Dis 'n bietjie van 'n grap onder expats in Nederland dat dokters Panados voorskryf vir alles van 'n ligte hoofpyn tot 'n gebreekte nek. Suid-Afrikaanse vriende smokkel selfs pakkies pille saam uit Suid-Afrika – hoër-kaliber medisyne vir 'n noodgeval: Cataflams, Gen-Paynes, MyProdols, selfs noodkursussies antibiotika. My eie invoere oor die jare sluit kalmeerpille in (“Dit versteur jou slaappatrone,” volgens die Nederlandse dokter wat my wou laat stop). Dan lê ek lekker wakker van die angs in plaas van die medisyne. Nee, dankie.
Pille is egter nie almal dieselfde nie. Sommige pille verander iets aan jou fisiologie – blok die sensors wat jou pyn laat voel of maak jou brein kalm, byvoorbeeld – terwyl ander pille kieme doodmaak. Laasgenoemde noem ons antibiotika: “anti” = “teen”, “bios” = “lewe”. Doodmakers.
Antibiotika is ook nie net één ding nie; dis ’n versameling middele wat gebruik kan word om kieme dood te maak. Nie alle antibiotika werk teen alle kieme nie, want ook nie alle kieme is dieselfde nie. Antibiotika werk teen bakterieë. Bakterieë en virusse is albei tipes kieme, maar verskillend. Virusse is gemiddeld 10 keer kleiner as bakterieë, wat weer 10 keer kleiner is as menslike selle. Virusse – 100 keer kleiner as mensselle – dring jou selle binne, waar hulle jou DNA gebruik om voort te plant. Bakterieë leef meestal buite jou selle. Dit is die eerste rede waarom antibiotika nie teen griep werk nie: jy kan nie al die virusse doodmaak nie, want sommige van die virusse skuil binne jou selle en antibiotika is gemaak om jou eie selle uit te los (Figuur 1).
'n Ander rede is dat virusse baie eenvoudiger is as bakterieë. Hoe groter die sel, hoe komplekser, meestal. Virusse is piepklein en baie eenvoudig. Wat dit beteken, is dat daar baie minder teikens is om op te skiet. Mens kan só daaraan dink: om 'n bakterie te teiken, is soos om 'n bok te skiet op 'n afstand; om 'n virus te skiet, is soos om 'n duif in 'n skare mense te skiet van 'n afstand af sonder om enigiemand te tref. As jy nie omgee om 'n paar mense te tref nie, is die job eintlik maklik. Maar die doel is natuurlik altyd om géén mense te tref nie, wat antivirale medisyne moeilik maak.
Virusse plant binne menslike selle voort en word só beskerm teen baie antibiotika. Bakterieë leef buite menslike selle en is dus bereikbaar vir antibiotika. Bakterieë is rofweg 10 keer kleiner as menslike selle en virusse 100 keer kleiner.
Daarom het ons eenvoudig meer antibiotika as antivirale middels en hoor jy dikwels van antibiotika en amper nooit van antivirale middels nie. Gelukkig het ons baie gesofistikeerde immuunstelsels wat die meeste kieme doodmaak binne 'n paar dae: bakterieë, virusse, alles. Die “mense in die skare” begin mettertyd saamwerk om self die duif te vang en dood te maak.
Die moeilikheid kom by mense met verswakte immuunstelsels en kieme wat so vinnig vermeerder dat jou immuunstelsel nie kan byhou nie. Dis wat dikwels gebeur in hospitale, waar baie mense met verswakte immuunstelsels lê. Jou liggaam het ’n beperkte hoeveelheid energie en hulpbronne. As jy reeds swaarkry – oud of baie jonk is of reeds 'n ander siekte het – dan sukkel jy om die nuwe siekte vinnig genoeg te beveg. Dis gewoonlik waar ons lewensreddende tegnologie van antibiotika régtig shine: om ouers toe te laat om hulle kinders te sien grootword, grootouers om hulle kleinkinders te ontmoet, vriende om mekaar weer te sien. In sulke gevalle, is ons ammunisie beperk, maar waardevol.
Die spesifieke kenmerke van die bakterieë wat ons siek maak, is bepalend in hoe 'n antibiotikum werk. Byvoorbeeld, is daar sekere bakterieë met 'n dik selwand, en ander met 'n dun selwand. Diegene met 'n dik selwand noem ons “Gram-positief” omdat hulle verkleur as ons 'n sekere kleurstof oor hulle gooi. 'n Selwand is soos boombas wat 'n dunner binneste vel ('n membraan) bedek. As jy al House of Grey’s Anatomy gekyk het, dan het jy dalk al van 'n Staph infection gehoor: Staphylococcus aureus (Figuur 2A). Dit is ’n Gram-positiewe bakterie. Neisseria meningitidis, een van die oorsake van breinvliesontsteking, is 'n voorbeeld van ‘n Gram-negatiewe bakterie (Figuur 2B).
