Is Suid-Afrika se Regstellingsbeleid Bybels Verdedigbaar?
Leser Bouwe van der Eems oor die godsdienstig-morele saak vir regstelling.
Die Eksodus-narratief word dikwels deur bevrydingsteoloë gebruik om onteiening en regstellende aksie moreel te regverdig, om te vergoed vir die onreg gepleeg deur apartheidsbeleid.
Na 30 jaar is die gevolge daarvan nou duidelik. Kritiek is besig om toe te neem. Dis egter oorwegend gebaseer op pragmatiese of wetlike argumente, en nie soseer op morele argumente nie. Swart bemagtiging en regstellende aksie is verskillende vorme van regstelling. Daar word geargumenteer dat omdat apartheid dan mense wat deel was van sekere groepe verontreg het deur hul te ontneem van gelyke ekonomiese geleenthede, behoort die onreg reggestel te word deur regstelling.
Om regstelling moreel te beoordeel moet die Bybel geraadpleeg word. In Eksodus 11:2 en 3 word daar die volgende oor regstelling gesê:
“Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis. En die Here het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars.”
Die Hebreërs is vir eeue lank in Egipte onderdruk. Hulle moes swaar arbeid verrig om stede te bou en selfs hul pasgebore seuns in die Nyl werp. In Eksodus 11 word regstelling van hierdie onderdrukking gereël. Dis hoe die verklaarder Matthew Henry dit ook uitlê :
“One way or other, God will give redress to the injured, who in a humble silence commit their cause to him; and he will see to it that none be losers at last by their patient suffering any more than by their services.”
Daar is dus inderdaad 'n morele argument vir regstelling. Die vraag is dus nie of regstelling geregverdig is nie, maar of die regstelling wat tans in Suid-Afrika bedryf word Bybels geregverdig kan word.
Die eerste eienskap van regstelling is dat dit individueel en persoonlik is. Die regstelling moet geëis word deur “elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste”. Elke Hebreër moes regstelling eis van die Egiptenare vir wie hulle gewerk het. regstelling in Suid-Afrika is egter kollektief. Deur 'n stelsel van onpersoonlike wette en regulasies word regstelling bewerk deur een biologiese groep te bevoordeel en 'n ander groep te benadeel.
Die tweede eienskap van regstelling is dat dit eenmalig doenlik is. Op een dag na die tiende plaag het die Hebreërs die opdrag van Eks. 11 uitgevoer. In Eks. 12:35 en 36 staan daar:
“En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die Here het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.”
Die regstelling vir eeue se onderdrukking is binne een dag afgehandel. Die formele beleid van apartheid is sedert 1948 geleidelik ingevoer, en teen 1994 het die Nasionale Party regering alreeds die meeste van die apartheidswette afgeskaf. Dit is dus moeilik om aan te voer dat apartheid vir veel meer as 40 jaar toegepas is. Na die einde van apartheid in 1994 is regstelling geleidelik ingestel. 30 jaar daarna word die wetgewing rondom regstelling nog steeds skerper en skerper gemaak. Ook diegene wat nie eens gebore was tydens apartheid nie, moet betaal vir regstelling, en daar is geen einde in sig nie.
Die derde eienskap van regstelling is dat dit vrywillig moet wees. Die Here het in die harte van die Egiptenare gewerk om vrywillig goud en silwer aan die Hebreërs te betaal. Dit was nie nodig vir Hebreërs om met swaarde en spiese na die Egiptenare te gaan om hulle regstelling te eis nie. Hulle het net gevra en die Egiptenare het vrywillig gegee. In teenstelling hiermee penaliseer die Suid-Afrikaanse regering almal wat nie noukeurig voldoen aan al hulle regstellingswette nie, deur individue en besighede met swaar boetes te dwing om teen hulle sin regstellende stappe te neem.
Vierdens was die opbrengs van die regstelling nie vir die mense wat benadeel is nie. Die goud en silwer wat Hebreërs gekry het was van geen nut vir hulle in die woestyn nie. Dit is uiteindelik gebou om die tabernakel te bou vir die Here. Ongelukkig is dit ook gebruik vir die maak van die goue kalf.
Deur die Skrifgegewens oor regstelling te beskou is dit duidelik dat huidige wetgewing oor regstellende aksie en swart bemagtiging nie ooreenstem met die beginsels vir regstelling in die Bybel nie, en dus nie godsdienstig-moreel verdedig kan word nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.