Die destydse brand van Notre-Dame in 2019 en die stigting van die Shadowless Church in Sjina in dieselfde jaar het my laat nadink oor die rol van kerkargitektuur in gemeenskappe. Behalwe vir die feit dat Notre-Dame 'n katedraal is, word dit ook as 'n ekonomiese trekpleister vir geskiedenis, kuns, toerisme en identiteit gesien. Wat die Shadowless Church betref, is dit 'n landskapsprojek binne 'n toerisme- en eiendomsontwikkeling eerder as 'n funksionerende kerk.
Dat miljoene euro’s vir die herstel van Notre-Dame ingesamel is, laat my wonder: Waarom herbou ons kerke wat deur rampe vernietig word, maar laat ons kerke verdwyn wanneer gemeenskappe verander?
Die hart van die gemeenskap
Kerkgeboue het aanvanklik as spilpunte vir die gemeenskap gefunksioneer, waar godsdienstige, sosiale, opvoedkundige, ekonomiese en kulturele aktiwiteite plaasgevind het. Ons kan dus sê dat kerkargitektuur ook as gemeenskapsinfrastruktuur gefunksioneer het. Vroeë Middeleeuse plaaslike kerke het byvoorbeeld sosiale fokuspunte van nedersettings geword, terwyl die uitbreiding van kerklike netwerke juis daarop gemik was om geestelike en pastorale sorg nader aan plaaslike gemeenskappe te bring.
Die Salisbury Katedraal is 'n goeie voorbeeld daarvan en kan beskryf word as 'n soort “stad binne ’n stad” wat terselfdertyd 'n ekonomiese, ideologiese en materiële sentrum van stedelike lewe was. Dieselfde beginsel het later in kleiner dorpe voortgeleef, net op 'n baie kleiner skaal as dié van 'n katedraal. In Suid-Afrika het kerke veral in kleiner dorpe en gevestigde woonbuurte 'n belangrike rol in die vorming van gemeenskapslewe gespeel. Die kerk, skool, winkel, stadsaal en ander openbare geboue het deel van die netwerk in gemeenskappe gevorm. In baie dorpe het kerke nie net vir lidmate meegeding nie, maar ook vir sigbaarheid, invloed en status. Hoe hoër die kerktoring, hoe groter die status.
Kerkgeboue het dus nie net as ruimtes vir aanbidding gefunksioneer nie, maar ook as belangrike gemeenskapsruimtes waar mense kon voel dat hulle behoort. Dr. Hercules Boshoff, 'n medewerker by die Instituut vir Filosofie en die Samelewing in Stellenbosch en skrywer, beskryf die “derde plek” as 'n tussenruimte tussen huis en werk wat ’n belangrike rol in die openbare lewe en gemeenskapsvorming speel. Volgens hom bied sulke ruimtes geleenthede vir mense om mekaar te ontmoet, gespreke te voer en 'n gedeelde plaaslike identiteit te ontwikkel. Vanuit hierdie perspektief kan kerkgeboue ook as deel van die breër gemeenskapsinfrastruktuur verstaan word. Dit beteken nie noodwendig dat elke kerkgebou as 'n “derde plek” beskryf kan word nie.
Wat gebeur wanneer die kerk stukkie vir stukkie verdwyn?
Een van die uitdagings van ons tyd is dat die geboue dikwels bly staan, lank nadat die gemeenskappe waarvoor hulle ontwerp is, verander het.
Volgens Hannes Noëth, voormalige predikant van die GKSA (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika), verdwyn kerke as gevolg van die feit dat mense nie betrokke in die gemeenskap is nie, staatmaak op huiskerke en demografiese verandering. Dit is ook so dat selfs kerke nie direk by die gemeenskap betrokke is nie. In Suid-Afrika se klein dorpies kan die verdwyning en agteruitgang van kerke maklik waargeneem word.
Wanda Verster se studie oor die lewensiklus, hergebruik en aanpassing van plekke van aanbidding in Bloemfontein toon dat gesentraliseerde ouditoriumkerke, wat tussen die 1930’s en 1950’s vir Afrikaanse Gereformeerde kerke ontwerp is, kwesbaar vir sloping is wanneer hul oorspronklike funksie verdwyn. Eenvoudiger, liniêre planne is volgens haar makliker om vir nuwe funksies aan te pas.
