Artikel 235-angste: Storms in 'n Glasie Afgewaterde Reg
Selfbeskikkers oorskat dié grondwetlike bepaling.
Terwyl die uMkhonto weSizwe (MK)-party in 'n amptelike sin 'n gewone linkse party is, kan mens egter nie verby hul nasionalistiese aspirasies en steunbasis kyk om hulle te evalueer nie.
Nieteenstaande dat hulle nie KwaZulu-Natal (KZN) regeer nie, is hulle ná 2024 se algemene verkiesing gemaklik die grootste party in die provinsie. Hulle het bowendien groot getalle steun in oorwegend Zoeloesprekende gebiede in Mpumalanga en Gauteng ingepalm. En ondanks al hul disfunksie en binnegevegte is hulle opsluit nogtans vir die afsienbare toekoms (wat 'n plaaslike verkiesing insluit) 'n politieke faktor.
Die huidige vlaag van vreemdelingehaat het 'n soort episentrum in KZN. Zoeloes betoog en rand selfs migrante vanuit Afrika met sambokke aan in Durban en die Suidkus. Oudpres. Jacob Zuma se skoondogter Jacinda Ngobese-Zuma het die March and March-beweging teen onwettige immigrasie van stapel gestuur en MK is tans glo in gesprekke met hulle betrokke daaroor.
Zoeloe-nasionalisme en 'n Vae Wetsartikel
Die provinsie het 'n lang geskiedenis van separatisme en eiesoortigheid. Vanaf Shaka Zulu se stigting van die Zoeloe-koninkryk in 1810, het verskeie koninklikes en groot en klein politieke partye die provinsie se andersheid erken en selfs nagestreef.
Die IVP se tradisie is federatief terwyl kleiner streekspartye soos die Abantu Batho Congress vir sesessie agiteer. Wyle Koning Goodwill Zwelithini het etlike jare gelede gedreig om die provinsie af te stig weens die nasionale regering se planne met onteiening sonder vergoeding. Dit bly vir Zoeloes 'n netelige en teer saak dat hul tuiste in die Natalse kolonie en daarna deel van die unie en republiek van Suid-Afrika opgeneem is. Geen ernstige politieke beweging of party onder Zoeloes kan dit onbepaald misken of ignoreer nie.
Dis daarom vreemd dat MK derhalwe Artikel 235 van die Grondwet – wat met selfbeskikking van sekere groepe verband hou – wil afskaf. Dit is immers die sogenaamde selfbeskikking-klousule. Daar was tewens ’n teenreaksie – hoofsaaklik uit Afrikaner-geledere – oor MK se voorneme. Terwyl daar dus ’n huidige en historiese debat (geraas!) heers oor die wenslikheid van hierdie artikel, wil ek eerder fokus op wat die werklike nut en krag daarvan is. Afhangend daarvan, moet selfbeskikking-opsies ook oorweeg word.
Die betrokke artikel lui as volg:
“Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.”
Dit is 'n vae en omslagtige bewoording vol skuiwergate en slaggate wat tydens die grondwetlike onderhandelinge van die 1990’s as sodanig geformuleer is om regse groepe te paai en mislei. Cyril Ramaphosa het vir Roelf Meyer op verskeie sake uitoorlê en bloot laat toegee, maar ek vermoed dat hulle wel gewillig saamgespan het om hierdie artikel beswaarlik meer as 'n ingewikkelde dooie letter te maak. Dit het ondertussen steeds 'n geloofsartikel vir menigte gebly, maar bloot 'n retoriese een wat selfbeskikking outomaties en verkeerdelik aan sesessie gelykstel en wat nog nie andersins regtens of polities getoets of uitgevoer is nie.
Prof. Deon Geldenhuys, emeritus-professor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg en een van Suid-Afrika se voorste kenners van selfbeskikking, verklaar in 'n artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe in 2006 die volgende:
“Indien die destydse voorstanders van 'n Afrikanervolkstaat gedink het dat artikel 235 vir hulle die weg na volledige eksterne selfbeskikking baan, het hulle hul lelik misgis.
