Afrikaanse Vroue se Unieke Strategie
Afrikaanse feminisme werk anders as algoritmiese internet-stryde vir die vrou.
Om oor “Afrikaanse feminisme” te praat, is om oor vroue te praat wat tegelyk dogter van die kerk, ma van die volk, hoof van die huis, en hoof van die departement is.
Sy is nie net 'n teorie nie, sy is 'n praktyk wat dekades lank in kombuise, slaapkamers, klaskamers, en kantore uitgewerk is. Anders as in sommige Westerse kontekste waar hedendaagse feminisme openlik teen “mans” geposisioneer word, het Afrikaanse feminisme eerder stilweg tussen patriargale strukture deur beweeg, eerder as om die hele spreekwoordelike gebou te probeer afbrand.
Die Wit Afrikaanse vrou is geskiedkundig as kultuurdraer en moederverskynsel gesement: die een wat die taal, die geloof, en die “kinders van die volk” moet aanhou produseer en beskerm. Wit Afrikaanse Feministiese bewustheid groei dus in 'n ruimte waar sy reeds simbolies verhoog is, maar struktureel steeds vasgeheg bly aan die nek van die volk wat die wil van “die manne” ophou. Hierdie spanning gee Wit Afrikaanse Feminisme 'n ander tekstuur as die digitale Westerse feminisme wat algoritmes op ons skerms inrol. In Afrikaanse vrouetydskrifte word Wit Afrikaanse vroue eerder as alles-in-een pakket verpak: ma, minnaar, bestuurder, entrepreneur, gelowige, mooi mens. Maar, op TikTok kan mans as “trash” verklaar word en “toxic masculinity” as oorhoofse verduideliking dien. Tussen hierdie twee wêrelde, die globale Weste se algoritmiese feminisme en die plaaslike, volksgerigte vrouebeeld probeer Wit Afrikaanse feminisme sin maak van wat dit beteken om gelyk én gebonde, vry én verantwoordelik, individu én kultuurdraer te wees.
Die Wit Afrikaanse vrou as ma van 'n volk én marksegment
Op mediavlak is die teenwoordigheid van vroue in Afrikaanse manstydskrifte sedert die 2000’s merkbaar sterker as dié van mans in Afrikaanse vrouetydskrifte.
Mans kry wel toegang tot hierdie on invite only ruimte deur byvoorbeeld Leonardo DiCaprio en Willie Esterhuizen in dieselfde bylyne te noem, maar die Wit Afrikaanse vrou funksioneer ten alle tye as die sentrale punt in haar eie media. In Azille Coetzee se navorsing in Desire at the End of the White Line wys sy uit dat die Wit Afrikaanse vrou as 'n pilaar van die Afrikaanse kultuur gekonseptualiseer word. Wat my opval in die vergelyking van die teenwoordigheid van die twee geslagte in hoofstroom Afrikaanse media, is dat die wit Afrikaanse vrou in 'n toestand van voortdurende opheffing moet leef, vir haarself én vir dié wat soos sy is. Die ideaal van vroulike opheffing is dus teenwoordig, maar nie noodwendig soos in die “anti-mansmens” Westerse interpretasie van opheffing nie.
Die Wit Afrikaanse vrou bly die sentrale figuur in haar eie media. Sy het nie die patriagale strukture van haar geskiedenis nie verbrand nie, sy het eerder oorweeg hoe sy daarby kan baat. Sommige meen dat 'n vrou “deesdae alles moet wees” en nie meer net een rol kan kies nie; die subteks is dat sy eintlik onredelike verwagtinge internaliseer. My begrip daarvan is eerder dat sy 'n meervoudige identiteit mág en kan hê, en dat dit presies is hoe die media haar aan haarself verkoop: as iemand wat alles kan en móét wees.
Sy kry wel aansienlik meer asemruimte in die media as wat Wit Afrikaanse mans doen, wat toegeksryf kan word aan die uitwerking van feminisme. Sosiologies beskou, lyk dit vir my eerder na 'n gemeenskap wat “vrou wees” as kultuurproduk skep en aanhou herskep, 'n soort “susterbond”. Hierdie bevestig vir my dat die Wit Afrikaanse vrou nie net die ma van die volk is nie; sy is ook 'n marksegment met koopmag. Die botsing tussen Westerse algoritmiese feminisme teenoor Wit Afrikaanse feminisme vorm 'n interessante skeuring. Aan die een kant sit sy met algoritmiese, Westerse feminisme op haar foon wat basuin dat “men are trash” en “alle mans is so of sus”, threads oor toksiese manlikheid wat mans as die alomteenwoordige vyand posisioneer.
Aan die ander kant sit sy met Afrikaanse drukmedia waar mans nie sistematies as vyand uitgebeeld word nie, maar eenvoudig minder belangrik is as sý.
Waarop ek neerkom is dat die digitale globale Weste vir haar sê: pasop vir toxic masculinity, moenie mans romantiseer nie, wees versigtig vir enige strukture wat jou wil vasdruk. En dan maak sy haar Afrikaanse tydskrif oop waar mans (wanneer hulle wél 'n onderwerp van bespreking is) meestal in diens van háár verhaal staan: die man wat vir haar is, die man wat verander, die man wat sy verdien, die seun wat sy grootmaak.
Konserwatief, liberaal… en almal in die middel
In my eie lewe is dit skaars om deesdae Wit Afrikaanse vroue te ontmoet wat nie die “all in one” pakket is nie.
