
Toe ek nog 'n student was, het ek gereeld memes en kort video's op sosiale media gesien wat 'n interessante studie gebruik het om die verskil tussen sogenaamde liberale en konserwatiewe morele wêreldbeskouings uit te beeld. Samevattend skets die video's “konserwatiewes” (wat ook al dit mag beteken) se morele besorgdheid as hoofsaaklik gerig op hul familie en gemeenskap, terwyl dié van “progressiewes” (wat ook al dit mag beteken) veel wyer strek, soms selfs tot by plante en ander vorme van lewe.
Die afgelope paar weke sien ek dieselfde video's weer opduik, vermoedelik omdat die VSA se tussentydse verkiesings in November plaasvind en die algoritmes weer politieke inhoud met voorkeur beloon. Sosialemedia-inhoud wat ingewikkelde menslike verskille tot eenvoudige karikature reduseer, is die stapelvoedsel van aanlyn politieke diskoers. Dit is immers die soort inhoud waarmee 'n mens binne enkele sekondes jou eie morele meerderwaardigheid kan bevestig en jou politieke teenstanders as hartelose stamdenkers of wêreldvreemde idealiste kan afmaak.
In 2019 het 'n groep navorsers onder leiding van die sielkundige Adam Waytz gekyk hoe mense met verskillende politieke oortuigings verantwoordelikheid teenoor ander beskou.
Hul studie het bevind dat mense (die studie was hoofsaaklik voltooi deur Amerikaanse respondente) wat hulself as liberaal/progressief beskryf, geneig is om hul morele besorgdheid oor wyer kringe uit te brei, terwyl konserwatiewes dit sterker om kleiner, duideliker omskrewe gemeenskappe organiseer.
Dit is 'n verleidelike bevinding, veral vir die internetkommentariaat. Gevolglik is die navorsing tot twee kleurvolle hittekaarte gereduseer en die hittekaarte is wat mens dikwels nou op sosiale media sien, veral as Facebook se algoritme net vaagweg dink jy stel in politiek belang.
Die een hittekaart lyk soos 'n klein, warm kol gefokus om familie en jou gemeenskap. Die ander een beeld 'n uitgestrekte gloed uit wat tot by plante en fiktiewe karakters strek.
Hiervandaan volg die maklike bespotting dat die kontemporêre progressiewe groepering meer omgee oor denkbeeldige ruimtewese as oor sy eie ma.
Maar dit is nie wat die studie werklik wys nie. Deelnemers moes aandui hoe ver hul morele kring strek, en elke groter kring het die kleineres ingesluit. Iemand wat diere binne sy kring plaas, sluit nie gevolglik sy kinders daaruit nie. Maar die detail help nie om die libs te own nie en word dus selde genoem.
In 'n ander toets moes deelnemers honderd eenhede morele besorgdheid tussen kategorieë verdeel. Maar selfs die benadering skep kunsmatig 'n wêreld waar meer vir die een noodwendig minder vir die ander beteken. Asof besorgdheid 'n beperkte hulpbron is. En tog sonder die beperking het die algemene verskil steeds verskyn, maar was wel minder drasties.
Alhoewel die studie Amerikaanse gesindhede weerspieël, is daar tog insig vir ons hier op die suidpunt van Afrika. Die onderskeid tussen universalisme en groepslojaliteit loop dikwels dwarsdeur ons plaaslike politiek.
In 1955 het duisende Suid-Afrikaners in Kliptown byeengekom om te verklaar dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, swart en wit. Die Vryheidshandves, wat deur die veelrassige Kongresalliansie aanvaar is, was in wese 'n poging om die morele grense van die Suid-Afrikaanse politieke gemeenskap te herdefinieer.
Apartheid het nie aan 'n gebrek aan gemeenskapsgevoel gely nie. Dit het redelik reguit op die nouer ras- of kultuurgebaseerde kringe gefokus en die staat het burgerskap en politieke regte volgens ras gevolglik afgebaken.
Tog het die bevrydingspolitiek self uit twee, dikwels teenstrydige, ideologiese tradisies geput. Aan die een kant was daar die internasionale klassesolidariteit van die Marxistiese tradisie en die universele menswaardigheid van die nierassige bevrydingsideaal. Aan die ander kant was daar Afrika-nasionalisme, wat juis die historiese aansprake, identiteit en selfbeskikking van 'n bepaalde gemeenskap beklemtoon het.
Hierdie tradisies kon saamwerk teen apartheid, maar het nie noodwendig dieselfde antwoord gebied op die vraag wie tot die politieke gemeenskap behoort en wie eerste aanspraak op sy hulpbronne mag maak nie. Die spanning het dus nie na 1994 verdwyn nie.
