Vir dekades was die demografiese narratief dat die wêreldbevolking aanhou groei, en dat dit uiteindelik tot oorbevolking en die uitputting van die wêreld se hulpbronne sou lei. Oor die wêreld heen is gesinsbeplanning aangemoedig. In die Weste is 'n gesin met twee kinders as die ideaal voorgehou. China het 'n eenkindbeleid ingevoer. Vroue is aangemoedig om tot die werksmag toe te tree, en die versorging van kinders is toenemend oorgelaat aan sorgsentrums en skole.
Ook kerke het versigtig by hierdie narratief ingeval. God se opdrag aan die mens in Gen. 1:28, en ook in Gen. 9:1, is: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” Ouers is aangemoedig om hierdie tekste nie te letterlik op te neem nie en om hulle eie, sowel as die wêreld se beperkte hulpbronne, in ag te neem wanneer hulle besluit hoeveel kinders hulle wil hê. Slegs uiters konserwatiewe gemeenskappe, soos die Amish in die VSA, het volgehou met groot gesinne.
Die gevolge van dekades se gesinsbeplanning begin egter nou sigbaar word. Die meeste lande in die Ooste en die Weste se vrugbaarheidsyfers (die gemiddelde aantal kinders per vrou) is nou onder die vervangingskoers van 2,1. Slegs enkele lande in Sentraal-Afrika en die Midde-Ooste is nog bo hierdie vlak. China se vrugbaarheidskoers is tans 1,02 en Spanje s'n 1,21. In Europa is die verhouding van werkers per pensioenaris 2,7, waar dit in 1950 nog 7,5 was.
Soos hierdie gevolge sigbaar word, ontstaan daar 'n nuwe narratief dat die wêreld se grootste probleem 'n bevolkingsinploffing is eerder as 'n bevolkingsontploffing. Elon Musk het dit al jare lank hardop gesê. The Economist het in September 2025 'n uitgawe hieraan gewy met die titel: “Peak Human: The prospect of an emptier world.”
Sommige meen egter dat 'n bevolkingsinploffing nie noodwendig 'n probleem is nie. Kunsmatige intelligensie en robotte kan die tekort aan jong werkers aanvul. Mediese tegnologie kan ouer mense vir langer tydperke produktief hou. Volgens hierdie siening is dit gevaarlik om paniek te saai oor bevolkingsafname.
Ander meen weer dat iets gedoen moet word om ouers aan te moedig om meer kinders te hê. Regerings soos dié van Hongarye, Rusland en Denemarke het reeds sulke veldtogte geloods. Hier is byvoorbeeld 'n advertensie van die Deense regering wat jongmense aanmoedig om tydens eksotiese vakansies swanger te raak:
China het ook intussen sy eenkindbeleid afgeskaf.
Dit lyk egter of uiterlike aansporings soos bemarking en belastingvoordele min tot geen effek het nie. Die toekoms behoort dus moontlik eerder aan mense wat uit innerlike oortuiging vir groot gesinne kies; aan kerke wat die opdrag om vrugbaar te wees weer letterlik opneem. Die alternatief is 'n distopiese tegnokrasie waar kinders in proefbuise ontvang word, in kunsmatige baarmoeders ontwikkel, en deur institute opgevoed word.
Die effekte van bevolkingsimploffing begin reeds duidelik word. In lande soos Spanje, Italië en Japan word die platteland ontvolk. Sosiaal-demokratiese welvaartstate in Europa moet jaarliks sny aan welsynsvoordele. The Economist stel dit soos volg: “The international balance of power, the environment, social and political structures are all likely to be radically reshaped.”
Sosiale strukture wat hierdeur geraak kan word, sluit finansies en onderwys in. Jong getroudes wat nie meer op staatsvoorsienings en pensioenfondse vertrou nie, mag kies vir groter gesinne. Hierdie ouers sal daarop vertrou dat hul kinders vir hulle sal sorg wanneer hulle bejaard is, eerder as op 'n pensioenfonds. Vir 'n gesin met tien kinders kan dit onbekostigbaar en onprakties wees om almal skool toe te stuur, terwyl tuisonderwys natuurlik meer geskik kan wees vir 'n groot gesin. Soos pensioenfondse al hoe minder hul verpligtinge kan nakom, sal die versorging van bejaardes waarskynlik uit die instituut terug na die huis beweeg.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










