As 'n eenmansaak eienaar en grafiese ontwerper ervaar ek op 'n jaarlikse basis uitdagings rakende nabootsing van jou persoonlike handelsmerk.
Soms is daar mense wat eerlik genoeg is en eers toestemming vra om jou styl na te boots vir hul persoonlike gebruik en in ander gevalle sien jy dit toevallig op die aanlynplatforms van besighede raak wat nie slim gedink het nie. Vir die mense wat eers vra, is die kanse goed dat ek 'n gratis ontwerp vir hulle sal aanbied – nie omdat ek dit kan bekostig nie, maar eerder omdat ek nie my handelsmerk op die prys wil stel nie.
Dikwels gebeur dit dan ook dat ek 'n kliënt losslaan en hulle met ander projekte, teen betaling, sal uithelp. In gevalle waar my werk sonder toestemming nageboots is, ongeag die kopiereg-simbool, het dit my uiteindelik oortuig om my handelsmerk, slagspreuk en naam te registreer en gebruik ek nou ©, ® en ™ waar ek moet.
In 'n wêreld vol klein besighede is ons veronderstel om handelsmerke meer as 'n estetiese keuse te sien, want dit is in werklikheid identiteit.
Verstaan eers die begrippe
In die handelsreg en bemarkingswêreld is daar verskeie sleutelbegrippe, soos get-up, passing-off en goodwill, wat deel vorm van hoe 'n handelsmerk beskerm, herken en waardeer moet word.
1. Get-up: Die get-up van 'n produk is die algehele voorkoms en aanbieding van sy verpakking, dit sluit kleure, tipografie, beelde en uitleg in, wat saam 'n herkenbare visuele identiteit skep. Met ander woorde, 'n handelsmerk.
2. Passing-off: 'n Passing-off is 'n regsaksie wat 'n handelsmerk of produk teen mededingers beskerm wat 'n soortgelyke voorkoms of get-up gebruik EN wat verbruikers kan mislei of die oorspronklike merk se klandisie kan benadeel.
3. Goodwill/klandisie: Klandisie, in hierdie konteks, is die reputasie en verbruikerslojaliteit wat 'n handelsmerk opgebou het en wat dit nie net herkenbaar maak nie, maar ook die waarde daarvan binne die mark uitsonder.
Die bekende saak tussen Shoprite Checkers en Pick n Pay se sogenaamde “get-up”-stryd weens hul onderskeie premiumreekse, Forest & Feast en Crafted Collection, is 'n baie goeie voorbeeld waarom ek dink dit noodsaaklik vir enige besigheidseienaar, maatskappy of organisasie is om die beursie oop te maak en hul handelsmerke te registreer.
Checkers teen PnP
Checkers het aangevoer dat Pick n Pay se Crafted Collection-reeks, wat in 2021 bekendgestel is, te veel met hul eie Forest and Feast-reeks ooreenstem. Beide handelsmerke het 'n donkerblou en goue kleurpalet, minimalistiese tipografie en daardie luukse “foodie”-gevoel wat deurgeskemer. Volgens Checkers was hierdie ooreenkomste so opvallend dat dit verbruikers kon verwar en hul gevestigde handelsmerk kan benadeel.
In 2022 het Shoprite Checkers 'n interdikaansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien. Die hof het by monde van waarnemende hoofregter Goliath (soos sy toe was) in November 2023 beslis dat Pick n Pay se verpakking verwarring onder verbruikers kan veroorsaak. Daar is bevind dat die Crafted Collection-handelsmerk oorgenoeg ooreenkomste met Forest and Feast het wat as 'n passing-off kan kwalifiseer, en het dus 'n interdik uitgereik en Pick n Pay beveel om gedrukte verpakking en promosiemateriaal te verwyder en vernietig. Hoewel Pick n Pay aanvanklik wou appèleer, het die maatskappy later in 2025 dié appèl teruggetrek, wat die saak eindelik in Checkers se guns getel het. Volgens BusinessLive is die saak sonder verdere regsaksie beëindig, nadat Pick n Pay sy appèl kort voordat die Hoogste Hof van Appèl die saak sou aanhoor, teruggetrek het.
Die hooggeregshof het die saak beoordeel binne die raamwerk van die gemenereg se beskerming teen passing-off: 'n Regsbeginsel wat ondernemings toelaat om hul handelsidentiteit te beskerm selfs sonder 'n geregistreerde handelsmerk. Volgens die uitspraak het Checkers genoegsame bewyse van gevestigde klandisie in die Forest and Feast-reeks gelewer.
