Transformatisme se Wankelende Enkelvoudige Verhaal
Wanneer 'n staatsverhaal sy morele gesag verloor.
Die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie het in 2009 gewaarsku oor “die gevaar van 'n enkelvoudige verhaal”. 'n Enkelvoudige verhaal ontstaan wanneer 'n komplekse werklikheid tot een verklaringsraamwerk vereenvoudig word met een morele lens, een geskiedenisles en een aanvaarde verduideliking. 'n Enkelvoudige verhaal is nie noodwendig 'n totale leuen nie. Dit is dikwels 'n gedeeltelike waarheid wat só allesoorheersend raak dat ander waarhede daardeur oorweldig word.
Die gevaar lê nie net daarin dat ander stories uitgesluit word nie, maar dat die enkel verhaal homself as moreel onaantasbaar verklaar. Dit word nie meer getoets, betwis en bespreek nie. Die mense wat hierdie onaantasbare verhaal bevraagteken, bevraagteken nie bloot 'n idee nie, maar word gesien as iemand wat teen “die goeie” is. Die enkel verhaal word gevolglik 'n instrument van mag wat bepaal wie mag praat, watter vrae aanvaarbaar is, en watter alternatiewe antwoorde of oplossings reeds as verdag beskou word.
Die klassieke voorbeelde van enkelvoudige verhale is dat Afrika 'n kontinent van permanente ellende is, die Weste as 'n monolitiese onderdrukker, kapitalisme as inherent boos of die staat as vanselfsprekend moreel verhewe. In elke geval is die probleem nie dat daar geen waarheid in die verhaal is nie, maar dat dit die enigste verhaal word en dat die kompleksiteite nie behoorlik erken word nie. Suid-Afrika se ervaring met transformatisme volg dieselfde pad.
Suid-Afrika se Meta-staatsverhaal
Vir byna dertig jaar was transformatisme Suid-Afrika se dominante staatsgedrewe meta-narratief. Dit was nie bloot net 'n beleidsrigting nie, maar 'n allesomvattende raamwerk waardeur die samelewing verstaan moes word. Die kernveronderstelling was dat ongelykheid geskiedkundig rasgebaseerd was, dus moes regstelling noodwendig ook rasgebaseerd wees en dan sistematies en sentraal beplan en afgedwing word.
Die regsfilosoof Koos Malan beskryf transformatisme nie bloot as hervorming nie, maar as 'n ideologiese projek wat die staat as primêre agent van morele herskepping sien. Vir transformatiste is dit nie genoeg om onreg te herstel nie, die samelewing as geheel moet getransformeer word. Soos sy ideologiese nefies in die veld van kritiese teorie, vereis transformatisme dat alle instellings, norme, magsverhoudings en selfs taal en kultuur herskep moet word en moet belyn met hierdie meta-narratief.
As enkel verhaal het transformatisme drie duidelike kernkenmerke gehad. Eerstens, die voortdurende beroep op geskiedkundige onreg as primêre regverdiging. Die verlede het nie bloot konteks gebied nie, maar dit het normatief geword. Besluite in die hede het morele gewig gekry deur geskiedkundige skuld, dikwels sonder dat daar ruimte was om te vra of die voorgestelde oplossings van transformasie werklik die beoogde uitkomste lewer.
Tweedens, sentralisering. Transformatisme vertrou nie op organiese samelewingsdinamika nie, maar op sentrale beleid, regulasie en nakoming. Plaaslike kennis, institusionele verskille en praktiese realiteite word maklik ondergeskik aan nasionale teikens en raamwerke.
Derdens, rasgebaseerde beleidsvorming as primêre heuristiek. Ras het die hoofverklaringsraamwerk geword waardeur sukses, mislukking, verteenwoordiging en geregtigheid beoordeel is, dikwels ten koste van klas, bekwaamheid, geografiese konteks of institusionele kapasiteit.
Hierdie ideologie het konkrete gestalte gekry deur SEB, regstellende aksie, sportkwotas, transformatiewe grondwetlikheid en 'n wye reeks sektorale regulasies. Die gevolge is nou alombekend en sigbaar: hoë nakomingskoste, perverse aansporings, elite-verryking en institusionele verval. Groot besighede het transformatisme aanvanklik sonder veel weerstand omhels want dit het eens vir hulle geldelik sin gemaak. SEB-strukture het toegang tot staatskontrakte gegee, regulatoriese risiko verminder en politieke welwillendheid gekoop. Die taal van transformasie het deel geword van korporatiewe selfbeskrywing, wat nie noodwendig weens oortuiging was nie, maar omdat dit maklik saam met die transformatisme-stroom gevloei het.
Die Greep Verslap
Maar transformatisme was nooit net 'n ekonomiese projek nie, dit was ook diep maatskaplik en het nie bloot deur staatsmag alleen oorleef nie.
