In 'n aanbieding van die adjunkminister van basiese onderwys aan parlement, het Dr Reginah Mhaule op 17 Februarie gerapporteer dat 55.9% van die leerders wat ingeskryf het vir matriek meisies is, terwyl 44.1% seuns is. 'n Gaping van meer as 11%. Sy vind dit verbasend want mens sou die teenoorgestelde verwag aangesien baie meisies die skool verlaat weens tienerswangerskap. Sy het ook gesê dat die staat baie doen om meisies te ondersteun, terwyl geen aandag aan seuns gegee word nie. Daar was geen verdere bespreking van hierdie saak nie. Ook in die mediavrystelling oor die vergadering is niks daarvan vermeld nie.
In die minister se aanbieding aan die parlement op 3 Maart 2026 vermeld Siviwe Gwarube, die volgende :
“Widening gender inequalities (in favour of girls) in all of the above leads to significant gender inequalities in education outcomes (NSC, university).”
Soos die minister vermeld het lei die gaping op skool tot nog 'n groter gaping op universiteitsvlak. Volgens 'n 2024 verslag van die Universiteit van Stellenbosch is 58.9% van graduandi vroulik en 41.1% manlik. 'n Gaping van meer as 17%.
Volgens die media is daar nie 'n deeglike verstaan van die oorsaak van die probleem nie. Terwyl daar in die Onderwysdepartement se navorsingagenda vir 2024-2029 indirekte verwysings is na die probleem, word geen navorsing beplan om die oorsaak van die probleem te vind nie.
Rigiede ouderdomsvereistes
Die boek “Of Boys and Men” van Richard Reeves gee insig in hierdie probleem. Reeves skryf:
”Boys’ brains develop more slowly, especially during the most critical years of secondary education. When almost one in four boys (23%) is categorized as having a “developmental disability,” it is fair to wonder if it is educational institutions, rather than the boys, that are not functioning properly.”
As seuns oor die algemeen teen verskillende tempos as meisies ontwikkel, sou dit sin maak dat die skoolstelsel buigbaar moet wees wanneer dit kom by die ouderdom wat kinders in 'n spesifieke graad moet wees. Die SA Skolewet is egter alles behalwe buigbaar as dit kom by die ouderdom van kinders wat skool moet bywoon. Dit skryf in die fynste besonderhede voor op watter ouderdomme kinders na graad R en graad 1 moet gaan. Dit gee aan die minister magte om regulasies te maak oor die ouderdom waarop kinders tot skole toegelaat moet word en ouderdomme vir die verskillende grade. Om af te wyk van hierdie voorskrifte vereis toestemming van die departementshoof. Die wet skryf selfs ouderdomsvereistes vir onafhanklike skole voor, en gee ook aan die minister die mag om ouderdomsregulasies voor te skryf vir onafhanklike skole.
Die rigiede ouderdomvoorskrifte kan een van die faktore wees wat daartoe bydra dat sommige seuns voortdurend met meisies vergelyk word wat reeds vroeër ontwikkel het.
Afwesigheid van rolmodelle
Personeelfotos van publieke skole wys dat daar in die verlede heelwat meer manlike onderwysers was. Seuns het dus meer toegang gehad tot manlike onderwysers wat as rolmodelle kon dien en moontlik groter begrip vir hul behoeftes gehad het.
Deesdae is manlike onderwysers egter so skaars soos hoendertande, en die gevolg is dat heelwat seuns se skoolervaring sonder manlike rolmodelle verbygaan, nie net in die klaskamer nie, maar ook in sportafrigting. In 'n samelewing waar egskeiding algemeen is, het baie seuns ook nie 'n rolmodel tuis nie.
Soos manlike onderwysers skaars is, is manlike leierskap in onderwys ook skaars. Sedert 2004 was alle ministers van basiese onderwys vroue. Van die nasionale onderwysraad wat die minister adviseer is 80% vroulik. Die onderwyssektor het toenemend vroulik geword, van die klaskamer tot beleidsvlak, wat die risiko verhoog dat die unieke behoeftes van seuns minder aandag ontvang.
