'n Paar jaar gelede het ek 'n werkswinkel oor demokrasie en verkiesings in Sandton bygewoon saam met onder meer jeug-gefokusde nie-regeringsorganisasies. Een van my persoonlike sleutelwaarnemings was die menigte jong mense wat gekla het dat werkloosheid hul lus om te stem, demper - geen werk, geen stem.
Ek was oorbluf deur hierdie redenasies, maar het weer daaraan gedink toe ek lees hoe die hoeveelste studie bevind het dat die meeste mense in Suid-Afrika afwysend jeens die demokrasie is. Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het bevind dat 68% van mense bo 16 jaar ontevrede is met demokrasie se voordele, terwyl slegs 17% tevrede is. Dit is dus onomwonde en wat is die hoofrede? Die ekonomie.
Dis heeltemal billik om ontevrede met die ekonomie te wees. BBP-groei van 1.1% in 2025 skuif nouliks die naald wat werkloosheid en armoede betref. Sekere streke is selfs meer erbarmelik en presteer benede die nasionale syfer. Maar hier kort heelwat konteks.
Nie vry gebore nie
Meeste mense wat ná 1994 gebore is, het nog nooit iets behalwe ANC-regering geken nie. Hulle oorheers steeds op stuk van sake die nasionale regering, meeste provinsies en meeste munisipaliteite – ofskoon met verlaagde meerderhede en koalisies in sommige gevalle.
Die RGN meld dat die teenoorgestelde van die onlangse syfers in 2004 gegeld het: Toe was ongeveer 70% van die respondente tevrede met Suid-Afrika se demokrasie – wat min of meer ooreengestem het met die ANC se steunpersentasie in daardie jaar. Die ANC was net vir 'n dekade aan bewind en die ekonomie was taamlik gesond danksy kommoditeite en redelike sinvolle ekonomiese beleid. Menigte bekende politieke tendense het egter sedertdien ontwikkel wat 'n skadelike maar voorspelbare oorsaak-en-gevolg impak gehad het.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se jongste kieserregistrasie-data is veelseggend. Nie eens 1% van 18-19-jariges is geregistreerd om te stem nie. Daarbenewens is slegs 6.66% van mans en 8.26% van vroue tussen 20 en 29 geregistreerd. Vir diegene tussen 30 en 39 is dit onderskeidelik 11% en 13%. Vir mense in hul sestigs is dit slegs 5% en 7%.
Die RGN beklemtoon Mpumalanga as 'n provinsie waar die ontevredenheid besonder akuut is. Dit is tewens 'n ANC-bastion. En tog, onder mense onder 40 weerspieël die provinsiale patroon die nasionale een. In meeste munisipaliteite in die provinsie is kieserregistrasie in die enkelsyfers. Daar moet ook in gedagte gehou word dat nie alle geregistreerde kiesers wel in verkiesings stem nie. Die meeste stemgeregtigdes verbeur dus hul sê oor wie oor hulle regeer (die mees basiese element van demokrasie) aan 'n minderheid wat keuses neem oor kwessies wat hulle ten nouste raak. Gelukkig kan niemand jou dwing om in 'n demokrasie te stem nie maar indien jy daardie reg self opsê, kan jy nie die stelsel verkwalik nie – hoe onvolmaak dit ook al mag wees.
Stemkeuses het wel tussen partye begin “sweef”, maar hierdie tendens verdien ook kontekstuele ontleding. Die EFF, DA, IVP en meer onlangs Action SA en MP-party het op verskeie maniere en tye inbreuk op die ANC se kiesersteun gemaak. Soms het hulle na dieselfde kiesers gevry of andersins hul steun onder andersoortige kiesers gekonsolideer, maar afwesige – geregistreerde of potensiële – kiesers het beslis 'n rol gespeel in hierdie uitkomste.
Nog 'n verwante aangeleentheid slaan mens dronk. KwaZulu-Natal word eweneens in die RGN-data as 'n uiters ontevrede provinsie wat die vrugte van demokrasie betref, uitgelig. Maar wat het die mense van hierdie provinsie in 2024 gedoen? Bykans helfte het vir 'n party gestem wat gelei word deur ’n man en sy kornuite wat vir amper 'n dekade die land geplunder het. 'n Aansienlike klomp het steeds vir sy ou party, die ANC, gestem. Meeste stemgeregtigdes het nie eens gestem nie. Terwyl etniese faktore oorwegings verstaanbaar is, het kiesers die IVP as 'n lewensvatbare opsie gehad.
