'n Federale Suid-Afrika: 'n Weg na Beter Regering en Ware Demokrasie
Die Uniegebou kan nie almal se briewe lees nie.
Ouma het altyd gese: “'n Ander man se briewe is duister om te lees” In 'n land soos ons s’n, met 12 amptelike tale, nege provinsies en verskeie kulture, is dit uiters waar. So hoe ons dink dat 'n sterk sentrale regering in Pretoria en Kaapstad, ons briewe in KZN, die Vrystaat en Noord-Kaap kan lees, weet nugter.
Drie dekades ná demokrasie het ons land steeds te kampe met stygende werkloosheid, gebrekkige dienslewering, sistemiese korrupsie en 'n algehele wantroue in die staat. Die nasionale regering se sentralisering van mag het daartoe gelei dat baie gemeenskappe afgesny voel van werklike besluitneming, en dat provinsies en munisipaliteite nie die ruimte het om hul eie uitdagings onafhanklik en doeltreffend aan te spreek nie. In hierdie konteks verdien federalisme – 'n stelsel waar gesag tussen verskillende vlakke van regering versprei word – ernstige oorweging as 'n alternatief vir die huidige eenheidstaat-model. Federalisme kan die demokratiese droom van Suid-Afrika nuut laat herleef, deur mag terug te plaas in die hande van die mense.
Wat is Federalisme?
Federalisme is 'n politieke stelsel waar verskillende vlakke van regering – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – elk grondwetlike bevoegdhede het om onafhanklik besluite te neem binne hul eie gebiede. Dit verskil van die huidige stelsel in Suid-Afrika, waar die nasionale regering oorweldigende invloed en mag uitoefen, terwyl provinsiale en plaaslike regerings dikwels slegs uitvoerende arms is van sentrale beleid. Mens kan selfs dit so stel “Pretoria belsluit, Pietermaritzburg (of Polokwane, of Kimberley) voer uit”. In 'n federale stelsel het provinsies groter seggenskap oor sake soos onderwys, gesondheid, infrastruktuur en ekonomiese ontwikkeling – en word hulle ook self verantwoordelik gehou vir die uitkomste van hul besluite.
Federalisme Bring Regering Nader aan die Mense
Een van die redes vir federalisme is dat dit regering nader aan gemeenskappe bring. Die afstand tussen die kieser in Upington of Umzimkulu en die regeringsgesag in Pretoria is nie net geografies nie – dit is ook simbolies. Beleide wat in sentrale kantore opgestel word, hou dikwels geen verband met die werklikheid op grondvlak nie. 'n Federale stelsel stel provinsies in staat om hul eie beleide te vorm wat aansluit by hul unieke sosiale, kulturele en ekonomiese realiteite. Ons verwag van die parlement in Kaapstad, en die kabinet in Pretoria, om beleid te skryf wat werk vir die man op straat in Johannesburg, waar die strate onder jou voete verbrokkel, in Nquthu, waar daar min strate is, en elders in die land. Dit is mos duidelik onmoontlik.
Neem byvoorbeeld die verskille tussen die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal: hul ekonomiese samestellings, infrastruktuurbehoeftes en onderwysuitdagings verskil aansienlik. 'n Eenvormige, nasionale beleid kan nie effektief op albei toegepas word nie. Deur provinsiale regerings meer outonomie te gee, kan hulle doelgerigte en innoverende oplossings bied wat beter dienslewering moontlik maak.
Versterkte Verantwoordbaarheid en Minder Korrupsie
Korrupsie is 'n kanker in Suid-Afrika. Deur mag te sentraliseer, het ons 'n stelsel geskep waar korrupte elites beheer oor groot dele van die land kan uitoefen. 'n Federale model kan hierdie mag gekonsentreerde korrupsie verbreek. Wanneer provinsies hul eie begrotings en administrasies beheer, en kiesers plaaslike leiers direk verantwoordelik kan hou, word korrupsie moeiliker om volhoubaar te laat voortwoeker.
