Ek lees die afgelope tyd vir my seuntjie van Paddington, die beertjie uit donker Peru. Hy is mal oor die vreemde beertjie wat by die Londense treinstasie aankom met 'n etiket om sy nek, 'n marmeladebroodjie onder sy hoed, en die vaste versekering dat misverstande uiteindelik met goeie maniere opgelos kan word.
Maar terwyl ek saans vir my kind lees oor die beertjie uit donker Peru, lyk Peru se werklike hedendaagse toekoms skielik minder donker.
Keiko Fujimori, die nuut verkose president van Peru, se onlangse oorwinning is allesbehalwe so eenvoudig soos Paddington se wêreld. Daar is geen marmelade-onskuld en 'n warm huishouding in Windsor Gardens wat alle probleme vinnig oplos nie.
Die nuwe Peruviaanse president in wagting se familienaam is in Peru 'n wond sowel as 'n wapen. Vir sommige Peruviane simboliseer dit orde, stabiliteit en die nederlaag van die Shining Path, die Maoïstiese terreurbeweging wat Peru van 1980 af in 'n bloedige interne oorlog gedompel en tienduisende mense se dood help veroorsaak het.
Vir ander herinner die naam Fujimori aan bendes, korrupsie en die outoritêre versoeking wat homself altyd as noodsaaklikheid en in die belange van die volk voordoen, soos Camus na verwys het.
En tog, ten spyte van al die geskiedkundige bagasie, het Fujimori gewen.
Skeptisisme oor Ou Beloftes
Ná jare van politieke chaos, nege presidente in tien jaar, misdaad, ekonomiese onsekerheid en die eindelose herverpakking van progressiewe en sosialistiese beloftes, het genoeg kiesers in Peru besluit dat die status quo verander moet word en is die beloftes nie meer geglo nie.
Sosialisme is in groot dele van Suid-Amerika nie meer die romantiese alternatief vir die Establishment of die beskermer teen beweerde kapitalistiese uitbuiting nie. Sosialisme in Suid-Amerika was vir dekades die establishment. Dit was die heersende taal van die regerings, die NRO’s, die grondwetlike hervormers, die revolusionêre bittereinders en die intellektuele klas wat namens “die volk” praat terwyl die volk self al hoe armer geword en meer onveilig gevoel het.
Links-progressiewe idees blaas die aftog in Suid-Amerika en nie omdat die kontinent skielik Hayek ontdek het, of omdat kiesers in die Andes nou saans Von Mises lees nie. Eerder is dit blote uitputting en hul geduld wat opgeraak het. Die progressiewe maatskaplike en ekonomiese agenda in Suid-Amerika het lank genoeg regeer om nou verantwoordelik gehou te word. Klink nogal bekend?
Peru is net die jongste Suid-Amerikaanse land wat genoeg gehad het.
Keiko Fujimori se oorwinning is daarom meer as die terugkeer van 'n omstrede politieke dinastie. Dit is nog 'n teken dat die “pienk gety” wat eens oor Latyns-Amerika gespoel het, besig is om weg te trek. Die werklikheid van misdaad, armoede, korrupsie en uitbuiting troef nou die mooi beloftes van abstrakte “bevryding” en die “regstel” van die verlede. Haar teenstander, Roberto Sánchez, het die geykte sosialistiese aanbod in sy veldtog gemaak, insluitend 'n nuwe grondwet (vir jare 'n gunsteling politieke belofte in Suid-Amerika), groter staatsbeheer, ensomeer. Die oudpresident se dogter het net-net gewen met die einduitslae wat toon dat die konserwatiewe kandidaat met 50,135%, oftewel 9 223 396 stemme, voor Roberto Sánchez se 49,865%, oftewel 9 173 755 stemme, geëindig het.
Sedert Javier Milei se oorwinning in Argentinië het die vasteland se politiek sigbaar verander. Die Dominikaanse Republiek, El Salvador, Panama, Ecuador, Bolivië, Honduras, Chile, Costa Rica, Peru en nou ook Colombië, het almal op verskillende maniere gewys dat die ou progressiewe- en sosialistiese heerskappy nie meer vanselfsprekend is nie. Hierdie lande is nie almal ideologies identies nie. Maar almal het in onlangse verkiesings die status quo verwerp.
Klaar met misdaad wat as 'n sosiale verskynsel verduidelik word maar nooit gestop word nie.
Klaar met korrupsie wat altyd die skuld van vorige regimes is. Klaar met grondwette herskryf terwyl strate onveilig bly.
Klaar met “dekoloniale” taal wat niks doen aan die prys van brood nie.
Klaar met die Weste se internasionale NGO-klas wat demokrasie meet aan die hoeveelheid regte in 'n beleidsdokument, eerder as aan die vermoë van 'n regering om die basiese kontrak tussen burger en staat na te kom.
Nuwe Golwe
Die lande het nie almal dieselfde politieke oplossing gekies nie. Maar hulle het almal teen dieselfde ding gekies, naamlik teen 'n politieke klas wat lank genoeg die taal van bevryding gepraat het om bloot net self die nuwe bewakers van verval te word. In dié sin is die regse swaai in Latyns-Amerika nie 'n ideologiese bekering nie. Dit is 'n anti-establishment opstand teen 'n progressiewe establishment.
Die Trump-administrasie se aftakeling van USAID en sy breër skuif weg van progressiewe ontwikkelingsdiplomasie het nie hierdie verkiesingsuitslae per se veroorsaak nie. Maar dit het heel waarskynlik iets in die atmosfeer op die vasteland verander. Vir dekades was daar 'n transnasionale progressiewe infrastruktuur bestaande uit fondse, programme, konferensies, kundiges en projekte wat aan Latyns-Amerikaanse progressiewe regerings 'n sekere morele beskerming gebied het. Daardie beskerming is nou byna weg. Washington preek minder oor “governance” en praat meer oor belange, grense, energie en veiligheid. Dit kan natuurlik verander in 'n post-Trump regering, maar vir nou is dit die realiteit.
Selfs Venezuela, die groot gees van een-en-twintigste-eeuse sosialisme, fluister nou die taal van privaat kapitaal. Ná die jongste politieke skokke in Caracas, en veral ná die onlangse aardbewing wat die land gedwing het om Amerikaanse en ander internasionale hulp te versoek. Ná jare van anti-imperialistiese retoriek maak Caracas nou die deur oop vir belegging, markmeganismes en die soort buitelandse samewerking wat vroeër as verraad beskryf sou word.
Tans bly net Brasilië se progressiewe regering as die groot uitsondering in Suid-Amerika oor. Maar selfs Brasilië staan nie buite die stemming van die vasteland nie. Die land hou in Oktober vanjaar ‘n nasionale verkiesing.
Die nuwe konserwatiewe en vryemarkregerings in Suid-Amerika het groot verandering teweeg gebring. Bukele se El Salvador het misdaad dramaties laat val, maar teen 'n prys wat burgerregte-aktiviste met goeie rede ontstel. Milei se Argentinië het inflasie begin tem, maar die maatskaplike pyn van sy skokterapie is werklik. Noboa se Ecuador probeer belegging en staatsgesag herstel, terwyl hul veiligheidskrisis nog lank nie verby is nie.
Kiesers in Suid-Amerika beloon tans politici wat iets anders belowe en dan meetbaar regkry. Hulle wil minder ideologie hê en meer uitkomste, minder taal oor bevryding en meer veilige strate, minder praatpolitiek en meer kos op die rakke.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









