SA kies Ubuntu bo Brood
Breker-ideoloë openbaar 'n tragiese arrogansie.
Om die verskille tussen Afrikaners en Nederlanders uit te beeld, word daar dikwels gesê: “Nederlanders is te reguit om ordentlik te wees, en Afrikaners is te ordentlik om reguit te wees.”
Hierdie gesegde is 'n illustrasie van die suksesfaktore vir oortuiging, naamlik argument en verhouding. Die waarskynlikheid om iemand anders te oortuig, is afhanklik van beide die argument self sowel as die verhouding met die ander persoon. 'n Doeltreffende argument het drie komponente. Eerstens moet die feite wat in die argument genoem word, akkuraat wees. Tweedens moet die verbande wat tussen die feite getrek word, logies geldig wees. Derdens moet die argument so gestruktureer word dat dit retories oortuigend is.
In die praktyk gebeur dit egter dikwels dat selfs die mees effektiewe argument nie noodwendig in staat is om 'n ander te oortuig nie. Dit is hier waar verhoudings belangrik is. As jy nie 'n verhouding met iemand het nie, is dit moeilik om daardie persoon te oortuig. Mense is meer geneig om iemand te glo met wie hulle 'n verhouding het, as iemand met wie hulle nie 'n verhouding het nie. Om dié rede het bemarkers gevind dat verkope meer effektief is indien jy met iemand in sy moedertaal praat. Dit is ook waarom platforms soos Facebook en WhatsApp so invloedryk is: jy ontvang boodskappe van mense wat jou “vriende” is.
Vir sommige mense weeg argumente swaarder, en vir ander weeg verhoudings swaarder. Westerse lande heg baie waarde aan argumente. Dit word goed saamgevat in die spreuk van die filosoof René Descartes wat sê: “Ek dink, daarom is ek.” Aan die ander kant weeg verhoudings swaarder in Afrika. Die begrip Ubuntu beteken: “Ek is, want ons is.”
Lees ook:
Sinnelose sinloosheid
Wanneer ons die uitsprake van Suid-Afrikaanse politici beoordeel op grond van hulle argumente, maak dit dikwels nie sin nie.
Verskeie Suid-Afrikaanse politici het onder andere die Amerikaanse president en Elon Musk beskryf as rassiste en ondersteuners van wit oppergesag. Dit maak glad geen sin indien dit as argument beskou word nie. Renaldo Gouws se onvermoë om enige sin daarin te sien in die presidensiële woordvoerder se beskrywing van Elon Musk as 'n rassis, is 'n voorbeeld daarvan. Die doel van die uitsprake kan dus nie in die inhoud van die argument gesoek word nie.
Wanneer die uitsprake egter in terme van verhoudings beskou word, maak dit meer sin. Deur mense te beledig, verbreek jy die verhouding. Na iemand met wie jy nie 'n verhouding het nie, hoef jy nie te luister nie. Ná hierdie uitsprake hoef Suid-Afrikaanse politici geen ag meer te slaan op die kritiek van die Amerikaanse president of Elon Musk nie. Hy is nie meer deel van die politici se “ons” nie. So word die balans weer herstel. Dit is 'n politieke invulling van Ubuntu in aksie.
Die VSA het egter by verre nog die grootste ekonomie en militêre mag in die wêreld. Om verhoudings met die VSA te vernietig, het gevolge. Saam met die verhoudings word ook uitvoermarkte en finansiële steun vernietig. Vir Suid-Afrikaanse politici weeg Ubuntu so swaar dat die bevolking bereid moet wees om die gevolge te dra en dit op te offer.
Vriendelose RSA
Die vreeslose vernietiging van verhoudings met die VSA dien egter ook die doel om ander verhoudings te bou. Suid-Afrika hoop om met sy veronderstelde dapper optrede sterker bande aan te knoop met ander lande wat ook die VSA krities benader, soos sy BRICS-vennote.
Die wyse waarop Suid-Afrika verhoudings verbreek het, maak dit egter riskant vir ander lande om sterker bande met Suid-Afrika te bou. Die BRICS-genote het dalk nie die aptyt vir die finansiële implikasies verbonde aan die vernietiging van verhoudings met die VSA nie. President Xi Jinping sal waarskynlik twee keer dink voordat hy die president van die VSA as 'n rassis beskryf. Te oordeel aan die bywoning van die G20 lyk dit of die aptyt om as vriend van Suid-Afrika gesien te word, besig is om te taan. Dit was nie moontlik vir Cyril Ramaphosa om op 'n foto saam met Vladimir Poetin en Xi Jinping te verskyn en dit aan Trump te stuur om te wys wie sy maatjies is nie.
Dit lyk dus nie of die strategie om verhoudings met die VSA te vernietig, noemenswaardig baie help om verhoudings met ander lande te bou nie. As Suid-Afrika so maklik verhoudings met die VSA verbreek wanneer daar geskille oor beleid ontstaan, is daar geen waarborg dat Suid-Afrika dit nie ook met ander lande sal doen nie. Dalk is Xi Jinping ook bekommerd dat hy as 'n rassis verklaar sal word, indien daar verskille ontstaan? Alhoewel die uitsprake van Suid-Afrikaanse politici nie sin maak as argumente nie, maak dit wel sin in terme van verhoudings. Om egter te dink dat jy verhoudings met sommiges kan versterk deur ander te beledig, is dalk nie goed deurdink nie.
Diegene met wie jy hoop om vriende te word, mag jou groeiende afsondering gebruik om jou uit te buit. Dan vervang jy net 'n kritikus met 'n uitbuiter.
Nog artikels deur Bouwe van der Eems:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











