SPESIALE VRYSTELLING | Wildtuin Eeufees: Nasionale Diensplig vir Natuurbewaring
Bewaring en beskerming van die meent vereis 'n totale strategie.
Die geskiedenis van wildbewaring in Suid-Afrika is 'n lang en komplekse verhaal, maar dit is fassinerend dat hierdie soort inisiatief nie eensklaps met die stigting van SANParke in 1926 begin het nie.
Reeds in die 1860’s en 1870’s was daar afkondigings in die Staatskoerant van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) deur grondeienaars ten einde vrywillige beskerming van wildlewe op plase en private grondgebied te bevorder. 'n Mens kan dalk insien hoe hierdie soort inisiatiefneming ons moderne gebruike, vervat in omgewingswetgewing en gemik op privaatbeskerming van natuurlewe, as voorouerbeleid voorafgaan. Teen 1926, toe die Kruger Nasionale Park uiteindelik gestig is, het die Unie se staatlike voorganger in die Oos-Transvaal reeds groot dele van die moderne KNP tot die Sabi Natuurreservaat verklaar.
Vandag bestuur SANParke 'n groot aantal nasionale parke oor die land heen, met plekke so mistiek soos Marakele in die Waterberg en die diep oerwoude van Tsitsikamma, tot die imposante Golden Gate in die Oos-Vrystaatse Maluti-berge en Tafelberg haarself.
SANParke, soos elke eietydse staatsorgaan in Suid-Afrika, ervaar sistemiese uitdagings. As iemand wat die voorreg gehad het om neffens “die Krugerpark” (soos baie Afrikaners liefderik na die KNP verwys) groot te word, ook gedurende die hoogty van die skrikwekkende stropery van renosters in die 2000’s en 2010’s, is die agteruitgang in die menslike fasiliteite en bestuurbeheer ongelukkig merkbaar. Dit klink dalk vreemd om die menslike op te haal in 'n skrywe oor natuurbewaring, maar in die era van die mens se kulturele en tegnologiese oorheersing, al is dit net oor 'n fraksie van die natuurgeskiedenis van ons planeet, is diere- en plantwelsyn uiters verbonde aan menslike gedrag.
Die Stellenbosse ekonomiese geskiedenisprofessor, Johan Fourie, skryf hoeka oor hoe diere welvaart verbonde is aan menslike welvaart en welsyn. Tekens en gerugte van verval en agteruitgang van nasionale parke en bewareas lok dus ook die vraag uit, wat doen ons om die verbondenheid tussen die mens en die natuur op verskeie vlakke te herbevestig, op maniere wat volhoubaar en opbouend vir almal is?
Moord in die Ongenaakbare
So hard as wat dit klink, sou die diere en plante van die Pafuri in die noorde van die Krugerpark waarskynlik nie geskeel wees nie deur die opspraakwekkende moord op die toeriste Ernst en Dina Marais in Mei vanjaar, kort voor die KNP se 100ste verjaardag. In die park is die dood as lewegewer en die lewe as voortbrenger van die dood 'n natuurfeit, ongeag ons menslike behoefte om elders die dood tot die spreekwoordelike kerkhof te relegeer.
Maar dit bly 'n wesenlike, vleeslike en simboliese skok vir die derduisende van ons vir wie die Krugerpark en ons land se natuurskoon 'n ironiese stukkie onskuld en veiligheid, weg van die alledaagse brutaliteit van die mensdom onderling beteken het. Soos my pa wrang opgemerk het, nou is daardie stukkie hemel ook daarmee heen.
Vrae duik op oor verswakkende bestuur in 'n bedeling wat geen goeie standaard onversteur laat nie. Die simboliek van moord en doodslag op natuurliefhebbende besoekers, waarskynlik deur Mosambiekse onwettige insypelaars so kort voor die Park se eeufeesviering op 31 Mei vanjaar, lok woede uit teen die agtergrond van heersende moedeloosheid oor die land se veiligheidsituasie en onwettige immigrasie.
Om die haas onbeskermbare te beskerm en die onaantasbare tasbaar te maak, om uit Fiela se Kind van Dalene Matthee te leen, is 'n sonderlinge eienskap van die mens as apekspredator. Vir die rasionele brein is daar sekerlik min sin daarin om miljoene rande en skenkersdollars op helikopters en veldwagters en bewaringshommeltuie te bestee, ten einde 'n stuk grondgebied groter as België vir die stomme wildsbokke en vleisvretendes te beskerm.
Maar Afrika se mistiek en die dwingendheid wat bloei uit die noodsaak om onsself na eeue van hierwees deur die natuur te verstaan, gaan die suiwer rasionele vooraf.
