Die onlangs gepubliseerde artikel in OntLaer deur Natasha Burge wat oor Amerika handel, het my laat dink dat ons dalk ook weer moet besin oor die idee van die Afrikaner as “nasie”, net soos sy oor Amerika as nasie gedoen het.
Ek het basiese vertrekpunte met Natasha in gemeen, deurdat ons albei kenmerke van Afrikaners en (egte) Amerikaners, onderskeidelik, identifiseer en dan redeneer oor wie as 'n Afrikaner of Amerikaner beskou kan word. Wat Natasha oor Amerika as 'n “verbeelde nasie” sê, sal na my mening in liberale en linkse kringe hoogs aanvegbaar wees. Liberale en linkse posisies wil juis oop, inklusiewe gemeenskappe hê – die teenoorgestelde van wat Natasha as die werklike “Amerikaanse nasie” beskou. As nie-liberaal en nie-linkse vind ek dit egter nie moeilik om persoonlik met haar sieninge te assosieer nie.
Ek is dan ook bereid om hier ter lande deur ons eie liberales en linkses aangevat te word oor my mening, wat myns insiens in die aar is van 'n ingesteldheid wat toenemend veral in Afrikaner-geledere steun geniet.
Natasha se artikel moet in detail gelees word om haar komplekse uiteensetting behoorlik te kan volg. Ek vereenvoudig dus haar siening, maar sien nogtans verskeie ooreenkomste tussen haar redenasies oor Amerika en die redenasies wat 'n mens kan aanvoer oor of Afrikaners nog as 'n nasie beskou kan word, of bloot as iets “minder”.
Is nasieskap die meerdere posisie?
Indien ons iets “minder” as 'n nasie is, hoe moet ons dan na onsself as groep verwys?
Nie lank gelede nie het ek na 'n Afrikaanse liedjie geluister waarin daar oor die “Afrikanernasie” gesing word. Dit het my laat besef dat sommige Afrikaners hulself nog steeds as deel van 'n sogenaamde Afrikanernasie beskou. 'n Mens hoor en lees soortgelyke verwysings gereeld in Afrikaanse media. Maar om te besluit of ons as “Afrikaners” nog as 'n nasie beskou kan word, moet ons eers duideliker beskryf wat onderskeidelik met “Afrikaner” en “nasie” bedoel word.
Kom ons begin by “Afrikaner”. Ek glo Afrikaners is alle Suid-Afrikaners (en selfs burgers van ander lande) wat nie hul kulturele erfenis en waardes as Afrikaners, soos hieronder deur my uiteengesit, versaak het nie. Ek dink dat ek in hierdie opsig met Natasha se sieninge oor wie werklike Amerikaners is, saamstem, hoewel dit in my geval natuurlik op Afrikanerskap betrekking het. Sy beklemtoon ook geleefde kenmerke, wat sy redeneer mense tot (ware) Amerikaners maak of nie.
Aldus redeneer ek dat Afrikaners al daardie mense is wat talle aspekte van hul ryke erfenis van tipiese Afrikaner-karaktertrekke en -waardes uitleef en nie versaak nie, te wete, 'n unieke taal (Afrikaans), 'n unieke geskiedenis, 'n sterk kultuur- en identiteitsgevoel (“Ek is 'n Afrikaner”), verbintenis met die Suid-Afrikaanse grondgebied, uithouvermoë (“'n Boer maak 'n plan”), vryheidsdrang, behoudenheid en waardering vir Bybelse waardes, sterk familie- en gemeenskapsoriëntasie, pragmatisme, patriotisme en trots op die historiese bydrae tot Suid-Afrika.
Vervolgens gee ek Google se definisie van 'n “nasie”, waarna ons die twee konsepte – “Afrikaner” en “nasie” – kan probeer versoen in die begrip “Afrikaner-nasie”. Volgens Google is 'n Nasie 'n groot groep mense wat verenig is deur gemeenskaplike afkoms, geskiedenis, kultuur, taal of gedeelde oortuigings, en dikwels 'n spesifieke gebied bewoon. Dit verteenwoordig 'n kollektiewe identiteit, onderskeibaar van 'n “staat” (ingesluit die regering) of 'n “land” (die grondgebied), alhoewel hierdie begrippe dikwels oorvleuel.
