
Sedert Cyril Ramaphosa se Withuis-debakel in Mei 2025, is die “wit volksmoord”-narratief rondom plaasmoorde basies elke linkse aktivis se gunsteling strooipop. Cyril Ramaphosa sê einde September 2026 die volgende:
“travelling to foreign capitals to spread the falsehood of a 'white genocide' […] is neither responsible nor patriotic.”
Drogredenasies
Oor slegs die afgelope twee jaar was daar ten minste agt amptelike verskonings, regstellings of herroepings deur agt mediakanale wat AfriForum en Solidariteit (AfriSol) verkeerdelik vir die verspreiding van die “wit volksmoord”-narratief blameer het. Verteenwoordigers van AfriSol is ook tot vervelens toe in TV-onderhoude en potgooie gevra of hulle dink daar is 'n “wit volksmoord”. Hulle antwoord was elke keer 'n klinkklare nee.
Trouens, eNCA is op 2 Oktober 2026 deur die Persombudsman gevra om 'n openbare verskoning uit te reik vir valse aantygings teen Solidariteit wat kwansuis Amerika toe is om “wit volksmoord” te skree, en bloot 'n week later, op 9 Oktober, is daar in 'n onderhoud met Ernst Roets presies dieselfde herhaal – hulle het intussen nie die beeldmateriaal vrygestel nie.
Behalwe vir die tradisionele media, is daar ook 'n konstante gegons op sosiale media dat AfriSol verantwoordelik is vir die “wit volksmoord”-narratief. Baie groot, beroemde en selfs berugte X-rekeninge het ook gereeld die aantyging gemaak. Enige persoon wat aktief op X en ingeskakel op die gesprek oor Suid-Afrika is – soos die meeste in die media – sou byna seker bewus wees van AfriSol-verteenwoordigers en -ondersteuners wat sê dit is nie hulle standpunt nie.
“Wit volksmoord” word nie net as 'n strooipopargument gebruik om plaasmoorde en -aanvalle as gewone misdaad af te maak nie, maar dit word ook dikwels as 'n afleidingsmaneuver (“red herring”) gebruik. 'n Mens sien gereeld kommentaar op X soos “daar is geen wit volksmoord nie” wanneer wit minderheidsgroepe hulle griewe lug. Sodra iemand 'n genuanseerde argument wil maak oor minderheidsregte, loop jy jouself vas teen iemand wat jou “daar is geen wit volksmoord nie” toesnou.
Waar daar 'n rokie is…
Dit wil voorkom asof daar vanuit sekere kringe in die hoofstroommedia én die staat pogings aangewend word om AfriSol en Lex Libertas met “wit volksmoord” te assosieer. Boonop is “wit volksmoord”, veral in die Weste, 'n berugte kreet onder wit nasionalistiese bewegings – dié assosiasie kan afbreuk doen aan AfriSol & Kie se internasionale reputasie. Dit maak dit dus moeiliker vir georganiseerde Afrikanerdom om hulle eintlike boodskap rakende plaasmoorde uit te kry.
Gegewe die “Kill the Boer”-dreunsang, politieke partye met slagspreuke soos “Land or death”, die wreedaardigheid van die moorde, die marteling wat gereeld plaasvind, die staat en die media wat oënskynlik plaasmoordaktiviste se boodskap kwaadwillig verdraai en die afskaffing van die kommandostelsel, kan net iemand wat van sy sinne beroof is, dink dat plaasaanvalle bloot 'n alledaagse verskynsel is. Die owerhede se weiering om plaasaanvalle as 'n prioriteitsmisdaad te verklaar en dienooreenkomstig op te tree, suggereer dat daar politieke motiewe agter dié besluit skuil.
Voor die ANC se landmynveldtog in die 1980's en die PAC se doelbewuste plaasaanvalle in die vroeë 1990's, was landelike gebiede relatief veilig. Dit is nie meer die geval nie. Die PAC het doelbewus wit boere aangeval om hulle van hulle grond te verdryf. Tot vandag toe is grondhervorming 'n brandende kwessie en 'n mens kan nie anders as om te wonder of die ANC nie dalk toelaat dat 'n milieu voortbestaan waarin boere weerloos voel nie. Die onvermydelike uiteinde van grondhervorming, soos die ANC dit voor oë het, is dat daar baie minder wit boere in die bedryf sal oorbly – wat die vermoede van 'n politieke motief agter die ANC se gebrek aan optrede versterk.
Baie elites se reputasie is ook hier op die spel as dit alombekend word dat dit nooit werklik “gewone misdaad” was nie. Mense gaan hulle tereg vra of hulle doelbewus deelgeneem het aan 'n toesmeerdery. Die ANC kan ook nie nou juis op druk van die VSA reageer deur iets aan die probleem te doen en die erns van die saak openlik te erken sonder om die risiko te loop om as medepligtiges uitgekryt te word nie – hulle ignoreer dan die probleem al vir dekades. So doen hulle eerder niks en volhard in hulle standpunt. Ek vermoed dit is dié dat hulle so na strooihalms en drogredenasies gryp.
Uitgelewer aan die meerderheid
Demokrasie word dikwels gedefinieer met die kwalifikasie dat minderheidsregte ook beskerming geniet. Die rede hiervoor is dat 'n meerderheid relatief maklik wetgewing kan aanneem wat minderheidsgroepe benadeel, of bloot minderheidsgriewe die koue skouer kan gee sonder om noemenswaardige politieke gevolge te dra.
Dit beteken dat minderhede baie min politieke invloed het om landelike veiligheid te verbeter. Dit is die meerderheid wat besluit wie mag oor die polisiemag het, en minderhede is aan daardie besluit uitgelewer. Hoe nou gemaak?
Ter afsluiting, die “wit volksmoord”-narratief word as 'n wapen teen plaasmoordaktiviste gebruik. Om dit suurstof te gee gaan nie die probleem oplos nie en is teenproduktief omdat dit geloofwaardigheid aan die “daar is geen wit volksmoord nie”-brigade gee. Dat dit nou in sekere dele van Amerika ook vlamgevat het, werk eintlik tot ons nadeel, maar dit bied 'n gulde geleentheid om die kern van die probleem weer in fokus te bring.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







