
In die vorige artikel is gewys hoe basiese onderwys met verloop van tyd verander het van 'n aktiwiteit wat hoofsaaklik deur ouers in die huis verrig is, na 'n staatsbeheerde institusionele funksie. Binne hierdie bedeling tree onderwysinstellings “in loco civitatis” op om die staat se doelwitte te verwesenlik.
Terwyl die huidige regsorde steeds grootliks rondom staatsgereguleerde onderwysinstellings gebou is, vind 'n groeiende deel van onderwys in die praktyk in gedesentraliseerde, ontbondelde en tegnologie-ondersteunde vorme plaas. Hierdie ontwikkeling kan as non in loco beskryf word. Daarmee word nie bedoel dat onderwys geen plek of instelling meer het nie, maar dat dit nie noodwendig in één plek gesetel is nie. Verskillende onderwysfunksies kan nou deur verskeie rolspelers binne 'n geïntegreerde netwerk verrig word.
Die huidige onderwysbedeling is diep in die Grondwet ingebed. Artikel 29 van die Grondwet handel oor die reg op onderwys. Subartikel 1 bepaal dat elkeen die reg op basiese onderwys het. Subartikel 2 handel oor taalbeleid in openbare skole, 3 bepaal dat onafhanklike onderwysinstellings by die staat geregistreer moet wees en subartikel 4 handel oor subsidies aan onderwysinstellings.
Hoewel artikel 29 onderrig buite instellings nie verbied nie, word dit ook nie uitdruklik erken nie. Die grondwetlike taal weerspieël dus grootliks 'n institusionele paradigma: Openbare skole en onafhanklike onderwysinstellings word uitdruklik gereël, terwyl onderwys wat buite instellings plaasvind nie uitdruklik genoem word nie. Dit is veelseggend dat selfs tuisonderwys in Suid-Afrika binne die Skolewet gereguleer word: 'n onderwysvorm wat juis buite 'n skool kan plaasvind, word steeds binne 'n skolewet hanteer.
Hierdie institusionele benadering is egter nie uniek tot die moderne staat nie en kom selfs in eeue oue kerklike belydenisskrifte na vore. In Sondag 38, Antwoord 103 van die Heidelbergse Kategismus staan dat “God wil ten eerste dat die Woordbediening en skole in stand gehou word.” 'n Verandering van die institusionele onderwysparadigma sal daarom meer verg as enkele wetswysigings. Dit raak nie net die staat se regsraamwerk nie, maar ook diepgewortelde opvattings binne die kerk en die breë samelewing oor hoe onderwys behoort plaas te vind.
Alternatiewe onderwysvorme
Naas groot, sentraal gereguleerde onderwysinstellings het kleiner en meer gedesentraliseerde onderwysvorme oor die afgelope dekades gegroei. Dit is onder meer sigbaar in die groei van tuisonderwys, mikroskole en klein leersentrums.
In Suid-Afrika het tuisonderwys sterk gegroei sedert dit in 1996 deur die skolewet erken is. Navorsingsgebaseerde ramings plaas die aantal tuisleerders reeds rondom 300 000 — 'n leerdertal wat vergelykbaar is met die totale skoolbevolking van 'n provinsie soos die Noord-Kaap.
'n Verdere ontwikkeling is die groei van informele mikroskole, ongeregistreerde onafhanklike skole, laekosteskole, kothuisskole of leersentrums. Dit is dikwels klein, onafhanklike onderwysinisiatiewe wat deur entrepreneurs, ouers, oud-onderwysers of vrywilligers bedryf word. Baie funksioneer vanuit residensiële eiendomme in voorstede en informele nedersettings. Hierdie instellings sukkel dikwels om te registreer in terme van die Skolewet, omdat hulle te klein is of te veel afwyk van tradisionele skole. Omdat hierdie instellings juis buite die formele registrasiestelsel funksioneer, bestaan daar geen betroubare nasionale syfer vir die aantal instellings of leerders nie. Die omvang daarvan is daarom moeilik om uit amptelike onderwysstatistiek af te lei.
Die verskynsel van informele leersentrums is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar kom in talle lande voor. James Tooley beskryf hierdie verskynsel in sy boek The Beautiful Tree (2009) waarin hy wys dat sulke onderwysvorme nie slegs deur welgestelde ouers gebruik word nie, maar ook wyd in arm gemeenskappe voorkom. Sy navorsing in arm stedelike en peri-stedelike gebiede van die Lagos-Staat het byvoorbeeld geraam dat ongeveer 75% van skoolgaande kinders private skole bygewoon het, waarvan slegs sommige geregistreer was.
