Hier is twee begrippe wat jy gerus in jou woordeskat kan stoor:
KI-Slop: Dis die informele term vir sensasiegedrewe, laegehalte-inhoud wat op groot volumes deur KI gegenereer word. Min tot geen menslike bydrae word tydens die massavervaardiging van dié inhoud gelewer en gedeel nie.
KI-Vermoeidheid: Die toename van KI-gegenereerde inhoud het 'n versadigingspunt bereik en mense raak nou moeg daarvoor – om dit mooi te stel.
Onafhanklike ondersoeke het onlangs aangedui dat daar minstens 16 groot KI-slop-YouTube-kanale, met sowat 35 miljoen intekenare en ongeveer 4,7 miljard kyke, reeds van die platform verwyder is. Google se nuwe patroonopsporingstelsels het in die afgelope ses maande sowat 130 000 kanale verwyder, dit sluit natuurlik strooipos- en ander gekoördineerde kanaalnetwerke in. Groot tegnologiemaatskappye belê nou ook al hoe meer in stelsels wat KI-gegenereerde inhoud kan skandeer en identifiseer. Die vraag is: Waarom sou hierdie maatskappye hul digitale besems uithaal en die KI-slop uitvee as die intekenaar- en kykergetalle so goed lyk?
YouTube trek nou 'n lyn
YouTube het onlangs 'n belangrike term-verandering in hul beleid toegepas. Waar dit aanvanklik repetitious content was, is dit nou met inauthentic content vervang. Hierdie verandering op sigself dui vir ons aan dat die tye verander het en dat ons nou anders na advertensiemodelle en inhoudskepping moet kyk. Om een term in YouTube se beleid te verander, gee vir hulle die geleentheid om advertensie-inkomste van massavervaardigde, herhalende of kreatiwiteitlose inhoud te verwyder.
YouTube spreek dus nie KI direk aan nie, maar eerder die onverantwoordelike gebruik daarvan.
YouTube se geldmodel en geloofwaardigheid
Dit gebeur dikwels dat mense onder die indruk is dat YouTube-inhoudskeppers vergoed word op grond van die hoeveelheid videokyke wat dit verdien. 'n Video met byvoorbeeld twee miljoen kyke, kan dus minder inkomste genereer as 'n ander video wat vyfhonderdduisend kyke ontvang het. Die rede daarvoor is dat die platform eintlik op 'n advertensiegedrewe ekosisteem funksioneer waar hul inkomste afhanklik van ondernemings se betaalde advertensies is. Ondernemings betaal Google om advertensies op YouTube te plaas, waar die advertensies dan voor, na of in die middel van die video ingewerk word. Ons kan dus sê dat YouTube as 'n tussenganger tussen die kyker, adverteerders en inhoudskeppers gesien kan word. Die inkomste wat uit die advertensie gemaak word, word dan tussen die inhoudskepper en YouTube verdeel; inhoudskeppers sal dus 55% van die wins op langvideo's ontvang en YouTube die oorblywende 45%.
Indien die hoeveelheid en kwaliteit inhoud in balans met die advertensie-inkomste bly, werk dié advertensiemodel op 'n doeltreffende manier. Die oormatige gebruik van KI-inhoud op YouTube het egter die strukture beïnvloed en 'n ekonomiese wanbalans veroorsaak. Soos ons reeds weet, word KI ook vir draaiboeke, stemgenerering, beeldskepping en videoredigering gebruik. Indien daar byvoorbeeld honderdduisende aktiewe KI-gedrewe kanale bestaan, waarvan elkeen twintig of meer video's per dag publiseer, en boonop honderdduisende of selfs miljoene kyke per video ontvang, kan die hoeveelheid inhoud op die platform drasties toeneem en die finansiële en tegniese verantwoordelikhede wat YouTube dra, verhoog.
Vir elke video wat op YouTube gepubliseer word, is dit steeds nodig om die inhoud op bedieners te stoor en te kontroleer, en om kopieregskwessies te hanteer. Betaalde advertensies moet ook in die video's ingewerk word en inhoudskeppers moet volgens die advertensiemodel vergoed word. Namate miljoene KI-gegenereerde video's advertensie-inkomste kan opeis, word die onderliggende ekonomie van die platform toenemend onder druk geplaas.