Benut en Bewaar volhoubaar
Een van die Park se grootste uitdagings is oor hoe om die nood van arm omliggende menslike gemeenskappe te versoen met die teenwoordigheid van 'n hele bewaringsgebied, vol potensiaal vir ontginning van waarde in stropery.
Bestaanstropery is iets wat sosiologies dalk nog aangespreek kan word deur verskillende vorms van ingryping en sosiale ingenieurswese. Ekonomiese en maatskaplike geleenthede wat as teenaansporing vir stropery kan dien, sou byvoorbeeld werksgeleenthede, geteikende opvoedingskursusse en ontspanningstoegang insluit. As jy op die voorstoep van die KNP bly sonder die luukse van vakansies daarin, is die minste wat die samelewing kan doen om vir jou en jou kinders die geleentheid te gee om in 'n sin vir rentmeesterskap oor die Krugerpark te deel.
Maar ongelukkig is sosio-ekonomiese ongelykheid nie waar die bedreigings vir ons Parke begin en eindig nie. Stropery van renosterhoring en van groot vleisvreters soos leeus en luiperds, maar ook sekere van die kleiner spesies soos ietermagogs, verkleurmannetjies, skurwejantjies (die gordelakkedis, Ouroborus cataphractus), kleiner katsoorte en etlike spesies plantlewe, word meer gereeld deur komplekse georganiseerde misdaad uitgevoer, wat tot 'n mens se diepste misnoeë, selfs veldwagters in hul sakke het.
Die angs wat gepaard gaan met Juvenalis se eeue oue vraag oor wie die wagters sal bewaar, het ook 'n ander snykant. Dis een ding om die veldwagterskorps te polisieer teen onwelkome beïnvloeding en korrupsie, maar kyk ons genoeg na hulle welsyn? En, vul ons veldwagterswerk genoegsaam aan? Is die blote aanstelling en vergoeding van 'n klomp mense om as veldpolisie op te tree, ondersteun deur jou plaaslike ereveldwagtersorganisasie, werklik genoeg? Of benodig ons 'n meer ineengeskakelde, samelewingswye en “totale strategie” (ek weet dit klink omstrede)?
Miskien is dit waar die gesprekke oor nasionale diens wat elke nou en dan deur 'n politikus opgehaal word as wonderkuur vir 'n reeks probleme in ons land, tog 'n sinvolle valensie verkry. Ek is byvoorbeeld daarvan oortuig dat die feit dat iets openlik en vrylik toegang bied, as deel van die metaforiese “dorpsmeent”, nie genoeg is om die behoorlike langtermyn bewaring daarvan te verseker nie. SANParke sal as’t ware sy eie “mark vir die toekoms” moet skep, en dit kan ons staat doen deur die skanse tussen die burgery en die afgesonderde bewaringsgebiede te vervaag, deur geleenthede vir dienslewering, deelvorming en eienaarskap te skep.
Miskien is dit onprakties, duur, moreel omstrede en onskaalbaar om duisende Suid-Afrikaanse jongmense deur kwasi-militêre opleiding te dwing en soos wafferse Selous Scouts in ons parke los te laat en grens- en bewaringsdiens te doen. 'n Meer kreatiewe, omvangryke, buite-die-boks sin vir nasionale diensverrigting - as iets wat intelligent aangespoor word en jongmense kan help rigting kry in hul naskoolse lewe - kan weer help om ons land se personeeltekorte in die openbare sektor aan te vul, hetsy dit is deur om as hulpveldwagters en bykomende grensdiens-beamptes op te tree, basiese noodhulp te kan uitvoer of om ons passassierstreine te beveilig, met die nodige leiding en toesig. Om maar 'n paar rowwe idees op te noem.
Dit begin ook selfs vroeër, op skoolvlak: Doen ons genoeg om skole en buitemuurse diensverrigters te ondersteun om leerlinge aan die noodsaak van natuurbewaring bloot te stel? Of, oor die algemeen, aan die noodsaak van openbare en nasionale diens? Of reserveer ons bloot te veel van ons openbare sektor vir 'n klas van permanente amptenare wat deur die vakbondwese teen enige sweempie van arbeidsmark-mededinging beskerm word?
