
Op 12 November het gebruikers van Microsoft 365 probleme begin ervaar. Hulle kon weens probleme met bedienaars in Microsoft se wolk nie e-pos ontvang of stuur nie. In die verlede het die getroue Outlook-program op die persoonlike rekenaar geloop en direk met die e-posdiensverskaffer gekommunikeer. Die nuwe Outlook is veel meer afhanklik van Microsoft se wolk. Vir meer as 'n dag was miljoene mense oor die wêreld nie in staat om met e-pos te kommunikeer nie. Behalwe e-pos is ook dienste soos Teams en Copilot tot 'n mindere mate geaffekteer. Individue, korporasies en staatsinstellings is geaffekteer.
Organisasies en individue het die laaste dekade oorgeskakel na wolkgebaseerde toepassings, waarvan Microsoft 365 een is. Die gebruik van toepassings in die wolk het baie voordele. Gebruikers betaal net vir dit wat hulle gebruik of slegs intekengelde vir die hoeveelheid gebruikers. Organisasies is nie verantwoordelik vir opgraderings van programme op duisende mense in die organisasie se skootrekenaars nie. Hulle is nie meer verantwoordelik vir honderde bedienaars in die organisasie se datasentrum nie, en al die hoofpyne wat daarmee saamgaan soos elektrisiteit, lugversorging, hardeware en sagteware nie. Die een na die ander groot organisasie maak hulle datasentrums leeg en lê IT-personeel af.
Die impak van onderbreking het organisasies en individue wat oor die laaste dekade afhanklik geraak het van wolkdienste laat besef dat die gerief van wolkdienste ook kwesbaarhede skep. Die Microsoft-onderbreking gaan moontlik 'n herbesinning van baie organisasies se IT-strategie veroorsaak. Veral organisasies wat nooddienste verskaf, moet sorg dat kritieke toepassings kan voortgaan om te funksioneer wanneer hulle wolkdiensverskaffers se stelsels onbeskikbaar raak.
Die SpaceX-mylpaal
Op 14 November het Elon Musk se maatskappy SpaceX 'n belangrike mylpaal bereik toe die Starship-ruimtetuig, wat die vorige dag gelanseer is, ná 14 wentelbane om die aarde na sy lanseerplatform teruggekeer het. Tydens die vlug is 26 Starlink-satelliete suksesvol ontplooi.
Hierdie is 'n belangrike mylpaal in Elon Musk se visie om die Starlink-kommunikasienetwerk en 'n konstellasie van datasentrums in die ruimte te bou. 'n Voorvereiste vir hierdie visie is groot en herbruikbare ruimteskepe. Dis presies waarvoor SpaceX vir Starship ontwikkel.
As Starlink suksesvol is, kan nasionale state 'n groot deel van hulle praktiese beheer oor kommunikasienetwerke, datasentrums en digitale dienste verloor. Alhoewel state steeds wetlike bevoegdhede sal hê, kan dit toenemend moeilik word om daardie bevoegdhede af te dwing wanneer die infrastruktuur buite hulle grondgebied geleë is.
Deel van die visie is ook X (voorheen Twitter`), wat nie net 'n sosialemediaplatform is nie, maar ook toenemend 'n betalingsplatvorm word. So sal ook die staat se beheer oor finansies ernstig afwater. As mense kan handeldryf in digitale geldeenhede wat geprosesseer word deur bedienaars in die ruimte, hoe kan die staat nog enige invloed oor finansies hê?
Is die toekoms in die ruimte?
Suid-Afrikaners verlustig hulle in die suksesse van SpaceX. Dit gee bevrediging om te sien hoe Elon Musk die een mylpaal na die ander bereik, terwyl die Suid-Afrikaanse staat die laaste oorblyfsels van sy weggekorrupteerde en bemagtigde staatsmag probeer aanwend om 'n persepsie van soewereiniteit te behou.
SpaceX het 'n enorme voorsprong in die kombinasie van herbruikbare lanseerstelsels, satellietkommunikasie en beplande ruimtegebaseerde dataverwerking. Dit beteken dat Elon Musk waarskynlik vir die afsienbare toekoms 'n praktiese monopolie gaan hê op ruimtekonstellasies.
Die Microsoft-onderbreking moet ook vir ons 'n waarskuwing wees. As ons met vreugde ons kommunikasie, media en finansies verskuif van staatsbeheerde infrastruktuur na Elon Musk se X-ruimtekonstellasie, plaas ons ook dalk al ons welvaart in een van die magtigste spelers in die wêreld se hande. As dinge kan skeefloop in Microsoft se datasentrums op aarde, kan dinge ook skeefloop in datasentrums in die ruimte. Die belangrikste reël in politiek bly ook nog steeds dat mag korrupteer en absolute mag absoluut korrupteer. Elon Musk bevry ons dalk van 'n nasionale staat op aarde, maar onderwerp ons dalk aan 'n mag wat uit die ruimte uitgeoefen word.
Die oplossing is daarom nie om die staat se sentrale beheer bloot met die sentrale beheer van 'n tegnologiereus te vervang nie. Ons moet die voordele van wêreldwye kommunikasienetwerke benut, maar terselfdertyd plaaslike infrastruktuur, onafhanklike alternatiewe en die vermoë om tussen diensverskaffers te beweeg, behou. Ware vryheid lê nie daarin dat ons van een maghebber na 'n ander kan vlug nie, maar dat geen enkele maghebber ons hele bestaan kan beheer nie.

Nog artikels deur Bouwe van der Eems:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








Dít was nou lekker-lees!