Medisyne is dikwels afhanklik van hierdie soort verskille in die struktuur van die bakterieë. Een antibiotikum kan byvoorbeeld die selwand van 'n Gram-positiewe bakterie stukkend maak, terwyl 'n ander oor die buitemembraan van Gram-negatiewe bakterieë kan gaan en die kiem van binne doodmaak (Figuur 2). Daarom bestaan daar antibiotika vir Gram-negatiewe infeksies en antibiotika vir Gram-positiewe infeksies en moet jy eers weet watter een jy het voor jy kan besluit watter pil om te slik. Die moeilikheid is dat bakterieë kan aanpas om hulself teen antibiotika te beskerm.
Gram-positiewe bakterieë het dik selwande wat hulle beskerm, terwyl Gram-negatiewe bakterieë twee membrane het wat 'n baie dun selwand omring (A). Hierdie verskille bepaal ook hoe verskillende antibiotika teen hierdie bakterieë gebruik kan word, byvoorbeeld deur met die selwand van Gram-positiewe bakterieë in te meng, of met die dubbele membraan van Gram-negatiewe bakterieë (B). Let op dat hierdie nie egte antibiotika is nie, maar vereenvoudigde illustrasies om 'n idee te gee.
Vat byvoorbeeld “Antibiotikum 2” uit Figuur 2B. Stel dat die bakterie 'n pomp ontwikkel om die antibiotikum uit te pomp (iets wat, terloops, regtig gebeur). As jy vir genoeg bakterieë genoeg blootstel aan die antibiotikum, sal hulle uiteindelik leer om dit te oorleef. Wat jy kan doen, is om meer medisyne te gee. Dan werk die pompe dalk nie meer vinnig genoeg om hulle te beskerm nie. Die bakterie is dalk weerstandig, maar nie teen sulke hoë dosisse nie. Maar gee genoeg kans, dan maak hulle 'n pomp wat vinniger werk (Figuur 3).
Aanvanklik is 'n bakterie vatbaar vir 'n medisyne (bo links). Gee genoeg tyd en hy leer om dit te oorleef. Byvoorbeeld deur 'n pomp te ontwikkel wat die medisyne uitpomp (bo regs). Dokters kan miskien meer medisyne gee, wat die bakterie nie vinnig genoeg kan uitpomp nie (onder links). Maar, weereens, met genoeg tyd by die hoër dosis, sal die bakterie leer om te oorleef, byvoorbeeld deur 'n sterkte pomp te maak.
'n Soort tussengeval is wat gebeur as mens nie jou kursus antibiotika klaarmaak nie. Deur te stop voor al die kieme dood is, verlaag jy die dosis effe, wat beteken dat meer bakterieë wat net effens meer weerstandig is, oorleef. Hulle pomp is dalk 1.5 keer vinniger in plaas van 2 keer vinniger, so hulle sou doodgaan teen 'n 2x dosis. Nou verlaag jy self die dosis na 1.5x deur die laaste dag se pille oor te slaan, wat 'n populasie kieme met 1.5x sterker pompe oorlaat. Jou immuunstelsel maak jou uiteindelik vanself gesond, maar nie voor jy die effens sterker kieme op iemand anders gaan hoes of spoeg het nie. Die sprong van 1.5x na 2x sterker pompe is minder groot as die sprong van 1x na 2x, so minwetende het jy vir iemand 'n siekte gegee wat vinniger weerstandig raak. 'n 3x sterker dosis is dalk giftig vir mense, en daarmee het jy effektief die medisyne se rakleeftyd beëindig.
Met die jare het dokters meer en meer versigtig geraak met hoe hulle antibiotika voorskryf, ook in Suid-Afrika. Ek onthou toe ek klein was, het die dokter sommer antibiotika voorgeskryf as mens verkoue het. Daar is nie eintlik medisyne teen verkoue nie ('n virus), so die antibiotika was 'n voorkomende maatreël teen “sekondêre infeksies” – 'n tweede kiem wat 'n tweede siekte veroorsaak. Vir 'n mamma of pappa met 'n huilende kind, maak dit natuurlik baie sin. Jy sal álles doen wat jy kan om jou kind te help. Maar die probleem is dat elke dokter wat jammer voel vir elke ouer met 'n huilende kind bakterieë die tyd gee om aan te pas by ons medisyne.