Eie vorme van inkomste
Behalwe vir inkomste uit staatshospitale (amper onsienbaar min), drank- en dobbellisensies en motorlisensies, is provinsies afhanklik van die nasionale regering vir geld. Die formule wat gebruik word om die verdeling tussen provinsies uit te werk word gereeld gekritiseer en het inherente probleme. Maar as die nasionaleregering 'n veel kleiner belasting inkomste eis, en provinsies die reg gee om self na hul inkomste te kyk, kan dit help on hierdie probleme op te los.
'n Model vir Diversiteit en Erkenning van Gemeenskappe
Suid-Afrika is van nature 'n plurale samelewing. Met twaalf amptelike tale, 'n ryk mengsel van kulture, godsdienste en geskiedenisse, is dit naïef om te verwag dat een regeringstelsel almal in gelyke mate kan dien. Federalisme bied 'n raamwerk waardeur gemeenskappe hul identiteit kan behou, terwyl hulle steeds deel vorm van 'n groter nasionale geheel.
Provinsies kan byvoorbeeld hulle eie taalbeleid of opvoedkundige klem bepaal, sodat kulturele gemeenskappe hul geskiedenis en taal kan beskerm sonder om ander se regte in te kort. Dit verminder gevoelens van vervreemding en marginalisering, en skep 'n gevoel van deelname en eienaarskap in die demokratiese projek. So byvooorbeeld is daar baie minder weerstand in KZN teen the BELA wetgewing as in Gauteng, omdat die diversiteit in onderwys in KZN baie anders is as in Gauteng.
Internasionale voorbeelde van Suksesvolle Federalisme
Die wêreld het talle suksesvolle voorbeelde van federale state wat stabiliteit, ekonomiese groei en inklusiewe regering gekombineer het. Duitsland, Kanada, Switserland en Australië is almal federasies waarin streke beduidende mag het. In Duitsland het die Länder hul eie onderwys- en gesondheidsbeleide, en bestuur hulle baie van hul eie ekonomiese ontwikkeling. Tog is Duitsland een van die wêreld se mees stabiele en samehangende lande. Duitsland dien as voorbeeld waar twee lande verenig is as een, deur federalisme.
Switserland is nog 'n goeie voorbeeld. Elke kanton het 'n hoë mate van selfregering, en tog funksioneer die land as 'n gekoördineerde en effektiewe geheel. Hierdie modelle wys dat federalisme nie tot verdeeldheid of chaos hoef te lei nie. Inteendeel, dit bevorder stabiliteit deur die verantwoordelike verspreiding van mag.
Dit is wel so dat die bogenoemde lande baie meer homogeen is as Suid-Afrika, met een taal (behalwe in Kanada en Switserland) en een kultuur is. Maar ek glo dat Suid-Afrika se diversiteit tot versterking van 'n federasie kan dien. Amerika is 'n interesante voorbeeld. Iemand van Texas is baie trots om van Texas te wees, hulle bevorder 'n unieke Texas kultuur staan op as burgers van Texas. Maar hulle is net so trots Amerikaans, en sal gereeld beide die Texas vlag en Amerikaanse vlag by hul huise wapper.
Die Vrees vir Afsondering en Fragmentasie
Teenstanders van federalisme stel dikwels voor dat dit tot afskeiding of verdere verdeling sal lei. Maar ware federalisme werk binne 'n grondwetlike raamwerk wat nasionale eenheid verseker, terwyl dit erken dat plaaslike regerings beter geplaas is om sekere besluite te neem. Dit is nie 'n resep vir verbrokkeling nie, maar eerder 'n stelselmatige manier om bestaande verdeeldheid demokraties te bestuur.
Die alternatief – aanhoudende sentralisering – het reeds bewys dat dit nie ongelykheid of disfunksie kan uitskakel nie. Federalisme bied eerder 'n pad na inklusiwiteit, ware samewerking en volhoubare ontwikkeling. 'n Sterk sentrale staat het ons in dertig jaar nie nader aan mekaar gebring nie. Inteendeel, nou sien ons 'n groeiende beweging vir onafhanklikheid in die Wes-Kaap, en hier in KZN is daar ook al hoe meer oproepe (soos in 1910 en 1994) dat die provinsie as 'n Koningkryk sy eie pad moet gaan.
