Wie bepaal die waardes wat oorgedra word aan kinders?
Die spanning tussen ouerlike gesag en staatsvoorgeskrewe onderwys.
Die Universele Verklaring van Menseregte is in 1948 aanvaar in reaksie op die gruweldade van die Tweede Wêreldoorlog. Teen hierdie agtergrond bepaal Artikel 26(3) dat ‘Ouers die eerste reg het om die soort opvoeding te kies wat aan hulle kinders gegee word.’ Hierdie bepaling weerspieël die beginsel dat die staat nie 'n monopolie oor die opvoeding en vorming van kinders behoort te hê nie, om te verhoed dat 'n staat sy mag misbruik om sy bevolking te vorm met staatsvoorgeskrewe waardes wat lei tot gruweldade.
Hierdie beginsel het ook neerslag in Artikel 28(b) in die Suid-Afrikaanse Grondwet gekry en gee aan kinders die reg “op gesinsorg of ouerlike sorg ...“. Die Kinderwet van 2005 gee aan ouers die plig om sorg aan kinders te verleen en hierdie sorg sluit in “leidinggewing, rigtinggewing en versekering van die kind se opleiding en opvoeding, ...”. So 'n wetlike raamwerk behoort te verseker dat ouers in beheer is van die inhoud wat aan kinders oorgedra word. Volgens so 'n regsorde tree onderwysers op in die plek van ouers. Dit word saamgevat in die Latynse spreuk “in loco parentis”.
Groeiende staatsbeheer oor kurrikulum
Die 1995 Witskrif vir onderwys is geskryf tydens die oorgang van apartheid na 'n nuwe demokratiese bedeling. Dit het 'n visie van demokratiese deelname en die beperking van onnodige staatsingryping uitgespreek. In die daaropvolgende ontwikkeling van die onderwysstelsel het die staat se invloed oor die inhoud van onderwys egter geleidelik uitgebrei. Onderwys is toenemend gebruik om staatsvoorgeskrewe waardes oor te dra eerder as om ouers te bemagtig.
In 2002 is 'n nasionale kurrikulumraamwerk ingevoer. Hierdie kurrikulum plaas groot fokus daarop om 'n seleksie van waardes van die grondwet oor te dra.
In 2010 is assessering tot die raamwerk toegevoeg en die kombinasie staan bekend as die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV).
Sedert 2019 is omvattende seksonderwys ingevoer. Daar was heelwat teenkanting teen die invoer van seksonderwys. Die reaksie van die minister van Basiese Onderwys destyds was dat ouers wat nie saamstem met die seksonderwys nie, kan kies vir tuisonderwys of hulle kind na 'n onafhanklike skool stuur wat 'n ander kurrikulum as CAPS aanbied.
In 2024 word die bekende BELA Wet bekragtig. Hierdie wet perk die magte in van beheerliggame van openbare skole, verhoog die straf vir die bedryf van 'n ongeregistreerde onafhanklike skool en skryf voor dat tuisonderwys programme in lyn met die nasionale kurrikulum moet wees.
In 2025 word verandering aan die geskiedeniskurrikulum aangekondig. In 'n video verduidelik Martin van Staden hoe geskiedenis 'n sentrale rol speel in die transformasiebeleid van die staat.
In 2026 was daar berigte oor inisiatiewe om 'n omvattende Palestynse leerplan in te voer in Suid-Afrikaanse skole.
Hierdie ontwikkelinge wys hoe die staat oor tyd toenemend die waardes wat aan die volgende geslag oorgedra word bepaal.
Uit die reaksie van die minister is dit dus duidelik dat ouers wat openbare skole gebruik nie kan verwag dat hierdie skole “in loco parentis” optree nie. Omdat die staat die inhoud van die kurrikulum voorskryf, is die onderwyser uiteindelik aanspreeklik teenoor die staat vir wat geleer word. Die onderwyser is dus eerder verteenwoordiger van die staat as verteenwoordiger van die ouer. Onderwysers tree dus in loco civitatis op.
Die onderwysdepartement word gelei deur artikel 29(2) van die Grondwet wat voorsiening maak daarvoor dat kinders in openbare skole onderwys in hulle moedertaal kan ontvang, maar wat nie vereis dat daardie onderwys die waardes van die ouers moet respekteer nie. Ouers wat ander waardes aan hulle kinders wil oordra kan onafhanklike skole of tuisonderwys kies op eie koste. Ouers kan slegs die taal waarin die staatsvoorgeskrewe waardes oorgedra word bepaal, maar nie die waardes self nie.
Die Rosenthal ervaring
Vir baie ouers is die oordra van hulle geloofsoortuigings aan hulle kinders 'n kernaspek van ouerskap. In Deuteronomium 6 staan geskryf: “... en hierdie woorde wat ek jou vandag beveel moet in jou hart wees en jy moet dit jou kinders inskerp.”
Philip Rosenthal is 'n Christenouer wat nie ingestem het met die waardes in die staat se sekskurrikulum nie. Daarom het hy sy kind na 'n Anglikaanse skool gestuur. Volgens hulle webwerf is die skool gebaseer op historiese Christelike wortels en 'n Anglikaanse etos. Volgens historiese Anglikaanse etos behoort kinders in sulke skole onderrig te word volgens die Tien Gebooie, die Onse Vader en die Apostoliese Geloofsbelydenis. Volgens die Tien Gebooie is seks buite die huwelik verkeerd, en huwelik word verstaan as 'n verhouding tussen 'n man en vrou. As mens na die webwerf kyk behoort Christen ouers hulle kinders met 'n geruste hart na so 'n skool te stuur, sonder die vrees dat die staat se seks- en geslagsonderwys aan hulle kinders oorgedra word.
