Dinkweer Donderdag | Wat as Trump vir Ramaphosa ontvoer?
Humor, mag en die illusie dat een man alles kan regmaak.
Die groot internasionale nuus van die nuwe jaar (ten minste vir nou) is die inhegtenisneming van die Venezolaanse president, Nicolás Maduro, deur Amerikaanse magte en wetstoepassers. Verlede week het talle artikels op OntLaer verskyn wat die Trump-administrasie se regstreekse optrede ontleed het.
Beide Chris Hattingh en Eugene Brink het elk vanuit 'n effens ander invalshoek, dieselfde ongemaklike werklikheid blootgelê, synde dat internasionale reg, multilateralisme en morele verontwaardiging uiteindelik weinig beteken sonder afdwingbare mag en dat groot moondhede nog altyd eerder volgens dié reëls speel, of ons daarvan hou of nie.
Soos verwag, het talle ander publikasies hierdie besonderse wêreldgebeurtenis bespreek, en soos dit maar dikwels die geval is wanneer dit by Donald Trump kom, is daar 'n wye verskeidenheid gevolgtrekkings uit presies dieselfde stel feite gemaak.
'n Mens kan kwalik anders as om te glimlag vir hoe vinnig politieke groeperings byna outomaties op hul ideologiese perdjies spring en hulself veilig in bekende laers gaan ingrawe.
Die plaaslike anti-Trump-brigade reageer feitlik refleksmatig: Enige optrede deur Trump word veroordeel, selfs waar dit presies dié soort magspolitiek, grenshandhawing of anti-outoritêre ingryping is wat hulle elders steun wanneer dit deur 'n “regte” regime gedoen word. Beginsels soos internasionale reg, soewereiniteit of menseregte word lekker elasties toegepas, byna heilig wanneer dit 'n vyand tref, maar opsioneel wanneer dit ideologies ongerieflik raak. James Meacham argumenteer juis verlede week in OntLaer dat sulke morele aanklagte selde oor oorreding of waarheid gaan, en veel meer oor stamhandhawing en ideologiese suiwerheid.
En dan verdedig die pro-Trump-ondersteuners op eie bodem skielik buitelandse ingrype, staatsmagsvergrype en selfs die opskorting van regsprosesse—presies dié dinge wat hulle luidkeels hier oorkant die Atlantiese oseaan veroordeel het onder vorige Amerikaanse administrasies. Beginsels soos nasionale soewereiniteit, beperkte regering en wantroue teenoor die veiligheidsstaat word sonder veel skroom prysgegee, solank dit deur Trump self uitgevoer word. Frederik van Dyk het iets in hierdie lyn aangeraak in sy boekbespreking oor die Laat Romeinse keiser Julianus, synde dat dit juis mooi begrippe is – vryheid, geregtigheid, selfs verlossing – wat die maklikste in magsinstrumente ontaard wanneer beginselvaste skeptisisme plek maak vir lojaliteit aan 'n figuur of saak.
Hierdie komplekse magsvraagstukke word vereenvoudig tot morele merkers in 'n kultuuroorlog wat niemand meer in 2026 probeer wen nie. Te dikwels is die doel van hierdie gesprekke en ontleding nie om die wêreld te verstaan nie, maar om ander ideologies te identifiseer. Maar dit daar gelaat.
Hoekom die belangstelling?
Wat my egter steeds verstom, is die hoeveelheid disproporsionele media-aandag wat Trump in Suid-Afrika geniet en trouens wêreldwyd. Ek verstaan natuurlik dat Suid-Afrika 'n unieke verhouding met Trump het. Sy uitlatings oor ons land, president Ramaphosa se nou berugte besoek (of befaamde, afhangende wie jy vra) aan die Withuis, en die toenemende soeke na sondebokke op die verkeerde plekke vir die VSA se meer openlike vyandigheid teenoor Suid-Afrika.
Die Verenigde State is immers steeds dié wêreldmoondheid, en onder Trump se bewind word dit al hoe meer onbeskaamd só uitgeoefen. En tog bly dit opvallend dat Trump en die VSA hier 'n vlak van aandag geniet wat nie altyd in verhouding staan tot die werklike invloed wat sy presidentskap op die daaglikse lewens van gewone Suid-Afrikaners het nie. Dit gesê: Trump is 'n uitsonderlike leier – uitsonderlik in die mees letterlike sin van die woord. Daar was nog geen Amerikaanse president soos hy nie. Die ontvoering van Maduro bevestig dit. Die VSA het wel al in die verlede soortgelyke ingrypings probeer, soms met goeie uitkomste en soms rampspoedig.
Maar die wyse waarop Maduro ontvoer is, en veral die toon en openheid waarmee daaroor gepraat word, is uniek.
