Israelse premier Benjamin Netanyahu het dekades lank die Israelse politiek oorheers en het skandale, verkiesings, oorloë en internasionale veroordeling oorleef. Maar soos Israel toenemende wêreldwye afsondering en druk van verregse elemente ervaar, gaan dit nou nie meer oor óf sy politieke mag sal taan nie, maar wanneer, en hoe diep.
Israel het nog nooit so geïsoleerd op die wêreldtoneel gestaan nie. Die dood van derduisende Palestyne en die gru-beelde van hongersnood in Gasa het Israel se internasionale beeld baie skade berokken. Israel se beeld het verskuif van 'n beleërde demokrasie na dié van 'n muishondstaat. Vir baie mense het Netanyahu self die simbool van daardie muishondstaat geword, die gesig van Israel se uitdagende houding én sy morele verval.
Tensy Netanyahu se regering dit regkry om buitelandse joernaliste permanent uit Gasa te hou, sal die aanhoudende stroombeelde en getuienisse uit die gebied daardie afsondering net verdiep. Die skade aan Israel se reputasie kan blywend wees, veral noudat sommige van sy naaste bondgenote ongemaklik raak met Netanyahu se retoriek en optrede. In September het Netanyahu self erken dat Israel se afsondering dalk permanent kan wees. Hy het 'n visie vir Israel geskets as 'n “Super Sparta”: 'n Beleërde, gemilitariseerde nasie wat afgesny is van die wêreld maar selfstandig kan voortbestaan. Hierdie visie het Israel se sakelui laat sidder. Die Tel Aviv-aandelebeurs het kort daarna in duie gestort, die waarde van die sjekel het skerp geval, en die Israel Business Forum, wat 200 van die land se grootste maatskappye verteenwoordig, het eenvoudig verklaar dat hulle nie Israel as Sparta beskou of wil beskou nie.
Krake in die koalisie en die politieke rolmaal
Binne Israel hang Netanyahu se oorlewing af van 'n al broser koalisie wat aanmekaar gehou word deur verregse en ultra-Ortodokse faksies. Sy afhanklikheid van figure soos die verregse minister van finansies, Bezalel Smotrich, en die minister van nasionale veiligheid, Itamar Ben-Gvir, beide wat sterk gekant is teen die huidige wapenstilstand in Gasa, hou die regering nog net-net aan die gang.
Om 'n oorlopery te voorkom, probeer Netanyahu nou die ultra-Ortodokse partye paai deur wetgewing voor te stel wat yeshiva-studente van militêre diens vrystel, 'n hoogs verdelende kwessie in Israel. Hierdie stap is bedoel om daardie partye terug in sy kamp te bring, sodat sy koalisie sal oorleef selfs al verloor hy hul steun. In Israel is yeshiva-studente jong (en soms ouer) mans wat voltyds in godsdienstige skole, die yeshivot (enkelvoud: yeshiva) studeer. Hulle fokus op Torah- en Talmud-studie eerder as op sekulêre onderwys of militêre diens. Tog raak hierdie magsbalans elke week net meer wankelrig. Die regse blok wat Netanyahu tydens die oorlog aan bewind gehou het, kan uiteindelik dié wees wat hom uit die kussings lig.
Buite Israel is die bedreiging nie net polities nie, maar ook juridies. Die Internasionale Strafhof het lasbriewe vir die arrestasie van Netanyahu en sy voormalige minister van verdediging Yoav Gallant uitgereik, op aanklagte van oorlogsmisdade in Gasa saam met dié van die ontslape Hamas-bevelvoerder, Mohammed Deif. Intussen hou die verrigtinge in die Internasionale Geregshof aan oor aanklagte van volksmoord teen Israel. Al is uitsprake in albei sake waarskynlik nog jare weg, kan 'n skuldigbevinding beteken dat Netanyahu en dus Israel ook as misdadige akteurs onder die internasionale reg beskou word.