Selfs wat interne selfbeskikking betref, skep artikel 235 beperkte beweegruimte. Desondanks bied die Grondwet sowel die juridiese grondslag as die politieke ruimte vir selfbeskikking. Betekenisvolle territoriaal-gebaseerde selfbeskikking met die doel om die Afrikaanse taal en kultuur te beskerm en bevorder, vereis iets meer ambisieus as Orania maar minder radikaal as 'n Afrikaner-volkstaat.”
Dit is belangrik om hier tussen interne en eksterne selfbeskikking te onderskei om sodoende 'n konseptuele begrip aan die hand te doen. Interne selfbeskikking beteken in wese die reg op selfbeskikking binne 'n bestaande en erkende staat en sluit vele vorme daarvan in, maar nie sesessie nie. Dit is die mees algemene praktyk om diversiteit en multikulturalisme in heterogene samelewings te bestuur, soos beleid en wetgewing wat aspekte soos taal, onderwys en lewenswyse meer idiosinkraties en federatief binne bestaande state hanteer. Eksterne selfbeskikking is die reg van groepe mense (gewoonlik met gedeelde eienskappe) om vryelik hul eie politieke status in die globale gemeenskap te bepaal. Dit dien as regverdiging vir sesessie en is in die verlede grotendeels ten bate van en uitdruklik vir dekolonisering gebruik.
Juridiese Gewig
Jack Miller is leier van die Kaapse Onafhanklikheidsparty (CAPEXIT), wat hulle beywer vir “die strewe na onafhanklikheid vir minderheidsgroepe, inheems tot die Wes-Kaap, wie ’n gemeenskaplike taal en kultuur deel, verkrygbaar deur wetlike prosesse” soos voorgeskryf deur art. 235.
Hy voer in ’n onlangse stuk op Maroela Media na aanleiding van die jongste herrie oor hierdie artikel aan dat Suid-Afrika armer sal wees daarsonder. Hy is reg as hy aanvoer dat die verwydering daarvan een van die min bepalings wat die beginsel van gemeenskapsgebaseerde selfbeskikking uitdruklik erken, sal uitskakel. Die probleem is dat hy hierdie erkenning dan met enige noemenswaardige beregbare regte of tasbare politieke optrede verwar. Hy erken wel die volgende oor hierdie artikel: “Dit skep nie outomaties outonomie nie en skryf geen spesifieke uitkoms voor nie, maar skep bloot 'n grondwetlike opening onderhewig aan demokratiese prosesse en wetgewing.”
Outonomie as 'n vorm van interne selfbeskikking is egter nie die onafhanklikheid wat CAPEXIT voorstaan nie en die Wes-Kaap bevat nie slegs een groep met 'n gemeenskaplike taal en kultuur soos art. 235 voorskryf nie. Dit is slegs een van die probleme met die befaamde artikel.
Die uitdruklike verwysing daarin na selfbeskikking vir 'n groep met 'n gedeelde taal en kultuur op 'n territoriale grondslag is dermate vaag geformuleer dat dit, anders as spesifieke maar beperkte regte in die Handves van Menseregte in die Grondwet, geen spesifieke magte aan 'n groep toeken nie. Daar word niks bepaal oor interne selfbeskikkingsmetodes soos eie skole, vakbonde, beoefening van kultuur en dergelike maatreëls wat meer beregbaar is nie. Sesessie word ook gebiedend as opsie uitgeskakel deur die insluiting van “binne die raamwerk van dié reg”. Artikel 1 van die Grondwet en die Handves van Menseregte beklemtoon plegtig en prominent dat “die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat”. Dit smoor dus die reg op territoriale afskeiding in die kiem en dit sal interessant wees om te sien hoe 'n “konsep van die reg” – en nie 'n reg as sodanig nie – ooit gestalte in uiteindelike wetgewing beslag kry asook bereg en beding word.
