Suid-Afrika se toekoms is plaaslik
Stede kan vooruitgang konsentreer of verval versnel.
Ek het in 2025 twee boeke oor stede gelees. Benjamin Barber se If Mayors Ruled the World is 'n pleidooi vir die stad as politieke antwoord op 'n wêreld waar nasionale state al hoe meer vasval in ideologiese oorlogvoering, party-politieke verlamming en institusionele verval. Chelsea Follett se Centres of Progress is weer 'n geskiedkundige reis deur die groot stede van menslike vooruitgang. Plekke waar welvaart, kennis en tegnologiese spronge nie net lukraak gebeur het nie, maar gekonsentreer was.
Beide boeke voer aan dat vooruitgang van lande dikwels deur stede plaasvind, omdat stede konkrete ruimtes skep waar mense in digtheid saamleef, saamwerk, bots, meeding, handel dryf en mekaar se idees slyp.
Suid-Afrika wys egter dat die ander kant van daardie muntstuk ook waar is. Dis in ons stedelike gebiede waar staatsmislukking eerste sigbaar geraak het, met waterkrane wat opdroog, paaie wat verbrokkel, gemeenskappe wat onveilig is en administrasies wat weens politieke inmenging ineenstort. Plaaslike regering is dus nie net die ruimte waar vooruitgang kan konsentreer nie, maar ook waar verval die vinnigste en tasbaars wortelskiet.
Teen die agtergrond is 2026 se plaaslike regeringsverkiesings dus van groot belang. Suid-Afrika se politieke toekoms gaan nie hoofsaaklik op nasionale vlak bepaal word nie, maar in munisipaliteite.
Hou die plaaslike dop
Die nasionale regering geniet baie van die politieke aandag omdat dit aan die stuur is van onder andere die nasionale begroting, die polisiëringstelsel en howe, buitelandse skakeling en die simboliese taal van “die land”. Maar soos wat 'n jaar en 'n half van die regering van nasionale eenheid vir ons wys, vind verandering op hierdie vlak maar stadig plaas. Die plek waar ons die vinnigste verandering sal waarneem is op plaaslike vlak. Aan die een kant omdat die kontras van klein verbetering die grootste sal wees maar ook omdat Barber en Follett albei reg is oor die aard van stedelike bestuur. Stede is waar politiek noodwendig prakties word, waar ideologie vinnig teen werklikheid getoets word, en waar bestuursvermoë — of die gebrek daaraan — nie weggeredeneer kan word nie.
Barber se benadering tot stedelike bestuur is opvallend post-ideologies. Hy stel min belang in die klassieke links–regs beskouing van politiek. In stede word beleid nie beoordeel aan die hand van simboliese deugsaamheid of ideologiese suiwerheid nie, maar aan die eenvoudige maatstaf van of die gegewe stedelike opset werk. Dienslewering, infrastruktuur en veiligheid dwing plaaslike regering in wat 'n mens 'n post-progressiewe of post-transformasionele bestuursmodus kan noem.
Barber wys ook daarop dat stedelike regering 'n vorm van demokrasie moontlik maak wat minder vatbaar is vir opvoerigheid. Burgemeesters en munisipale rade is nader aan burgers, meer regstreeks aanspreeklik, en het minder ruimte om agter abstrakte begrippe of groot narratiewe weg te kruip. In dié sin bied stedelike regering 'n moontlike teenmiddel vir 'n demokrasie wat elders toenemend as skouspel funksioneer eerder as as 'n meganisme vir werklike dienslewering.
Koalisies in Suid-Afrika
As 2024 die formele begin van 'n nuwe nasionale era was — die einde van 'n drie-dekade lange meerderheidsdominansie en die intrede van koalisiepolitiek — dan is 2026 bepalend oor hoe vinnig die land hierdie era van koalisiepolitiek volwasse kan beoefen.
Maar die begin van koalisiepolitiek in Suid-Afrika was egter nie in 2024 nie, toe die ANC op nasionale vlak en in verskeie provinsies vir die eerste keer onder 50% van die stemme gewerf het. Die werklike beginpunt van koalisiepolitiek het op plaaslike regeringsvlak begin. Alhoewel daar in 1994 ook 'n regering van nasionale eenheid was, was dit nie die soort koalisie wat 'n samelewing deur kiesersgedwonge fragmentasie in 'n parlement opgedwing het nie. Dit was 'n simboliese en onderhandelingsgedrewe oorgangsmaatreël. Kaapstad was in 2006 die eerste groot regeringsruimte waar die ANC se meerderheid gewankel het en 'n ideologiese teenstander kon regeer. Dit was nie die eerste koalisie ooit in Suid-Afrika nie (Suid-Afrika het eintlik 'n interessante geskiedenis met koalisies lank voor 1994), maar dit was 'n vroeë, sigbare teken dat die meerderheidsregerings en die ANC se greep nie permanent sou wees nie. Later teen 2016 het daar in verskeie metros geen party 'n meerderheid behaal nie.