Wat Rosenthal egter ontdek het was dat die skool wat sy kind bywoon, asook heelwat ander Anglikaanse skole ander waardes aan kinders oordra. Kinders word geleer oor homoseksuele verhoudings, dat geslag 'n sosiale konstruk is en dat mense self hulle geslag kan kies en hoe om veilige seks te bedryf sonder om VIGS op te doen.
Rosenthal het sy misnoeë uitgespreek daaroor dat 'n skool ander waardes aan kinders oordra as die wat hulle voorgee om te onderskryf. Terwyl sy Facebook-plasings gewoonlik net 'n handjievol opmerkings ontvang, het hierdie plasing 870 opmerkings ontlok en is 55 keer gedeel. Meeste van die opmerkings val sy Christelike waardes aan of verdedig dit. Bykans niemand lewer kommentaar op die feit dat ouers die reg het om hulle waardes oor te dra aan hulle kinders, ongeag of hulle daarmee saamstem of nie. Bykans niemand is bekommerd daaroor dat 'n skool ouers mislei deur ander waardes oor te dra as wat hulle op hulle webwerf publiseer nie.
Die Rosenthal ervaring illustreer dat onafhanklike skole nie noodwendig die waardes van ouers respekteer nie. En wanneer ouers hierteen beswaar maak vind hulle dikwels min steun.
Die Brasiliaanse ervaring
Baie ouers kies tuisonderwys om hulle waardes aan hulle kinders oor te dra. Ook op hierdie terrein is die staat besig om ouers se vryheid in te perk. Artikel 51 van die BELA Wet wat onlangs ingevoer is bepaal dat tuisskolers 'n tuisonderrigprogram moet gebruik wat “... hoofsaaklik die aanleer van inhoud en vaardighede dek wat ten minste vergelykbaar is met die betrokke nasionale kurrikulum wat deur die Minister bepaal is;“
Die spanning tussen ouergesag en staatsvoorgeskrewe waardes is nie uniek aan Suid-Afrika nie. In Brasilië het 'n hof onlangs beslis dat tuisskoolouers wat nagelaat het om seks en -geslagsonderwys vir hulle kinders te leer skuldig is aan kinderverwaarlosing. Sulke hofsake kan ook invloed uitoefen in Suid-Afrika, want Artikel 39 van die Grondwet bepaal dat “By die uitleg van die Handves van Regte– (c) kan ʼn hof, tribunaal of forum buitelandse reg in ag neem.“
Die wet bevat dus min beperkings wat die minister van basiese onderwys verhinder om tuisskoolouers te dwing om die staatskurrikulum te volg.
Die toekoms van onderwysvryheid
Die geskiedenis toon dat wanneer die staat toenemend uitsluitlike beheer oor die inhoud van onderwys verkry en die rol van ouers verswak, die risiko van ideologiese beïnvloeding toeneem. Juis daarom is die reg van ouers om die opvoeding van hulle kinders te kies ná die Tweede Wêreldoorlog uitdruklik in die Universele Verklaring van Menseregte opgeneem. Omdat onderwys ook 'n prominente rol in die stryd teen apartheid gespeel het, het die 1995 Witskrif minder staatsbeheer oor onderwys beoog, juis om 'n herhaling van die gruweldade van apartheid te help voorkom.
Alhoewel daar in internasionale reg en in die Grondwet verskeie bepalings is wat die reg van ouers beskerm om die onderwys van hulle kinders te kies, word hierdie reg in die praktyk ondermyn deur ander artikels in die Grondwet, die skolewet en buitelandse hofuitsprake. Daar is egter steeds geleenthede om ouerbeheer oor onderwys terug te neem.
Eerstens moet ouers kennis neem dat daar goeie redes is om te argumenteer dat die KABV nie afdwingbaar is nie:
Die nasionale kurrikulum is gepromulgeer in die vorm van die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV). Dit is nie 'n wet of 'n regulasie nie.
In die 2001 saak tussen die Departement van Onderwys en Harris is uitgespreek dat beleid nie op dieselfde wyse as wette en regulasies afgedwing kan word nie. Slegs wette en regulasies afgedwing kan word. Dit sal dus moeilik wees om ouers en skole te dwing om bloot aan beleidsvoorskrifte te voldoen.
Tweedens het die Cape Home Educators onlangs 'n voorstel aan Parlement se Gesamentlike Konstitusionele Hersieningskomitee gestuur om die
Grondwet te wysig sodat onderwys wat buite instellings plaasvind, eksplisiet erken word. Hierdie voorstel gee op 'n indirekte wyse meer regte aan ouers. As hierdie voorstel genoeg steun kry en aanvaar word, kan dit as katalisator vir groter vryheid in onderwys dien.
Indien die reg ouers aanspreeklik hou vir die opvoeding van hulle kinders, maar die staat toenemend bepaal watter waardes aan daardie kinders oorgedra word, ontstaan daar 'n spanning tussen verantwoordelikheid en gesag. Die vraag is of hierdie balans nog in ooreenstemming is met die oorspronklike bedoeling van internasionale en Suid-Afrikaanse reg.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










