
Soos so dikwels in sy geskiedenis bevind die Afrikaner hom weereens in 'n posisie waar hy verantwoordelikheid vir sy eie toekoms wil neem, maar terselfdertyd ook vir die toekoms van diegene rondom hom. Met ander woorde, nie net vir die Afrikaner nie, maar ook vir die nie-Afrikaner.
Die woord voogdyskap word die afgelope tyd toenemend in gesprekke binne die Orania-gemeenskap gebruik. 'n Mens kan egter nie oor hierdie begrip in dié konteks praat sonder om erkenning te gee aan Dr. Wikus Buys en Dr. Carel Boshoff nie. Hulle het hulself toenemend as leidende denkers in die intellektuele debat oor Afrikanervryheid gevestig, veral wat die vraag betref wat hierdie vryheid in die praktyk behels en wat nodig is om dit te verwesenlik.
As 'n jong Afrikaner wat in die nuwe Suid-Afrika grootgeword het, is dit nie 'n woord waarmee ek baie vertroud is nie. Tog is daar iets daaraan wat my nie los nie. Ek kry dit eenvoudig nie uit my kop nie.
Voogdyskap.
Om 'n voog te wees beteken immers om verantwoordelikheid te aanvaar vir die welstand en toekoms van iemand of iets. Daar is amper iets gerusstellends aan die woord. Dit dra die gedagte van sorg en beskerming, maar ook van gesag en beheer.
Juis hier lê daar vir my 'n gevaar. Want wat gebeur wanneer ons nie meer bloot verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat ons eie is nie, maar ook vir dit wat aan ander behoort? Kan ons dit selfs dan verantwoordelikheid noem of raak dit dan eenvoudig mag of beheer wat ons uitoefen oor ander? En hoe besluit ons waar ons verantwoordelikheid teenoor ander eindig?
Dit is na my mening een van die belangrikste vrae waarmee die Afrikaner hom oor die volgende twintig jaar sal moet besig hou. Hoe neem ons verantwoordelikheid vir ons eie toekoms sonder om weer verantwoordelikheid vir die toekoms van ander mense namens hulle te probeer neem?
Wanneer ek na ons Afrikaner-instellings kyk, is ek bevrees dat ons besig is om terug te keer na 'n bekende reddersrol. Ek wonder of dit nie deels spruit uit 'n ongemak om openlik en sonder verskoning te sê dat ons in die eerste plek vir ons eie regte, belange en toekoms opstaan nie. Dalk is daar steeds êrens diep binne ons 'n vrees dat ons nie té goed vir onsself mag doen nie, omdat dit die indruk kan skep dat ons weer ander mense onderdruk. Asof die vooruitgang van die Afrikaner noodwendig ten koste van iemand anders moet geskied.
Ek beskou hierdie denkwyse as 'n gevaarlike kognitiewe verdraaiing. Dit skep 'n situasie waarin die Afrikaner voortdurend sy eie vooruitgang moet regverdig deur te bewys dat ander mense ook daarby baat. Ons kan dan later só besig raak om ons goeie bedoelings teenoor ander te bewys dat ons vergeet om te vra of ons werklik besig is om die langtermynbelange van ons eie gemeenskap te bevorder.
Die Solidariteit Beweging beroep hom dikwels op die argument dat die beweging doen wat sy lede van hom verwag of dat dit die mandaat is wat sy lede aan hom gee. Dit mag inderdaad so wees. Maar 'n mandaat beteken nie noodwendig dat 'n bepaalde koers die regte een is nie. Dit beteken ook nie dat daardie koers op die lang termyn in die beste belang van die Afrikaner is nie. 'n Mandaat behoort dus nie die einde van 'n gesprek oor leierskap te wees nie. Dit behoort eerder die begin daarvan te wees.
Ek wil daarom 'n ingrypende verandering in Solidariteit se operasionele model voorstel.
As een van die Afrikaner se belangrikste verteenwoordigende instellings, behoort Solidariteit na my mening 'n duidelike openbare verklaring uit te reik waarin hy uiteensit hoe sy befondsingsmodel oor die volgende tien tot twintig jaar toenemend rondom drie kernbeginsels ingerig gaan word:
Eie grond (wat moet gepaardgaan met demografiese meerderheid)
Eie arbeid
Eie instellings
Hierdie drie beginsels behoort nie bloot nog doelwitte tussen talle ander te wees nie. Hulle behoort die grondslag te vorm waarteen elke strategiese besluit, elke projek en uiteindelik elke rand wat bestee word, gemeet word. My voorstel is dat Solidariteit hom daartoe verbind om oor die volgende twintig jaar sy beskikbare hulpbronne toenemend en uiteindelik uitsluitlik op die verwesenliking van hierdie drie doelwitte te rig.
Dit sal noodwendig beteken dat sekere bestaande projekte heroorweeg moet word. Die herstel van slaggate, die skoonmaak van parke en ander gemeenskapsprojekte mag waardevolle werk wees, maar ons moet onsself afvra of dit werklik die beste aanwending van beperkte hulpbronne is wanneer ons oor die voortbestaan en toekoms van 'n gemeenskap oor die volgende honderd jaar praat.
Ek vermoed dat Solidariteit bekommerd is dat hy ondersteuning sal verloor indien hy van hierdie soort projekte wegbeweeg. Ek stem nie saam nie. Ek dink ons onderskat die Afrikaner wanneer ons aanvaar dat sy betrokkenheid hoofsaaklik afhanklik is van onmiddellike, sigbare dienslewering.
Die Afrikaner het 'n groter roeping nodig. Nie bloot 'n organisasie wat vandag se probleme namens hom oplos nie, maar instellings wat hom help om ’n werklike toekoms vir sy kinders en kleinkinders te bou.
Die Afrikaner beskik steeds oor 'n sterk volksidentiteit, maar ek glo dat hierdie identiteit weer rondom 'n gemeenskaplike toekomsvisie gemobiliseer moet word. Solidariteit is in 'n besondere posisie om 'n betekenisvolle rol hierin te speel. Hy beskik oor die organisatoriese vermoë, infrastruktuur, ervaring en vertroue van 'n groot deel van die Afrikanergemeenskap. Die vraag is of hy bereid is om hierdie posisie te gebruik om 'n veel groter langtermynvisie na te streef.
Dit is na my mening te eenvoudig om voor te gee dat Solidariteit bloot die wense van sy lede uitvoer en self geen onafhanklike visie of rigting behoort te hê nie. Die verhouding tussen 'n instelling en sy lede is immers nie eenrigtingverkeer nie. Dit is wedersyds. Net soos wat Solidariteit sy mandaat van sy lede ontvang, sluit mense by Solidariteit aan juis omdat hulle na die instelling kyk vir leierskap, rigting en hoop.
Lede verwag nie noodwendig dat hulle leiers bloot vir hulle moet teruggee wat hulle reeds dink of verlang nie. Hulle vertrou daardie leiers ook om verder te kyk, moeilike besluite te neem en 'n toekoms voor te stel wat hulle dalk nog nie self ten volle kan raaksien nie.
En miskien is dit juis waar die grootste geleentheid vir die volgende twintig jaar lê. Om weg te beweeg van 'n ingesteldheid waarin die Afrikaner voortdurend probeer red, herstel en regmaak wat rondom hom verval, na een waarin hy doelbewus bou aan dit waarvoor hy self verantwoordelikheid kan en behoort te aanvaar.
Nie omdat die welstand van ander mense onbelangrik is nie, maar omdat daar 'n wesenlike verskil bestaan tussen om verantwoordelik teenoor ander op te tree en om verantwoordelikheid vir hulle toekoms oor te neem.
Die Afrikaner hoef nie weer die voog van Suid-Afrika te word om 'n betekenisvolle plek daarin te hê nie.
Hy moet eerder leer om met oortuiging verantwoordelikheid vir sy eie toekoms te aanvaar, sonder om daarvoor verskoning te vra, maar ook sonder om die reg van ander gemeenskappe om dieselfde te doen te ontken.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.





