Israel/Palestina Debat: "As Israeli's om oorlewing moet veg, sal hulle"
Sara Weiss tree toe tot die debat op ons blaaie.
Dit was uiters moeilik om te besluit hoe om op die lasterlike stellings in dr. Marthie Momberg se artikel, “Palestina en Israel: 'n Kruispad”, te reageer.
Om op elke leuen, verdraaiing en onkundige stelling teenoor Israel as Joodse staat te antwoord, is 'n eindelose taak. Ek het besluit dit is onmoontlik om haar stuk punt vir punt te weerlê.
Dis nie net omdat daar soveel is om te weerlê nie, maar omdat daar só baie gesê móét word om die anti-Israel-verhaal teen te werk, dat 'n mens nie weet waar om te begin nie. Haar poging om 'n skeidslyn tussen Israeli’s en Jode te trek, spruit uit 'n vlak van onkunde, aanmatiging en arrogansie wat net met die uiterste minagting bejeën kan word.
Ek het gevolglik besluit om nie op al haar aantygings te probeer reageer nie. Wat ek wel gaan doen, is om hierdie artikel te beperk tot dr. Momberg se bewering dat Israel 'n “setlaar-koloniale” staat is. Dis 'n valse aantyging, wat probeer die ondenkbare bereik – die doelbewuste delegitimering en vernietiging van 'n wettige staat deur laster.
Palestina het 'n setlaarbestemming vir die Joodse volk geword weens hul desperate behoefte aan 'n toevlug teen vervolging. 'n Tipe vervolging wat dr. Momberg waarskynlik nooit ten volle sal kan verstaan nie.
Israel het die propaganda-oorlog reeds jare gelede verloor. Dit was 'n oorlog wat doelgerig en suksesvol deur Israel se vyande gevoer is. Dit was nie net die uitbarsting van haat teen Israel spesifiek en Jode in die algemeen ná die gruweldade van Hamas se volksmoordaanvalle op 7 Oktober 2023 nie. Hierdie haat is al millennia lank aan die broei.
Millennia van haat
Die vyande van Israel ignoreer of doelbewus die kompleksiteit van die geskiedenis van die konflik of weet niks daarvan af nie.
Dit is 'n uitgemaakte saak dat die fundamentele doel van Hamas, Iran, Hezbollah en 'n menigte ander jihadi-organisasies, waarvan die meeste in die Weste verbied is, die uitwissing van die Joodse staat is. As die strewe na 'n Palestynse staat regtig die kern van die konflik was, sou dit waarskynlik al lank gelede opgelos gewees het. Solank die doel die delegitimering van die Joodse staat is, en om dit met 'n Islamitiese staat te vervang, sal daar waarskynlik nooit vrede wees nie.
Die onderliggende ideologie is eenvoudig: geen staat wat nie deur Moslems regeer word nie, mag bestaan op grondgebied waar Moslems eens geheers het nie. Dit geld of die godsdienstige minderheid nou Joods, Christen, Yazidi of enige ander geloof is, monoteïsties of nie. Die Yazidis van Sirië, die Christene van Egipte (en Pakistan, Nigerië, Mosambiek, ensomeer), die Droeze van Sirië, die Koerde van Turkye, Irak, Sirië en Iran, almal word as uitwisbaar beskou deur die jihadi-ekstremisme wat organisasies soos Hamas, Al Qaeda, ISIS en ander godsdienstige fanatieke groepe aandryf.
Eeue van woeste anti-Semitisme het ontstaan na die opkoms van die Christendom. Daarna is Jode (en Christene en Zoroastriërs) in Moslem-rykdomme tot tweedeklasburgers verklaar. Teen die middel van die 19de eeu het die invloei van Christelike anti-Semitisme Moslem-ideologie begin beïnvloed en die samevloeiing het die konflik feitlik onoplosbaar gemaak. Die idee dat Islam eers volkome verlos sal wees wanneer die Jode oorwin is, het 'n dogma geword.
