Ek het 'n groot waardering vir baie dinge en koffie is beslis een van hulle. Swart en bitter, sonder suiker of melk. Sterk. In sommige gevalle sommer baie sterk. Wanneer ek so nou en dan 'n wegneemkoffie by die naaste Platō Coffee of Starbucks koop, neem ek eers 'n foto van die koppie met die handgeskrewe boodskap daarop, voordat ek die warmdrankie geniet. In Starbucks se geval is daar altyd 'n koffie met my naam op – létterlik en wat Platō Coffee aanbetref, word daar altyd 'n bietjie aanmoediging met 'n filosofiese ondertoon, wat ek nie geweet het ek nodig sou hê nie, saam met my koffie bedien.
Volgens die Pen Written Post gaan die volgende groot skuif in handelsmerkkommunikasie heel waarskynlik nie nog 'n e-pos of advertensieveldtog wees nie, maar 'n handgeskrewe een. Ons praat hier van egte handskrif, op egte papier, wat deur regte mense aan regte mense gestuur word.
Behalwe vir die mooi boodskappe op die koffiekoppies, sien ons dié handskrifbeweging reeds in die onlangse tendens in die bemarkings- en adverteringsbedryf waar besighede handgeskrewe notas as advertensies gebruik en op sosiale media deel. Interessant genoeg word kunsmatige intelligensie (KI) eers aangespreek voordat die produk of diens geadverteer word. Ons is in 'n era waar generatiewe KI nie net die produksie van handelsmerkkommunikasie verander het nie, maar ook die menslike betrokkenheid agter besighede.
Die Suid-Afrikaanse koffiekettingwinkel, Platō Coffee, en internasionaal bekende koffiekettingwinkel, Starbucks, se handgeskrewe boodskappe op die wegneemkoffiekoppies word as 'n kulturele teken van menslike teenwoordigheid binne 'n toenemende geoutomatiseerde kommunikasie-ekonomie gesien en kan dus as 'n moontlike vorm van post-KI gesien word.
Platō Coffee
Oor die algemeen funksioneer Platō Coffee se wegneemkoffiekoppies nie net as 'n houer vir die produk nie, maar ook as 'n draer van handelsmerkkommunikasie. Dink aan die embleem, kleure, grafiese elemente, verpakking en produkidentiteit. Hierdie elemente kan deur duisende of selfs miljoene koppies herhaal word. Die wegneemkoppie is dus die advertensie en die mens wat die koffie bestel het, is die draer daarvan.
Op die oog af is dit duidelik dat Platō Coffee se handelsmerk konsekwent bly, maar die handgeskrewe boodskap verander die hele speletjie:
Die gedrukte handelsmerk verwys na Platō Coffee se identiteit. Die handgeskrewe boodskap hang van die barista en die kliënt af. Ons kan dus sê dat daar twee kommunikasiestelsels gelyktydig funksioneer: korporatief en persoonlik. Waar die handelsmerk massavervaardig is, is die handgeskrewe boodskap persoonlik, eenmalig, fisies uniek en ontvangergerig. Eersgenoemde vestig dus visuele konsekwentheid; laasgenoemde bring individuele afwyking. Om op die koppie te skryf, veroorsaak dat massakommunikasie en mikrokommunikasie mekaar ontmoet en op 'n kontrasterende wyse saamwerk. Sonder die handelsmerk is die persoonlike boodskap net 'n nota en sonder die handgeskrewe nota is die handelsmerk net 'n herkenbare korporatiewe identiteit.
Starbucks
Volgens Starbucks se geskiedenisblad het baristas vanaf 2012 begin om kliënte se name te vra en op koppies neer te pen, met die doel om elke kliënt as 'n individu te erken. In 'n multikulturele land soos Suid-Afrika, maak dit heeltemal sin dat name nie altyd reggespel of uitgeroep kan word nie. Uit ervaring het ek geleer dat dit beter is om my naam letter vir letter aan die barista uit te spel, met die hoop dat my naam reg uitgeroep sal word sodra my bestelling gereed is.