Hier is die belangrikste kenmerke dan 'n gedeelde identiteit: 'n Gemeenskaplike kultuur, taal of geskiedenis skep 'n gevoel van behoort. Territoriale verbintenis word weer gewoonlik geassosieer met ’n spesifieke land of gebied. Politieke bewustheid kan 'n politieke krag wees, dikwels georganiseer as 'n staat, maar nie altyd nie, soos in die geval van staatlose nasies.
Pas “Afrikaner” en “nasie” by mekaar?
Twee van die drie kenmerke van 'n nasie, soos deur Google omskryf, kan maklik op Afrikaners toegepas word: gedeelde identiteit en territoriale verbintenis. Die derde kenmerk – politieke bewustheid – is moeiliker. Ons is lankal nie meer 'n dominante politieke krag nie en is beslis nie as 'n aparte staat georganiseer nie. Ons is egter nie “staatloos” nie, want ons maak deel uit van die groter Suid-Afrikaanse staat.
Baie Afrikaners voel ná meer as dertig jaar se negatiewe ervarings toenemend vervreemd van die Suid-Afrikaanse staat. Die gelykberegtiging wat Madiba destyds belowe het, het nooit werklik gerealiseer nie. 'n Relatief nuwe beweging soos Lex Libertas het juis ontstaan omdat hulle glo ons het te lank onrealistiese visies van 'n eenheidstaat geduld. Hulle pleit vir die erkenning van politieke diversiteit en die inisiatief van selfregering sodat verskillende gemeenskappe in samewerking en met respek vir mekaar kan floreer.
'n Afrikaner-staat sou, na my mening, een van die geldige opsies van selfregering kon wees. Wie sou deel daarvan kon wees?
Gegewe die kenmerke van Afrikanerskap soos hierbo deur my gepostuleer, asook die omskrywing van 'n nasie soos deur Google verskaf, kan ek min redes sien waarom Afrikaners nie as 'n volwaardige nasie sou kwalifiseer nie – en waarom hulle nie selfregering as subnasie binne 'n groter Suid-Afrikaanse konfederasie sou kon hê nie. Dit kan iets soos die Verenigde Koninkryk wees: 'n multinasionale staat met Engelse, Skotse, Walliese en Noord-Ierse nasies.
Ek glo, soos Lex Libertas, in 'n lewensvatbare politieke orde vir al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika – een waarin ook die Afrikaner-bevolkingsgroep as 'n selfregerende subnasie kan funksioneer. Ander bevolkingsgroepe aspireer nie noodwendig na selfbeskikking nie, hoewel sterk elemente daarvan in die Zoeloe-bevolkingsgroep waargeneem word. Alle Afrikaners is ook nie voorstanders van selfbeskikking nie. Dit is hul goeie reg, maar nie voldoende rede om diegene wat wel daarin glo, se pad te staan nie.
Gekonsolideerde grondgebiede vir selfbeskikkingsgroepe is in die pre-1994-era as prakties onhaalbaar bewys. In die huidige era kan Orania dalk as uitsondering, of selfs as “model”, gesien word, maar omdat dit baie beperk in omvang is, is dit moeilik om dit na 'n makroskaal te ekstrapoleer. Met moderne tegnologie hoef 'n gekonsolideerde, fisiese grondgebied egter nie 'n struikelblok te wees nie. Ons almal “bestaan” saam in die kuberruimte, en daardie ruimte is opdeelbaar op byna oneindig verskillende maniere. Met kunsmatige-intelligensie-agente is dit heel moontlik om effektiewe koördinasie te bewerkstellig tussen 'n byna oneindige aantal subeenhede en een sentrale eenheid, indien so 'n sentrale eenheid as noodsaaklik beskou word.
Dit is argaïese en uitgediende ideologiese en politieke denke – denke wat nie die Inligtingsera kan of wil betree nie – wat groter selfregering verhinder, ten einde verskillende gemeenskappe in samewerking met en respek vir mekaar te laat floreer. Die aantal moontlike selfbeskikkingsmodelle is opsigself veelvuldig en nie noodwendig beperk tot modelle wat Inligtingsera-vriendelik is nie. Dit is dus met groot belangstelling dat ek Lex Libertas se vordering volg, en ek beveel ook aan dat ander voorstanders van selfbeskikking dieselfde doen.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