Presies in daardie tyd het Arabiese nasionalisme verrys – aangevuur deur die stadige val van die Ottomaanse Ryk. Die Islamitiese ideologie wat toe weer kop uitgesteek het, was 'n terugkeer na dié van die 7de eeu – 'n reaksie op die val van die Ottomane, die gevolge van die Eerste Wêreldoorlog, Britse en Franse kolonialisme in die Levant, en meer. Hierdie artikel kan nie al daardie faktore deeglik bespreek nie.
Maar een ding is seker: Israel verdien nie om as Joodse staat gedelegitimeer te word nie, net soos Pakistan nie gedelegitimeer behoort te word as Moslemstaat nie. Beide lande (soos ook Libanon, Sirië, Irak en Jordanië) het ontstaan as gevolg van die herverdeling van die Ottomaanse Ryk na die Eerste Wêreldoorlog, toe Brittanje en Frankryk as oorwinnaars hul invloed in die streek uitgebrei het. Europese kolonialisme was reeds in verval, en die erfenis van daardie dekades het die konflik gefossileer.
Ek het geen twyfel nie dat indien een van die vele oorloë wat sedert 1948 teen Israel gevoer is deur Moslemlande, Israel suksesvol sou verower, dit die einde van die saak sou wees. Die Jode sou agtergebly het as 'n klein, verspreide diaspora. Die probleem is: Israel is nie vernietig nie. En dié mislukking om dit te vernietig, lê aan die kern van ’n uiters suksesvolle propagandaveldtog om Israel se karakter te beflek.
Die ideologieë van Islamisme, links progressiwisme en vervangingsteologie probeer nou bereik wat militêre oorlog nie kon nie.
Die Wêreldraad van Kerke se vyandigheid teenoor Israel
Dr. Momberg se anti-Israel-oortuigings is nie gebore uit persoonlike ondervinding nie. Dit is duidelik vir haar geleer lank voor sy ooit voet in Israel gesit het of vir ene “Amy” daar ontmoet het. Sy stel haarself bekend as iemand wat in 2011 namens die Wêreldraad van Kerke (WRK) na “Palestina” gestuur is om menseregteskendings te monitor.
Die WRK, wat in 1948 gestig is, het Israel se legitimiteit tussen 1948 en 1967 nooit erken nie. Sedert die Sesdagoorlog van 1967, is die WRK konsekwent anti-Israel.
Die WRK se aanvaarding van bevrydingsteologie en sy sendingbelange in die Arabiese wêreld het daartoe gelei dat hulle nooit die invloed van Islamitiese teologie op Jode en Christene onder die loep geneem het nie, veral nie die geloof dat grond wat eens deur Moslems regeer is, nooit deur nie-Moslems besit mag word nie. Hierdie ideologie is nooit ernstig deur die WRK of enige van sy filiale, insluitend die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, aangespreek nie.
Ek gaan nie voorgee dat Israel se optrede teenoor die Palestyne op die Wesoewer en (voor 2005) in Gaza bo alle kritiek verhewe was nie. Maar die meeste van die lyding in Palestina spruit uit die besluite wat hulle leiers geneem het of nie geneem het nie. En solank die Palestyne nie bereid is om die bestaan van 'n Joodse staat te erken nie, sal daar geen ware onderhandelinge oor 'n Palestynse staat kan plaasvind nie.
Die Jode is bereid om oor grond te onderhandel, maar hulle sal nooit oor hul eie bestaan onderhandel nie.
Sionisme is nie “setlaar-kolonialisme” nie
Ek wil fokus op een spesifieke lastering wat gereeld deur Islamiste, die progressiewe linkses en hul medestanders versprei word (dieselfde wat dr. Momberg aanhaal) naamlik dat “Sionisme die sekulêre ideologie [is] wat Europese Jode sedert die begin van die twintigste eeu na Palestina gebring het met die doelwit om Palestina algeheel oor te neem en te herdoop as die staat Israel”, en dat Sionisme 'n sogenaamde “setlaar-koloniale leerstelling” is.
Hoewel die geskiedenis van die konflik oor sowat 150 jaar strek, wil ek fokus op wat Sionisme 'n noodsaaklike oorlewingsbeweging gemaak het en waarom die beskuldiging dat Jode deur Sionisme kolonialisme beoefen het, verwerp moet word.
