Op 13 Augustus 2026 is Instagram se nuutste handelsmerkvernuwing bekendgestel en het dit heelwat opslae op digitale platforms gemaak – soveel so dat selfs ChatGPT op hulle sosialemediaplatforms aan die tendens deelgeneem het en hulle naam “chatjipiti” in Instagram se nuwe font uitgebeeld het om die leesbaarheid van hul handelsmerk te versterk. Ander handelsmerke, soos KitKat, het 'n soortgelyke tendens gevolg.
Voordat ek wegval en my 10 sent rondom Instagram se handelsmerkvernuwing deel, wil ek hê jy moet van twee dinge bewus wees:
Ons kry verskillende embleemsoorte. In Instagram se geval kyk ons na 'n woordmerk as 'n embleem. Ander voorbeelde van woordmerke in handelsmerke is onder andere Coca-Cola, Google, Netflix, Showmax, Typo, Ford, Wimpy, Checkers en Kellogg’s.
Tipografie het sy eie anatomie. Jip. Régtig. Tipografie word gesien as 'n stelsel van vorms, lyne, verhoudings en ruimtes wat bepaal hoe die letter lyk, lees en uiteindelik deur die leser ervaar word. So, ja, die font wat jy vir jou partytjieuitnodigings en akademiese inligtingstukke kies, maak saak. Ek heg vir jou 'n visuele voorstelling van tipografiese anatomie aan, sodat jy sien wat ons, as ontwerpers, in ag moet neem:
Wanneer 'n handelsmerk, soos Instagram, 'n woordmerk as hul primêre embleem gebruik, word die anatomie van daardie letters dus deel van die handelsmerk se visuele identiteit. Ons sien dit dan nie net as 'n woord nie, maar ook as 'n visuele element wat volgens ontwerpbeginsels toegepas moet word.
As jy 'n waardering vir skryfbehoeftes het, sal jy heelwaarskynlik 'n draai by die Typo-skryfbehoeftewinkel al gemaak het of kennis van hulle op sosiale media geneem het. Die nuwe Typo 2.0-konsep is in April 2026 by die V&A Waterfront in Kaapstad onder die tema Anything But Ordinary, bekendgestel. Net soos Instagram, is hulle primêre embleem ook 'n woordmerk en skemer die retro-styl duidelik deur. 'n Ooreenstemmende aspek waarin altwee handelsmerke slaag is om die retro-styl in vandag se tye relevant te hou deur dit op 'n moderne wyse toe te pas.
Vir groot maatskappye word handelsmerkvernuwing nie ligtelik opgeneem nie en kan dit jare neem om uiteindelik die groenlig te gee. Die rede daarvoor is eintlik logies: Dis nie net 'n embleem wat vervang word nie, dis om die oortuiging van verandering binne die teikenmark wat reeds vertroud met die vorige handelsmerk is, oor te dra en die teikenmark se verbruikersvertroue te hou. Hierdie beginsel word veral deur Instagram se handelsmerkvernuwing gesien en verduidelik waarom Instagram-gebruikers en selfs maatskappye hul sterk menings daaroor op sosiale media gedeel het.
Instagram se klein Typo - soort van
Handelsmerkvernuwing beteken nie altyd dat daar groot aanpassings gemaak moet word nie. Soms is dit op die oog af klein veranderinge wat die grootste impak maak, soos Instagram en Typo 2.0 wat hul woordmerke se fonts verander het. Dis al. Net die font.
In Instagram se geval is die bekende kamera-ikoon, wat waarskynlik die mees herkenbare komponent van die handelsmerk is, nie vervang of aangepas nie. Die naam “Instagram” soos dit in die handelsmerk as 'n visuele element verskyn, is aangepas deur 'n kursiewe-lettertipe met drukletters te kombineer. Die rede daarvoor was nie om die bestaande karakter van Instagram heeltemal te verwerp nie, maar om dit binne 'n meer ontwikkelde en hedendaagse visuele stelsel te plaas. Ons kan dus ook sê dat hulle nou in 'n transformeerdende-moderniseringsfase is en die eerste stap geneem het.
Instagram se vernuwing is 'n goeie voorbeeld waarom lettertipes die handelsmerkpersoonlikheid en stemtoon bepaal. 'n Ontwerper kan dus nie net 'n lettertipe kies, omdat dit esteties of modieus is nie. Die lettervorme moet binne die groter identiteitstelsel sin maak en die handelsmerk se persoonlikheid ondersteun. Instagram se nuwe woordmerk wys hoe kompleks dié besluitnemings kan raak: Hoe behou jy karakter met 'n kontemporêre uitdrukking deur 'n font te kies of te ontwerp wat steeds leesbaar en herkenbaar moet wees?