Die antwoorde op hierdie vrae is pertinent, nie slegs vir natuurbewaring nie, maar vir of ons land enigsins 'n nasionale langtermynstrategie het om die spreekwoordelike dorpsmeent betekenisvol as die eiendom en verantwoordelikheid van almal te herbevestig.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










Ek haal aan: "Nature conservation is highly rational. From a purely economic and practical standpoint, it safeguards "natural capital" the ecosystems that provide essential goods like clean water, breathable air, fertile soil, and pollination for food. Failing to conserve nature means destroying the foundational resources our survival and economies depend on"
Dus stem ek nie saam dat dit nie rasioneel is nie. Wat "diensplig" in nasionale parke betref is ek skepties. Bewaring geld nie net in parke nie. Suid Afrika is inherent korrup. Selfs ons Justisiestelsel (Madlanga) is skokkend korrup. Hoe en wie gaan so 'n dienspligstelsel bestuur en dissipline handhaaf as feitlik elke Staatsbestuurde instansie korrup is en faal. Gaan ons die volgende generasie renoster en ivoorstropers bemagtig of hoe? Eerder 'n fokus op besoedeling in en rondom ons stede, infrastruktuur soos slaggate herstel met 'n diensplig konsep, as Nasionale Parke.
Frederik, dis puik praktiese voorstelle oor maniere om ons skat van groot waarde vir ons en ons nageslagte behoue te laat bly. Jou artikel sluit mooi aan by Johan Fourie se artikel, waarnatoe jy 'n skakel verskaf het, en neem die makro-ekonomiese voorwaarde wat hy gestel het vir die wildtuin se volhoubare voortbestaan, 'n hele paar stappies verder. Ek herhaal hieronder, vir wat dit werd is, my kommentaar op Johan se artikel, want dit vul hopelik ook ons versameling van strategieë aan wat oorweg moet word om ons uitsonderlik waardevolle nasionale en internasionale bate vir ons en ons nageslagte behoue te laat bly - en vir die internasionale gemeenskap:
"Ons sal inderdaad net daardie ongelooflike nasionale en internasionale natuurbate volhoubaar kan bewaar en bedryf as dit ekonomies volhoubaar is in terme van die groter ekonomie van die land. Van my projekte wat ek in die wildtuin bestuur het as projekbestuurder, het miljoene der miljoene se kapitaalbesteding behels, met die sentrale regering se fondse. Buitefinansiering - eintlik maar net eenvoudig kruis-subsidiëring - sal altyd nodig wees as die kostes om die park te besoek bekostigbaar gehou wil word vir meer as net die meer gegoedes.
Gegewe die Krugerwildtuin se internasionale status en bekendheid, sal dit relatief maklik wees om dit op volgehoue hoë standaard te bedryf. Dit sal dan daardie gebreke waarna jy verwys het, maklik kan aanspreek. Maar ten einde daardie soort toeriste-attraksie op hoë standaard volhoubaar te maak, moet ongeveer twee-derdes van alle inkomste uit toeriste gebruik word vir instanhouding, op standaard. Waarna jy verwys het as fasiliteite wat beter dae geken het, is grootliks omdat historiese kapitaalbesteding bloot deel van die lopende kostes van die bedryf geword het. Kapitaal word dan vir alle praktiese doeleindes konsumpsie, wat stukkie vir stukkie opgebruik word en nie vervang kan word nie.
Dis ongelukkig deel van die wildtuin se verhaal, want die sentrale regering se eksterne hulp het minder en minder geword in reële terme oor tyd, weens die land se swak ekonomiese groei. Massiewe agterstande het dus oor tyd opgebou.
Jou argument is dus honderd persent korrek, dat so 'n bate net volhoubaar onderhou en bedryf kan word as die groter ekonomie genoeg inkomste genereer wat in die wildtuin aangewend kan word.
Die alternatief is natuurlik die Botswana-model. Privatiseer en verseker daardeur dat inkomstes uitgawes gaan oorskry en aldus genoeg gaan genereer vir onderhoud en vervanging op die standaard wat gegoede toeriste kan bekostig en op aandring.
Ek het persoonlik die gevoel dat 'n hibriede-oplossing die beste is, wat reeds tot 'n groot mate op natuurlike wyse onstaan het weens ekonomiese kragte. Sabie-Sabie en Sabie-Sand, om maar slegs twee privaatwildtuine binne-in die Krugerwildtuin te noem, is voorbeelde. Daar is ook 'n hele klomp konsessies- en grondrestitusie-voorbeelde waar die stamme wat suksesvolle grondeise ingestel het, geprivatiseerde toeristekampe bedryf op hoë standaard, maar met gepaadgaande hoë kostes vir die toeriste wat dit kan bekostig.
Die res van die Krugerwildtuin sal dan hopelik met kruissubsidies vanuit 'n groeiende staatskas befonds bly, om dit vir gewone landsburgers ook relatief bekostigbaar te hou. Maar dan moet die ekonomie groei..."