'n Federale Toekoms in 'n Era van Koalisieregering
Suid-Afrika beweeg vinnig na 'n tydperk van koalisiepolitiek, waar geen enkele party meer oor nasionale meerderhede beskik nie. In so 'n konteks raak dit toenemend belangrik dat provinsies sterker rolspelers word. 'n Federale stelsel sal nie net help om politieke stabiliteit te verseker nie, maar sal ook toelaat dat werkbare en suksesvolle regerings op provinsiale vlak floreer, ongeag nasionale politieke stagnasie.
Provinsies wat goed regeer, kan dan dien as modelle vir ander, en burgers kry 'n werklike keuse tussen verskillende regeringsbenaderings. Dit bevorder innovasie, verhoog deelname aan die demokratiese proses, en versterk mededinging in idees en beleid.
Die voorbeeld van KZN
Ek dien as 'n LUR vir Openbarewerke en Infrastruktuur in die Regering van Provinsiale Eenheid in KZN. Ek word gereeld gefrustreerd deur die besluitneming wat in Pretoria geneem word, en nie in Pietermartizburg nie. Twee voorbeelde is water en spoorwee. Die mandaat oor water voorsiening sit met die nasionale regering en dan met distriks munisipaliteite. Provinsies het geen insae en mandaat oor water nie. Oral waar ek reis oor die provinsie word ek gevra oor die water krisise in die provinsie, maar ons kan net ons skouers optrek, en hoop Pretoria sal luister en voorsien.
Selfde met die treine. Richardsbaai is onbereikbaar weens die kilometers en kilometers van vragmotors met steenkool wat wag om in die hawens in te kom, omdat die spoorweg tussen Mpumalanga en Richardsbaai gereeld stil staan. Dieselfde met die eens besige spoorweg tussen Gauteng en Durban. Nou moet ons miljoene spandeer aan paaie herstel weens vragmotors, en honderde sterf op ons paaie. As 'n provinsie weet ons waar die behoeftes is. Ons het so baie privaat sektor belegers wat wil betroke raak, maar om die ou Latynse gesegde te verander ‘Terwyl KZN brand, beraadslag Kaapstad” Om vir ons in KZN te wil vertel wat in ons beste belang is, is soos om vir ouma te wil leer die paplepel vashou.
Gevolgtrekking: Federalisme as 'n Nuwe Kans vir Suid-Afrika
Suid-Afrika het 'n unieke geleentheid om homself te herbedink. Die mislukkings van die sentralistiese model is duidelik sigbaar in ons vervallende infrastruktuur, onbevoegde administrasies, en wankelende ekonomie. Federalisme bied nie 'n kitsoplossing nie, maar dit bied wel 'n meer volhoubare, verantwoordbare en demokratiese raamwerk vir regering.
In plaas van om mag bo te hou, moet ons dit teruggee aan die mense – in hul provinsies, dorpe en gemeenskappe. Dit is tyd dat ons vertroue het in die vermoë van gewone Suid-Afrikaners om hul eie toekoms te bepaal.
In 1994 het ons in naam weg beweeg van ‘Eendrag maak mag’ na ‘Sterkte in ons diversiteit’. Nou moet ons dit in daad ook doen. Federalisme laat ons toe om ons diversiteit te gebruik om ons land te versterk.
Deur federalisme kan ons nie net beter regering bou nie, maar ook 'n sterker nasie – een waar elke burger, ongeag hul taal, kultuur of provinsie, 'n regmatige en aktiewe rol speel in die vorming van 'n gedeelde toekoms.
Martin Meyer is die LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur in KwaZulu-Natal, en verteenwoordig die DA in die KZN Wetgewer.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.