Ons humorsin
Gewone Suid-Afrikaners se instinktiewe reaksie op sulke komplekse wêreldgebeure is dikwels humor. Kort ná die gebeure aan die suide van die Karibiese See het sosiale media se grappies begin sirkuleer. Van die skerpstes het foto’s ingesluit van Maduro aan boord van die USS Iwo Jima, met 'n Dirk van der Westhuizen-CD in die hand en die opskrif: “Hulle het hom goed gemartel.”
Die een wat waarskynlik die meeste gedeel is, het egter só gelees:
“I’m devastated by the illegal capture of Maduro, an elected head of state. I live in constant fear that our beloved leader who lives at Bryntirion Estate, Pretoria, South Africa, coordinates 25.7377612°S 28.2265393°E, will share the same fate. He’s often home early evenings.”
Mens lag natuurlik lekker. Die plasing is ligsinnig bedoel en beslis nie 'n ernstige politieke ontleding nie. Maar tog het dit by my die gedagte laat opkom: Wat sou gebeur as ons eie verkose president eendag sommer net verdwyn? Sou dit ons land se probleme net so oplos, soos die grappie dalk impliseer?
Die idee dat een persoon – tans Ramaphosa, voor hom Zuma, en voor hom Mbeki – verantwoordelik is vir al Suid-Afrika se kontemporêre kwale, is uiters anosognosies.1 Dit spreek van die breë bevolking se diepgewortelde geloof in 'n sogenaamde sterk staat wat veronderstel is om oplossings te verskaf. Baie mense staan bloot en wag dat “die staat” dinge moet regmaak.
Maar selfs al sou Ramaphosa môre verdwyn, hetsy deur ontvoering, of omdat hy besluit het om sy BEE-rykdom elders te gaan spandeer, sal dit nie Suid-Afrika se probleme soos 'n towerstaf laat verdwyn nie. Dieselfde geld waarskynlik vir Venezuela, of dit nou deur Maduro of Marco Rubio regeer word. Terloops, Maduro se verwydering kán moontlik baie positief vir Venezuela wees, maar dit is eenvoudig te vroeg om enige konkrete voorspellings te maak. Die stof het nog skaars in Caracas gaan lê.
Suid-Afrika se krisis is nie bloot die gevolg van individuele swak leierskap nie. Suid-Afrikaners het demokraties oor dekades heen vir hierdie ekonomiese en maatskaplike ellende gestem. Die werklike probleem lê by die politieke ideologie van die ANC, en meer spesifiek die idees wat oor dertig jaar lank feitlik klakkeloos toegepas en bevorder is, met onvoldoende weerstand van die media, die privaatsektor en die breër burgerlike samelewing. Dieselfde ideologiese raamwerk, in verskillende skakerings, word ook deur partye soos die EFF en MK onderskryf.
Of 'n mens dit nou transformatisme, die nasionaal-demokratiese revolusie of bloot gewone ou Suid-Afrikaanse sosialisme noem, dit is hierdie ideologie wat die land help dryf het na rommelstatus-graderings, wêreldleierskap in werkloosheid, endemiese misdaad en dienslewering wat in duie stort.
Dit is ook 'n geromantiseerde ideologie wat lank daarin geslaag het om mislukking te verdoesel, juis omdat dit die “regte” progressiewe taal praat – taal wat mense laat goed voel, al verander dit min aan die werklikheid. Soos ek verlede week aangevoer het oor die wankelende enkel verhaal van transformatisme, het hierdie ideologie juis morele onaantasbaarheid verwerf deur homself as die enigste aanvaarbare verklaringsraamwerk voor te hou, en elke ernstige en bona fide alternatief as verdag, onmenslik of “teen-transformasie” af te maak.
Hierdie morele monopolie het die illusie van deernis geskep sonder enige gevolge. Dit is 'n soort giftige deernis (toxic compassion soos Chris Williamson dit noem) wat harde vrae en aanspreeklikheid met morele selftevredenheid vervang, en die uiteinde is altyd dieselfde: Niemand is beter daaraan toe nie. Sou ons Ramaphosa dus eendag in die Karibiese Eilande sien, hetsy omdat hy sy miljoene daar op skemerkelkies spandeer, of omdat hy op pad Guantánamo Baai toe is, gaan sy afwesigheid of ontheffing nie skielik Suid-Afrika se lot verander nie. Ons land se probleme is gelukkig of ongelukkig groter as een persoon.
Uiteindelik is dit makliker om óf 'n Amerikaanse president te demoniseer óf te verafgod as om eerlik na ons eie idees en keuses te kyk. Solank Suid-Afrikaners hul frustrasie oor plaaslike mislukking na veraf figure projekteer, bly die werklike vraag, synde watter idees ons land gevorm het en steeds vorm, gerieflik onbeantwoord.
Vorige DinkWeer Donderdae:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Anosognosie is 'n neurologiese toestand waar 'n persoon nie bewus is van hul eie siekte, gebrek of gestremdheid nie, ten spyte van objektiewe bewyse daarvan.















