Is postliberalisme net Christelike nasionalisme met 'n ander naam?
Hoe verskil klassieke liberalisme, bevestigende liberalisme en postliberalisme?
Een van die gewilde politieke modewoorde vandag is “postliberalisme”. Dit is 'n politieke filosofie wat verbind word met figure soos Hongarye se Viktor Orbán, die VK se “Blue Labour”, die VSA se adjunkpresident J.D. Vance, en Katolieke politieke denkers soos Patrick Deneen (sien sy Why Liberalism Failed en Regime Change: Toward a Postliberal Future). Dit is 'n politieke filosofie wat toenemend met politieke teologie kruis en daarom my belangstelling daarin.
Ek sou aanvoer dat klassieke liberalisme ontstaan het as 'n politieke stelsel ontwerp om verdraagsaamheid teenoor minderhede te bevorder en om die burgerregte van alle burgers te verseker. Liberalisme was 'n manier om die tirannie van sowel die meerderheid as die regering te weerstaan in 'n bepaalde maatskaplike konteks (naamlik post-Reformasie Europa). Sedert die Tweede Wêreldoorlog het politieke liberalisme egter ontwikkel tot 'n sosio-politieke raamwerk wat menslike outonomie en uitdrukkende individualisme bo die bemiddelende instellings van nasie, tradisie, gesin, godsdiens en plaaslike gemeenskap stel. Kom ons noem dit “bevestigende liberalisme.” Die gevolg van bevestigende liberalisme is die verbrokkeling van die samelewing, 'n hiërargie van identiteite eerder as gelykheid voor die reg, en dwingende maatreëls teen bemiddelende instellings wanneer hulle uitdrukkende individualisme weerstaan.
Postliberale denkers kritiseer bevestigende liberalisme soos hierbo beskryf, en pleit in die plek daarvan vir 'n maatskaplike raamwerk wat bereid is om uitdrukkende vryhede te beperk, laissez-faire ekonomieë in te snoer en staatsinmenging in bemiddelende instellings te voorkom. Postliberales steun eerder nasionaliteit bo globalisme, gemeenskap bo identiteit, tradisie bo verset, en die gemeenskaplike goeie bo outonomie. Die rol van die staat in postliberalisme is, onder meer, om maatskaplike samehorigheid en 'n gedeelde etiese raamwerk te bevorder deur volksgebruike en 'n sosiale kontrak.
Postliberales verskil onderling oor hoe hulle die “post” en die “liberaal” verstaan. Postliberalisme kan klink soos 'n sosiaal-konserwatiewe sosialisme of soos 'n mengsel van libertariese en gemeenskapsdenke, met die klem op “ons” bo “ek.”
Luister gerus na die uitstekende onderhoud oor postliberalisme op die Church Grammarly-podcast, waar Brandon Smith met James Wood van Redeemer University oor die onderwerp gesels.
Patrick Deneen het ook 'n kort video waarin hy postliberalisme verduidelik, en Hunter Baker het onlangs sy boek Postliberal Protestants: Baptists Between Obergefell and Christian Nationalism gepubliseer.
Laat ek die verskil tussen klassieke liberalisme, bevestigende liberalisme en postliberalisme verduidelik met 'n beeld oor kaal dansers.
Gestel iemand identifiseer as 'n “kaal danser” en sê dat sy identiteit vereis dat hy of sy kaal deur die straat dans om as mens te kan floreer.
Volgens progressiewe liberalisme word die persoon as onderdruk beskou tensy kaal dansers vry is om hulself uit te druk op daardie wyse. Alle beperking van selfuitdrukking is moreel onaanvaarbaar. As iemand dan die reg van kaal dansers om kaal te dans bevraagteken of teëstaan, sal die staat druk uitoefen of selfs vervolg weens onderdrukkende vooroordele. Die regering sal ruimtes vir kaal dansers skep, en uiteindelik sal kaal dansers eis dat almal die inherent goeie aard van kaal dans bevestig, terwyl ontkenning daarvan informele en formele gevolge het (klink dit bekend?). Die ironie is dat in bevestigende liberalisme die samelewing terselfdertyd meer én minder liberaal (dus vry) word.
Hoe verskil hierdie progressiewe liberalisme van klassieke liberalisme en postliberalisme wanneer dit by kaal dans kom?
In klassieke liberalisme kon jy kaal dans in jou eie huis sonder vervolging, maar jy sou 'n ligte boete kry as jy kaal in die straat dans. In postliberalisme word mense geleer om nie kaal in die openbaar te dans nie, alhoewel jy is steeds vry om dit tuis te doen, maar as jy in die strate kaal dans, sal die staat jou agterstewe met 'n nat skoenveter slaan totdat jy ophou.