Noëth verduidelik egter weer dat hierdie kerke juis op eenvoudige ontwerpe bo versierings gefokus het, omdat die dekoratiewe elemente onbekostigbaar was. Dis vir my opmerklik dat daar spanning tussen estetika en funksionaliteit van 'n kerk is. Wanneer word 'n kerk as 'n kerk gesien, en is dit eties om 'n mooi kerkgebou 'n kerk te noem wanneer dit nie as 'n funksionerende kerk gebruik word nie?
Die Skadulose Kerk
Die Shadowless Church in Sichuan, China, ontwerp deur Shanghai Dachuan Architects en Wisto Design, breek doelbewus weg van die tradisionele kerkbeeld en gebruik lig, deursigtigheid en 'n fyn aluminiumraamwerk om idees van vryheid, romantiek en pluraliteit uit te druk. Behalwe vir die feit dat die kerkgebou in China is, geniet die gebou aandag, omdat dit die tradisionele idee van 'n kerk as 'n swaar, afgeslote struktuur omgekeer het. Vir my, as kyker wat dit nog net op foto’s raakgesien het, lyk dit amper soos 'n groot 3D-kunswerk wat nog nie klaar gedruk is nie.
Die belangrikste komponente van hierdie kerk is lig en tyd. Lig word as die “siel” van hierdie spesifieke kerk gesien en die argitektuur se ligkomposisie verander deur die loop van die dag soos wat die son beweeg – dus, tyd. Die hele doel van die Shadowless Church is dat die besoeker uiteindelik hul eie waarneming daarvan moet voltooi. Met ander woorde, die besoeker neem deel aan die kunskonsep, maar is nie noodwendig aan die kerk, op 'n geestelike vlak, verbonde nie. Waarom? Want dit was nooit ontwerp met die doel om 'n funksionerende kerk vir die gemeenskap te wees nie.
Die toekoms van die kerk is dalk “oop”
Teen hierdie agtergrond kan die Shadowless Church as 'n argitektoniese verskynsel beskou word, waarvan die betekenis en waarde verder as die visuele impak strek. Die kerk is klein, lig en visueel deurlaatbaar. Die ontwerpers se visie vir die gebou was nie om die landskap te oorheers nie, maar om daarmee saam te leef.
Gegewe die bogenoemde, kan ons hierdie argitektuur as 'n metafoor vir die hedendaagse gemeenskap lees. Die moderne gemeenskap is minder homogeen, minder staties en minder geografies gebonde in vergelyking met baie van die gemeenskappe waarvoor historiese kerke ontwerp is. Die feit is dat ons nie meer ons hele lewe binne in een gemeenskap leef nie. Ons wissel tussen dorpe, werksplekke, familie- en vriendekringe. Die idee dat een sentrale instelling die hele gemeenskap se lewe kan organiseer, is nie meer volhoubaar nie.
Die kerk van die toekoms hoef dus nie noodwendig groter te wees nie. Dit moet dalk eerder meer oop wees vir veelvuldige vorme van gemeenskapslewe. Eerder as om te fokus op hoeveel mense elke Sondag in 'n gebou sit, kan gemeentes oorweeg op hoeveel verskillende maniere die ruimte deur die week gebruik kan word. Is die kerk 'n veilige plek vir mense wat nie elke Sondag op die kerkbank sit nie, maar steeds deel van die gemeenskap is? En, ja, in sommige gevalle kan ons selfs vra of die kerk betrokke in die gemeenskap wil wees.
Dit beteken natuurlik nie dat die estetiese waarde van kerkargitektuur van kant gemaak moet word nie. Inteendeel, die geskiedenis van kerkargitektuur toon juis die krag en identiteit van 'n gemeenskap aan. Waar die katedrale en dorpskerke aanvanklik die gevoel van behoort probeer skep het, laat die Shadowless Church ons egter met die vraag of 'n kerk nog 'n gemeenskapsgebou is wanneer die argitektuur van die kerk moontlik belangriker geword het as die gemeente wat dit nie gaan gebruik nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










