Menseregte as beroep: heilig of om geheilig te word?
OntLaer-leser Tanya Calitz meen dat werklike uitkomste eerder as 'n herskrewe geskiedenis die doel is.
Die hart van die Grondwet is om demokrasie te bevorder, geregtigheid te laat geskied, en menseregte te beskerm. Dit belowe in die teks dat elke mens se intrinsieke waarde beveilig sal word en waarborg dat niemand uitgelaat of agtergelaat sal word of voel nie.
Grondwetlike instellings soos die Menseregtekommissie (“MRK”) is spesifiek geskep en bekragtig deur wetgewing om hand-aan-hand met en onder leiding van die Grondwet te stap, ten einde menseregte oortredings en ongeregtighede aan te spreek en te beveg.
Daar is 'n paar hofuitsprake waar die MRK, as litigerende party of as 'n vriend van die hof, sukses behaal het in die menseregte arena. Sake soos Qwelane v South African Human Rights Commission and Another [2021] ZACC 22; South African Human Rights Commission obo South African Jewish Board of Deputies v Masuku and Another [2022] ZACC 5; en City of Cape Town v South African Human Rights Commission and Others [2024] ZASCA 110 is noemenswaardige gesag wat duidelik uitbeeld dat die MRK baie meer byt as brul het. Maar dit is egter net wanneer dit gerieflik is op grond van persoonlike of politieke voorkeure.
Die onlangse uitspraak van die Appèlhof in South African Human Rights Commission v Agro Data CC & Another [2024] ZASCA 121 het groot omstredenheid voortgebring toe die hof die MRK se wetlike magte bevraagteken en bevind het dat die MRK nie direktiewe kan uitvaardig wat bindend is nie. Dus, die MRK het nie die soort regsprekende bevoegdhede soos die MRK self aanvoer dit het nie. Alhoewel die MRK geappèlleer het na die Grondwethof, is daar nog nie 'n hofdatum om die appèl aan te hoor nie.
In lig van die bogenoemde konteks, kan 'n mens die vraag opper of instellings soos die MRK en dienooreenkomstige menseregteverdedigers werklik sonder vooroordele en versteekte agendas optree, met die gepaardgaande regverdigheid en billikheid, wanneer sake ondersoek word, of wanneer besluit moet word oor wie gehelp kan word en wie nie. Is die motief in sulke gevalle werklik om 'n positiewe impak te maak, of om bloot die geskiedenis meer gunstig te herskryf?
Burokratiese sprokieswêreld
In die geval waar 'n instelling aan voorgeskrewe wetlike en operasionele vereistes moet voldoen, en 'n jaarlikse prestasieplan het wat sekere teikens moet bereik, word menseregtewerk dan nie bloot net 'n burokratiese oefening pleks van die volhoubare bevordering en beskerming van menseregte vir alle mense nie?
Is dit werklik 'n wen vir die man op straat indien die MRK 'n indrukwekkende verslag so lank soos 'n doktorale tesis publiseer, met aanbevelings vir (byvoorbeeld) 'n munisipaliteit, maar daar is geen aanspreeklikheid vir die nie-nakoming van regspligte nie? En sodra die wêreld se aandag elders gefokus is, gaar die verslag stof op soos vele ander. Die man op die straat stap sukkelend aan om verder op 'n genadelose pad te struikel.
Ek, in my naïwiteit, het eens geglo dat 'n beroep in menseregte 'n edele en onbaatsugtigte beroep is om te volg. Ek het dit geag as die enigste beroep waar mens daadwerklik verandering kan implementeer en eerstehands kan beleef, totdat 'n bekende menseregte aktivis onlangs met my gedeel het dat menseregte 'n mens vasvang in 'n idealistiese sprokieswêreld waar alles glans en glinster van goud, die gevaarlike en groot monsters verslaan moet word en almal gelukkig en tevrede saam sal leef. Dis juis die teenoorgestelde in die realiteit.
Skote dopamien of skerpskutter vir die weerloses?
'n Ander prokureur, wat vir dekades menseregtewerk gedoen het, het die geveg vir geregtigheid en menseregte beskryf as “sexy” werk. Dit laat my wonder: gaan menseregte werk en litigasie dan oor om in die kollig te wees, 'n applous of aansien te verwerf, of om 'n dopamien hupstoot te kry? Is menseregte werk nie juis om dapper op te staan vir die weerloses, hulpeloses en miskendes nie? Om dan sonder dat jou een hand weet wat jou ander hand doen, jouself ten volle toe te rus om te veg teen 'n uitmergelende en onregverdige stelsel, al bly jou naam onbekend? Indien dit so sou wees, hoeveel mense sou vandag só passievol en gedrewe wees oor geregtigheid en om 'n stem te wees vir diegene wat stilgemaak word?
Iewers moet ons stilstaan en ernstig introspeksie doen om ons hart se posisie, kondisie, en motiewe te toets. Menseregtewerk is 'n roeping, soos enige ander beroep, maar dis veral een wat jou heilig, waar jou hande in die diepste donkertes ingedruk word, waar jy skop en sweet en spartel om die wêreld ligter en meer leefbaar te maak vir ander mense.
As die ligte afgaan in die menseregte arena, die gordyne trek toe, en die gaste het die konsert verlaat– wat bly oor?
Is ons dan steeds bereid om geheilig te word en heilige werk in die donker te doen?
Tanya Calitz is ‘n regsgeleerde.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: