In 'n vorige artikel in hierdie reeks is die ontwikkeling van in loco parentis bespreek: Die beginsel dat die primêre opvoedingsverantwoordelikheid by ouers berus en dat ander opvoeders in 'n afgeleide hoedanigheid optree. Relatief onlangs het die moderne staat egter toenemend aanspraak gemaak op 'n eie, onafhanklike opvoedingsgesag, wat nie van ouers afgelei is nie.
Die groei van openbare skole en skoolplig
Vanaf die 19de eeu het die moderne staat al hoe sterker by onderwys betrokke geraak. Industrialisasie, verstedeliking en die opkoms van die moderne nasiestaat het 'n groeiende behoefte geskep aan 'n geletterde en opgeleide bevolking. Onderwys het terselfdertyd belangrik geword vir die vorming van burgers, nasionale identiteit en die ontwikkeling van die staat se administratiewe en, in sommige lande, militêre kapasiteit. Waar onderwys vroeër hoofsaaklik deur ouers, kerke, gemeenskappe en private onderwysers gereël is, het nasionale state daarom begin om openbare skole te stig, te befonds en uiteindelik skoolbywoning verpligtend te maak.
In hierdie proses het die begrip in loco parentis geleidelik van betekenis begin verander. Die onderwyser het nie meer uitsluitlik namens die ouer opgetree nie, maar ook as 'n professionele persoon binne 'n staatsbeheerde onderwysstelsel. Hierdie ontwikkeling kan beskryf word as 'n beweging in die rigting van in loco civitatis. Die staat het dus toenemend aanspraak gemaak op 'n eie opvoedingsverantwoordelikheid wat nie van ouers afgelei is nie.
Uiterste vorme van hierdie staatsgesentreerde benadering het in die twintigste-eeuse totalitêre state sigbaar geword. Die Sowjetunie het onderwys beskou as 'n instrument waardeur die staat die volgende geslag volgens kommunistiese beginsels moes vorm. Waar die waardes van ouers daarmee gebots het, het die staat se ideologiese doelwitte voorrang geniet. Lenin het dit in 'n toespraak in 1920 soos volg gestel: “Die hele doel van die opleiding, opvoeding en onderrig van die jeug van vandag behoort te wees om hulle met kommunistiese etiek te deurdrenk.”
Ook in Nazi-Duitsland is tuisonderwys verbied en die skoolstelsel gebruik om lojaliteit aan die Nazi-beweging en sy ideologie te kweek. In dié verband het Hitler in 1933 in 'n toespraak gesê:
“Julle kind behoort reeds aan ons. Wat beteken julle nog? Julle sal verbygaan, maar julle kinders is nou deel van die nuwe gemeenskap. Binne 'n kort tyd sal hulle niks anders ken as hierdie nuwe gemeenskap nie.”
Hierdie totalitêre uiterstes was deel van die breër ontwikkeling van openbare onderwys in ander staatsbestelle. Ook in demokratiese en ander state het openbare skole en skoolplig gedurende die negentiende en twintigste eeue uitgebrei. Suid-Afrika het deel van hierdie ontwikkeling gevorm.
Skoolplig is in Suid-Afrika geleidelik en ongelyk uitgebrei, en het vir 'n groot deel van die twintigste eeu verskil volgens ras en die onderskeie onderwysbedelings. Soos genoegsame openbare skole universele skoolplig toenemend haalbaar gemaak het, het wetgewing tuisonderwys geleidelik uitgefaseer. In 1993 is Andre en Bokkie Meintjies tot tronkstraf gevonnis nadat hulle hul kinders tuis onderrig het. Met die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 is ‘n eenvormige stelsel van skoolplig vir alle kinders ingestel. Met die BELA-wet van 2024 is skoolplig verder uitgebrei tot Graad R.
Die uitbreiding van staatsonderwys het ook 'n groot professionele onderwyssektor geskep. In lande soos Suid-Afrika en die VSA het onderwysvakbonde belangrike rolspelers in openbare onderwys geword. Hierdie organisasies is nie deel van die staat self nie, maar beskik oor georganiseerde invloed binne die staatsgefinansierde onderwysstelsel. Dit het 'n addisionele magsentrum geskep wat nie sy gesag direk van ouers of gemeenskappe ontleen nie, en wat soms met die staat, gemeenskappe of ouers oor onderwysbeleid bots.
Die gevolg is dat die moderne onderwysstelsel nie meer bloot 'n verhouding tussen ouers en onderwysers is nie. Dit bestaan uit verskeie magsentrums — onderwysdepartemente, vakbonde, skole, gemeenskappe en ouers — wat elk aanspraak maak op 'n rol in die opvoeding van die kind.
Reaksies op staatsbeheer oor onderwys
Die uitbreiding van staatsgesag oor onderwys het ook teenreaksies ontlok. Die ervaring van die twintigste-eeu het gewys dat, wanneer die staat oorheersende beheer oor onderwys verkry, totalitêre state dit kan gebruik om lojaliteit aan die staat en sy ideologie te bevorder. Sommige state het die onderwysstelsel gebruik om burgers vir oorlog, politieke mobilisering en vervolging van bepaalde groepe te legitimeer.
Sulke ervarings het bygedra tot die besef dat staatsgesag oor onderwys begrens moet word en dat ouers en gesinne 'n eie sfeer van opvoedingsvryheid behoort te behou. Dit verteenwoordig in 'n sekere sin 'n herwaardering van die ouerlike voorrang waarop die tradisionele begrip in loco parentis berus. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die internasionale menseregtestelsel teen hierdie breër historiese agtergrond groter erkenning aan individuele, gesins- en ouerlike vryhede gegee. Die Universele Verklaring van Menseregte van 1948 bepaal in artikel 26(3) dat “ouers die eerste reg het om die soort opvoeding te kies wat aan hulle kinders gegee word”. Hierdie bepaling toon sterk ooreenkomste met die Rooms-Katolieke siening dat ouers die primêre opvoeders van hulle kinders is.
Ook in Suid-Afrika het die uitoefening van staatsgesag oor onderwys tot konflik en teenreaksies gelei. Die afdwing van Afrikaans as een van die onderrigmediums in swart skole, ondanks sterk teenkanting uit gemeenskappe, was 'n belangrike aanleiding tot die Soweto-opstand van 1976. In die demokratiese bedeling het die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 vervolgens 'n beduidende rol aan plaaslike skoolgemeenskappe deur verkose beheerliggame toegeken.
Ook tuisonderwys het deel van hierdie heronderhandeling van onderwysgesag gevorm. Hoewel die Meintjies-ouers in 1994 onder die algemene amnestie vrygelaat is, het die nuwe Grondwet nie tuisonderwys of 'n uitdruklike reg op onderwys buite onderwysinstellings erken nie. Hierdie onsekerheid het tuisskolers in Suid-Afrika genoop om te mobiliseer. In samewerking met tuisskolers in die VSA is 'n veldtog gevoer om wetlike erkenning vir tuisonderwys te verkry. Artikel 51 van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 het uiteindelik beperkte voorsiening vir tuisonderwys gemaak.
Hierdie ontwikkelings het egter nie die staat se rol in onderwys beëindig nie. Dit het eerder 'n nuwe balans probeer skep waarin die staat steeds 'n belangrike rol speel, maar waarin ouers, gesinne en plaaslike gemeenskappe weer 'n mate van erkende opvoedingsgesag en keuse verkry.
Die huidige situasie
Die huidige Suid-Afrikaanse regsraamwerk weerspieël elemente van verskillende, en soms botsende, opvattings oor wie verantwoordelikheid en gesag oor onderwys behoort te dra. Die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet kan daarom as 'n kompromie tussen drie breë modelle verstaan word:
Staat: Hiervolgens dra die staat die primêre verantwoordelikheid om te verseker dat elke kind toegang tot basiese onderwys het en 'n gelyke geleentheid tot ontwikkeling ontvang. Onderwys wat deur ander rolspelers verskaf word, is volgens hierdie benadering steeds aan staatsregulering en minimum standaarde onderworpe. Hierdie model word onder meer verwoord in die Abidjan-beginsels. Suid-Afrikaanse regsakademici het 'n beduidende rol in die ontwikkeling van hierdie beginsels gespeel. Dit kan beskryf word as die in loco civitatis-model aangesien onderwysers tot 'n groot mate in die plek van die staat optree.
Gemeenskap: Hiervolgens is gemeenskappe primêr verantwoordelik vir onderwys. Dit kom prakties tot uitdrukking in openbare skole met sterk en funksionerende beheerliggame, asook in sommige onafhanklike skole wat uit bepaalde godsdienstige, kulturele of plaaslike gemeenskappe ontstaan het. Jaco Deacon van FEDSAS beskryf hierdie benadering soos volg:
“Een van die grootste sterkpunte van die Suid-Afrikaanse Skolewet is 'n grondwetlike vennootskap tussen gemeenskappe, die staat en openbare skole. Die regering het 'n grondwetlike plig om basiese onderwys te voorsien, skoolhoofde verskaf professionele leierskap en skoolbeheerliggame verskaf demokratiese beheer en bestuur.”
Hierdie model word deur sommige godsdienstige en kulturele gemeenskappe gebruik om hulle identiteit en voortbestaan deur middel van onderwys te bevorder en kan beskryf word as kollektiewe in loco parentis-model.
Ouers: Die model waarvolgens ouers die primêre verantwoordelikheid en gesag vir die onderwys van hulle kinders dra, kom vandag veral sterk binne die tuisonderwysbeweging voor. Waar ouers nie self alle aspekte van die onderwys kan of wil verskaf nie, kan hulle bepaalde funksies vrywillig aan tutors, onderwysers of ander opvoeders delegeer. In so 'n verhouding tree die opvoeder in loco parentis op, omdat sy of haar gesag van die ouer afgelei word. Hierdie kan beskryf word as die ouergesentreerde in loco parentis-model. Die fokus val op die optimale ontwikkeling van die individuele kind en op die ouers se bevoegdheid om te bepaal hoe daardie ontwikkeling die beste bevorder kan word. Hierdie model word onder meer in die Rio-beginsels verwoord, waarvan enkele Suid-Afrikaanse leiers in die tuisonderwysbeweging ondertekenaars is.
Die leerders in openbare skole wat lede van FEDSAS is, verteenwoordig na raming ongeveer 8% van alle leerders in Suid-Afrika. Leerders in onafhanklike skole verteenwoordig ongeveer 5,4%. Indien die aantal tuisleerders op ongeveer 300 000 geraam word, verteenwoordig hulle ongeveer 2,2% van die totale leerderbevolking. Hierdie syfers meet nie die steun vir die drie filosofiese modelle direk nie. Dit gee egter 'n aanduiding van die relatiewe omvang van sektore waarin gemeenskaps- en ouergesentreerde benaderings dikwels sterker tot uitdrukking kom.
Die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap word oorwegend deur die openbare skoolstelsel oorheers terwyl gemeenskaps- en ouergesentreerde alternatiewe veel kleiner sektore vorm. Hierdie magsverhoudings is egter nie noodwendig permanent nie. Verswakking van staatskapasiteit en toenemende probleme binne die openbare onderwysstelsel kan die verhouding tussen staat, gemeenskap en ouers weer verander. Die volgende artikel ondersoek die tendense wat hierdie magsverhouding tans beïnvloed.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