Maar voor ek dit doen, is dit die moeite werd om die skynheiligheid uit te wys van die wat die mite van Israel as “setlaar-koloniale” staat aan die lewe hou.
Vanaf die eerste Islamitiese staat in Medina onder die profeet Mohammed, en daarna die drie opvolgkalifate (die Rashidun-, Umayyad- en die Abbasid-kalifate), het Moslems gebiede verower, gekoloniseer en hulle daar gevestig, van sover as Sjina in die Ooste, deur die Midde-Ooste, tot so ver as Frankryk, Spanje en Portugal in die Weste; Rusland in die Noorde en tot in Marokko, Libië, Algerië, Egipte en Tunisië in die Suide.
Daar was verder 13 ander Moslem-rykdomme wat gebiede soos Tsjad, Indië, Niger en Turkye ingesluit het. Turkye, die setel van die Ottomaanse Ryk, was die laaste groot Moslem-ryk wat aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog ineengestort het.
Die fundamentele doel van daardie Moslem-leërs en rykdomme was om Islam oor die wêreld heen te versprei. Dit was bekeringswerk met die swaard en gedryf deur die oortuiging dat Islam die finale en dus enigste ware monoteïstiese geloof is. Die Islamitiese ryke was van die mees agressiewe koloniseerders in die wêreldgeskiedenis. Hierdie verowerings vorm steeds die grondslag van die geloof dat grond wat eens onder Moslem-heerskappy was, nooit weer deur nie-Moslems regeer mag word nie.
Dit het in Rusland begin
In 1881 is Tsaar Alexander II van Rusland vermoor deur 'n anargistiese groep. Hy was 'n hervormer wat die slawernystelsel in die 1860’s afgeskaf het en wat na Wes-Europa gekyk het om Rusland te moderniseer. Die anargiste het egter dié hervormings beskou as pogings om die bestaande sosiale strukture te behou eerder as om ware gelykheid te bring.
Hy is opgevolg deur sy uiters konserwatiewe seun, Alexander III, wat onderrig is deur die Russies-Ortodokse Kerk en geen simpatie gehad het vir sy pa se hervormings nie. Hy het geglo dat die liberale hervormings sy vader se dood veroorsaak het.
Alexander III het alles wat hy as vyandig teenoor die Russiese Ryk beskou het ten sterkste onderdruk. Hy het meeste van sy vader se hervormings teruggedraai. In 1882 het hy die antisemitiese Mei-wette ingestel wat bestaande beperkings op Jode se woongebiede, toegang tot onderwys en werksgeleenthede verder verskerp het.
Terselfdertyd het die Russiese Ryk 'n groot industriële omwenteling beleef, hoofsaaklik deur die bou van spoorweë en elektrifisering. Hierdie industrialisering het veral in die Suidelike dele van die Ryk (vandag se Oekraïne) plaasgevind, in stede soos Odessa, waar Joodse en nie-Joodse gemeenskappe saam gewoon het.
Die sosiale ontwrigting wat deur industrialisering veroorsaak is, verstedeliking en die verswakking van die plattelandse werkersklas het gelei tot wydverspreide volksopstande en pogroms. Pogroms was gewelddadige aanvalle op Joodse gemeenskappe, en Jode is met geweld geteister of selfs vermoor. Hierdie pogroms het vinnig versprei, dikwels langs die roetes van die nuwe spoorlyne. Dit het deel van die alledaagse Joodse belewenis geword.
Daar word geskat dat daar sowat 1 300 pogroms plaasgevind het in die 40 jaar ná 1881. Tussen 1881 en 1921 het tot 250 000 Jode hul lewens verloor, baie daarvan tydens die Eerste Wêreldoorlog en die Russiese Burgeroorlog.
Omdat hierdie pogroms saamgeval het met die Mei-wette, Alexander III se onderdrukkingsbeleid en sy reaksionêre ingesteldheid, het die meeste Jode geglo dat die pogroms deur die tsaristiese regime georkestreer is. Hierdie aanname was waarskynlik foutief, aangesien dit nie die kompleksiteit van Russiese binnelandse politiek en sosiale dinamiek behoorlik in ag neem nie.