Dit is aktief aanvaar en herverpak deur hoofstroommedia, groot korporatiewe besigheid en natuurlik die regering self. Maatskappye het hul SEB-puntetellings met trots op webtuistes en in jaarverslae vertoon, terwyl kantoor foto’s en bemarkingsmateriaal sorgvuldig saamgestel is om die regte verteenwoordigende beeld te skep (dikwels sommer opvoerig, met administratiewe of ondersteuningspersoneel prominent in die voorgrond geplaas).
Dit het verskyn in alledaagse gesprekke, dikwels onderbewustelik maar duidelik sigbaar in hoe gewone mense gepraat het. In die voorspelbare oomblik wanneer iemand eers hul posisie oor “die verlede” moet kwalifiseer voordat 'n praktiese punt gemaak word, in die versigtige stiltes wat intree sodra bevoegdheid of prestasie genoem word en in die subtiele selfsensuur. 'n Mens kon dit sien in kerklike of sinodale gesprekke waar “diversiteit” soms 'n hoër prioriteit kry as teologiese integriteit of geloofsbelydenis. In bestuursvergaderings waar demografie belangriker raak as funksionaliteit, en in sosiale gesprekke waar ras as verklaringskortpad dien vir bykans elke probleem. Noudat die greep van transformatisme begin verslap, is dit maklik om te vergeet hoe alomteenwoordig daardie morele versigtigheid was.
In die media is dit dikwels as die enigste moreel aanvaarbare posisie aangebied. Die staat, die sakesektor en hoofstroom meningsvormers het mekaar dus gesterk in die bevestiging van hierdie enkel verhaal. Alternatiewe raamwerke is as “regse praatjies”, “verdelend” of “teen-transformasie” afgemaak.
Só het transformatisme 'n seldsame status bereik as tegelyk beleid, morele raamwerk en sosiale verwagting. Deur dit te bevraagteken het jy jouself buite die aanvaarbare gesprek geplaas.
Nog leesstof:
Waarom die Wankeling?
Vir jare was daar intellektuele teenstand teen transformatisme, hoofsaaklik in akademiese randfigure en burgerlike organisasies soos AfriForum, Solidariteit en die Instituut vir Rasseverhoudings en in klein politieke partye in die opposisie. Praktiese teenstand was skaars.
Dit het verander toe dienslewering begin ineenstort. Toe transformatisme se logika nie meer slegs groei vertraag nie, maar funksionaliteit onvermydelik ondermyn. Toe beurtkrag, waterkrisisse, misdaad en infrastruktuurverval nie meer teoretiese probleme was nie, maar wydverspreide geleefde realiteite wat nie meer net die armste Suid-Afrikaners geraak het nie, maar die middelklas. Vir jare het arm Suid-Afrikaners staatsverval beleef, maar die oorsaak van staatsverval is eers ernstig in die hoofstroom bespreek toe dit nie net meer die middelklas se huishulpe en tuinmanne affekteer nie.
Die praktiese reaksie op hierdie staatsverval, staatsbestandheid deur privaat oplossings, het verdere ruimte geskep vir nuwe intellektuele vrymoedigheid. Wanneer mense hul eie krag opwek, hul eie veiligheid reël en hul eie instellings bou, raak dit moeiliker om die staat se ideologiese raamwerk as onaantasbaar voor te hou. Skielik begin hoofstroommedia ook vrae vra. Vandag erken selfs invloedryke figure in die sakewêreld openlik dat SEB misluk het. Verder het die ANC se steunverlies en die 2024-verkiesing hierdie proses versnel en waarskynlik nou die eindelike doodskoot vir transformatisme toegedien. Die Regering van Nasionale Eenheid het dit moontlik gemaak dat partye wat nie ideologies aan transformatisme gekleef is nie, nou nasionaal regeer. En waar hulle regeer, het sentraliserende transformasiebeleide begin terugdraai, stilletjies en openlik.
Transformatisme as enkelverhaal word dus nie deur revolusie nie, maar deur stadige slytasie afgetakel. Dit verloor nie in een dramatiese oomblik sy greep nie. Dit word al hoe minder in staat om die werklikheid te verklaar, te bestuur of te regverdig. Dit is juis hierdie verlies aan verklaringskrag eerder as enige ideologiese nederlaag wat die enkel verhaal laat verbrokkel. Transformatisme word nou tegelyk uitgedaag van onder af, deur gemeenskappe wat leer funksioneer sonder die staat, en van bo af, deur 'n verslapte politieke monopolie.
Post-transformatisme
Dit sou egter 'n fout wees om te dink dat transformatisme eenvoudig gaan verdwyn. Ideologieë wat lank institusionele mag, morele gesag en materiële voordeel gedra het, sterf selde stil of vinnig.
