'n Facebook-video wat die voormalige ACDP politikus, Marie Sukers, op 3 September geplaas het, het opspraak gewek. Die video het meer as 260 opmerkings ontlok en is 119 keer gedeel.
In haar video moedig sy mense aan om vir die DA te stem, omdat sy meen dat dit die enigste party is wat oor die politieke infrastruktuur en bekwaamheid beskik om betroubare basiese dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit te lewer.
Hierdie boodskap is nie nuut nie. Die DA bou 'n groot deel van sy politieke aanbod op sy rekord van goeie regering en dienslewering, met Kaapstad as sy belangrikste vertoonvenster. Vir mense wat betroubare basiese dienste van die staat verlang, is dit 'n aantreklike boodskap.
Aan die ander kant roep 'n party soos die ACDP mense op om op grond van gedeelde waardes vir hulle te stem. In sy plasings vergelyk die ACDP sy standpunte oor sake soos aborsie, onderwysvryheid, die erkenning van God in die Grondwet, prostitusie en pornografie met dié van ander partye. Vir behoudende mense wat Christelike waardes onderskryf, is dit 'n aantreklike boodskap.
Identiteit speel ook 'n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse politiek. Die ANC en EFF se beleid plaas sterk klem op ras en swart/Afrika-identiteit, terwyl partye soos die VF Plus en IFP sterker klem lê op taal-, kulturele of etniese identiteit.
Die vraag of kiesers moet stem vir waardes, dienslewering of identiteit, is moeilik. Geen party fokus uitsluitlik op een van hierdie oorwegings nie. Hulle manifeste is dikwels 'n kombinasie daarvan. Dit maak dit moeilik vir kiesers om 'n keuse te maak. Om dienslewering bo identiteit te stel, kan byvoorbeeld beteken dat 'n kieser bereid moet wees om deur verteenwoordigers van 'n ander ras of kulturele groep regeer te word. Om vir 'n party te stem wat jou waardes deel, kan weer beteken dat jy 'n kleiner party ondersteun wat moontlik nie genoeg politieke invloed het om 'n wesenlike verskil te maak.
Verder is daar ook organisasies wat belangrike werk buite die partypolitiek verrig. AfriForum, OUTA en inwonersverenigings kry dikwels dinge reg sonder om self aan die verkiesing deel te neem. AfriForum herstel byvoorbeeld slaggate en bedryf buurtwagstrukture. OUTA het 'n prominente rol gespeel in die beëindiging van e-tol en om die geldigheidstydperk van bestuurslisensies te verleng. In dorpe soos Koster word water en sanitasie-aanlegte deur inwonersverenigings bedryf, terwyl inwoners in Knysna self slaggate herstel.
Die beste gevolgtrekking is dat geen politieke party alle probleme gaan oplos nie. Burgers kan eerder 'n kombinasie van strategieë volg. 'n Kieser kan byvoorbeeld vir 'n wykskandidaat van een party stem omdat hy betroubare dienslewering verwag, sy proporsionele stem aan 'n ander party gee wat sy waardes beter verteenwoordig, by AfriForum aansluit om kulturele of gemeenskapsbelange te bevorder, by 'n inwonersvereniging aansluit om plaaslike probleme aan te spreek, en OUTA ondersteun om staatsmisbruik te beveg. Aan die ander kant kan die verdeling van stemme tussen verskillende partye ook bydra tot onstabiele koalisies.
Dalk moet die publieke debat nie net vra vir wie ons moet stem nie, maar ook: Wat probeer ons bereik, en watter keuses sal ons spesifieke omstandighede die beste verbeter? Kiesers behoort strategies te dink oor wat vir hulle belangrik is — hetsy dienslewering, waardes, identiteit of 'n kombinasie daarvan — en watter politieke of burgerlike instrumente die beste daarvoor geskik is. Die beste keuse hoef daarom nie oral dieselfde te wees nie. Op een plek kan dit die beste wees om vir party A te stem, terwyl party B op 'n ander plek dalk die beter keuse is.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










