Daar is toenemende spanning tussen ouers en die staat oor wie uiteindelik die onderwys van kinders behoort te bepaal. Die ouers of die staat? Ontwikkelinge soos die BELA Wet, die invoer van seksonderwys, 'n nuwe geskiedenisleerplan en inisiatiewe om 'n Palestynse kurrikulum in te voer dra by tot hierdie groeiende spanning.
Vanaf Bybelse tye is dit 'n Goddelike opdrag dat ouers verantwoordelik is vir die onderwys van kinders. Deuteronomium 6:6-7 leer: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Ouers doen dit egter nie altyd alleen nie, maar gebruik ook ander om te help. Dit word geïllustreer deur die Latynse regsterm “in loco parentis”, wat beteken dat ander “in die plek van die ouer” met onderwys kan help.
Die ontwikkeling van “in loco parentis” word in hierdie eerste van drie artikels beskryf. 'n Tweede artikel beskryf hoe die moderne staat die verantwoordelikheid van ouers oorgeneem het en 'n derde artikel beskryf hoe die verval van die staat onderwys vandag affekteer.
Die antieke oorsprong
In antieke Romeinse tye was die vader die hoof van die huishouding. Hy het bekend gestaan as die “pater familias” en het wye gesag oor die huishouding uitgeoefen. Onderwys was deel van hierdie huishoudelike verantwoordelikheid. Die vader kon egter die onderwys delegeer aan 'n tutor of leermeester. Hierdie tutor het opgetree in die plek van die vader. Die Romeinse reg het hierdie praktyk beskryf met die term “in loco parentis”.
Die Rooms-Katolieke leer
Die Gravissimum Educationis van Pous Paulus VI van 1965 beskryf die onderwysplig soos volg: “Omdat ouers kinders in die lewe gebring het, is hulle gebonde aan die ernstige verpligting om hulle kinders op te voed en moet daarom erken word as primêre en hoofopvoeders.” Dit impliseer dat ouers kan kies om kinders self op te voed of na 'n skool van hulle keuse te stuur. Die Katolieke leer volg uit die natuurreg. Dis die natuurlike proses van kinders voortbring wat aan ouers die reg tot opvoeding gee.
Die Sekulêr-klassiek-liberale perspektief
'n Sekulêre-klassiek-liberale benadering kom tot 'n soortgelyke gevolgtrekking, maar vanuit 'n ander vertrekpunt. Denkers soos John Locke het ouerlike gesag beskou as 'n tydelike bevoegdheid wat voortvloei uit die ouers se plig om die kind te versorg, op te voed en tot selfstandige rede te lei. Ouers behoort vry te wees om die opvoeding van hul kinders self te voorsien of aan skole, tutors en ander opvoeders te delegeer.
Engelse gemenereg
In Engelssprekende lande is toepassing van in loco parentis op skole grootliks deur die Engelse gemenereg ontwikkel. In sy Commentaries on the Laws of England (1765) het William Blackstone geskryf dat 'n ouer 'n deel van sy ouerlike gesag aan 'n tutor of skoolmeester kan delegeer. Die onderwyser tree dan in loco parentis op en ontvang slegs daardie deel van die ouer se gesag wat nodig is om die kind te onderrig en dissipline te handhaaf. Volgens hierdie benadering bly die ouers die oorspronklike bron van opvoedingsgesag, terwyl die skool sy bevoegdhede slegs deur delegasie verkry.
Gereformeerde perspektiewe
Die Afrikaanse gereformeerde kerke het uit die Calvinistiese Reformasie ontstaan. Die gereformeerde kerke staan 'n onderwysbedeling voor wat op die Bybel gebaseer is. Dit kom duidelik na vore in die doopbelofte, waar ouers belowe om hul kind “na u vermoë te onderrig en te laat onderrig.”
Alhoewel hierdie doopbelofte ouers verantwoordelik hou vir onderwys, kan die woordjie “en” daarop dui dat daar 'n plig op ouers rus om sekere aspekte van die onderwys te delegeer. Hierdie plig word op verskillende maniere begrond:
1. Daar word erken dat sake soos godsdiens en seksonderwys 'n taak van die gesin is. Ander kennis wat ons nodig het om in die moderne wêreld te funksioneer soos tale, wiskunde en wetenskap word egter beskou as waardevrye of neutrale vakke wat beter deur vakkundiges oorgedra kan word. Aangesien ouers nie die vakkundige kennis besit om alle vakke aan te bied nie, is dit beter om die onderrig van neutrale vakgebiede oor te laat aan onderwysers met vakkundige kennis in bv. openbare skole.
2. Aan die ander kant is daar diegene wat meen dat daar nie so iets is soos neutrale onderwys nie. Om dié rede moet ouers hulle kinders na 'n Christelike privaatskool stuur wat verbonde is aan die kerkgemeenskap wat die ouers se waardes deel vir die vakke wat vakkundige onderwysers benodig.
Die Afrika-benadering
Die spreuk “It takes a village to raise a child” word dikwels met Afrika vereenselwig. Hierdie spreuk artikuleer die idee dat die opvoeding van kinders nie slegs die verantwoordelikheid van ouers is nie, maar ook die familie en die breër gemeenskap kan insluit om te verseker dat kinders floreer. Hierdie gemeenskap bestaan tipies uit die uitgebreide familie, ouderlinge, bure en ander lede van dieselfde kultuur- of geloofsgemeenskap.
Die verskillende sienings van “in loco parentis” kan verdeel word in twee kategorieë, naamlik die ouergesentreerde siening en die kollektiewe siening.
Die antieke, katolieke, Engelse en klassiek-liberale sienings is in essensie soortgelyk. Die ouer word as primêr verantwoordelik en bekwaam geag vir die onderrig van hulle kinders. Hierdie sienings kan saamgegroepeer word as 'n ouergesentreerde siening van “in loco parentis”.
Die gereformeerde perspektiewe en Afrika-benadering beskou ouers ook as verantwoordelik vir onderwys, maar nie noodwendig ten volle bekwaam nie. Die gereformeerde siening lê die klem op die noodsaak om gespesialiseerde vakke aan onderwysers oor te laat en die Afrika-benadering beskou onderwys as iets wat te groot is vir die kerngesin en dit aan die groter gemeenskap oorlaat. Hierdie twee kan saamgegroepeer word as 'n meer kollektiewe siening van “in loco parentis”.
Vanaf die negentiende eeu het daar egter 'n derde benadering sterker na vore getree: die moderne staat het toenemend 'n eie verantwoordelikheid en gesag ten opsigte van onderwys begin opeis. Dit lei tot groeiende konflik tussen ouers en die staat oor onderwys. Weens die verskillende sienings oor “in loco parentis” bly die verset teen die staat egter verdeeld en swak. Hierop sal die volgende artikel verder uitbrei.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