Generatiewe KI slaag in konsekwentheid, maar die handgeskrewe boodskap doen egter die teenoorgestelde deur menslike teenwoordigheid aan te dui – en ja, die feit dat jou naam soms verkeerd neergeskryf is, ondersteun die hele idee van die post-KI-era. Elke handgeskrewe boodskap dui tekens van tyd, beweging, druk, hand-oog-koördinasie, persoonlikheid en konteks aan.
Handskrif as 'n bemarkingsmedium
Volgens die Pen Written Post kan handgeskrewe kommunikasie in die post-KI-era as 'n selfstandige bemarkingsmedium funksioneer, en ek verstaan waarom:
Waar KI-personalisering deur data en grootskaalse toepassing gerealiseer word, vergestalt handgeskrewe bemarking personalisering deur die medium, moeite en tyd wat daaraan verbonde is. Binne 'n oorversadigde digitale kommunikasieomgewing kan die onverwagse aard van handgeskrewe boodskappe dadelik aandag trek en uiteindelik weer as 'n strategiese aanknopingspunt vir verdere digitale kommunikasiedoeleindes dien.
Die hele idee van post-KI-handelsmerkkommunikasie verwys nie noodwendig na kommunikasie wat ná KI plaasvind of die afwesigheid van KI nie. Dit dui op 'n kulturele werklikheid waarin KI so verweef geraak het met inhoudskepping dat die menslike oorsprong as 'n onderskeidende kommunikasie-eienskap gesien kan word.
Te veel van 'n goeie ding is nie altyd 'n goeie ding nie
Daar is natuurlik ook moontlike risiko’s verbonde aan die oormatige kommersialisering van menslikheid. Indien die menslike oorsprong op 'n toenemende wyse as 'n waardevolle handelsmerkeienskap beskou word, is dit moontlik dat die menslike aspek daarvan gekommersialiseer, gestandaardiseer en uiteindelik van sy outentisiteit ontneem kan word.
'n Koffiewinkel kan besluit dat elke wegneemkoppie 'n handgeskrewe boodskap moet bevat, elke pakket 'n handgeskrewe nota moet kry en elke kliënt met 'n persoonlike ervaring moet wegstap. 'n Oormaat van doelbewuste menslike gebare kan mettertyd in 'n gestandaardiseerde diensprotokol omskep word, waardeur die spontaneïteit en outentisiteit wat aanvanklik aan die gebaar betekenis verleen het, moontlik verlore kan gaan.
Die uitdaging is dus om menslike betrokkenheid te behou, eerder as om die estetika van menslike aspekte te reproduseer.
Post-KI: Is ons al daar?
Die post-KI-era van handelsmerkkommunikasie gaan heelwaarskynlik nie deur 'n toenemende gebruik van KI gekenmerk word nie, maar eerder deur die herwaardering van vaardighede en vorme van vakmanskap wat nie maklik deur KI vervang of gegenereer kan word nie. Die menslike kundigheid, oordeelkundigheid, vaardighede en skeppingsproses kan as goeie voorbeelde hiervan gesien word.
Platō Coffee en Starbucks se doelbewuste gebruik van handskrif illustreer hoe hierdie menslike element reeds binne hedendaagse handelsmerkkommunikasie funksioneer. Die koffiemaakproses, kliëntediens en oordeelkundigheid versterk die argument: Hoe word die mens deur die barista ontvang? Hoe word die koffie voorberei? Wie bepaal hoeveel melk bygevoeg moet word? Hoeveel sakkies suiker of versoeter is nodig? Is die kliënt tevrede genoeg om 'n los muntstuk in die fooihouer te gooi? Was die koffiewinkel besig en op watter tyd van die dag het die kliënt en barista se paaie gekruis?
Die teenwoordigheid van tegnologie hoef nie die betekenis van menslikheid uit te sluit nie. Inteendeel, die gemak, spoed en grootskaalse aard waarmee KI gepersonaliseerde kommunikasie kan genereer, kan juis daartoe lei dat tekens van menslike oorsprong toenemend onderskeidend en opvallend word.
Die kernuitdaging vir handelsmerke in die post-KI-era is nie noodwendig om vanuit 'n menslike aanslag te kommunikeer nie, maar eerder om op 'n sigbare, tasbare en geloofwaardige wyse te toon dat 'n mens steeds agter die handelsmerk en die kommunikasie daarvan staan.
Hoe drink jy jou koffie?
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









