My vorige artikel oor Iran het sterk kritiek en steun uitgelok en dis juis wat ek verwag het gaan gebeur aangesien dit, soos ek voorheen geskryf het, 'n seminale gebeurtenis is. Dis wat ek beoog het daarmee.
Ter vergelyking is daar 'n kwantitatiewe verskil tussen die populistiese en onvoorwaardelike steun vir pres. Donald Trump se elke optrede, en diegene wat meer krities oor hierdie spesifieke konflik is. Dit geld vir Suid-Afrika sowel as Amerika. Die kritiese groep sien die ooglopende uitwerking daarvan op die plaaslike ekonomie en wat al bereik is vanuit 'n Amerikaanse perspektief, terwyl die voorstanders daarvan se kritiek meestal in platvloerse en persoonlike beledigings neerslag vind.
Jammer, maar beledigings en skeldtaal is nie ernstige argumente nie en trouens, dit is as’t ware geen argument nie. Dit wysig ook nie die werklikheid nie en dit ontbloot slegs hoe vlak die debat eintlik is oor hierdie oorlog en hoe swak die voorstanders se verdediging daarvan is. Ek het twee weke gelede reeds die redes vir my teenstand teen hierdie oorlog uiteengesit en gaan dit nie weer doen nie, want intussen het nuwe gebeure geensins my mening hieroor gewysig nie. En ek sal dit met graagte wysig indien die gebeure en feite dit noodsaak. Kortom, die Iranse regime is boos, maar ander regerings is veel meer boos en gevaarliker en nie als hoef in oorlog te ontaard nie. Die oorlog het veel meer skade as voordele meegebring.
Populistiese en intellektuele konsensus
Populisme kan kortom beskryf word as die gewone mense wat teen allerlei (korrupte, hovaardige en selfsugtige) elites in opstand kom. Dit is op sigself nie 'n slegte ding nie en ek beskou myself ook as populisties wanneer dit by menigte sake kom. Dit is ook nie altyd ideologies uniform nie: Dit kan as links, regs of enigiets anders getipeer word, hoewel daar myns insiens meer oorvleueling is tussen alle populisme as wat daar voorveronderstel word. Dink maar aan die uiteenlopendheid (en verskuilde ooreenkomste) in die eise en griewe van Marine le Pen en Trump enersyds, en die Bolsjevisme andersyds.
Die probleem met populisme is wanneer dit bloot in 'n onkritiese onkunde en emosie verval. Iets is goed of sleg op grond van hoe iemand daaroor voel eerder as wat werklik besig is om te gebeur. Die populis se leuse is: Jy is verkeerd want ek dink jy is verkeerd ondanks enige feite en ontleding wat dalk die teendeel bewys. Die subteks is: Ek het ook nog nie probeer om uit te vind wat regtig aan’t gebeur is nie, en ek gaan ook nie die moeite doen nie want ek is klaar reg.
Die lyn tussen populisme en die intellektualisme wat hulle so verfoei, vervaag egter oor verskeie kwessies. Die Iran-konflik is een van hulle. Daar is egter 'n groeiende konsensus regoor die ideologiese spektrum.
Konserwatiewe populistiese stemme soos Marjorie Taylor Green, Alex Jones en Tucker Carlson (almal mense wat Trump vir lank gesteun het en tot sy verkiesingseges bygedra het) is dit skielik eens met politieke en militêre ontleders so uiteenlopend soos koll. Douglas McGregor, Lawrence Wilkerson, Daniel Davis, asook proff. Robert Pape, en John Mearsheimer. McGregor, Davis en Wilkerson is meer konserwatief en het albei in hoë range in die weermag tydens Republikeinse administrasies gedien. McGregor het self as veiligheidsraadgewer tydens Trump se eerste termyn gedien. Pape en Mearsheimer, albei verbonde aan die Universiteit van Chicago as politieke wetenskaplikes, is meer liberaal. Dan is daar nog die linkse media se opposisie ook, sowel as prominente konserwatiewe stemme, soos die Joods-Amerikaanse mediapersoonlikheid Michael Savage en The American Conservative. Heelwat konserwatiewe media, soos National Review en Heritage Foundation, is tans taamlik snoep oor Iran en fokus eerder op die kultuuroorloë en binnelandse kwessies. Elon Musk rep nie 'n woord daaroor op X nie. Dit op sigself veelseggend.
In menigte opsigte is hierdie oorlog straks die enigste kwessie waaroor al hierdie rolspelers saamstem. Hoekom is dit so? Dit kan beslis nie ideologiese eenstemmigheid wees nie. My raaiskoot is dat hulle – nes ek – kyk na die beloftes wat gemaak is, die feite oor wat nou gebeur, die kolletjies verbind en tot dieselfde gevolgtrekkings kom. Hulle kan onmoontlik nie almal kranksinnig, woke of onnosel wees nie. Uiteraard steun nie een van hulle Iran nie en almal bespiegel bloot oor hoe dit beëindig kan en moet word. Almal verwerp die noodsaak van hierdie oorlog.