Dit behoort niemand te verras indien transformatisme vir 'n tyd voortleef in elite akademiese kringe, beleidsdokumente en politieke praatjies nie. Die gevestigde orde, in staatsburokrasieë, sekere universiteite en gedeeltes van die kommentariaat, het sterk aansporings om dit so lank as moontlik aan die lewe te hou. Vir baie is transformatisme nie net 'n ideologiese oortuiging nie, maar 'n bron van status, professionele legitimiteit en inkomste. Daar sal ook geen tekort wees aan stemme wat eenvoudig ontken dat transformatisme aan sy einde kom nie. Soos dikwels met wankelende ideologieë, sal elke teken van verval herverpak word as bewys dat die projek bloot “onvoltooid” is. Mislukking word nie as falsifikasie erken nie, maar as rede vir meer nougesette toespitsing. In dié sin bly transformatisme getrou aan sy eie logika, tot die einde.
Nog meer waarskynlik is dat transformatisme nie verdwyn nie, maar herverpak word met 'n nuwe woordeskat, 'n nuwe klem en 'n nuwe vyand, maar dieselfde onderliggende aannames oor mag, skuld en herskepping. Soos met wokeness in die Weste, wat nie werklik verdwyn het nie, maar besig is om te skuif van ras- en geslagsraamwerke na ouer, meer klassieke Marxistiese klassetryd narratiewe, sal transformatisme waarskynlik ook aanpas eerder as om te kapituleer.
Nog leesstof:
Dit is egter belangrik om nugter te wees oor wat nie waarskynlik gaan volg nie. Die einde van transformatisme beteken nie dat Suid-Afrika skielik 'n libertariese samelewing gaan word waar die staat onttrek, herverdeling verdwyn en gemeenskappe geheel en al aan hul eie lot oorgelaat word nie. In 'n arm, ongelyke samelewing met diep geskiedkundige breuke sal daar (of 'n mens daarvan hou of nie) steeds 'n beduidende mate van maatskaplike ondersteuning, herverdeling en staatsbetrokkenheid wees. Die vraag is dus nie óf daar ingryping sal wees nie, maar hoe, waar en volgens watter beginsels.
Net so is dit onwaarskynlik dat Suid-Afrika 'n dramatiese post-progressiewe swaai na regs sal beleef soos wat tans in dele van Europa, die VSA en selfs Latyns-Amerika sigbaar is. Suid-Afrika se politieke kultuur, demografie en geskiedenis temper die praktiese uitvoering van uiterstes. Soos Jan Smuts dit raak opgesom het, in Suid-Afrika gebeur die heel slegste en die heel beste selde. Ons neig eerder na halfweë, kompromieë en stadige skuiwe as na ideologiese rukbewegings. Die ondergang van transformatisme sal dus waarskynlik nie vervang word deur 'n nuwe allesomvattende ideologie nie, maar deur iets meer gefragmenteerd dog meer realisties.
Stoot die Morele Hek oop
Suid-Afrika se post-transformatisme-era sal moet leer uit hierdie ervaring. Geen samelewing kan volhoubaar gebou word op één morele raamwerk wat nie bevraagteken mag word nie. Suid-Afrika kort 'n werklike erkenning van sy diversiteit wat ruimte laat vir kompleksiteit, verskille en verantwoordbaarheid.
Ten slotte is die probleem inderwaarheid nie enkelvoudige verhale as sodanig nie. Samelewings funksioneer nie in 'n vakuum van eindelose kompleksiteit nie. Hulle het gedeelde stories nodig wat sin gee aan opoffering, samewerking en vooruitgang. Opbouende enkelvoudige verhale kan buitengewone krag hê wanneer hulle realisties, selfbeperkend en oop vir hersiening bly. Die Verenigde State se post-oorlogse enkelvoudige verhaal, geskoei op sosiale mobiliteit, institusionele vertroue en geleidelike uitbreiding van vryheid, het vir dekades 'n raamwerk gebied waarbinne welvaart, innovasie en sosiale samehang moontlik was.
Die probleem ontstaan wanneer 'n enkelvoudige verhaal nie meer as 'n hulpmiddel dien nie, maar as 'n morele hek. Wanneer dit nie meer beskryf nie, maar voorskryf. En veral wanneer dit nie verantwoording vir uitkomste doen nie, omdat dit altyd kan terugval op goeie bedoelings of geskiedkundige skuld.
'n Gesonde samelewing vereis daarom nie die afskaffing van gedeelde verhale nie, maar hul voortdurende toetsing aan die werklikheid, pluraliteit en prestasie. 'n Enkel verhaal kan goed wees, mits dit ruimte laat vir teenverhale, mislukking erken as leergeleentheid, en nooit so sentraal word dat dit die lewe self begin vervang nie. Suid-Afrika se uitdaging ná transformatisme is dus nie om sonder 'n verhaal te leef nie, maar om 'n opbouende verhaal te begin skryf.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Uitstekende artikel.