As die Strafhof hom skuldig bevind, kan Netanyahu tot 30 jaar tronkstraf kry. Die Geregshof se uitspraak is nie juridies afdwingbaar nie, maar dra groot diplomatieke gewig en kan na die VN se Veiligheidsraad verwys word, waar die VSA waarskynlik onder druk sal wees om sy bondgenoot te verdedig óf in die steek te laat.
Die Trump-vraagstuk en uitdagings van regs
Netanyahu se politieke toekoms mag ook van een man afhang: Donald Trump. Die Amerikaanse president bly Israel se belangrikste borg en ondersteuner. Die VSA voorsien miljarde se militêre hulp en beskerm Israel diplomaties. Tog lyk dit of daardie steun nou voorwaardelik geword het.
Trump se verhouding met Netanyahu was nog altyd vol ego en wantroue. Hy het glo vroeër vanjaar kontak verbreek nadat hy Netanyahu daarvan beskuldig het dat hy hom manipuleer. Trump was glo woedend toe Israel se lugaanval in Doha Hamas-onderhandelaars gedood en sy wapenstilstandplan ondermyn het. Ten spyte van Netanyahu se pogings om homself as Trump se onontbeerlike bondgenoot te bewys, lyk dit of die Amerikaanse president se geduld besig is om op te raak. Trump, wat die wapenstilstand as “3 000 jaar in wording” beskryf het, het gewaarsku dat hy nie Israel sal toelaat om na Gasa terug te keer totdat hy die woord gee nie. Vir 'n man wat gewoond is aan eensydige optrede, staar Netanyahu nou 'n Amerikaanse leier in die gesig wat bereid is om die leiband in te trek.
Binne Israel word die afrekening oor die Hamas-aanval van 7 Oktober 2023 al hoe meer intens. Afsonderlike militêre en intelligensie-ondersoeke het ernstige nalatigheid in die voorbereiding en Israel se reaksie blootgelê, en hul hoofde het in skande bedank. Netanyahu het egter geweier om 'n ondersoek na sy eie regering se rol toe te laat en dit as “polities gemotiveerd” bestempel. Maar Israel se Hooggeregshof het nou beslis dat daar “geen geldige rede” vir verdere uitstel is nie en het die regering 30 dae gegee om te reageer. Die uitslag kan sy geloofwaardigheid verder ondermyn en sy teenstanders versterk.
Terwyl hy wêreldwye verontwaardiging en binnelandse ondersoek trotseer, staan Netanyahu steeds tereg op korrupsieaanklagte wat te make het met omkopery, bedrog en vertrouensbreuk. Ten spyte van talle uitstellings het die verrigtinge dwarsdeur die oorlog voortgegaan. Trump self het onlangs in Israel se parlement verwys na hierdie sake en president Isaac Herzog aangemoedig om Netanyahu te vergewe vir wat hy spottenderwys “sigare en sjampanje” genoem het. Die ironie het nie die waarnemers ontsnap nie. Die man wat Israel deur een van sy donkerste tye lei, veg steeds om uit die tronk te bly.
As hy skuldig bevind word, kan Netanyahu plaaslik tot tien jaar tronkstraf kry. Dit veronderstel 'n verstommende val vir 'n leier wat homself dekades lank as onontbeerlik beskou het.
Die einde van die Netanyahu-era?
Vir dekades was Netanyahu 'n politieke oorlewingskunstenaar wat berekend, meedoënloos en onbuigbaar was. Maar die mure wat nou op hom inbeweeg, is anders as enige wat hy al in die verlede trotseer het. Internasionale afsondering, die kloue van die gereg, koalisie-onstabiliteit, en 'n ongeduldige VSA bedreig hom.
Of hy nou uiteindelik uit sy amp verwyder gaan word, aangekla of vergewe word, staan een waarheid vas: Israel se identiteit op die wêreldverhoog, eens so verweef met Netanyahu se beeld, is besig om herskryf te word — moontlik sonder hom as die hoofrolspeler daarin.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