Die saak vir kritiese populisme
Afrikaners en ander mense verfoei juis die EFF oor hul verregaande en populistiese uitsprake oor byvoorbeeld grondonteiening en regstelling. Die kommentariaat was oor die jare krities, versigtig én selfs vol prys vir die EFF se planne, maar het nou grootliks teen hulle gedraai of ignoreer hulle. Mens kan sommiges vir hul papbroekigheid en leuens verkwalik en dat hulle nie vroeër die lig gesien het nie, maar om almal oor dieselfde kam te skeer is feitelik en moreel verkeerd.
Baie van dieselfde Afrikaners maak hulself inmiddels skuldig daaraan om een soort populisme as laakbare wensdenkery en radikaal te veroordeel, maar dan 'n ander soort (en elke gepaardgaande besluit) op twyfelagtige gronde te loof en goed te praat. In weerwil van feite en logika, weet hulle net dat Trump altyd 'n meesterstrateeg is wat slegs goeie besluite neem. Daar word nie verduidelik hoekom dit só is nie, hulle wéét net dat dit so is. En as jy dit nie sien nie, is jy onnosel/outomaties aan die verkeerde kant/(vul die belediging in). Jammer, maar as dit jou argument is, het jy klaar die debat verloor voor dit nog begin.
Soos my vorige skrywe en ander tendense en navorsing bewys het, is dat populiste allergies is vir kennersmenings asook ander elite instellings en persone. Ek het self al kritiek oor openbare intellektuele op Ontlaer en elders gelewer omdat baie van hulle als deur 'n ideologiese bril ontleed en die publiek mislei. 'n Ongekwalfiseerde veroordeling van alle intellektuele (en selfs hul nuanses) roep egter 'n reeks vrae op. As jy afwysend is jeens alle joernaliste, ontleders en akademici, waar kry jy jou inligting vandaan om te bewys dat jou sieninge geldig is? Tel hul al hul menings glad nie, juis omdat hulle oor kennis oor 'n spesifieke onderwerp beskik? Wie sê “jou kant” (indien jy enige inligting oor 'n onderwerp bekom) lieg nie vir jou nie en het nie ook gevestigde belange en 'n ideologie om ten alle koste in stand te hou nie? Dis kwessies om te bepeins in hierdie situasie want soos die uitdrukking lui: In oorlog is die waarheid die eerste om te sneuwel. Soos ek voorheen aangedui het, lees en luister ek na mense wat nie met my oor die oorlog saamstem nie. Ek vind net hul menings onoortuigend al is ook waarheid daarin.
Met my eie argwaan oor byvoorbeeld multilaterale liggame soos die Verenigde Nasies (VN) en Afrika-unie (AU) asook ander globalistiese elites in gedagte, wil ek voorspraak maak vir 'n kritiese of denkende populisme. Dis die soort waar daar soveel as moontlik inligting vanuit verskeie en veral botsende bronne versamel word, dit krities bepeins en herkou word en dan deurdagte denke en menings daaroor geformuleer word. Mens kan dan nogtans die pot missit, maar ten minste is daar al intellektuele aanvoorwerk gedoen en werklike menings (eerder as blote beledigings) op die tafel gesit word sodat daar 'n debat kan wees.
Hier moet ek my Ontlaer-kollega, Piet du Plessis, 'n pluimpie gee. Ofskoon ek en hy verskil oor hierdie oorlog en kernaspekte daarvan, is hy bereid om sy standpunte breedvoerig en duidelik uiteen te sit en verdedig. Daarteenoor is ek uit verskeie oorde bloot daarvan beskuldig dat ek soos prof. Piet Croucamp dink. Hoewel ek en Croucamp al telkemale hewig oor verskeie sake op sosiale media en selfs in persoonlike gesprekke verskil het, is hy nie altyd verkeerd nie. Ons moet die kaf van die koring in almal se argumente kan onderskei om beter gevolgtrekkings te maak. Deur bloot jou ideologiese opponente se menings van meet af te verwerp oor wie hulle is, laat jou en enige debat armer. Andersyds kan dit tot veel erger gevolge lei – waarvan die verwoesting van oorlog slegs een voorbeeld is. En as jy nie die intellektuele wíl glo nie, kyk net wat die dieselprys is en wat by die Straat van Hormoes aangaan. Eenvoudige feite is kategories goeie aanduiders van waarheid.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