2016 was 'n grondverskuiwing in die land se demokratiese kultuur. Van 2016 af is Suid-Afrika nie meer 'n land waar politieke uitkomste deur een party se interne dinamika bepaal word nie, maar ook deur die spanning tussen partye onderling, en tussen politieke partye en daar waar hulle regeer.
Dit is maklik om na 2016 na Johannesburg, Pretoria en Nelson Mandelabaai te kyk en met rede te glo dat koalisies nie werk nie. Veral in 'n diverse land soos Suid-Afrika. Maar dié gevolgtrekking is oppervlakkig. Dit verwar die koalisiegereedskap met die mense wat dit hanteer. Koalisiepolitiek is nie 'n morele eienskap nie maar 'n regeringsvorm wat óf werk óf nie werk nie, afhangend van institusionele ontwerp, politieke kultuur, en die mate waarin partye saamwerk of nie. Die mislukkings van die regerings wat tot stand gekom het na 2016 en 2021 en hul versuim om die verval in plekke soos Johannesburg te keer was weens swak koalisie-ooreenkomste, wisselende lojaliteite en die gebrek aan konsekwente beginsels, maar hoofsaaklik omdat ons nog moes uitfigure hoe om koalisiepolitiek opbouend te doen.
Beide daardie verkiesings was noodsaaklik vir die land se politieke volwassewording en het ongetwyfeld die uitkoms van die 2024 nasionale verkiesing versnel. Dit het kiesers begin leer om nie net op grond van identiteit of bevrydingstaal te stem nie, maar op bestuursbekwaamheid of 'n alternatief tot die ANC se hegenomie. Met ander woorde, al was 2016 op sigself nie 'n suksesverhaal nie, was dit belangrike voorbereiding. Die koalisiekwale in die groot metros na beide 2016 en 2021 oorskadu ook dikwels die meer genuanseerde werklikheid op plaaslike vlak. Dit skep die indruk dat koalisiepolitiek noodwendig tot mislukking lei, terwyl daar terselfdertyd verskeie minder sigbare, maar betekenisvolle suksesse was juis buite die politieke kollig van Johannesburg en Pretoria.
Na die 2016-verkiesing is die Kouga Munisipaliteit deur die DA bestuur en het dit oor 'n relatief kort tydperk 'n merkbare administratiewe ommeswaai beleef. In 2023/24 het Kouga sy eerste skoon oudit ontvang en is dit in 2025 as die beste munisipaliteit in die Oos-Kaap aangewys (nie dat daar juis strawwe kompetisie in die Oos-Kaap is nie, maar dit bly steeds 'n belowende teken). Dieselfde geld vir uMngeni Munisipaliteit na die 2021-verkiesing, waar die nuwe regering tot verbeterde finansiële bestuur en institusionele herstel gelei het. Ten spyte van politieke spanning het uMngeni daarin geslaag om dienslewering te stabiliseer en bestuursprosesse te professionaliseer. Ook in Matzikama (Vredendal en omstreke) het die 2021-verkiesing 'n keerpunt ingelui. Die vorming van 'n DA- en VF Plus-geleide regering het uiteindelik gelei tot die munisipaliteit se eerste skoon oudit, 'n prestasie wat jare tevore ondenkbaar sou gewees het.
Hierdie voorbeelde onderstreep dat koalisiepolitiek is nie inherent disfunksioneel nie. Waar dit misluk, is dit dikwels weens diep verval en politieke onvolwassenheid. Waar dit slaag, is dit omdat daar 'n minimum konsensus oor goeie bestuur, administratiewe integriteit en voorspelbaarheid bestaan. Suid-Afrika se ervaring sedert 2016 wys dus nie dat koalisies nie kan werk nie, maar dat hulle — soos enige regeringsvorm — aanspreeklikheid en institusionele volwassenheid vereis.
Waarom stede anders regeer as state
Dit bring ons terug na Barber. Sy argument is dat nasionale politiek dikwels ideologies en simbolies 'n groot gesloer word, terwyl stedelike politiek noodsaaklik, konkreet en onverbiddelik is.
'n Premier of president en politieke elite kan soms vir jare oor abstrakte “transformasie” of “nasionale eenheid” praat, sonder dat 'n burger se daaglikse lewe merkbaar verbeter. Maar 'n burgemeester (en die administrasie onder hom of haar) kan nie daardie luukse bekostig nie. As die water nie loop nie, help geen retoriek nie. As die strate donker en gevaarlik is, help geen geskiedkundige selfregverdiging nie. Plaaslike regering straf, ten minste in teorie, oppervlakkigheid vinnig. Barber se punt is ook nie dat burgemeesters per toeval beter regeerders is nie. Dis dat die stad as regeringsruimte 'n ander logika afdwing: pragmatisme, probleemoplossing, en 'n soort post-ideologiese bestuur noodsaak. Stede moet funksioneer. Hulle is infrastruktuur-intensief, logisties kompleks, en openbare dienste-gedrewe. En daarom kan stede, ironies genoeg, soms die laaste plek wees waar demokrasie nog 'n tasbare sosiale kontrak afdwing.
Maar daar is ook 'n onderliggende spanning met Barber se standpunt wat vir Suid-Afrika belangrik is: stede sit dikwels met die gebakte pere, maar het nie altyd die formele mag om die probleme op te los nie. Peilings dui daarop dat Suid-Afrikaners glo dat die regering se top prioriteite, in volgorde van belangrikheid, werkloosheid, onwettige immigrasie, misdaad/veiligheid, korrupsie, mishandeling van vrouens en kinders, water en sanitasie, elektrisiteit, onderwys, behuising en armoede is. Uit die top tien het plaaslike regering slegs regstreekse bevoegdheid oor twee (water, sanitasie en korrupsie). Die res is grootliks nasionale bevoegdhede. Maar in dieselfde asem, in munisipaliteite waar dit beter gaan as in die res van die land, is dit nie 'n verskoning dat hulle nie regstreeks hierdie kwessies kan aanspreek nie. Munisipaliteite, soos Barber ook in sy boek uitwys, kan die omstandighede skep, te midde van nasionale verval of agteruitgang, wat lei tot werkskepping. Ons sien dit byvoorbeeld in Kaapstad, waar die metro se werkloosheidsyfer 17% laer is as die nasionale gemiddeld.
Dieselfde geld vir al hierdie kwessies. Al is dit nie plaaslike regering se regstreekse verantwoordelikhede nie, tree bekwame munisipaliteite in waar die nasionale regering faal, hetsy dit is deur hul eie wetstoepassingsvermoë die vergroot, die beleidsraamwerk te skep sodat meer bekostigbare behuising deur die privaatsektor geskep word of selfs klinieke het om gesondheidsgapings te vul. Barber argumenteer immers dat burgemeesters pragmatiese probleemoplossers is of hulle daarvan hou of nie.
Barber wys waarom stedelike regering noodsaaklik is maar Follett se boek wys hoe stedelike sentrums histories die draers van vooruitgang word. Plekke soos Athene, Bagdad, Venesië, Amsterdam, Londen, Hong Kong en ander illustreer 'n patroon wat oor die eeue herhaal. Vooruitgang konsentreer waar mense, idees, handel en instellings saamvloei. Dit is nie net digtheid nie, maar die oopheid van idees wat hiertoe lei. Stede wat oop is vir buitestaanders, vir nuwe idees, vir kommersiële eksperimente, vir talent, bou momentum. Stede wat sluit, verstok, ideologiseer en hulself beskerm teen mededinging, verloor momentum.
In Suid-Afrika beteken dit die gesprek oor plaaslike regering moet nie net oor politiek as magspel gaan nie, maar oor stede as “sentrums” van kapasiteit en vryheid. Die vraag vir 2026 is uiteindelik wyer as: wie gaan die raad beheer? Watter munisipaliteite gaan 'n kultuur van administratiewe integriteit, voorspelbaarheid, ekonomiese oopheid en basiese funksionaliteit kan bou en watter gaan verder insak in 'n spiraal van patronaatskap, wanbestuur en verval?
Follett waarsku dat sukses broos is . Maar sy wys ook uit dat vooruitgang is nie 'n groot raaisel nie. Dit is 'n bekende, herhaalbare patroon van oop instellings, voorspelbare reëls, en 'n omgewing wat talent lok eerder as wegjaag.
Die ontnugterende, maar ook hoopvolle gevolgtrekking uit hierdie twee boeke is dat Suid-Afrika se toekoms gaan waarskynlik nie deur een groot nasionale ommekeer gered word nie. Dit gaan deur die minder dramatiese lang, stadige, moeisame bou van funksionele sentrums wees, straat vir straat, buurt vir buurt, dorp vir dorp.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










