Kunste in die Era van Algoritmes
Wanneer KI die kwas vashou, maar nie die siel verstaan nie.
Die bekende ontwerper en skrywer, Bruce Mau, stel dat ontwerp fundamenteel verband hou met die lewe, en dat geen algoritme tans werklik kan begryp wat dit beteken om lewendig te wees nie – of altans nog nie.
Kunsmatige intelligensie (KI) se invloed op die kreatiwiteitsbedryf is 'n sensitiewe onderwerp wat heelwat spanning onder kunstenaars veroorsaak en selfs as 'n bedreiging vir die kreatiewe industrie beskou word. Word ons vervang? En wat gebeur binne die kreatiewe ekonomie wanneer ons toenemend op KI staatmaak?
Kunsmatige Intelligensie as Kreatiewe Vennoot
Ek het onlangs vir gesogte grafiese ontwerpers gevra hoe KI hul werksplek beïnvloed. Aanvanklik het ek heelwat kritiek verwag, maar die teenoorgestelde reaksie ontvang.
Een grafiese ontwerper het verduidelik dat sy tans in die kleinhandelbedryf werk en gereeld op KI staatmaak om foto’s te redigeer. In plaas daarvan om 'n fotograaf en model te huur en 'n toneel op te stel, gebruik sy nou KI. Sy maak dit duidelik dat KI nie die kreatiwiteitsproses oorneem nie en dat die ontwerpe en konsepontwikkeling agter die projek steeds haar eie is. KI is bloot 'n hulpmiddel — en dis hoe ons dit behoort te sien. Wat andersins 'n maand se voorbereiding sou verg, kon sy met behulp van teksinsette en opdragte binne minute voltooi — en duisende rande bespaar.
Nog 'n Suid-Afrikaanse multimedia-ontwerper en animeerder stel voor dat ons nie teen KI moet werk nie, maar eerder sáám met dit. Sy verduidelik dat die foto’s en kunswerke wat deur KI gegenereer word dikwels van hoë gehalte is, en dat dit haar help om kreatiewe verslae en -prosesse binne twee minute af te handel. Sy wys ook daarop dat sommige KI-programme 'n maandelikse fooi vra, wat uiteindelik die kliënt voor 'n keuse stel:
“Betaal jy vir die subskripsie en genereer self 'n beeld volgens jou opdragte, of betaal jy 'n grafiese ontwerper of illustreerder wat reeds die subskripsie het en weet hoe om die regte vrae te vra?”
Interessant genoeg bevat kunsprogramme soos Adobe, Figma en Canva reeds ingeboude KI-komponente wat ontwerpers en illustreerders help om tyd te spaar. In plaas daarvan dat dit as 'n bedreiging gesien word, sien baie kunstenaars dit as 'n kreatiewe vennoot en nuttige hulpmiddel.
Die Veranderde Rol van die Kunstenaar
Die Amerikaanse sakeman, Mark Cuban, meen dat KI wel talle idees vinnig kan genereer, maar dat menslike oordeel steeds onontbeerlik is vir finale besluitneming.
Hiermee stem ek saam en glo ek dat dit noodsaaklik is om die rol van die kunstenaar te hersien deur kreatiwiteit nie nét met handvaardighede te verbind nie, maar ook met die proses van konsepualisering, narratiewe ontwikkeling en simboliese interpretasie. Deur tydrowende en tegniese take outomaties te verrig, stel KI kunstenaars in staat om hul aandag op indiepte navorsing en ontwikkeling te vestig.
Etiek, Toeskrywing en Menswaardigheid
Die wêreldbekende multinasionale maatskappy, Coca-Cola, se jaarlikse kersfees-advertensie lok gewoonlik heelwat positiewe reaksie tydens die feesseisoen. In 2024 het hulle egter die wêreld verras deur KI te gebruik om hul advertensie te vervaardig. Waar ons normaalweg regte akteurs sou sien, is elke menslike figuur hierdie keer deur KI gegenereer en het dit van so 'n aard selfs mense laat wonder of die liedjie ook deur KI geskep is. Baie mense het gevoel dat die sogenaamde “Kersglans” hiermee verlore gegaan het. Die advertensie het nie eg genoeg gevoel nie en daarom kon mense op 'n emosionele vlak nie daarmee assosieer nie.
Wat ons kunstenaars egter gerusstel, is die feit dat die publiek steeds die ware Jakob verkies: 'n Coca-Cola-advertensie met regte kinders, opregte glimlagte, regte vragmotors en magiese musiek wat deur regte mense gesing word.
Die onsekere tyd van eienaarskap, krediet en ekonomiese oorlewing
Adobe spesialiseer in die ontwikkeling van sagtewareprodukte wat kreatiwiteit, ontwerp, multimedia en dokumentbestuur bevorder en versterk. Jace Johnson, adjunkpresident vir Regeringsake en Openbare Beleid van Adobe, sê dat kreatiwiteit 'n fundamentele menslike eienskap is wat KI nooit sal kan vervang nie, maar dat kunstenaars tans oor baie min maniere beskik om beheer of erkenning aan hul werk te heg — iets wat volgens hom dringend aangespreek moet word om hul kreatiewe agentskap en regte te beskerm.
Adobe verduidelik dat die kopieregwetgewing nie vir 'n era van sintetiese inhoud geskep is nie en dat daar steeds groot onsekerheid oor die botsing tussen KI en 'n kunstenaar se bestaande outeursregte is. Die uitdaging van KI-modelle wat kunstenaars se unieke style naboots neem drasties toe wat markverwarring en die kunstenaar se outeursreg beïnvloed.
Die akkurate nabootsing van 'n kunstenaar se styl bedreig nie net die identiteit van kunstenaars nie, maar ook hul inkomste en voortbestaan binne die kreatiewe ekonomie. Adobe beklemtoon dat kunstenaars die reg moet hê om hul styl teen kommersiële misbruik moet beskerm, daarom steun hulle wetgewing soos die Preventing Abuse of Digital Replicas Act ('n Amerikaanse stuk wetgewing), wat die gebruik van kunstenaars se beeld, stem en styl sonder toestemming sal beperk.
Volgens Adobe lê die toekoms nie noodwendig in tegnologie nie, maar in die vermoë om 'n kunstenaar se verbeelding te beskerm en bevorder. Hulle glo dat gereedskap soos Content Credentials, asook regverdige wetlike raamwerke, kunstenaars in staat sal stel om beheer oor hul werk te hou en in 'n KI-gedrewe wêreld te floreer. KI behoort dus kreatiwiteit uit te brei en nie te ondermyn nie.
Die Verbeelding bly Menslik
Johnson voorspel 'n toekoms waar die volgende groot innovasies nie in tegnologie lê nie, maar in verbeelding en daarmee stem ek saam. Kunstenaars weet reeds hoeveel denke, inspanning en oordeel in 'n enkele kunswerk ingaan. Dis waarom eenvoudige kuns, alles behalwe eenvoudig is en KI nooit werklik kan begryp wat dit beteken om lewendig te wees nie.
Hilde Kruger is 'n Grafiese Ontwerper, Multimedia Ontwerper, Bemarker en besigheidseienaar. Sy is 'n lid van International Society of Typography Design (ISTD) en 'n raadslid van Soildariteit se Kommunikasie en Bemarkingsadviesraad, asook die Solidariteit Helpende Hand Hoogland Studietrust.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.