Prof. Koos Malan, juris en kommentator, skryf insgelyks in 'n artikel getiteld “Die politiek van selfbeskikking: Selfbeskikking en die Grondwet” as volg:
“Die artikel is 'n magtigende bepaling, waaruit geen regstreekse regte vir gemeenskappe met 'n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis spruit nie. Dit kan dus nie regstreeks aangewend word om die soort selfbeskikkingsreg waarna daarin verwys word, af te dwing nie. Dit magtig egter wel die aanneem van nasionale wetgewing waardeur in konkrete terme uitdrukking aan hierdie reg gegee kan word. Selfbeskikking kragtens die bepaling verkry dus eers praktiese betekenis wanneer die wetgewing wat daarin in die vooruitsig gestel word, aangeneem is.”
Hy voer voorts aan dat anders as met verskeie ander bepalings in die Grondwet wat 'n duidelike verpligting op die regering lê om wetgewing aan te neem, bevat hierdie artikel egter nie só ’n plig nie:
“Al wat die bepaling wel doen, is om te sê dat selfbeskikking van kultuur- en taalgemeenskappe nie grondwetlik verbied word nie. Artikel 235 laat die regering derhalwe met 'n duidelike keuse om selfs wanneer die behoefte aan die reg op selfbeskikking deur 'n kultuur- en taalgemeenskap betuig word, steeds nie wetgewing te laat aanneem nie.”
Dit is dus 'n negatiewe eerder as positiewe (konsep van 'n) reg.
Quo vadis selfbeskikking?
Die reg op selfbeskikking is niks nuut nie. Die Volkebond en Verenigde Nasies het sterk daarop gefokus in die nadraai van die twee wêreldoorloë en dit in handveste en verbonde laat kodifiseer.
Art. 235 se taal en betekenis – soos trouens die Grondwet as sodanig – is 'n uitvloeisel van die internasionale reg. Dit is egter nie regte wat die afskeiding van nuwe state bepaal het nie want die internasionale reg bied geen uitdruklike reg daarvoor nie, maar politieke kragte (tesame met 'n gunstige sameloop van omstandighede) en geweld.
Ek het my doktorale studies onder Geldenhuys se leiding oor sesessie in post-koloniale Afrika voltooi. Daar was suksesvolle gevalle – soos Suid-Soedan en Eritrea – asook onsuksesvolle pogings, soos Katanga en Biafra. Somaliland binne Somalië is vandag nóg vis nóg vlees: 'n Redelike mate van interne selfbeskikking nadat hulle hulself in 1991 eensydig onafhanklik verklaar het, maar sonder betekenisvolle diplomatieke en internasionale status en dus ekonomiese en politieke voordele.
In al hierdie gevalle was daar egter burgeroorloë en grootskaalse geweld en lewensverlies betrokke. Soms het dit suksesvol geëindig, maar in meeste gevalle nié. Die mislukte pogings het buitendien uiters beperkte erkenning in Afrika en elders geniet en is redelik gou gefnuik. Die Afrika-Unie (AU) se stigtingsakte en ander besluite toon 'n sterk afkeur in afskeiding. Ondanks Afrika se kunsmatige koloniale grense, is sesessie hier steeds regsfeitlik onmoontlik en vind dit beslis nie deur verkiesings en regsweë plaas nie.
Hoewel dit uiters onwaarskynlik is dat daar ooit aan nasionale wetgewing kragtens Art. 235 beslag gegee sal word en of dit in welke geval betekenisvol sou wees, is ons egter nie goedsmoeds in Suid-Afrika aan ongebreidelde sentralistiese beheer onderworpe nie. Orania val straks nie in almal se smaak nie en is geensins 'n onafhanklike staat nie, maar dit is 'n wesenlike vorm van outonomie wat reeds die 1996-grondwet voorafgegaan het. Ditto die Ingonyama-trust in die noorde van KZN, wat in 1994 geskep is en deels die eertydse KwaZulu vervang het. Die Grondwet bied tewens bykomende afwentelingsmagte aan munisipaliteite, provinsies en gemeenskappe. Dit setel heelwat belangrike en nuttige magte in plaaslike en verspreide gemeenskappe. Ofskoon kulturele puriste hul neus vir landgoedere sal optrek, het menigte van hulle oorwegend funksioneel selfversorgend en minder staatsafhanklik geraak.