Hierdie vraagstukke word ook weerspieël in beleids- en navorsingsbesprekings. Volgens 'n aanbieding aan die Onderwysdepartement in 2014 het Dr. Zuse van die RGN onder andere verwys na “... issues like reading being perceived as being “too girly” for boys and the selection of reading material that may be more appealing to girls in classrooms.” Dit impliseer dat nie slegs die ontwikkeling van seuns 'n rol speel nie, maar ook hulle belangstellings.
Afwesigheid van ondersteuning
In haar aanbeiding het die adjunkminister ook erken dat daar geen programme is wat seuns ondersteun nie. Daar is talle programme om meisies te ondersteun. Spesiale programme om meisies te ondersteun om in rigtings te studeer wat tradisioneel manlik was soos ingenieurswese en IT. Om meisies te ondersteun wat swanger word of slagoffers van geweld is.
Daar is geen programme wat toegespits is op seuns nie. Geen programme wat seuns aanmoedig om in rigtings te studeer wat tradisioneel vroulik was soos onderwys en medies. Of om seuns te ondersteun wat slagoffers van geweld is nie.
Gevolgtrekking
Vandag moet seuns 'n onderwysstelsel navigeer waarin hulle minder begrip, minder rolmodelle en minder doelgerigte ondersteuning ervaar as vorige geslagte. Die adjunkminister het ook genoem dat baie seuns soos stiefkinders voel en 'n heenkome in bendes soek. Indien dit die geval is, behoort die groeiende vervreemding van seuns van die onderwysstelsel groter kommer te wek.
Die minister en adjunkminister moet gelukgewens word vir hulle eerlike erkenning van die probleem. Ongelukkig het die portefeuljekomitee nie belanggestel in die probleem nie. Dis nie bespreek nie. Dis nie vermeld in die mediavrystellings nie.
Dit begin nou duidelik word wat gebeur wanneer 'n hoogs gestandaardiseerde onderwysstelsel kinders met verskillende ontwikkelingsprofiele op presies dieselfde manier probeer behandel.
Suid-Afrika is nie uniek nie. Soortgelyke geslagsgapings ten gunste van meisies word ook in die Verenigde State, Australië en baie OECD-lande aangetref. Die vraag is dus nie bloot waarom Suid-Afrikaanse seuns agter raak nie, maar waarom moderne onderwysstelsels wêreldwyd toenemend sukkel om seuns te akkommodeer.
Hoe nou verder?
Die minister vermeld niks oor hierdie gaping voor 2026 nie. Die gaping groei waarskynlik al vir jare. In 2026 het dit egter so groot geword dat die minister dit in die parlement moes toegee. 'n Gaping van 11 % is groot genoeg vir die minister om dit te noem, maar nog nie groot genoeg vir parlement en die media om kennis te neem nie.
Volgende jaar is die gaping dalk groter. Sodra hierdie gaping te groot raak om te ignoreer, gaan daar 'n oproep wees om iets te doen. Hierdie “iets” gaan 'n fundamentele herbesinning van die skoolstelsel vereis. Iets waarvoor geen onderwysdepartement of vakbond lus is nie. Ook die nasionale onderwysraad, wat die minister moet adviseer, bestaan uitsluitlik uit persone met gevestigde belange in die bestaande skoolstelsel. Dit maak dit moeiliker om fundamentele alternatiewe tot die bestaande model ernstig te oorweeg.
Soos die gevestigde orde worstel met die probleem, gaan die gaping nie net 'n groeiende statistiek bly nie. Oor tyd gaan dit sigbaar word wat gebeur met 'n samelewing wanneer 'n groeiende deel van sy seuns nie hul plek in onderwys, werk en gemeenskapslewe vind nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










