Media met grense: Handeldrywing met die Afrikanerstem
Hoe Afrikanerstemme verpak, verkoop en soms stilgemaak word.
In 'n era waar identiteit al hoe meer verhandelbaar raak, is dit tyd om vrae te vra oor wie regtig praat wanneer die Afrikaner praat, en veral wie daarby baat vind.
Afrikaanse media is lank reeds nie net 'n venster op kultuur nie, maar ook 'n vervaardiger daarvan. Die sogenaamde neutrale Afrikaanse media-ekosisteem verteenwoordig eintlik 'n baie spesifieke weergawe van wit Afrikaansheid wat aan ons verkoop word met wins as aandrywer.
Die Afrikaner leef in 'n media-ekosisteem wat homself graag as objektief voorhou, maar eintlik die Afrikaanse identiteit vaspen binne 'n eng raamwerk van wit patriargale middelklas-konvensies. Hoofstroom Afrikaanse media, soos onder die Media24-vaandel, het oor dekades heen die wagters geword van wat as aanvaarbare wit Afrikaanse identiteit beskou word. Hierdie platforms hou die taal en 'n bepaalde volk in stand, maar teen die prys van die veelkantigheid wat Afrikaans eintlik dra.
Publikasies soos Rooi Rose en Landbouweekblad versterk steeds gevestigde stereotipes: Die stylvolle gebalanseerde vrou en die selfversekerde boer met sy bakkie. Intussen poog vrysprekende platforms om 'n ander Afrikaanse werklikheid te belig. Vrye Weekblad was een van die min ruimtes met die durf om wit Afrikanerskap nie as 'n gegewe nie, maar as 'n projek in wording te sien. Dit het openlik gesels oor ras, klas, geslag, en taal dinge wat hoofstroommedia of nie kon of nie wou aanraak nie.
Maar in 2025 het Vrye Weekblad finaal gesluit. 'n Simboliese verlies nie net vir progressiewe joernalistiek nie, maar vir die meervoudigheid van Afrikaanse identiteit self. Hoofstroommedia floreer egter voort deur hulself al hoe meer digitaal, algoritmies, bemarkbaar, en verwesters voor te stel. Afrikaanswees word nou verkoop soos 'n intekening: netjies, bekend, en versorg sonder enige van die ongemak van ware diskoers.
Selfs die sogenaamde alternatiewe stemme het begin deel word van die handelsmerk. Wat eens as taboe beskou is verskyn nou in bylaes, 'n alternatiwiteit wat net genoeg voorgestel word om vars te voel, maar veilig genoeg bly vir adverteerders. Afrikaneridentiteit het beslis verskuif sedert 1994, maar bly gekoppel aan 'n mediastruktuur waar die kleinste verskuiwing van identiteit steeds kapitaal moet skep. Dit is 'n ongemaklike waarheid dat Afrikaansheid lankal nie meer net 'n kultuur is nie, maar 'n ekonomie opsigself.
Verhandelbare Afrikaansheid
Tydskrifte, boeke, feeste, en selfs die taal is alles produkte van nostalgie wat verpak en verkoop word. Selfs vernuwing word in bemarkbare vorm gegiet: jy mag anders wees, solank dit steeds kan verkoop.
Dit is hoekom hoofstroommedia hul skyn van neutraliteit kan volhou; hulle hoef nie te oortuig nie, net te vereenvoudig en te herhaal. En die vraag bly: Wie kry regtig die spreekbeurt wanneer daar oor Afrikaners gepraat word? Die wit Afrikaanse media verkoop steeds hul eie beeld as die enigste ware beeld van Afrikaans.
Die gevolg? Die taal bly gekaap, nie net deur ideologie en politiek nie, maar deur kapitaal ook. Soos die groot bedrae geld wat in 2021 aan beide die DA en ANC geskenk is. Is kultuur en lojaliteit te koop?
Die pad vorentoe lê nie in die beskerming van Afrikaanse identiteit soos ons dit ken nie, maar in die bevryding van dit wat Afrikaans as identiteit kan wees. Om die identiteit werklik te laat voortleef, moet die media wat dit dra die moed hê om ongemaklik, ongewild, en onverskoonbaar eerlik te wees.
Daar lê krag in 'n Afrikaanse stem wat weier om in te pas. Want dalk, net dalk, begin die taal en kultuur werklik eers lewe wanneer dit ophou om verkoopbaar te wees.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