As gebruikers met gegenereerde video's van lae gehalte oorval word, verloor hulle outomaties belangstelling en bestee hulle minder tyd op die platform, wat dan tot minder advertensie-inkomste kan lei. Die grootste uitdaging vir YouTube lê dus nie net in die uitbetaling van advertensie-inkomste nie, maar ook in die instandhouding van die advertensie-ekosisteem. Dis ook belangrik om te weet dat adverteerders lankal nie meer in die hoeveelheid videokyke of blootstelling belê nie, maar in positiewe gebruikerservaring en 'n veilige plek om hul handelsmerke bloot te stel. Indien ondernemings se handelsmerke tussen die KI-slop lê, is die kanse goed dat die ondernemings hul advertensiebegroting sal oppak en op ander platforms sal uitpak met die hoop dat die geloofwaardigheid in die handelsmerk behoue kan bly.
Soos voorheen genoem is YouTube nie teen die verantwoordelike gebruik van KI nie. Inteendeel, indien die oorspronklikheid van jou idees en kreatiewe oordeel steeds die inhoud van die video's dryf, moedig hulle dit aan. 'n Goeie voorbeeld van goedgekeurde KI is inhoudskeppers wat intellektuele inhoud in hul moedertaal skep, maar nie noodwendig Engelssprekend is nie en dus KI as 'n hulpmiddel gebruik om 'n Engelse stemweergawe te genereer en dit toegankliker vir die res van die wêreld kan maak. Die uitdaging lê nou egter oor die sensitiwiteit rakende wat oorspronklike inhoud is en wat nie. Ons kan dit selfs weer terugtrek na kuns: wat word nou as kuns gesien en wie bepaal wat kuns is?
'n Nuwe belegging in KI-etikette
Volgens 'n YouTube-outomatiseringskenner, Romayroh, belê groot tegnologiemaatskappye, soos Google, Meta en YouTube, nou in stelsels wat KI-gegenereerde inhoud kan identifiseer en duidelik kan afmerk. Dit kan onder twee takke verdeel word: Die eerste tak is KI-inhoud wat met 'n watermerk of ikoon aangedui word. 'n Bekende voorbeeld wat verbruikers reeds uitken, is die “Ai-info” wat bo-op die plasing van Facebook en Instagram-inhoud aangedui word of die bekende sterretjie in die hoek wat die Gemini-KI-model verteenwoordig. Die tweede tak is die KI-opsporing (AI detection), waar algoritmes probeer bepaal of inhoud waarskynlik deur 'n KI-stelsel gegenereer is en of dit deur 'n mens geskep is, selfs al word daar nie 'n watermerk aangedui nie. Google se DeepMind-afdeling het byvoorbeeld SynthID ontwikkel om onsigbare watermerke in KI-inhoud te plaas. YouTube gee weer die verantwoordelikheid terug aan die inhoudskeppers wat vereis dat hulle enige KI-inhoud in die Content Credentials moet aandui. Meta implementeer weer soortgelyke etikettering op Facebook en Instagram en werk volgens die Coalition for Content Provenance and Authenticity (C2PA), wat wêreldwye standaarde vir digitale inhoud se oorsprong ontwikkel. Interessant genoeg word Microsoft, Adobe, Intel en OpenAI ook as lede van C2PA genoem.
Ironies genoeg bevoordeel hierdie ontwikkeling juis ondernemings wat reeds van KI-modelle gebruik maak. Soos wat KI ontwikkel, word dit al hoe moeiliker vir verbruikers om sintetiese inhoud met mensgemaakte inhoud te onderskei. Om in hierdie modelle te belê skep deursigtigheid tussen die verbruiker en die onderneming, beskerm die platforms teen moontlike bedrog en misleidende inhoud en versterk verbruikersvertroue en geloofwaardigheid van die platform, omdat die verantwoordelike gebruik van KI outomaties aangemoedig word.
In Google, Meta en OpenAI se geval, kan hulle nou hul eie gevorderde KI-modelle uitbrei en terselfdertyd meganismes ontwikkel wat KI kan identifiseer en die sekerheid van mensgemaakte inhoud onder verbruikers versterk. Beheer en balans.
Die een hand was die ander
Vir die eerste keer sedert generatiewe KI belê die wêreld se grootste tegnologiemaatskappye nie net in die ontwikkeling van KI-modelle nie, maar ook in stelsels wat daardie inhoud kan identifiseer en etiketteer. Hierdie ontwikkeling dui daarop dat KI-slop en KI-vermoeidheid nie net die gebruikerservaring beïnvloed nie, maar ook finansiële implikasies vir platforms soos Google en YouTube kan inhou. Dit bevestig net weereens dat deursigtigheid, geloofwaardigheid en menslike kreatiwiteit mededingende voordele is. Dis duidelik dat die toekoms nie uitsluitlik aan KI behoort nie, maar eerder aan die samewerking tussen mens en masjien, waar KI kreatiwiteit ondersteun eerder as om te vervang.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