Vry geborenes (waarvan die meeste swart is) het hierdie benaming verwerf danksy hul reg om te stem en hul gepaardgaande vryhede. Hulle het egter – nadat hulle die spit van swak onderwys, ANC-heerskappy, swak dienslewering, korrupsie en 'n volgehoue swak ekonomie afgebyt het – hul mees basiese plig om verandering te bewerkstellig, versaak deur nie te stem nie of vir die ANC of hul radikale afstammelinge te stem. Hierdie keuses maak jou onvry ondanks jou reg om te stem. En om stemgeregtig of geregistreerd te wees en dan weier om te stem totdat die ANC uiteindelik hul sake in orde kry, is naïef om die minste te sê. Desgelyks die geloof dat vergelding teen sekere klasse en rasse 'n lewensvatbare ekonomiese strategie is.
Werkskepping en ekonomiese groei gaan nie besluite oor beleid vooraf nie. Hulle is die resultate daarvan en daar is nie neutrale werk-kavallerie wat jou gaan kom red nie. Die vernaamste voordeel van demokrasie is dat jy wel kan kies. Die politiek behels per definisie boonop stryd. Die keuses sal nooit volmaak na jou smaak wees nie en selfs soms onbekend, maar as jy genoegsaam ontevrede is met jou omstandighede berus daar 'n plig op jou om uit te vind wat werk vir jou, dalk iets nuut te probeer en bowenal deel te neem. Politieke partye moet insgelyks meer doen om die publiek oor beleidmaking in die algemeen, en ook hul eie beleide, in te lig.
Die valse outoritêre god
Daar moet voorts genoem word dat die RGN-bevindinge robuuste steun vir 'n outoritêre stelsel ten bate van burokratiese doeltreffendheid insluit. Die relatiewe sukses van 'n hand vol outokratiese regimes het ongetwyfeld inslag gevind en loop die gevaar om veralgemeen te word.
Helaas begryp nie veel mense die aard en oorsprong van sulke bewinde nie. Byvoorbeeld, hoe sal só 'n regering tot stand kom en wie sal daarin opgeneem word al dan nie? Is mense werklik bereid om hul vryhede op die altaar van 'n hipotetiese en onwaarskynlike doeltreffendheid op te offer? Hoe stabiel sal só 'n stelsel op die langtermyn wees, aangesien demokrasie die norm vir meer as drie dekades was? Dit is slegs sekere vrae om te bepeins as jy hoop om onder 'n outoritêre bewind te woon. As jy boonop slegs vir een ellendige en korrupte party stem sonder inagneming van die alternatiewe of andersins van die stembus wegbly, het jy in wese jouself reeds oorgegee aan outokratiese weë wat bloot elke paar jaar in verkiesings 'n rubberstempel kry.
Demokrasie in Suid-Afrika kan beslis verbeter word en daarom is dit 'n voortdurende proses van kontestasie. Dit ly geen twyfel nie. Sekere veranderinge kan aangenaam en maklik wees, terwyl ander weer moeilik en straks ongewild wees maar uiteindelik vrugte dra. Meeste verbeterings verg insig, 'n nuwe ideologie, versiendheid, moed en 'n oop gemoed in 'n multikulturele en gepolariseerde samelewing. Die werklikheid is dat die ANC eenvoudig swak beleidsbesluite neem en hulle is demokraties by die stembus daarvoor bemagtig. Twee van Winston Churchill se bekende en vermaaklike waarhede oor die demokrasie kan daarom as afsluiting dien. Die eerste is dat “democracy is the worst form of government, except for all the others that have been tried”. Die ander is dat “the best argument against democracy is a five-minute conversation with the average voter”. Dus impliseer hy dat demokrasie 'n noodsaaklike euwel is, maar dat kiesers se onnodige euwels dit erger maak as wat dit behoort te wees.
Dr Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