Konserwatiewe individue sal steeds sê 'n vrou “hoort by haar man en kinders”, terwyl sy self 'n skoonheidskoningin, 'n uitvoerende hoof, voorsitter van 'n direksie, en 'n vrou met 'n meestersgraad is. Die liberale kant sal weer aanvoer dat 'n vrou aan niemand iets verskuldig is nie en daarom niks hóéf te wees nie. In die praktyk lê die meeste wit Afrikaanse vroue iewers tussenin, besig om albei stelle verwagtinge gelyktydig te dra.
Sy is tegelyk pliggedrewe en selfgerig, tradisioneel en ambisieus, moeg en trots. Waar Westerse debatte oor feminisme soms verval in vereenvoudige geslag-teen-geslag-retoriek, leef die wit Afrikaanse vrou (al lank) in 'n spasie van spanning oor hoe om die groepsidentiteit van Afrikaans se voortbestaan te verseker sonder om die man te ver agter te los.
“Is jy die moeder van 'n volk of die ma van 'n fokken stout kind?”, is seker een manier om die volksmoederrol te oorweeg. Die Afrikaner as “kind” is dikwels stout, skuldig, geskiedkundig deurmekaar, hardloop in alle rigtings van dekoloniale kritiek, regse nostalgie, globale kapitalisme, en vandag se digitale subkulture. Tog bly die Wit Afrikaanse vrou die ma van hierdie stout kind. Dit is juis hier waar ek glo wit Afrikaanse mans feminisme tot 'n groot mate “aanvaar” het, veral in vergelyking met Westerse debatte. Soveel van die Wit Afrikaner se selfbegrip rus op die figuur van die Wit Afrikaanse vrou wat haar simboliese verhoging nie as bedreiging lees nie, maar as bevestiging. As sy boontoe beweeg, gaan die volk saam.
Sy bly gebonde aan patriargale strukture, maar haar media bevestig voortdurend haar sentrale waarde. Niemand gaan die ma van die volk maklik publiek aanval nie, jy stamp eerder oor die stout kind.
Mans, feminisme en wat ons nié doen nie
Die digitale Westerse anti-woke reaksie (ekstremisties, en volg 'n ou resep om verouderde vrouehaat terug in die hoofstroom te plaas) voel ver van Afrikaanse vrouetydskrifte. Maar daai konserwatiewe scroll rol myle onderdeur jong wit Afrikaanse mans se FYP’s (For You Pages). Ons sit dus met 'n dubbelverskuiwing:
Vroue se selfbeeld word gevorm deur 'n kombinasie van plaaslike vrouemedia en globale feminisme. Mans se selfbeeld word huidiglik toenemend gevorm deur globale anti-feministiese, anti-woke reaksies wat swak begrip het vir Afrikaanse geskiedenis of die ma van die volk. Terwyl Westerse tekste debatteer oor of feminisme mans ge(oor)donner het, en oor of toxic masculinity alles verduidelik van geslagsgeweld tot “laddish behaviour”, gebeur iets anders hier aan die suidpunt van Afrika.
Ja, daar is Wit Afrikaanse vroue wat TikTok-klankgrepe gebruik om op menigte maniere te verklaar dat “men are trash”. Maar op grondvlak lyk sake anders: Die Wit Afrikaanse vrou is steeds bereid om mans se menswees te erken, maar verwag dat hulle (mans) met haar meervoudige identiteit kan byhou. Die Wit Afrikaanse man het feminisme tot 'n mate geïnternaliseer in die sin dat hy weet hy kan nie meer openlik seksisties wees nie, maar hy tog nog gemaklik kan leef binne strukture wat in sy guns werk. Hoofstroom Afrikaanse media het nie mans tot vyande verklaar nie, dit het bloot besluit die vrou is 'n beter storie én 'n sterker mark. Die gevaar lê daarin dat (Wit Afrikaanse) mans steeds een enkele identiteit het om aan te neem, en so word daar nooit ernstig gevra wat met mans gebeur in hierdie vrousterk narratief nie.
Is ons agter of op 'n ander pad?
Die waarheid is ook dat die keuse van hoofstroommedia in Suid-Afrika beperk is. Die digitale wêreld van algoritmes het ons kulturele veld breër oopgemaak, nes televisie in die 1980’s gedoen het, maar dit beteken nie ons trap net agterna in Westerse spore nie. Inteendeel, vanaf die suidpunt van Afrika lyk dit soms asof ons al jare lank met hierdie spanning tussen feminisme, patriargie, en gender leef. Ons is nie vooruitstrewend in die sin van voltooide gelykheid nie, maar ons is ook nie eenvoudig agter nie.
Die Wit Afrikaanse vrou het lank voor TikTok al geleer hoe om patriargale strukture te gebruik sonder om hulle heeltemal te breek. Sy het lank voor Instagram geleer hoe om 'n volk te dra en terselfdertyd 'n loopbaan te bou. Die vraag is nie meer of die Wit Afrikaanse vrou 'n feminis is nie, want sy is, ongeag of sy konserwatief of liberaal lewe.
Eerder sal ek oë wil rig op hoekom die identiteit van die Wit Afrikaanse vrou so verbreed het sedert demokrasie bereik is, maar die Wit Afrikaanse man se identiteit het nie. Wie baat die meeste uit die verkope van hierdie polêre identiteite, en hoekom word een meer aandag geskenk as die ander?
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Wat 'n klomp stront. Die visie daar bo in die ivoortoring en met oogflappe aan is duidelik miöpies.