LESERSBRIEF | "My Ervaringe na Julie 1976"
Leser Theo Pieterse oor sy ervaringe as onderwyser in die Baai in die onstuimige jare na die Soweto Opstande.
In 1979 begin ek skool hou in 'n swart skool, in New Brighton, Port Elizabeth. Op universiteit was my twee hoof vakke Geskiedenis en Staatsleer. Min het ek geweet hoe daardie graad in politiek my gaan help.
Die leerders was vol politiek, hoofsaaklik waarmee hulle gebreinspoel was, en ek kon hulle vinnig reg help. Ek was verbaas oor die aantal wit onderwysers in die skool, selfs 'n man met 'n doktorsgraad in handelsvakke en een met'n Meestersgraad in Natuur- en Skeikunde. Dan het ons 'n Wiskunde-onderwyser gehad wat in aanvraag was by al die Baai se skole. Dié ou was briljant en die departement het hom net ingeroep en bevorder om hom te behou.
So ruk in 1980 in, hoor ons die skole begin betoog, maar ons skool gaan aan soos normaal. Tot een dag, toe hoor ons daar is n onwettige vergadering op ons skoolgronde. 'n Afvaardiging kom spreek ons, hulle sê ons leerders moet saam betoog of hulle huise gaan afgebrand word, of hulle gaan doodgemaak word, en so begin die oproer ook.
Met die koms van die Driekamerparlement in 1984 vlam die opstande weer op.
'n Groep kinders vergader vroeg in 1985, en spreek mekaar as “comrade“ aan. Die UDF word gevorm en hulle neem beheer oor die hele gebied. Alternatiewe liggame onder hulle beheer word ook gevorm. The National Educational Union of South Africa (Neusa, 'n voorloper van Sadtu) word gevorm, en alle swart onderwysers wat van die “African Teachers Association of South Africa” lede was (Atasa) moet daaraan behoort.
Ek hoor hoe hulle by ander onderwysvakunies se vergaderings in stap en hulle met die dood dreig. Die dominees word ook onder een liggaam, die “Interdenominational Association of Ministers” (IDAMASA) ingedwing; nou sal hulle in kerke vergadering hou en die dominees sal preek wat hulle wil hê. Straatkommmitees word vir elke straat gevorm, elk met 'n leier wat vergaderings hou en instruksies gee. So weet aktiviste wanneer om te betoog, te marsjeer of nie om in die stad te gaan inkopies doen nie.
As jy hulle teëgaan kan jy aangerand word of jou huis afgebrand word. Niemand word toegelaat om aan plaaslike munisipale verkiesings deel te neem nie, mense word aangerand, hulle huise afgebrand of hulle word selfs doodgemaak. Die mense lewe in absolute vrees.
Nou kry die skole Student representative councils (SRC’s) wat saam met die Congress of South African Students (Cosas) werk. Die National Educational Crisis Committee (NECC) neem beheer van onderwys oor. Hulle bring ook “peoples education” in, alles inhoudelik antiregering. Almal word genooi “to come and have a sip of people’s education”. By rugby- en sokkerwedstryde word vergaderings gehou en beplan. Die sogenaamde “struggle heroes” deel instruksies uit oor wat gedoen moet word en wie se huis afgebrand moet word. Port Elizabeth Business Congress (Pebco) beheer alle sakeondernemings, Port Elizabeth Womens Organization (Pewo) beheer alle vroue inisiatiewe. Die PEYCO beheer weer die jeug.
So het aktiviste alle swart areas begin beheer. Die polisie en Weermag was oral, maar het nie veel gedoen nie. Daar was een dag moeilikheid op die skoolgronde, toe kom die Weermag in. Die volgende dag was die NECC, die SRC en Cosas in die hoof se kantoor. Die gevolg was dat die Weermag en polisie nie meer die skoolgronde mag betree nie, en so gee die regering in. Die leiers word later toegesluit, maar hulle roep net betogings uit totdat hulle vrygelaat word. Hulle word verbied om enige vergaderings by te woon of toe te spreek. Ek sien toe twee van hulle by ons skool die kinders toespreek. Ek gaan na die hoof, Meneer Schoeman, en sê vir hom om die polisie te bel, sy antwoord , “Ag, meneer, my arm is te moeg om hulle te bel!” Vandag besef ek daar is nie opgetree nie omdat die eerste sarsies onderhandelinge, tussen die NP en ANC aan die gang was.
Sou die Weermag en polisie hardhandig opgetree het, die aktivistiese leiers toegesluit en wet en orde toegepas het, was die opstande gou verby. Baie kinders het by my kom huil en gevra om op te tree. En ek het. Daar was 'n onwettige vergadering op die rugbyveld, al 1200 leerlinge was daar. Die kinders kom na my: “Umlungu (“witman”), they’re forcing us to go to the meeting”. Ek het my rottang gevat, op die rugbyveld gestap en reguit op die leiers af en onder hulle ingeklim, met die gevolg dat almal uitmekaar gespat het, terug klaskamers toe.
Die volgende oggend roep die hoof my in: “Meneer, jy moet hulle van nou af uitlos!”
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








