KI-datasentrums tap ons planeet leeg, en niemand praat daaroor nie
Die verborge waterkrisis waarvan niemand jou wil vertel nie.
Datasentrums verkeer in 'n krisis. Nie oor stygende elektrisiteitskoste nie of 'n tekort aan mikroverwerkers nie. Nie eers oor 'n gebrek aan opgeleide tegnici of kundiges nie. Maar omdat hulle stil-stil besig is om ons planeet se kosbaarste hulpbron op te gebruik, naamlik vars water.
Dit word dikwels in KI-kringe geweer dat kunsmatige intelligensie (KI) “groen” is. KI is doeltreffend. KI gaan die planeet red.
Dis egter 'n leuen van epiese proporsies.
Navorsing het die werklikheid ontbloot en dit skets 'n ontstellende prentjie. Elke keer wat jy met GPT-3 gesels vir so min as 10 tot 50 antwoorde, word daar 'n 500 ml bottel vars water verbruik. Vermenigvuldig dit met miljarde versoeke daagliks, en jy kry 'n ekologiese ramp wat op hierdie oomblik afspeel. Die werklikheid oor KI se enorme elektrisiteits- en watergebruik is angswekkend.
Die onsigbare waterverbruik agter elke KI-vraag
Dink daaraan: Jy laat jou kombuiskraan vir vyf minute lank loop, net sodat ChatGPT vir jou 'n e-pos van twee paragrawe kan skryf. Dis min of meer wat aan die gebeur is. Hier is die onaangename waarheid agter jou skynbaar onskuldige KI-navrae:
Massiewe datasentrums gebruik elektrisiteit teen dieselfde tempo as klein dorpe. Hierdie bedieners word so warm dat hulle sal smelt sonder konstante verkoeling. Die verkoelingsisteme gebruik miljoene liter vars water daagliks wat verdamp en dan uit die plaaslike watervoorsieningstelsel verdwyn. Om net een groot-taalmodel soos GPT-3 op te lei, verg sowat 700 000 liter vars water. Dit is dieselfde hoeveelheid water wat jy sou gebruik om 370 BMW’s of 320 Teslas te vervaardig. En dit is net vir opleiding. Tydens daaglikse gebruik droog ons damme groter as die Gariepdam uit.
Teen hierdie maatstawwe laat die KI-bedryf se waterverspilling die amandelbedryf soos 'n natuurbewaringsprojek lyk. En die amandelbedryf is die nuutste omgewingsondebok, met KI hopelik kort op hul hakke in die openbare diskoers.
Tegnologiereuse is die nuwe waterbaronne
Terwyl gewone mense met waterbeperkings en stygende tariewe worstel, word reuse soos Google en Microsoft dit gespaar. In 2022 alleen het Google se datasentrums sowat 19 miljard liter vars water gebruik vir verkoeling, 'n styging van 20% vergeleke met die vorige jaar. Microsoft het 'n skerp styging van 34% in dieselfde tydperk ervaar.
Na 'n hewige hofstryd is Google uiteindelik gedwing om bekend te maak dat hul datasentrums in The Dalles, Oregon, bykans 'n kwart van daardie dorp se totale watervoorraad verbruik het. Hulle het alles in hul vermoë gedoen om hierdie feite uit die media te hou. Die vraag ontstaan dus hoekom hierdie groot entiteite so 'n vrees vir deursigtigheid het? Want hulle weet hul optrede is moreel en omgewingsgewys onverdedigbaar.
Die syfers spreek vanself, al probeer “groot tegnologie” dit wegsteek en verdoesel: Een Google-datasentrum verbruik sowat 2 miljoen liter water per dag genoeg vir meer as 11 500 mense se daaglikse gebruik (die globale gemiddeld is 173 liters per persoon per dag). Die gemiddelde datasentrum gebruik daagliks 1,1 miljoen liter. Teen 2027 sal die wêreldwye waterverbruik van KI tussen 4,2 en 6,6 miljard kubieke liter beloop, vier tot ses keer meer as wat 'n land soos Denemarke per jaar gebruik.