Nie een van hierdie oplossings is uiteraard volmaak nie en die Grondwet laat net soveel toe. Die enigste uitweg, kort van gewelddadige en onrealistiese wetlike sesessie, is om eerstens iets te bou en ontwikkel en dit 'n de facto werklikheid laat word – of die grondwet dit toelaat of nie. De jure erkenning en politieke onderhandelinge kan later volg indien dit hoegenaamd nodig is.
Dis wat Orania gedoen het. Daar kan nie oor niks selfbeskik word nie. Grootskaalse territoriale selfbeskikking vir 'n taal-en-kultuurgroep bied ook net ’n gedeeltelike oplossing. Wat van die mense wat nie na die beloofde land kan of wil trek nie? Wat van die ander mense wat daar bly? Gaan dit ekonomies haalbaar en aantreklik genoeg wees om soontoe te trek? Sal die bepaalde gemeenskap se taal- en kultuurbehoeftes wesenlik beter daar as elders bevredig word? Dit is vrae waarop daar selde sinvolle antwoorde gegee word. Die ander opsies is om bloot na 'n plek van jou keuse binne Suid-Afrika te trek. Iets wat jou ekonomiese, politieke, sosiale en kulturele behoeftes bevredig. Dis trouens wat reeds vir 'n geruime tyd gebeur. Of jou huidige dorp, stad en woongebied te verbeter en daar te skep wat jy begeer. Maar om op grondwetlike en ander regte soos art. 235 en verkiesings staat te maak vir iets so drasties soos sesessie – veral in Afrika – is oordrewe romanties.
Indien KZN ooit wegbreek, sal dit beslis nie ingevolge die reg en Grondwet gedoen word nie. MK is op stuk van sake openlik vyandig jeens die grondwetlike bedeling. Hou dit in gedagte wanneer daar weer ter wille van goedkoop publisiteit gestry word oor die behoud of afskaffing van hierdie grondwetlike artikel. Artikel 235 gaan nêrens nie, maar dit bring ons ook nêrens.
Dr. Brink is ’n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Eugene, hier kan ons gelukkig vir 'n slag saamstem. Spesifiek oor sesessie, wat ek ook nie as 'n realistiese opsie sien nie. Die Prof. stel dít waarmee ek dink ons saamstem, puik: "Desondanks bied die Grondwet sowel die juridiese grondslag as die politieke ruimte vir selfbeskikking. Betekenisvolle territoriaal-gebaseerde selfbeskikking met die doel om die Afrikaanse taal en kultuur te beskerm en bevorder, vereis iets meer ambisieus as Orania maar minder radikaal as 'n Afrikaner-volkstaat.” (Die Artikel verwys egter nie slegs na die moontlikheid van "territoriale selfbeskikking" nie...).
Behalwe vir sommige oningeligtes, is dit egter nie nuus dat wetegewing nodig sal wees om uitvoering aan Artikel 235 te gee nie. Dit maak dit egter nog steeds nie 'n onrealistiese opsie vir gedrewe groepe wat sterk voel en sterk wil lobby nie. Veral as hulle bewese sukses het wat bewys dat daar baie meer as die Orania-opsie is. Ons beide weet dat daar al besondere sukses ter plaatse behaal is in terme van alternatiewe, ook al na verwys as "paralelle regeringsvorme". Die Groter Solidariteit Beweging, met talle suksesvolle vertakkinge, is waaraan onmiddelik gedink word. Volg ook gerus Lex Libertas as jy dit nie reeds doen nie, want hulle kyk en ondersoek en lobby wyd.
Die opsies is legio en kan wen-wen opsies wees, wat sekere basiese menseregte en strewe respekteer, EN terselfdertyd die groter Staatseenheid beter en met minder ongelukkigheid van minderheidsgroepe laat funksioneer.