Die idee is dat dokters medisyne hou totdat dit régtig nodig is, byvoorbeeld by erg verswakte pasiënte. Sodoende verminder mens die tyd wat die kieme het om aan te pas sodat ons mense kan help wat nie vanself gesond sal word nie. Die korrekte optrede deur die dokter is eintlik om vas te stel of die siekte vanself sal oorwaai en, indien wel, om vir die pasiënt te sê om vas te byt. Dit druis absoluut in teen ons instink om onsself en ons geliefdes te beskerm met alles wat ons het. Die gevolg van medisyne te maklik voorskryf is egter dat ons ons ammunisieblikkie leegskiet – al ons .303 koeëls gebruik op hase en dan met 'n bek vol tande staan as die bok wat ons eintlik soek, skielik verskyn.
Dit doen ons al vir dekades – in Suid-Afrika en wêreldwyd. Ons gee antibiotika waar dit eintlik nie nodig is nie, wat beteken dat kieme weerstandig raak. Ons piepie dit ook uit, so kieme in die rioolwater kry ook tyd om aan te pas. Weerstandigheid teen antibiotika neem só toe dat medikasie “that we have taken for granted for decades are no longer working”, aldus Prof. Marc Mendelson van die Universiteit van Kaapstad [1]. Selfs ons heel sterkste antibiotika werk nie meer altyd nie [2].
Vir middelklas Suid-Afrikaners is dit miskien verleidelik om die vinger te wys na die staatshospitale waar hoë druk, onbevoegdheid en korrupsie lei tot swak besluite. Maar interessant genoeg het 'n onlangse studie juis gevind dat die neiging om antibiotika te maklik voor te skryf, juis sterker is in die privaatsektor, veral weens “eise van pasiënte en groter finansiële toegang” [3].
Mens kan 'n pasiënt – veral die ouer van 'n pasiënt – nie kwalik neem dat hulle alles wil doen om 'n siekte te genees nie. Maar die uitdaging is nie net vir een pasiënt om gesond te word nie, maar eerder vir ons almal om langer en gesonder te kan leef sonder die vrees dat 'n verskriklike siekte ons of ons geliefdes skielik kan tref.
Gelukkig is ons nie magteloos nie. Daar is goeie bewyse dat verbeterde riglyne en beter opvoeding onder gesondheidswerkers tot meer verantwoordelike praktyke kan lei [3] en selfs dat meer matige antibiotikagebruik daartoe kan lei dat ou middels weer effektief raak [4]. Intussen werk baie wetenskaplikes hard in laboratoriums en hospitale om nuwe en beter medisynes te ontwikkel.
As jy jou deel wil doen, luister maar na wat die dokter sê: drink jou medisyne tot dit op is, moenie sommer druk plaas op jou dokters om sterker medisyne te gee nie. Hê vertroue in jou immuunstelsel, kry 'n dokter wat jy vertrou – verkieslik nie een wat net vra “Wat kan ek vandag vir jou voorskryf?” nie. Beste van alles: oefen en eet gesond. 'n Gesonde liggaam is baie beter toegerus om infeksies te beveg, wat beteken dat ons baie minder maklik siek raak en minder staat hoef te maak op medisyne.
Ons deel almal een antibiotika-ammunisieblikkie en as ek ál die sterkste patrone uitskiet, bly daar niks vir jou oor nie. Om in die bed te bly en self gesond te word in plaas daarvan om jou nefie wat 'n dokter is te bel vir 'n kursus antibiotika, is dalk die beste ding wat jy vir jou kinders en kleinkinders kan doen.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Alle illustrasies gemaak op BioRender.com
1. Davids, N. (2021, April 15). Antibiotic resistance: A faceless pandemic. University of Cape Town News. https://www.news.uct.ac.za/article/-2021-04-15-antibiotic-resistance-a-faceless-pandemic
2. Osei Sekyere, J. (2016). Current state of resistance to antibiotics of last-resort in South Africa: a review from a public health perspective. Frontiers in public health, 4, 209.
3. Ahmed, S., Ahmed, R., Adam, R. Z., & Coetzee, R. (2025). Antimicrobial resistance, antibiotic prescribing practices and antimicrobial stewardship in South Africa: a scoping review. JAC-Antimicrobial Resistance, 7(1), dlaf014.
4. Holmes, A. H., Moore, L. S., Sundsfjord, A., Steinbakk, M., Regmi, S., Karkey, A., ... & Piddock, L. J. (2016). Understanding the mechanisms and drivers of antimicrobial resistance. The Lancet, 387(10014), 176-187.