Die Grondwet weerspieël op sy eie manier ook hierdie spanning. Aan die een kant beklemtoon dit die universele menswaardigheid en gelykheid van elke mens, ongeag ras, herkoms of identiteit. Maar dit verskans terselfdertyd die reg van bepaalde kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe om hul eie identiteite te bewaar en uit te leef, erken die noodsaak van maatreëls om historiese benadeling reg te stel en maak selfs voorsiening vir die moontlike erkenning van gemeenskappe se selfbeskikking. Selfbeskikking en rasgebaseerde regstelling fokus nagenoeg op dieselfde vlak van konsentriese sirkels, naamlik ras en/of kultuur.
Mens sien die ongemaklike teenstrydigheid verder in die onlangse xenofobiese geweld en die opkoms van bewegings soos March and March en Operation Dudula. In April en Mei vanjaar is buitelanders in verskeie Suid-Afrikaanse stede geïntimideer en aangeval, terwyl geweld rondom immigrasie en asielaansoeke die afgelope week weer in Soweto en Durban opgevlam het.
Die ironie is dat 'n politieke kultuur wat so sterk steun op Afrika-eenheid en internasionale solidariteit, terselfdertyd 'n besonder beperkte opvatting kan hê van wie welkom is om binne Suid-Afrika se grense te woon. Die verre vreemdeling is maklik 'n simbool van ons medemenslikheid maar nie die nabye vreemdeling en sy spazawinkel nie.
En dieselfde spanning is te bespeur onder Afrikaners.
Die afgelope twee jaar se debat oor Donald Trump, plaasmoorde en die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika bied 'n goeie voorbeeld. Vir sommige Afrikaners is die agteruitgang van Suid-Afrika onafskeidbaar van hul eie gemeenskap se ervaring van misdaad en diskriminasie. Ander Afrikaners is weer besonder ongemaklik met die voorstelling van Afrikaners as unieke slagoffers in 'n land waar miljoene mense van alle gemeenskappe onder dieselfde staatsverval, geweld en ekonomiese agteruitgang gebuk gaan.
Die tweespalt wat die konsentriese kringe van morele besorgdheid uitbeeld, is ook hier ter sprake, hoewel dit nie noodwendig so eenvoudig langs ideologiese lyne verdeel kan word nie. Vir iemand wat plaasmoorde as 'n besondere misdaadverskynsel beskou, is die probleem dikwels veel nader as 'n abstrakte politieke of statistiese debat. Dit is hul broers, niggies, ooms en grootouers wat op plase aangeval, aangerand en vermoor word. Die lyding lê binne hul binneste morele kringe, waar besorgdheid nie bloot uit beginsels voortspruit nie, maar uit persoonlike verbondenheid en die werklike moontlikheid dat iemand vir wie jy lief is die volgende slagoffer kan wees.
Daarteenoor beskou ander dieselfde geweld vanuit 'n wyer perspektief, waarin plaasmoorde deel vorm van 'n veel groter Suid-Afrikaanse misdaadkrisis wat gemeenskappe oor die hele land raak. Hulle erken moontlik die erns van plaasmoorde, maar is minder oortuig dat dit as 'n unieke verskynsel verstaan behoort te word wanneer soveel ander Suid-Afrikaners daagliks aan soortgelyke geweld blootgestel word. Ander verwerp die erns van die probleem bloot omdat “Boere” in 'n te nou konsentriese sirkel is en hul eerder op die groter nasionale een fokus.
Maar aan alle kante is daar 'n verstommende gemak waarmee ons daardie kringe vergroot en verklein na gelang van wie daarin moet pas vir die argument wat gemaak word.
Die probleem met hierdie skynbare tweespalt is natuurlik dat dit self 'n oorvereenvoudiging van moraliteit is. Ons morele kringe is nie twee opponerende kampe waartussen ons moet kies nie. Hulle bestaan gelyktydig en oorvleuel voortdurend. 'n Afrikaner se liefde vir sy eie taal en gemeenskap hoef nie ten koste van sy verbondenheid aan die res van Suid-Afrika te bestaan nie, en die erkenning van die lyding van ander gemeenskappe hoef nie die lyding van sy eie gemeenskap te relativeer nie.
Gevolglik is die belangrikste tekortkoming van hierdie konsentriese kringe volgens my juis die indruk dat medemenslikheid iets is wat ons in beperkte hoeveelhede tussen mense moet verdeel. Asof ons minder vir ons eie familie moet omgee om meer vir die res van die wêreld te kan omgee. Maar die besondere verantwoordelikheid wat ek teenoor my eie kind het, beteken nie dat die kind van 'n vreemdeling minder menswaardig is nie. Net so hoef ons nie te kies tussen besorgdheid oor plaasmoorde en besorgdheid oor die duisende ander Suid-Afrikaners wat jaarliks vermoor word nie.
Morele besorgdheid is nie noodwendig 'n nulsomspel nie.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