Of, om dit anders te stel, deur middel van musiekblyspele:
Klassieke liberalisme: “Do you hear the people sing?” (Les Misérables)
Progressiewe liberalisme: “No right, no wrong, no rules for me. I’m free” (Disney se Frozen)
Postliberalisme: “Even when the dark comes crashing through. When you need a friend to carry you. When you’re broken on the ground. You will be found.” (Dear Evan Hansen)
Die voordeel van postliberalisme is dat dit die basiese klem op verdraagsaamheid en burgerregte van klassieke liberalisme behou, maar die oordrywings en breuke van bevestigende liberalisme vermy. Postliberalisme bied ook 'n alternatief vir die teokratiese neigings van Christelike nasionalisme en die “oppasser staat”-gees van demokratiese sosialisme.
Die nadele van postliberalisme is egter:
Die agterdog teen globalisme kan maklik in afsonderingsbeleid (oftewel isolationism) en nasionalisme ontaard.
Die wantroue teenoor vryemark-ekonomieë kan innovasie, risiko en winsmotiewe stuit, wat ekonomiese groei kan ondermyn.
Wie bepaal wat die gemeenskaplike goeie is, en watter tradisies en instellings die staat behoort te ondersteun om dit te bevorder?
Die beperking van uitdrukkende individualisme verg altyd 'n mate van sensuur en dwang, wat maklik in outoritarisme kan verander.
Ek dink progressiewe liberalisme is onsamehangend, chaoties en 'n dwingelandy. Dit is 'n wêreld waar regerings sigarette wil verbied, maar dagga wettig. Waar daar 'n selfmoordhulplyn is, maar ook 'n inbellyn vir genadedood. Waar seksuele vryheid absoluut is, maar lesbiese vroue wat weier om met transvroue te slaap, van diskriminasie beskuldig word. Waar die meerderheid burgers nie aborsie tot by geboorte steun nie, maar die staat steeds Katolieke hospitale oorvat wat weier om aborsies uit te voer. In progressiewe liberalisme is daar hiperindividualisme in selfuitdrukking, maar individue word deur die prisma van groepsidentiteit beoordeel eerder as as gelyke individue voor die reg. Dit is 'n wêreld waar griewe swaarder weeg as bewyse. Waar sosiologie die plek van wetenskap inneem. Waar Marxisme in genderstudies-departemente leef, maar nie in ekonomiese kringe nie.
Tog is postliberalisme dalk ook nie die antwoord nie. Dit klink soms soos 'n Britse biskop in die House of Lords met 'n “Make America Great Again”-pet, of soos die Portugese diktator António de Oliveira Salazar met 'n rosekrans en 'n eksemplaar van World Magazine. As godsdiensinstellings politieke invloed kry, kan dit maklik in burgerlike godsdiens of etno-nasionalisme ontaard. Die poging om 'n gemeenskaplike goeie in 'n uiteenlopende samelewing te bou, verenig deur godsdienstige waardes en demokratiese konsensus, is feitlik onmoontlik sonder manipulasie van die bevolking.
Miskien lê die antwoord in wat ek “geskoolde liberalisme” noem. Iets wat sonder die oordrywings en absurditeite van bevestigende liberalisme is. Wat voortbou op sy geskiedkundige wortels in die Latynse regstradisie, die Christendom en die Verligting. Sy doel is om die vryheid en verantwoordelikheid van burgers te verseker, deur individualisme en die gemeenskaplike goeie in balans te hou, sodat geen enkele ideologie of instelling almagtig word nie.
Om dit te bereik, moet liberale demokrasieë hulself sien nie bloot as 'n versameling individue of geloofsgroepe nie, maar as 'n beskawing. Spesifiek 'n Christelike beskawing, met 'n unieke regstradisie en samelewingsorde wat 'n oortuigende alternatief bied vir die Kalifaat en Kommunisme.
Michael F. Bird is 'n Australiese teoloog en priester wat oor die geskiedenis van die vroeë Christendom, teologie en hedendaagse vraagstukke skryf. Hierdie artikel word met vergunning van die skrywer vertaal en herplaas vanaf sy Substack Word from the Bird.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Puik artikel, dankie Ontlaer. Maar die vraag bly hoe trek ons prakties die lyn tussen nodige gemeenskapsorde en gevaarlike staatsdwang? Dit is 'n alewige heen en weer tussen die twee is dit nie.