Van Pigment tot Beginsels: Reg en Rebellie in Visuele Kuns
Kuns, kontrakte en kleurmonopolieë.
Wanneer 'n enkele kunstenaar uitsluitlike regte op 'n spesifieke materiaal of tegniek verwerf, ontstaan daar spanning rondom die vrae oor toegang, eienaarskap en die etiek van kreatiewe monopolievorming.
Hoe kan die regstelsel kreatiewe eiendom beskerm sonder om die vryheid en deelname van ander kunstenaars te beperk?
En hoe kan kontraktuele bepalings die balans tussen individuele regte en kollektiewe kulturele waarde behou?
Die eksklusiwiteit van Vantablack
In 2016 is Anish Kapoor, 'n Brits-Indiese beeldhouer, as die eksklusiewe lisensiehouer van Vantablack S-VIS aangewys. Vantablack is 'n laboratoriumgebaseerde nanomaterial, wat deur Surrey NanoSystems vervaardig is, en tot 99.96% van sigbare lig kan absorbeer en dus as die “swartste swart-verfpigment” beskryf kan word. Die eksklusiwiteit van hierdie lisensie het beteken dat ander kunstenaars regtens verbied is om hierdie pigment te gebruik, ongeag die artistieke konteks of bedoeling.
Kritiek teen die privatisering van 'n kleur het vinnig gevolg. Kunstenaars, soos Christian Furr, het dié aksie selfs as kreatiewe onderdrukking beskryf. Die sentiment weerspieël 'n breër kommer oor die moontlikheid van monopolisering van die artistieke spektrum, veral wanneer so 'n sonderlinge skakering 'n hele nuwe dimensie aan visuele kuns kan bied.
Stuart Semple stamp sy stempel
Die Britse kunstenaar en aktivis, Stuart Semple, het openlik beswaar teen Kapoor gemaak en by die debat aangesluit. Semple klap toe terug deur 'n reeks pigmente te ontwerp en toeganklikheid vir enige kunstenaar, behalwe Kapoor, te verseker. So kry die “Pinkest Pink” die kollig, wat ook in 2016 bekendgestel is. Die uitsonderlikheid van hierdie pigment was nie noodwendig die kleur nie, maar die kontrakooreenkoms wat kopers eers moes aanvaar wanneer hulle dit aankoop. In Sempel se kontrak moes kopers die volgende bevestig:
dat die koper nie Anish Kapoor is nie;
dat die koper geen verbintenis met Anish Kapoor het nie; en
dat die koper sal toesien dat Anish Kapoor nooit toegang tot hierdie pigment sal kry nie.
Die oorspronklike ironie in Semple se kontraktuele uitsluiting het spoedig plek gemaak vir 'n aktivistiese raamwerk in die kunste, veral toe ander kunstenaars dit begin uitlê het as 'n simboliese daad van estetiese verset. Semple het geslaan waar dit seermaak en toe die volgende verfpigmente vrygestel: Black 2.0, en later Black 3.0 en uiteindelik Black 4.0. Elke pigment was toeganklik vir almal, behalwe Kapoor.
Met die aankoop van elke produk, moes verbruikers formeel erken dat hulle nie Kapoor is nie en ook nie namens hom optree nie. Die bepaling en voorwaardes was duidelik:
“By adding this product to your cart you confirm that you are not Anish Kapoor, you are in no way affiliated to Anish Kapoor… To the best of your knowledge… this paint will not make its way into the hands of Anish Kapoor.”
Semple se kontraktuele uitsluiting teenoor Kapoor was buitengewoon. Saam met elke produk was daar 'n sogenaamde negatiewe identiteitsverklaring met sekere vereistes: 'n kontrak waarin iemand nie net verklaar wie hulle is nie, maar veral wie hulle nie is nie.
Alhoewel dit 'n ongewone voorwaarde vir baie kopers was, het dit wesenlike regs- en beleidsvraagstukke rondom toegang tot kunsmateriaal en intellektuele eiendomsregte op die voorgrond gebring.
Kontrakkuns
Dis duidelik dat kopers Semple se produk nie net wou koop nie, maar eerder wat dit verteenwoordig. Die bepalings en voorwaardes het sy eie performatiewe waarde gehad en die kontrakverklaring wat kopers eers moes aanvaar, het as 'n kunsvorm begin funksioneer. Dit was 'n kulturele manifes wat verbruikers uitgenooi het om deel van 'n groter standpunt oor vryheid in die kunste te word.
Semple se konsep het 'n multidimensionele invloed op die kontemporêre kunswêreld uitgeoefen. Aan die een kant is daar 'n duidelike verskuiwing in hoe kunstenaars en gehore oor kreatiewe toegang moet dink. Aan die ander kant wek dit beduidende kommer oor die implikasies van eksklusiewe gebruikersreg aan kunstenaars, aangesien sodanige praktyke die toegang tot bepaalde visuele uitdrukkingsvorme vir die breër artistieke gemeenskap wesenlik kan beperk.
Semple se gebruik van performatiewe kontrakte as 'n kunsvorm het ook nuwe grense oopgemaak vir hoe kontrakte as beginselgedrewe optredes gesien kan word, eerder as transaksionele dokumente. Die voorval plaas die kompleksiteit van kunsreg en skeppingsvryheid onder die vergrootglas, en konfronteer ons met die vraag of artistieke innovering wel bevoordeel word wanneer sekere visuele mediums onder die uitsluitende bewaring van een kunstenaar geplaas word.
'n Slang in die gras
Ten spyte van Semple se kontrak het Kapoor tog daarin geslaag om 'n houer van die “Pinkest Pink” in die hande te kry. Hy het 'n foto op Instagram geplaas waarin hy die pigment vashou en 'n middelvinger vol pienkpigment na die kamera gewys. Hierdie aksie het opslae gemaak en verdere gesprekke ontlok oor die etiek van artistieke gedrag, regsoortreding, en die artistieke simboliek wat vergelding in estetiese praktyke dra.
Wie is skuldig aan die kontrakbreuk?
Kapoor het dalk nie self die pigment gekoop nie, maar hy het geweet dat hy op 'n manier toegang verkry het tot iets wat aan 'n uitsluitingskontrak gekoppel is. Sy reaksie daarop kan uitgelê word as dat hy 'n medepligtende aan kontrakbreuk is, maar Semple sou egter net 'n eis teen die oorspronklike koper kon instel.
'n Kritiese blik op kleurmonopolie
Hierdie konflik maak dit duidelik dat die grense tussen kuns en die reg nie absoluut is nie, maar voortdurend heronderhandel word in die spanning tussen estetiese beginsels en institusionele magstrukture. Wat eers begin het as 'n lisensie op die swartste swart, het gelei tot 'n filosofiese en sosiale debat oor wie toegang tot kleur, kreatiwiteit en uitdrukking mag hê. Semple se kontrak, met sy performatiewe uitsluiting van 'n enkele kunstenaar, dien as simbool van protes teen eksklusiwiteit en as uitnodiging tot gemeenskapsdeelname.
Wat beteken kuns dan nou eintlik as jy dit nie met die res van die wêreld kan deel nie? Semple se optrede bewys dat kuns nie net iets is wat op 'n verfdoek gesien word nie, maar dat daar ook 'n fyn lyn in verklarings, kontrakte en gesprekke is wat vorm aan die grense van kreatiewe reg en publieke toegang kan gee.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy is die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.