Interessant genoeg het die hof nie net gekyk na die kleurpalet of tipografie nie, maar na die algehele indruk van die verpakking. Die “look and feel”, volgens die hof, was só ooreenstemmend dat 'n verbruiker die twee reekse maklik met mekaar kon verwar. Die uitspraak het ook lig gewerp daarop dat Pick n Pay se eie ontwerp-instruksies verwysings na Checkers se produkreeks bevat het, wat daarop aandui dat die ooreenkomste nie bloot net toevallig was nie.
Die sukses van Checkers se saak het op drie pilare gerus: Eerstens het die hof bevind dat daar duidelike visuele ooreenkoms tussen die twee reekse bestaan, van die kleure tot uitleg en styl. Tweedens het dokumentêre bewyse uit Pick n Pay se eie interne kommunikasie getoon dat Forest and Feast hul inspirasie gebruik was. Volgens die prokureursfirma Von Seidels is die ontwerpsproses een van die sleutelargumente wat in Checkers se guns getel het. Laastens het Checkers vinnig en strategies opgetree, deur hul na hul klandisie te verwys, wat die reputasie en verbruikerslojaliteit van hul handelsmerk uiteensit, asook markgetuienis oor verbruikersindrukke voor te lê.
Hierdie samevoeging van duidelike visuele ooreenkomste, ondersteunende bewyse en proaktiewe regsoptrede het die weegskaal beslissend in hul guns gedruk.
Praktiese lesse vir handelsmerke
Die Checkers-saak is een van baie hofsake wat bewys dat selfs sonder 'n geregistreerde handelsmerk, 'n onderneming steeds beskerming kan kry as dit kan wys dat sy handelsmerk of verpakking 'n onderskeibare klandisie opgebou het. Dit beteken dat klein- en mediumgrootte besighede hul handelsmerk ernstig moet opneem, omdat dit kommersiële waarde dra.
Na my mening bly dit 'n risiko om net op die gemeenregtelike beskerming staat te maak, omdat dit tydrowend, duur en onvoorspelbaar kan wees. Die proses vereis bewyse van reputasie, verwarring en benadeling. Met 'n geregistreerde handelsmerk word hierdie proses eenvoudiger. Dit openbaar jou eienaarskap, bied duideliker afdwingbare regte, en maak dit makliker om teen plagiaat op te tree.
'n Registrasie is ook 'n afskrikmiddel en wys vir jou mark dat jou handelsmerk beskerm is. Daarby verhoog dit die kommersiële waarde van jou handelsmerk, wat later verkope, lisensiëring of samewerking makliker maak. Die Checkers-uitspraak kan as 'n korporatiewe oorwinning beskou word en kan ook as 'n belangrike riglyn vir handelsmerkstrategie in Suid-Afrika dien. Dit wys dat ontwerp en identiteit nie blote estetiese besluite is nie, maar ook regsbesluite is.
Vir groot én klein ondernemings beteken die bevinding dat handelsmerke 'n bate is wat beskerming verdien. As jy jou handelsmerk goed uitbou en betyds beskerm, sal jou werk nie net in die rakke uitstaan nie, maar sal dit ook in die hof staande bly.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD). Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronne en skakels:
Shoprite Checkers (Pty) Ltd v Pick n Pay Retailers (Western Cape High Court, 17 Nov 2023), SAFLII: https://www.saflii.org/za/cases/ZAWCHC/2023/285.html
“Win for Checkers as court orders PnP to destroy ‘remarkably similar’ premium range packaging”, News24 (20 Nov 2023) https://www.news24.com/business/companies/win-for-checkers-as-court-orders-pnp-to-destroy-remarkably-similar-premium-range-packaging-20231120
“Pick n Pay finally concedes in private label tiff”, Supermarket.co.za (20 Jun 2025) https://supermarket.co.za/index.php?catid=175&id=7216%3Apick-n-pay-finally-concedes-in-private-label-tiff&view=article
“Pick n Pay sings the private-label blues”, BusinessLive (12 Jun 2025) https://www.businesslive.co.za/fm/fm-fox/2025-06-12-pick-n-pay-sings-the-private-label-blues/
“Shoprite Checkers v Pick n Pay: a whole herd of horses from the same stable”, Von Seidels https://www.vonseidels.com/news/shoprite-checkers-vs-pick-n-pay-a-whole-herd-of-horses-from-the-same-stable/
“Shoprite Checkers vs Pick n Pay: a whole herd of horses …” (World Trademark Review) https://www.worldtrademarkreview.com/article/shoprite-checkers-v-pick-n-pay-whole-herd-of-horses-the-same-stable