En waarvoor? Vir katjie memes en bot-geskrewe e-posse?
'n Goudstormloop in droogtegebiede
Dis hier waar die storie veel meer neerdrukkend word.
Tegnologiemaatskappye kies doelbewus om hul dors datasentrums in gebiede te bou wat reeds onder watertekorte gebuk gaan: In Iowa, wat een van sy ergste droogtes in dekades beleef, verbruik sekere datasentrums tot 'n vyfde van sommige stede se water. In Chili en Uruguay betoog burgers openlik teen beplande Google-datasentrums wat hul drinkwaterdamme wil benut te midde van rekord droogtes. In Memphis, Tennessee, beplan Elon Musk 'n massiewe KI-datasentrum wat na raming 'n miljoen liter water per dag sal nodig hê.
Waarom hier? Dit maak tog nie sin om in hierdie gebiede wat reeds beperkte water het, hierdie verskriklike dors datasentrums te bou nie? Want plaaslike regerings is dikwels desperaat vir werkgeleenthede en het swakker regulasies. Watersekerheid word in 'n oogwink verruil vir tegnologiese vooruitgang en werkskepping.
Die mite van herwinning
Wanneer die tegnologiereuse uitgedaag word, hou hierdie maatskappye daarvan om te spog met hul “innovasie in waterherwinning.” Maar dit is eenvoudig 'n afleidingstaktiek.
Die meeste water wat in datasentrums gebruik word, verdamp ten spyte van herwinningspogings. En hierdie water keer nie terug na die hidrologiese stelsel nie. In droogtegebiede is dit reeds 'n uitdaging om water te voorsien. Droogtegebiede is juis droog omdat water nie natuurlik nie, of dan met baie moeite en 'n gesukkel, daar voorsien word. Om dus die bietjie water wat daar is te laat verdamp in 'n verkoelingsproses is waansinnig.
Tog het Google in 2022 alleen 19 miljard liter water verbruik, terwyl hulle terselfdertyd glansryke volhoubaarheidsverslae uitreik oor hul sogenaamde “waterbestuur.”
Wolke van hoop
Hierdie ekologiese ramp in wording is dus nie net 'n toekomstige bedreiging nie, maar dis 'n huidige realiteit.
In Bengaluru, Indië, het waternood tot openbare protes en selfs verkiesingsboikotte gelei, terwyl datasentrums steeds uitbrei. In Uruguay het duisende mense teen Google betoog te midde van die ergste droogte in 74 jaar. In Loudoun County, Virginië, het die varswaterverbruik van datasentrums met 250% gestyg sedert 2019, wat in wese 'n droogte geskep het. In Chili het gemeenskappe egter suksesvol weerstand gebied en hofbevele verkry wat Google se toestemming om 'n nuwe datasentrum te bou, terug te trek hangende streng omgewingsimpak ondersoeke.
Die tegnologiebedryf gaan hulself nie reguleer nie. Dit is aan ons om te eis:
'n Onmiddellike moratorium op nuwe datasentrums in water-tekortgebiede;
Volledige deursigtigheid oor waterverbruik met kwartaallikse openbare verslae;
Waterimpakfooie wat werklike kostes vir gemeenskappe weerspieël;
Verpligte moderne verkoelingstegnologie in alle nuwe sentrums; en
'n Wetlike verpligting om menslike drinkwaterverspreiding bo KI-verwerking te prioritiseer.
Die KI-rewolusie sou die mensdom bevry. In plaas daarvan tap dit die hulpbron uit wat lewe moontlik maak. Elke dag, met elke KI-navraag, maak ons 'n keuse: gemak nou, of water later?
Hierdie is nie 'n argument teen tegnologie nie, maar 'n versoek vir eerlike gesprekke oor wat dit ons regtig kos. Alles het voor- en nadele. En alles het 'n prys.
Jano le Roux is ‘n bemarkingspesialis en tegnologieskrywer.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: