Jy kla oor die toestand van ons land
Waarom ’n brand in Tokai jou ontstel, maar 'n brand in Joe Slovo nie.
Kaapstad het verlede week twee ernstige brande beleef. Een in Tokai se welige woud, wat groot media-aandag geniet het.
En ’n ander in die Joe Slovo informele nedersetting, wat bykans geen media aandag geniet het nie, al het die vlamme daar huise en skamele besittings vernietig, en twee lewens geëis. Die brand in Joe Slovo het stil verbygegly, nes talle tragedies in die arm gemeenskappe van Suid-Afrika. Gesien, maar nie eintlik gesien nie.
Tokai
Op Maandag 28 April het ek en my gesin teruggevlieg van Johannesburg af. Toe ons vliegtuig daal oor die Moederstad, het ons die rook sien hang oor die suide. ’n Dowwe grys sluier wat die blou Kaapse lug stom laat toekyk. Dit was ’n imponerende toneel. ’n Mens het byna gedwing gevoel om dit te registreer en om dit ernstig op te neem. Talle mense in die vliegtuig het na die rook wat hang gekyk en die brande bespreek.
Die Tokai-brand se fotos en videos was ‘n visuele fees vir nuusredakteurs. Diere wat uit hul habitat vlug, rook wat die bergomlyning bewasem het, en die stad en ander beamptes wat professioneel en dapper optree. Dit saam met die kontras van die vernietiging van ’n brand in ’n plek van skoonheid het dus alles gehad wat ‘n goeie nuusstorie maak.
Die nuuswaardigheid is verder verhoog deur die vermoede van brandstigting. Dat ’n menslike hand agter die vlamme se ontstaan was (daar word vermoed dat die brand op drie plekke begin is) wat natuur en stad bedreig. Die simboliek van hierdie verhaal is kragtig: dit spreek van orde wat omvergewerp word deur misdadige boosheid en dus ook van geregtigheid wat vereis moet word. Die media en publiek weet wat om met hierdie soort voorvalle te doen. Hulle weet hoe om die kommer en verontwaardiging te kanaliseer.
Natuurlik is dit tragies. Natuurlik is die ekologiese en morele skade betekenisvol. Natuurlik is dit ’n saak wat aandag verdien.
Maar gegewe die Joe Slovo brand, moet mens vra waarom ’n brand in Tokai, wat volgens berigte voertuie en bome verwoes het, meer van ‘n emosionele oomblik is as ’n brand wat twee mense se lewens geneem en byna vyftig gesinne se lewens ontwrig het?
Joe Slovo
Die burgemeester van Kaapstad het ‘n plasing oor die brand by Joe Slovo op sy sosiale media gemaak nadat hy die toneel die Sondag besoek het. Toe ek soek vir verslaggewing oor die Joe Slovo-brand, het ek ‘n enkele berig gekry. Kort, feitlik en werklik net verslaggewing in sy eenvoudigste sin. Verder as dit was daar geen dekking in die hoofstroom media nie.
Maar twee mense is dood. Vyf-en-veertig strukture is verwoes. Die implikasies daarvan in ‘n land met ’n steeds-groeiende armoedekloof is wesenlik.
En tog was die openbare- en media reaksie weinig. Waarom?
Die hiërargie van tragedie
Ons samelewing, ten spyte van ons grondwetlike voornemens van gelykheid en inklusiwiteit, dra ‘n onuitgesproke en bitter menslike hiërargie van tragedie. ’n Vuur wat grens aan ’n groen voorstad dra simboliese betekenis, want dit verteenwoordig ‘n bedreiging aan iets wat die meerderheid van die media- en politieke klas as hul eie sien. ’n Vuur in ‘n informele nedersetting is onregverdig, maar deel van ‘n bekende storielyn dat “arm mense ly”.
Ons het gewoond geraak daaraan. Ons het berusting met die verbrandbare aard van die armes se lewens.
Dit is dalk een van die diepste vorme van verontmensliking, maar ’n onopsetlike een. Nie omdat mense wreed is nie, maar omdat jou eie wêreld vir jou sentraal is. Die tragedie van Tokai is herkenbaar. Dis die woud waar hulle stap, die voertuie wat hulle ry. Die tonele van bergbrande verskaf 'n soort morele en visuele toegang wat Joe Slovo eenvoudig nie doen nie.
Hier betree ons die terrein van wat sielkundiges “kognitiewe dissonansie” noem, ’n gonswoord wat toenemend deur die kommentaarklas gebruik word, veral in politieke diskoers, maar wat steeds ’n baie eenvoudige kern het, naamlik die spanning tussen wat ons glo en wat ons waarneem.
Die Amerikaanse sielkundige Leon Festinger het reeds in 1957 uitgewys dat mense ‘n fundamentele behoefte het om innerlike sielkundige samehang te handhaaf, ten einde normaal in die samelewing te funksioneer. Wanneer hulle gekonfronteer word met feite of gebeure wat nie met hul bestaande oortuigings klop nie, ervaar hulle ‘n ongemaklike spanning wat hulle probeer verminder, dikwels nie deur hul oortuigings aan te pas nie, maar deur die werklikheid op een of ander manier kognitief te herrangskik.
Mense wat innerlike teenstrydighede beleef, ervaar sielkundige ongemak en probeer dit verminder. Hulle doen dit deur hul denke te regverdig (soos deur rasionalisering), selektiewe inligting te gebruik, of deur botsende idees en situasies bloot te vermy.
So, wanneer 'n middelklasburger hoor van twee sterftes in Joe Slovo, maar nie daardie wêreld as deel van hul eie leefruimte ervaar nie, ontstaan dissonansie. Die oplossing? Minimaliseer die impak. Sien dit as "normaal". Raak afgestomp. Of, subtieler nog, lei hul aandag na iets wat makliker verwerk kan word soos 'n brand in Tokai in dieselfde week.
Ons brein soek bekendheid en nie waarheid nie. En die prys vir daardie bekendheid is soms dat ander mense vergeet word.
Die mens se brein is geneig om trauma te prioritiseer volgens herkenbaarheid. Hierdie verskynsel staan bekend as identifikasie-heuristiek, oftewel duimreël. ’n Mens voel meer intens oor die hond wat uit ’n brand gered word as die mens wie se lewe daagliks aan die brand is, bloot omdat die een verhaal herkenbaar en verteerbaar is, terwyl die ander ons dwing om vrae te vra oor strukturele wanbalans, ongeregtigheid en die mislukkings van die ideologie wat hierdie ongelykheid in stand hou.
Sosiologies gesproke
Sommige sosioloë praat van “gaping-ongelykheid”. Dis die idee dat nie net ekonomiese ongelykheid saak maak nie, maar ook die simboliese, narratiewe en institusionele verontagsaming van sekere groepe. Joe Slovo se mense leef nie net in armoede nie, maar hulle leef buite die sentrum van betekenis, tensy hulle swaarkry bruikbaar raak vir die skyn van betrokkenheid en omgee. In plaas daarvan om werklik op te daag, word daar dikwels net genoeg omgegee om morele status te handhaaf.
Dis die ongemaklike waarheid oor ’n sekere soort progressiewe performatiwiteit, oftewel opvoerigheid. Daar bestaan ‘n klas van stemme — akademici, aktiviste, kommentators, en so meer — wat meer gepla is oor hoe dit lyk om om te gee as om vordering te maak vir hierdie gemeenskappe. Retoriek oor "transformasie", "insluiting" en "dekolonisering" het gewild geword in korporatiewe en akademiese kringe, maar op straatvlak het min verander. Ten spyte van drie dekades se transformasiebeleid, het die meerderheid Suid-Afrikaners bitter min van die beloofde transformasie se vrugte gepluk. Mense is meer daarop gefokus om progressief te lyk as om werklike vordering te maak.
In die openbare verbeelding is mense soos die bewoners van Joe Slovo nie protagoniste nie, maar agtergrondkarakters in ’n landskap van voortdurende krisis wat bruikbaar is vir ideologiese betoog, maar nie vir regte verbetering nie. Dit is ironies, want daardie soort ideologiese aanwending van klasseverskille is presies wat baie selfverklaarde radikale transformatiste sogenaamd teenstaan. Dis ’n tipiese Marxistiese aanwending van klassepolitiek: nie as geleenthede vir bemagtiging nie, maar as permanente simboliese ankers om eie ideologiese posisies te regverdig.
Daar is min dade, en baie diskoers. Om die bekende Fokofpolisiekar liriek te parafraseer, hulle kla oor die toestand van die land, maar wat doen hulle daaromtrent?
Om werklik om te gee
Wat sê dit van ons as stad, as nasie, as mensdom, wanneer sekere vure ’n koor van bekommernis ontlok, en ander net ’n knikkie van opvoerige erkenning?
Die ware uitdaging is nie om ons aandag van Tokai se brande af weg te vat nie, maar om ons opregte kommer en besorgdheid te verbreed, sodat dit Joe Slovo insluit. En dit vereis meer as net “thoughts and prayers” oor hierdie spesifieke tragiese brand. Dit vereis dat ons besin oor die feit dat die aanvanklike belofte van ’n nuwe Suid-Afrika van gelykheid, deelname, en volhoubare vooruitgang na 31 jaar nie vir die meerderheid van ons land se mense gerealiseer het nie.
Dit wat agterbly nadat die vlamme wegsterf, is wat belangrik is.
Ons het twee brande gesien. Een in ’n bekoorlike voorstad, die ander in ’n informele nedersetting.
Een het foto’s en stories ontlok en die ander het doodse stilte ervaar, nie net na die brand nie, maar na 31 jaar van min tot geen verandering vir die mense van Joe Slovo.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: