Seuns raak agter in skole en minder mans as vroue gradueer aan universiteite. Ek het in Junie op OntLaer oor hierdie tendens geskryf. Op 1 Julie het Daily Maverick oor dieselfde verskynsel gerapporteer.
Hoewel daar debat is oor die oorsake en moontlike oplossings hiervan, begin die moontlike gevolge daarvan al hoe duideliker word. Hierdie ontwikkeling raak nie net die onderwys nie. Dit kan oor dekades 'n kettingreaksie veroorsaak wat deurwerk na die arbeidsmark, gesinsvorming, demografie, staatsgeldsake, veiligheid en uiteindelik die stabiliteit van die samelewing.
Universiteitskwalifikasies is tot 'n groot mate 'n voorvereiste vir professionele en senior bestuursposisies. Indien minder mans gradueer, is dit waarskynlik dat hulle aandeel in hierdie poste mettertyd sal afneem. Namate meer vroue professionele kwalifikasies verwerf, kan bestaande salarisverskille verder verklein en in sommige beroepe selfs omkeer.
Implikasies wat Verreken moet word
Indien mans toenemend 'n minderheid word in universiteite, professionele beroepe en korporatiewe omgewings, kan dit ook die karakter van hierdie instellings verander. Soos sommige seuns reeds in skole ontuis voel, kan mans mettertyd minder tuis voel in die korporatiewe omgewing. Dit kan hulle verdere ontrekking uit hierdie ruimtes versnel.
Namate meer vroue professionele kwalifikasies verwerf en geldelik onafhanklik word, verander die tradisionele ekonomiese grondslag van huwelike. Vroue het nie meer noodwendig 'n manlike broodwinner nodig om ekonomiese sekuriteit te hê nie. Dit dra by tot 'n afname in huwelike of dat huwelike later plaasvind. Waar mense wel trou, word gesinne waar beide man en vrou loopbane volg toenemend die norm. Sulke gesinne kies dikwels om nie kinders te kry nie, en indien wel, word dit dikwels tot een of twee beperk.
Gesinne waarin een ouer hoofsaaklik vir die kinders sorg, vind dit dikwels makliker om groter gesinne te onderhou. Sulke gesinne raak egter skaarser. Hierdie faktore, tesame met stygende lewenskoste en veranderende gesinsvoorkeure, dra by tot dalende geboortesyfers. Minder kinders beteken op hul beurt minder toekomstige ouers wat die demografiese afname verder kan versnel.
Pensioenfondse, mediese fondse en staatswelsyn is afhanklik van 'n groeiende werkende bevolking om die wat nie kan werk nie te onderhou. Namate geboortesyfers daal en bevolkings verouder, raak hierdie stelsels al hoe meer onvolhoubaar. Vir 'n tyd lank kan tekorte met skuld gefinansier word, maar op 'n stadium word die rente op die skuld een van die grootste items op die begroting. Dan moet voordele afgeskaal, bydraes verhoog of aftreeouderdomme uitgestel word. In verskeie Europese lande is aftreeouderdomme reeds verhoog en mediese voordele word verminder. So begin die sosiale veiligheidsnet geleidelik verswak.
Behalwe dat daar minder jong mans is, is die mans wat toenemend as randfigure in die samelewing oorleef minder bereid om militêre diens te verrig. Verskeie lande ervaar reeds groter probleme om militêre dienspligtiges of beroepsoldate te werf. Hierdie demografiese en sosiale druk val saam met 'n verandering in die aard van oorlogvoering. Gedurende die twee wêreldoorloë is miljoene voetsoldate gemobiliseer. Vandag word oorlog toenemend gevoer deur klein groepe soldate wat hommeltuie, presisiegeleide missiele en ander afstandwapens beheer. In die verlede het oorloë tot 'n beslissende einde gekom wanneer die oorwinnaar die vyand se hoofstad inneem en sy vlag daar geplant het. As oorlog egter hoofsaaklik uit wedersydse vernietiging van infrastruktuur deur hommeltuie en missiele bestaan, word dit al moeiliker om te sien hoe so 'n konflik tot 'n beslissende militêre oorwinning kan lei.
Mans met minder opleiding en minder beroepsgeleenthede raak makliker los van die hoofstroom van die samelewing. Sommige mans reageer deur hulle doelbewus van langtermynverhoudings, huwelike en gesinsvorming te distansieer. Bewegings soos MGTOW oftewel “Men Going Their Own Way” weerspieël hierdie verskynsel. Gesinne vorm tradisioneel die primêre sosiale netwerk waarin mense versorging, ondersteuning en waardes ontvang. 'n Samelewing met minder gesinne raak makliker gefragmenteer. Hier te lande het die adjunkminister van basiese onderwys het onlangs daarop gewys dat baie seuns wat uit die skoolstelsel verdwyn uiteindelik by bendes betrokke raak.
Namate bevolkings vergrys, ontstaan arbeidstekorte. Sommige state probeer hierdie arbeidstekorte aan te vul deur immigrasie. Waar groot getalle immigrante egter nie suksesvol assimileer nie, kan parallelle gemeenskappe ontstaan wat politieke en kulturele spannings verhoog. Dit kan tot verdere fragmentasie van die samelewing en politieke onrus lei. Veral in Europa groei die politieke partye wat die spannings probeer aanspreek deur immigrasie te beperk, strenger te beheer of selfs om te keer.
Dieperliggende Ontrafeling
Hierdie ontwikkelinge is nie losstaande verskynsels nie. Swakker opvoedkundige prestasie onder seuns beïnvloed die arbeidsmark, gesinsvorming, geboortes, ekonomiese volhoubaarheid en uiteindelik selfs die vermoë van state om hulle basiese funksies uit te voer. Indien hierdie tendense voortduur, kan die samelewing oor die volgende dekades ingrypend anders lyk as vandag.
Wanneer gesinne kleiner word en gemeenskapsinstellings soos families, kerke en plaaslike verenigings verswak, is daar minder informele netwerke om mense in moeilike tye te ondersteun. Indien sowel informele gemeenskapsnetwerke as staatsinstellings verswak, raak samelewings minder veerkragtig. Konflik, polarisasie en plaaslike geweld word dan moeiliker om te beheer.
Hierdie situasie skep egter ook geleenthede. Jong mense wat sterk gesinne vorm, kinders verwelkom en hulle waardes doelbewus aan die volgende geslag oordra, maak waarskynlik een van die belangrikste beleggings wat bestaan. Hulle vertrou nie slegs op effektebeurse, pensioenfondse of staatsvoordele vir hulle toekoms nie, maar bou 'n persoonlike verhouding met die toekoms. Uit 'n Christelike oogpunt sluit dit aan by die seën waarvan Levitikus 26:9 praat: “En Ek sal My na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig.”
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