Wanneer 'n lettervorm verwaring in leesbaarheid veroorsaak, kan dit spanning en onsekerheid in die teikenmark se handelsmerkvertroue skep en dis presies wat met Instagram gebeur het. Kort ná die bekendstelling van Instagram se nuwe woordmerk het talle sosialemediagebruikers opgemerk dat die nuwe woordmerk nie as “Instagram” gelees word nie, omdat die letter “r” met die letter “z” verwar word. In plaas van Instagram, lees ons dit as “Instagzam”. Daar is ontwerpers wat van mening is dat die vorm van die “r” in die nuwe embleem nie regtig saak maak nie, juis omdat Instagram se handelsmerk die afgelope dekade reeds in gebruikers se geheue vasgesteek het. Ek argumenteer weer dat dieselfde beginsel vir die nuwe embleem kan geld.
Instagram se Handelsmerkgeskiedenis
Binne die konteks van Instagram se handelsmerkgeskiedenis, is dit nodig om te weet dat die vorige woordmerk ongeveer tien jaar lank deel van die daaglikse visuele landskap van miljarde gebruikers was en is dit in elke gebruiker se visuele geheue ingeprent. Wanneer 'n visuele element in 'n gevestigde handelsmerk verander, verander dit iets wat reeds betekenis gedra het. 'n Handelsmerk se identiteit word oor tyd deur herhaling opgebou. Elke keer wanneer 'n gebruiker 'n embleem, ikoon, kleur of lettertipe sien, word die visuele assosiasie met die onderneming versterk. Wanneer 'n onderneming besluit om 'n element te verander, vergelyk die getroue gebruikers outomaties die nuwe identiteit voortdurend met die vorige een.
Ouderdom en veroudering is nie noodwendig dieselfde ding nie. 'n Visuele identiteit kan vir baie jare relevant, herkenbaar en funksioneel bly indien dit steeds die handelsmerk se posisionering en behoeftes effektief kommunikeer. In Typo se geval word die hernuwing na Typo 2.0 deur 'n volgende fase in die ontwikkeling van 'n handelsmerk ondersteun en moet dit in die visuele identiteit weerspieël. Ek persoonlik hou nie van die nuwe embleem nie, maar hul rede daarvoor is na my mening briljant, omdat hulle ontwikkeling en vooruitgang as 'n duidelike rede vir die verandering gegee het.
Wat ek dus voel en verkies, is irrelevant, omdat die visie en missie agter die rede duidelik genoeg is en daarom sal ek nog steeds van hul produkte aankoop. Wanneer 'n handelsmerk 'n nuwe identiteit bekendstel, wil die teikenmark ten minste net verstaan waarom verandering nodig was. Indien die visuele verandering deel is van 'n groter ontwikkeling, is die kanse goed dat die nuwe identiteit geloofwaardigheid onder die teikenmark gewen het. Wanneer die rede vir die verandering egter onbekend bly, kan die publiek die handelsmerk bevraagteken.
Die publiek as mede-ontwerpers
Dis duidelik dat handelsmerkvernuwing en handelsmerkontwikkeling nie net oor die estetiese aspek gaan nie. Dit gaan oor die redes en behoeftes agter die besluitnemingsproses en waarom dit nodig was om 'n handelsmerk aan te pas. Selfs die publiek kon dit insien. Instagram se nuwe woordmerk is 'n goeie voorbeeld waarom selfs 'n subtiele tipografiese verandering 'n wêreldwye tendens kan veroorsaak, omdat die font-keuse die leesbaarheid van die woordmerk kan beïnvloed.
Typo 2.0, daarteen, wys dat handelsmerkontwikkeling binne 'n groter strategiese plan weer vertroue kan wen. In beide gevalle is dit opvallend dat handelsmerkontwikkeling in so 'n mate toegepas moet word sonder om die eienskappe, wat mense se vertroue in die handelsmerk versterk het, uit te wis.
Dus, my kort ope brief aan Instagram:
Ek hou van julle nuwe woordmerk. Selfs die font wat julle gekies het maak vir my sin. Sal julle asseblief net die “r” aanpas?
Of gaan dit 'n dekade neem?
Die uwe,
Hilde Kruger het 'n lidmaatskap by die International Society of Typography Design (ISTD) in 2017 verwerf en is vandag 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker, wat in strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling spesialiseer.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