Ook kulturele gemeenskappe is besig om nuwe instellings te vestig wat op die behoeftes van daardie gemeenskap afgestem is. Die bekendste Suid-Afrikaanse voorbeeld is die Solidariteit Beweging wat onder meer 'n beroepsopleidingsinstelling en universiteit gevestig het en studente wat in Afrikaans wil studeer akkommodeer.
Tuisonderwys, leersentrums en hoër onderwys word verder vergemaklik deur aanlynplatforms wat kurrikulums en assesseringsdienste aanbied.
'n Skool kombineer tradisioneel twee funksies, naamlik toesig en sorg aan die een kant en onderwys aan die ander kant. Aanlynplatforms maak dit moontlik om hierdie twee funksies van mekaar te skei. Iemand wat 'n leersentrum wil begin hoef nie noodwendig al die funksies van ’n tradisionele skool self te verrig nie. Die sentrum kan byvoorbeeld op 'n veilige fisiese ruimte, sorg en toesig fokus, terwyl 'n aanlynplatform die onderrig, kurrikulum of assessering verskaf. Wanneer funksies wat tradisioneel binne een onderwysinstelling saamgevoeg is, deur verskillende rolspelers verrig word, kan dit as ontbondelde onderwys beskryf word.
In die boek The Third Education Solution word byvoorbeeld beskryf hoe kerke ontbondelde onderwys kan gebruik om weer beheer terug te neem oor teologiese onderwys. In plaas daarvan dat jong studente hulle plaaslike gemeente verlaat om 'n sentrale staatsgesubsidieerde universiteit by te woon, kan hulle in die gemeente bly en hulle opleiding oorwegend aanlyn ontvang.
Korporatiewe opleiding bied moontlik 'n aanduiding van die rigting waarin 'n groter deel van onderwys en opleiding kan ontwikkel. Veral produk- en bedryfspesifieke opleiding is dikwels veel minder aan 'n bepaalde plaaslike instelling of nasionale onderwysstelsel gebonde. Opleiding in die gebruik van sagteware en talle bedryfsertifiserings kan byvoorbeeld volledig aanlyn geskied.
Desentralisasie en ontbondeling is dus aanverwant, maar verskillende prosesse. Desentralisasie vermeerder die aantal rolspelers wat onderwys kan verskaf, terwyl ontbondeling die funksies wat tradisioneel binne een instelling saamgevoeg is tussen hierdie rolspelers verdeel. Digitale netwerke maak dit vervolgens moontlik om die verskillende funksies weer rondom die leerder te verbind.
Reaksie van owerhede
Die groei van gedesentraliseerde en ontbondelde onderwys skep toenemend spanning met 'n regs- en beleidsraamwerk wat hoofsaaklik rondom die tradisionele skoolmodel ontwikkel is. Indien 'n beduidende deel van leerders mettertyd na alternatiewe onderwysvorme beweeg, kan dit gevolge hê vir leerdergetalle in skole, die vraag na onderwysposte en die verdeling van openbare onderwysbesteding.
Ten spyte van hierdie impak kry gedesentraliseerde en ontbondelde onderwys relatief min aandag as 'n selfstandige beleidsverskynsel. In die huidige administrasie se navorsingsagenda is daar byvoorbeeld niks oor gedesentraliseerde of ontbondelde onderwys nie. Ook in die 2024-verkiesingsmanifeste is dit grootliks afwesig as 'n selfstandige beleidsvraagstuk. Die onderwysdebat bly oorwegend gerig op die verbetering of verdere regulering van die bestaande skoolstelsel. Amptelike waarskuwings en mediaberigte beskryf ongeregistreerde instellings dikwels as “fly-by-night”-skole en waarsku ouers teen uitbuiting. Hoewel daar ongetwyfeld instellings bestaan wat ouers mislei of swak onderwys lewer, volg dit nie dat elke ongeregistreerde onderwysinisiatief daarom minderwaardig of bedrieglik is nie.
Parallel met hierdie retoriek het die regulatoriese vereistes vir sommige alternatiewe onderwysvorme strenger geword. Die gewysigde Skolewet vereis dat 'n ouer by die Departementshoof aansoek doen om 'n leerder vir tuisonderwys te registreer en gemonitor te word. Die wet het ook die maksimum gevangenisstraf vir die bedryf van 'n ongeregistreerde onafhanklike skool tot twaalf maande verhoog.
Die administratiewe kapasiteit van departemente om potensiële oortreders sistematies op te spoor en die wet af te dwing, is egter beperk. Die stelsel is oorwegend afhanklik van vrywillige nakoming weens die afskrikwaarde van die strenger strafbepalings.
Gauteng bied 'n sigbare voorbeeld van sporadiese afdwingingsaksies. In September 2026 het die provinsiale departement berig dat 61 skole sedert Januarie ondersoek is, waarvan 32 sluitingsbriewe ontvang het. Hierdie soort sporadiese, hoëprofiel-afdwinging verskil van sistematiese alledaagse wetstoepassing. Die openbare sigbaarheid daarvan kan daarom 'n afskrikwerking hê wat veel verder strek as die beperkte aantal instellings waarteen direk opgetree word.
Die feit dat daar steeds heelwat openbare skole is wat goed presteer - soms selfs beter as onafhanklike skole - skyn die argument te ondersteun dat die tradisionele skoolmodel steeds suksesvol kan funksioneer.
Hierdie suksesvolle openbare skole funksioneer egter nie noodwendig as geïsoleerde onderwysinstellings nie. Veral in welvarende gemeenskappe word die formele skool aangevul deur ouerbydraes en 'n wye reeks eksterne rolspelers, insluitend bykomende personeel, tutors, terapeute, sielkundiges, medici, sportafrigters en ander private dienste. Die leerder se werklike onderwysomgewing strek dus reeds lankal verder as die formele skool.
Dit laat minstens die vraag ontstaan in watter mate die sukses van sommige openbare skole mede moontlik gemaak word deur die netwerk van private hulpbronne en dienste wat rondom hulle bestaan. Die netwerkmodel ontstaan dus nie slegs buite die bestaande skoolstelsel nie; elemente daarvan is reeds rondom suksesvolle tradisionele skole sigbaar.
Gapings, en die pad vorentoe
Aan die een kant groei gedesentraliseerde en ontbondelde onderwysvorme, waaronder tuisonderwys, informele leersentrums en nuwe gemeenskapsinstellings. Aan die ander kant maak strenger wetgewing en regulasies dit toenemend moeilik om sulke onderwysvorme volgens die vereistes van die wet te bedryf. So groei die gaping tussen de jure en de facto.
Hoe groter die gaping tussen die formele regsraamwerk en die werklike onderwyspraktyk word, hoe groter word die potensiaal vir konflik. Gevestigde belange binne die tradisionele stelsel kan ook druk op owerhede uitoefen om bestaande bepalings strenger af te dwing, veral indien die groei van alternatiewe onderwys hulle belange toenemend raak.
Die strategie vorentoe bestaan uit drie dele.
Eerstens moet konkrete voorstelle ontwikkel word oor hoe die de jure omgewing aangepas kan word om alternatiewe onderwysvorme te akkommodeer.
Een so 'n voorstel is deur Cape Home Educators (CHE) ontwikkel om artikel 29 van die Grondwet te wysig sodat alternatiewe onderwysvorme uitdruklik erken word. Kerke wat die Heidelbergse Kategismus onderskryf kan eweneens oorweeg of die belydenis die klem eerder op onderrig as op die instandhouding van 'n bepaalde institusionele vorm behoort te plaas.
Tweedens is organisasies nodig wat alternatiewe onderwysvorme kan verteenwoordig en beskerm wanneer administratiewe of regsgeskille ontstaan. Sulke organisasies kan gesinne en leersentrums ondersteun, met die staat skakel en deelneem aan die ontwikkeling van ’n regsraamwerk wat nuwe onderwysvorme beter akkommodeer. Gereelde gesprek kan ook misverstande verminder en onnodige konflik voorkom.
Derdens moet die nuwe de facto werklikheid self verder ontwikkel word. Werkbare tuisonderwysnetwerke, leersentrums, gemeenskapsinstellings en digitale onderwysmodelle kan demonstreer dat onderwys doeltreffend buite die tradisionele institusionele model kan plaasvind.
Om eers 'n nuwe werklikheid te skep en daarna erkenning in die regsraamwerk te soek, is nie 'n onbekende benadering in Suid-Afrika nie. In gesprekke oor Afrikanerselfbeskikking word 'n treffende formulering aan die destydse adjunkpresident Thabo Mbeki toegeskryf:
“Show us the animal, create a reality. Create a de facto reality that we can recognise de jure.”
Die beginsel kan ook op onderwys toegepas word: bou werkbare onderwysvorme in die ruimte wat reeds bestaan, beskerm hulle waar konflik ontstaan, en werk terselfdertyd daaraan dat die regsorde die nuwe werklikheid erken.
Die huidige tendense dui dus op 'n toekoms waarin onderwys toenemend gedesentraliseer en ontbondel word en waarin ouers, tutors, sentrums, instellings en platforms verskillende funksies verrig. Desentralisasie vermeerder die rolspelers; ontbondeling verdeel die funksies tussen hulle; en netwerke verbind hulle weer rondom die leerder. Onderwys is in so 'n bedeling nie meer noodwendig in een instelling of op een plek gesetel nie, maar versprei oor 'n netwerk van mense, gemeenskappe, instellings en tegnologie. Non in uno loco, sed in rete — nie op een plek nie, maar in 'n netwerk.

Nog artikels deur Bouwe van der Eems:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