Pogroms – Eg, opreg en uit die volk self gebore
Die wortel van die pogroms het van onder af gekom. Dit het nie deur staatsaanhitsing alleen sy verskyning gemaak nie. Dit was die gewone mense rondom wie Jode gewoon het, wat wou hê die Jode moes vernietig, verneder en gemartel word totdat die Jode verstaan het dat hulle nie welkom is nie.
Die bekendste pogrom het in 1903 in Kishinev (vandag Moldowa) plaasgevind. Wat Kishinev laat uitstaan het in die wêreld se geheue, was nie net die 50 sterftes nie, maar hoe daardie mense gesterf het. Die verontwaardiging het ontstaan oor die wreedheid van die aanvallers en dat vroue voor hul manlike familielede verkrag en vermoor is.
Die verontwaardiging, veral in die Verenigde State en Brittanje waar invloedryke Joodse gemeenskappe was, het diplomatieke skade aan Rusland berokken.
Kishinev het ook die inspirasie geword vir die berugte Protokolle van die Ouderlinge van Sion, wat in 1903 deur amptenare van die Russiese regime geskryf is. Mense wat nie kon verstaan waarom die wêreld omgegee het dat Jode vermoor is nie. Die protokolle was 'n totale vervalsing, waarskynlik saamgestel onder leiding van die hoof van die buitelandse tak van die Russiese geheime polisie in Parys.
Die skrywers het ou antisemitiese mites gebruik om die diplomatieke krisis “te verklaar”. Hulle wou anti-Joodse sentiment verder aanhits en die geheime polisie wou die pogroms intellektueel regverdig.
Die Protokolle, wat voorgee om notules te wees van geheime vergaderings van Joodse wêreldleiers en het 'n denkbeeldige sameswering om wêreldoorheersing te bewerkstellig beskryf. Die sogenaamde “Ouderlinge van Sion” het nooit bestaan nie. En hoewel die dokument herhaaldelik as bedrog ontbloot is, bly dit bestaan as “die leuen wat nie wil sterf nie”. 'n Motivering vir die wat Jode haat. Arabiese weergawes daarvan word vandag nog wyd in die Midde-Ooste verkoop.
Hoe die pogroms Russiese Jode hervorm het
Die pogroms het Russiese Jode radikaal hervorm, beide geestelik en demografies. Ongeveer 3 miljoen Jode het die Russiese Ryk tussen 1882 en 1922 verlaat. Die oorgrote meerderheid (ongeveer 2,5 miljoen) het in die Verenigde State gaan vestig. Dit is waar die demografiese kern van Amerikaanse Jodedom (en 'n groot deel van Suid-Afrika s’n) ontstaan het.
Vir sommige lesers is die produksie Fiddler on the Roof dalk bekend, een van die suksesvolste Broadway-musiekblyspelle, later verfilm in 1972. Dit speel af in Keiserlike Rusland rondom 1905, en vertel die storie van 'n melkboer in 'n Joodse dorpie wat probeer om Joodse tradisies te handhaaf terwyl buite invloede sy gesin se lewe begin verander. Uiteindelik word die dorpie se Jode deur 'n tsaristiese dekreet verban.
Baie vlugtelinge het weswaarts gevlug na die Oostenryk-Hongaarse en Duitse ryke. Die lande was oortuig dat Rusland probeer het om hul “Joodse probleem” op hulle af te skuif. Hulle het gevolglik hul lenings aan Rusland teruggetrek, wat 'n ernstige ekonomiese slag was.
Met verloop van tyd het pogroms van Oos-Europa beweeg na Sentraal-Europa, en later Wes-Europa. Dit het op verskillende tye en wyses dog stelselmatig gebeur.
Hierdie gebeurtenisse het die aanloop gevorm tot 60 jaar van 'n geleidelike uittog van Jode uit Europa. Die kontinent het letterlik onbewoonbaar vir Jode geword. Terselfdertyd tussen 1880 en 1920 het massiewe immigrasie na die VSA plaasgevind vanaf Ierland, Italië, Pole, Hongarye en Rusland.
Nie-Joodse immigrante het dikwels jong mans eerste gestuur om 'n bestaan in die VSA te maak, waarna die gesinne hulle gevolg het. Joodse vlugtelinge het egter as gesinne geëmigreer. Hulle het vervolging ontvlug. Joodse organisasies in Amerika het alles in hul vermoë gedoen om hierdie mense te help. Die bestaande Joodse gemeenskap in die VSA het ongeveer 250 000 mense getel, hoofsaaklik Duitssprekendes, wat hulle in die Amerikaanse Middeweste gevestig het.
Tussen 1908 en 1925 het baie nie-Joodse immigrante na hul lande van herkoms teruggekeer: 57% van Italianers, 40% van Pole, 64% van Hongare, 67% van Roemeniërs en 55% van Russe. Onder Jode was daardie syfer net 5%. Vir Jode was die lewe in Amerika, al was dit daardie tyd dikwels net effens beter, steeds beter as wat hulle in Europa gehad het.
'n Belangrike faktor in die terugkeer was die ekonomiese ineenstorting van 1907, bekend as die “Panic of 1907”. Werk was skaars vir mense wat nie goed Engels kon praat nie, nie familieverbande of hoër opvoeding gehad het nie. In die onmiddellike nasleep van die krisis kon immigrante nie maklik opbeweeg in die Amerikaanse samelewing nie.
Westerse kwotas het die Jode se lot verseël
Wat uiteindelik die lot van Europese Jodedom verseël het, was die Westerse wêreld se instel van immigrasie-kwotas. Soos die Jode weswaarts gevlug het, het Westerse lande sistematies hulle grense vir Jode toegemaak.
In 1921 het die Amerikaanse Kongres die Emergency Quota Act (Kwotawet) aanvaar. Die VSA het reeds sedert 1910 probeer om Joodse immigrasie te beperk. Die pogroms tydens die Russiese Burgeroorlog (1918–1921) het die druk van migrasie verhoog.
In 1921 het meer as 120 000 Jode in New York aangekom. Die Amerikaanse Kongres het daarop gereageer met die Kwotawet, wat kwotas volgens nasionaliteit ingestel het. “Nasionaliteit” is eksplisiet gedefinieer om Jode uit te sluit. In 1924 is die kwotas verder verskerp. Gevolglik het die jaarlikse Joodse immigrasie van ongeveer 120 000 tot net 10 000 geval.
Teen 1934 het slegs 2 700 Jode daarin geslaag om die VSA binne te gaan en Hitler was reeds sedert 1933 aan bewind.
Soos die dringendheid van die Jode se situasie toegeneem het, het Westerse lande soos Amerika, Kanada, Brittanje, Frankryk, Argentinië, Brasilië, Australië hul deure gesluit Die Jode is feitlik die Holocaust in verdryf.
Die Nazi’s het volksmoord op 'n industriële skaal beplan en uitgevoer, maar was nie suksesvol in lande waar die plaaslike bevolking nie saamgewerk het nie. Die Jode wat nie assimileer het in die kultuur van die lande waarin hulle gewoon het nie, en wat apart van die meerderheid gebly het, is in die meeste gevalle uitgewis.
Meer as 6 miljoen Jode is tussen 1939 en 1945 vermoor. Bykans twee derdes van Europese Jodedom. Dit was die uitkoms van sestig jaar se sistematiese politieke, kulturele en sielkundig-maatskaplike vernietiging.
Min het ná die Tweede Wêreldoorlog verander
Die fundamentele Joodse ervaring het na die oorlog nie veel verander nie. Die immigrasie-kwotas is nie opgehef nie. Na die oorlog was daar 250 000 Jode wat steeds agter doringdraad in 'n netwerk van ontheemdeskampe gewoon het en talle van hierdie kampe was vroeër konsentrasie- of uitwissingskampe. President Truman het die Kongres gesmeek om die kwotas op te hef, maar dit was tevergeefs.
In 1939 was daar 9,5 miljoen Europese Jode, 57% van wêreldwye Jodedom. Na die oorlog het slegs 3 miljoen oorgebly, die laaste reste van 'n verwoeste Joodse wêreld.
Ongeveer 15 miljoen mense is na die oorlog as ontheemdes (“displaced persons”) geklassifiseer, waarvan die oorgrote meerderheid binne maande huis toe kon keer. Maar 'n ontheemde was iemand wat nêrens heen kon gaan nie, of omdat hulle by tuiskoms vermoor sou word, of omdat niemand hulle sou inneem nie. Al was Bergen-Belsen reeds op 15 April 1945 bevry, was daar nog Joodse ontheemdes in die kamp in 1947.
Agt maande ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar nog sowat 1 miljoen ontheemdes in Europa en 250 000 van hulle Jode.
Die VSA en Brittanje het dus die Internasionale Vlugtelingorganisasie (IRO) gestig met ongeveer 40 lidlande, hoofsaaklik uit die Weste. Die IRO het verteenwoordigers na die kampe gestuur om met ontheemdes onderhoude te voer en te bepaal watter lande hulle kon inneem om ekonomieë wat na die oorlog verwoes is, te help herbou. Miljoene werkers is tydens die oorlog dood. Teen 1946 het hierdie lande 750 000 ontheemdes opgeneem en genaturaliseer.
Die kampe het eers begin leegloop na die stigting van Israel in 1948. Waarskynlik was 'n kwart van die Jode wat aan die Onafhanklikheidsoorlog van 1948 deelgeneem het, voormalige ontheemdes van die oorlog. Hulle ervaring van die Tweede Wêreldoorlog het die nuwe Israel gevorm.
Vir omtrent 90% van die ontheemdes was die enigste hervestigingskeuse “Palestina”. Dit het nie oor Sionisme as ideologie of praktyk gegaan nie. Om na drie jaar in Bergen-Belsen en na die Holocaust 'n soldaat in die Israeliese Weermag te word, met die wete van wat jou ouers en grootouers vir ses dekades sedert 1882 beleef het. Dit is wat die stigting van Israel gedryf het.
Dit was die kulminasie van Sionisme: nie bloot 'n ideologie nie, maar 'n beweging. Sionisme is 'n vorm van Joodse nasionalisme wat aanvoer dat die Jode 'n volk is, en dat hulle as volk die reg het op nasionale selfbeskikking. “Sion” is die Hebreeuse woord vir Jerusalem.
Sionisme is verwoord en bevorder deur die sekulêre Weense joernalis en prokureur Theodor Herzl in reaksie op 19de-eeuse Europese en Russiese antisemitisme.
Groepe Jode, beide sekulêr en gelowig, het na Palestina geëmigreer om vervolging te ontvlug, en hulle het aangesluit by die klein, meestal godsdienstige gemeenskappe wat reeds daar bestaan het. Hulle was miskien “setlaars”, maar nie koloniseerders nie.
Die meeste Joodse grond in Palestina oor die Tweede Wêreldoorlog is wettig aangekoop en voor betaal deur Joodse filantrope.
Dit is belangrik om te besef: Palestina was glad nie 'n aantreklike bestemming nie. Dit was arm, warm, moerasagtig en vol malaria. Die lande waarheen Jode wou gevlug het, was die Nuwe Wêreld – veral Amerika – en demokratiese Europa. Die opmars van antisemitisme en pogroms, saam met Westerse kwotas tussen die vroeë 1920’s en 1939, het egter veroorsaak dat baie Jode Palestina toe is wat andersins nie sou wou nie.
Die twee antieke Joodse koninkryke – Israel en Juda – en veral Jerusalem, was nog altyd sentraal tot die essensie van Judaïsme. Jerusalem was altyd 'n plek van godsdienstige en emosionele verlange, ten spyte van herhaalde uitsettings van Jode uit die stad.
Die gelyktydige opkoms van Joodse en Moslem-nasionalismes, die ineenstorting van die Ottomaanse Ryk, Britse en Franse kolonisasie, pogroms in die Russiese Ryk, immigrasie-kwotas, die opkoms van Nazisme en uiteindelik die Holocaust, het alles het diep en beslissend bygedra tot die totstandkoming van Israel.
Daar is geen maklike keuses nie
Die meeste Jode van Europa en Rusland was arm en het op die platteland gewoon. Stedelike Jode het baat gevind by die Verligting en groot stede van Europa. Met toegang tot sekulêre onderwys, wat hulle in staat gestel het om werksgeleenthede te bekom, ondernemings te stig, en 'n rol in die akademie te speel. So het baie in die middelklas beland of selfs groter welvaart bekom.
Antisemitisme, beide die godsdienstige en die “biologiese” mutasie daarvan, het die toestand van Jode in lande soos Duitsland, Frankryk en Oostenryk verder verswak.
Baie van hierdie hoogs bekwame en opgevoede Jode het uiteindelik in die agtergeblewe gebied van Britse Mandaat Palestina beland.
Wat sou gebeur het as die geskiedenis anders geloop het, kan 'n mens net probeer verbeel. Maar die werklikheid is: Israel bestaan al 77 jaar. Dit is al dekades lank 'n lid van die Verenigde Nasies.
Die probleem vir diegene wat die vernietiging van Israel nastreef, is eenvoudig: Israeli’s het nêrens heen om te gaan nie. As hulle moet veg om te oorleef, sal hulle. Hulle het geen keuse nie.
Sara Weiss is 'n onafhanklike politieke kommentator en genoot van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge. Sy het al talle artikels oor antisemitisme vir The Daily Friend (die IRR se meningsportaal) en Politicsweb geskryf.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Wat 'n puik uiteensetting van Joodse geskiedenis. Dit gee broodnodige konteks aan hierdie 21ste eeu gesprek, konteks wat meeste mense nie van weet nie of vergeet.
Sarah Weiss dink seker ons lees nie.
1. Die Palestyne het nie na Europa of Ukraine of Rusland gereis om Jode te verhel nie.
Die terrorisme het begin toe Jode vandaar opgedaag het in Palestina.
2. Net soos wat n persoon wat keer op keer afgedank is, nie die skuld op die werkplek kan plaas nie, kan Jode wat vervolg word, ook nie die skuld vir hulle herhaalde uitsettings op daardie lande plaas nie.
Ons kan sien waartoe hulle in staat is, soos om mense in tente lewendig te verbrand en n dokter met stokke te sodomiseer totdat hy dood is.
3. Momberg se uitbeelding van israel as n koloniale projek is in die kol. Dit word breedvoerig bespreek in vele dokumente.
Ilan Pappe se boek, “Lobbying for Zionism on both sides of the Atlantic” vat dit mooi saam.
Sal ons vir al die publikasies van sy bronne laat weet om dit na die fiksie afdeling te skuif, volgens Weiss se wonderbaarlike insigte?
4. Ons het die Boere Oorlog agter ons, waar 50% van die kinders in die kampe gesterf het. Sommige Jode uit Lithuania het druk op die Britte uitgeoefen om die Boere Republieke aan te val oor hulle stemreg wou afdwing.
Net soos israel vir die VSA gemotiveer het om Iraq aan te val.
5. Israel kan baie lieg en bedrieg. Dink aan die Lavon Affair, die aanval teen die USS LIBERTY, die aanstel van Pollard as spioen teen die VSA (hulle weldoeners) en die steel van verrykte uraan met die Numec Affair.
6. Israel toets wapens op Palestyne, vir jare al. Lees maar die bronne in Loewenstein se THE PALESTINE LABORATORY.
6. Lees maar ook JEWISH TERRORIST ACTIVITIES AND THE BRITISH IN PALESTINE 1939-1947, ‘n PhD tesis aan Oxford.
7. Alle Jode in Israel is nie elders vervolg nie. Hulle gaan vir die goeie voordele soos behuising en medies, en ry op die rug van veral die Amerikaanse belastingbetaler deur AIPAC.
8. Jode in Ukraine was onwelkom oor Yagoda, ‘n Jood, die Holodomor veroorsaak het. Miljoene Ukrainians is dood van die honger.
Hy was ook deel van Stalin se magte wat die Gulags gestig het, en kerke verbrand het.
Met soos wat israelis die Christene van o.a. Iqrit vermoor en verjaag het tydens hulle terrorisme met die NAKBA.
9. Baie Jode die wêreldoor is teen Israel gekant, soos Finkelstein, Chomsky, Pappe, Code Pink.
10. As Israel’n mens was, was hy ‘n gevangene in hoë sekuriteit weens sy geskiedenis van ‘n skrikbewind.