The Safekeep van die Nederlandse skrywer Yael van der Wouden is in 2024 ingesluit by die kortlys vir die Booker Prys, en het die Women’s Prize for Fiction in 2025 gewen.
Wat aanvanklik soos bloot 'n verhaal oor 'n ietwat disfunksionele Nederlandse familie in die 60’s lyk, ontpop gou as iets heeltemal anders: daar is 'n lesbiese verhouding wat verken word, maar ook geheim gehou moet word. Belangrike en interessante vrae word gestel oor begeerte, oftewel wellus, wie toegelaat word om te begeer, wie hulle mag begeer, en wat ons alles sal opgee daarvoor.
Maar dis nie hoekom ek dink alle Afrikaners hierdie boek moet lees nie (alhoewel ek dink 'n bietjie sexy, saffiese skryfwerk almal soms goed kan doen). Wat Van der Wouden se roman bo meeste skrywers s'n plaas, is wat sy in die slot van haar boek doen. Nadat jy die ganse roman lank die mooi verhouding sien vorm tussen Isabel en Eva, en die karakters al hoe dieper onder jou vel inkruip, word jy skielik bewus gemaak van 'n feit wat jou hele uitkyk op die saak verander. Of ten minste, kompliseer.
'n Kort oorsig
Isabel se liefde vir haar familiehuis is 'n groot fokuspunt van die roman. Dit het vir my begin voel soos 'n simbool van haar vryheid en onafhanklikheid. Sy kan ongetroud bly en haar eie ding doen, as al die mans in haar familie haar tog net sal toelaat om aan te hou in die huis bly. Sy verdien dit tog die meeste, voel jy as leser, want sy is die een wat nog die heeltyd in die huis bly en dit versorg. Toe hulle ma nog geleef het en siek was, was Isabel die een wat na haar én die huis omgesien het. Hulle het tydens die Tweede Wêreldoorlog vir veiligheidsredes weg van Amsterdam af getrek en in hierdie huis kom bly, wat dus 'n simbool van veiligheid vir Isabel word. Haar broers voel 'n vae nostalgie vir hulle kinderhuis, maar hulle gee duidelik nie so baie daaroor om soos Isabel nie. Maar as Louis, haar oudste broer, trou, dan kan Isabel die huis verloor en hy kan met sy gesin daar intrek.
Eva kom bly saam met Isabel in hierdie familiehuis terwyl haar kêrel Louis, Isabel se broer, weg is vir werk. Aanvanklik wil Isabel niks van Eva weet nie, veral omdat sy voel dat as haar broer met Eva trou, dan word haar huis (want sy dink wel daaraan as haar huis, maak nie saak wie s’n dit wettiglik is nie) weggevat. Eva kyk die heeltyd na alles in die huis, vat daaraan, vra duisende vrae daaroor. Isabel is aan die begin baie rigied en verwys altyd na die kamer waarin Eva bly as “Moeder se kamer”, maar begin stadig maar seker eerder daarna verwys as “Eva se kamer”. Op die ou end breek Eva deur al Isabel se vooropgestelde idees oor beide vrouens, en 'n mooi verhouding begin.
Maar dan kom die waarheid uit wat alles kompliseer: Eva het net begin uitgaan met Louis omdat sy geweet het hy gaan hierdie huis erf. Dis ook hoekom sy voorgestel het dat sy by Isabel kom bly terwyl hy weg is. Hoekom het sy, nes Isabel, 'n obsessie met hierdie huis? Want wat nou Isabel-hulle se familiehuis is, was voorheen Eva se familiehuis. Eva se familie is Joods en hulle huis is afgevat tydens die Tweede Wêreldoorlog omdat haar pa nie kon bybly met die huis se afbetalings nie. Die rede daarvoor is dat hy na die konsentrasiekampe geneem is en daar vermoor is. Isabel se familie het die huis oorgekoop, sonder om te weet of te vra aan wie dit behoort het, al het hulle meeste van die meubels ook saamgekry.
Isabel probeer vir Eva oortuig dat sy eerder by haar moet bly en sê dat sy vir haar hierdie huis kan bied om in te bly. Eva se antwoord is eenvoudig, “It’s not yours to give.” Isabel dink dat Eva bedoel die huis behoort eintlik aan Louis, maar sy bedoel dat die huis aan haar wat Eva is, behoort. Eva was bang dat sy dalk nie suksesvol gaan wees met Louis oortuig om met haar te trou nie, so sy begin solank van die dinge in die huis, haar familie se dinge, terugsteel en aanstuur na 'n familielid. Isabel dink aanvanklik dat Eva besig is om hulle te besteel en dat sy net agter Louis aan is vir die geld. Sy is woedend en stuur Eva weg.
Nadenke oor Onreg
As leser is jy eerste aan Isabel se kant, want jy dink die arme vrou se familiehuis word besteel deur een of ander gold digger.
