak te sien.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.