Ons weet hoe 'n hegte verhouding Isabel met die huis het, hoe mooi sy daarna kyk. Maar sodra ons uitvind dat Eva se familie voorheen in hierdie huis gewoon het, dit besit het, en alles moes agterlaat, dan swaai ons simpatie natuurlik na haar toe. Ons lees ook hoe Eva in haar dagboek skryf oor hierdie selfde lot wat vele ander Jode ook beval het:
“Her family got their home back after the war but had to pay outstanding taxes so had to sell it in ’47. They all live in an apartment in Slotermeer now, all 6 of them. 2 rooms. I said, Don’t you ever want to go to your old home and go inside and scream and tell these people to get out get out get out? She said, No, we sold it. I said, So what? She said, It’s not ours anymore, we sold it. I said I disagreed with her: if you have to sell something because you’ve been tricked into poverty, then that’s not an honest thing. If you haven’t given it away out of free will, it is still yours, I said.”
Ons verstaan absoluut Eva en ander Joodse families se woede. Wie sou nie kwaad wees nie? Dis totaal onregverdig.
En tog, wanneer daar gepraat word in Suid-Afrika oor grondbesit, dan wil ons skielik niks hoor nie. “Dis my familie se plaas. Dit is al ons s’n vir generasies. Ons het dit nie gesteel nie, ons het dit gekoop. Ons is eerlike mense. Ons is lief vir die grond.” Geen van daardie stellings is onwaar nie, maar dit ignoreer die feit wat ons altyd probeer verdoesel: voordat die grond ons s’n was, was dit iemand anders s’n. Ons as Afrikaners (en wit Engelse Suid-Afrikaners natuurlik ook) is Isabel en die ander Suid-Afrikaners is Eva.
Kom ons kyk na die feite: 72% van die grond in die platteland wat in privaatbesit is, behoort aan wit mense. Verder besit wit mense 49% van stedelike erwe en 45% van huise in komplekse of landgoedere. Wit Suid-Afrikaners is ongeveer 8% van die land se bevolking. Duidelik moet iets gebeur om daardie ongelykheid reg te stel. Ek en jy, wat nie politici of hoogs invloedryke mense is nie, kan nie veel hieraan doen. Ongelukkig vir swart Suid-Afrikaners lê dit meestal in die hande van die ANC, wat nie juis bekend is vir beloftes behou nie. Ek dink wel dat die manier wat ons as normale mense praat oor hierdie kwessie, 'n groot invloed kan hê op die algemene gevoel rondom grond en dit kan mense se alledaagse lewens en persoonlike verhoudings verbeter.
En dan praat amper niemand van ons, ek inkluis, oor die Khoisan nie. Mense wie se hele manier van lewe omvergewerp is deur die feit ons almal skielik kom bly het waar hulle nog altyd gewoon het. Nou is die plekke waar hulle grootgeword het natuurreservate, plase en woongebiede. Hulle was onafhanklik vir eeue, maar moet nou meestal staatmaak op 'n regering wat hulle nie verteenwoordig nie.
Dit is moeilik, op 'n emosionele vlak, om oor hierdie kwessie te praat. Daarteen sal ek nie stry nie. Niemand in my nabye familie besit 'n plaas nie, so ek voel dat dit vir my makliker is om myself bietjie te verwyder van die kwessie as vir ander Afrikaners. En ek dink nie die oplossing moet wees om mense weg te skeur van grond waarmee hulle 'n baie spesiale band gebou het nie. So wat is dan die oplossing?
In die roman word daar nooit gestry teen die feit dat Isabel lief is vir die familiehuis en dat sy ‘n spesiale band daarmee het nie. Die dilemma word opgelos deur Isabel wat haar familie oortuig om die huis aan haar oor te gee, en dan nooi sy vir Eva om met haar te kom bly in hulle huis. Dis 'n netjiese oplossing vir hulle, maar dis nou nie heeltemal prakties op 'n sistematiese vlak nie. Ons kan ook nie verwag van swart, bruin, Indiër en Khoisan Suid-Afrikaners om almal in 'n verhouding te moet wees met 'n wit persoon indien hulle eiendom wil besit nie. Ek kan klaar hoor hoe die EFF én die DA daaroor kla.
Ek het nie oplossings in terme van wetgewing of beleide nie, ek weet hopeloos te min om my opinie daaroor te gee. Ons kan ook nie direkte parallelle tussen Suid-Afrika se geskiedenis en The Safekeep trek nie, ons geskiedenis is hopeloos te ingewikkeld. Ek dink ons kan wel iets van Isabel leer oor die houding waarmee ons die probleem moet aanpak: Jy moet toegee dat daar 'n probleem is, en jy moet dit aanpak met empatie en 'n bereidwilligheid om te deel.
Aan die begin van die roman word daar die heeltyd gepraat van “our stuff”, “my property” en “my home” deur Isabel en haar familie. Sy is angstig en verwag heeltyd dat Eva hulle wil besteel. Isabel se lewe is piepklein, want sy fokus net op haar dinge en haar lewe. Nadat sy uitvind van Eva se familie se geskiedenis, sien sy skielik die plaaslike sinagoge raak, met 'n inskrywing uit die Tora en Bybel: “Want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke.” (Dis 'n gedeelte van Jesaja 56:7.)
Die eerste stap is om ons oë oop te maak vir die lewens van ander en op te hou om net te fokus op onsself en al ons goed wat ons dink almal wil wegvat. Want wie s’n was dit, voordat dit ons s’n was?
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












