Onegte debatvertonings: "Stop die snert!"
Die opvoerige debat oor Kirk getuig van slegte trou.
Dit was 'n lang, lelike en gevaarlike week in die Amerikaanse politiek, en 'n “hot take” is die laaste ding wat nodig is in die reeds oorverhitte atmosfeer van die oomblik. Maar ek wil kyk na een van die mees blatante slegte “takes” wat hierdie week opgeduik het, naamlik Ezra Klein se veel (en tereg) bespotte opiniestuk-huldeblyk aan die oorlede Charlie Kirk.
Die meeste lesers het waarskynlik nie veel verder as die opskrif gelees nie, maar jy hoef regtig nie, want die hele opstel was gebou op 'n kategoriefout so indrukwekkend dat dit erkenning as 'n eie kunsvorm verdien. Klein, wat as die mees invloedryke liberale openbare intellektueel na vore gekom het, het Kirk se swaar verhoogbestuurde inhoudskeppingspyplyn verwar met die moeilike, glanslose ambag van demokratiese betrokkenheid. Die fout was nie net dat Klein vir Kirk se motiewe verkeerd beoordeel het nie (ek gaan nie die walglike ideologiese inhoud van Kirk se politiek bespreek nie), dit was dat hy nie onderskei het tussen egtheid en onegtheid nie, tussen praktyke wat inspanning, nederigheid en risiko verg, en opvoerigheid wat net die uiterlike kenmerke leen.
Die Kirk-mediamasjien
Kom ons praat reguit oor wat Charlie Kirk se vorm van “politiek” behels het. Die doel was nooit opregte betrokkenheid met teenstanders nie — ’n onbetwisbare grondslag van demokratiese politiek. Dit het altyd gegaan oor inhoudskepping vir sy mediamasjien. Hy het nie met ingeligte teenstanders in 'n gees van ondersoek of oortuiging betrokke geraak nie, maar eerder verkies om te bots met naïewe voorgraadse studente wat hy dom kon laat lyk, om sosiale media-klankgrepe te skep wat onder sy aanhangers sou versprei. As inhoudskeppingsmasjien wat die vooroordele van sy basis bevestig en versterk, was sy “praktyk” ongetwyfeld briljant — selfs al het hy soms self oningelig voorgekom.
Maar die feit dat Klein hierdie vorm van politieke praktyk as “die regte manier” beskou, is vreemd, veral omdat Klein self dikwels demonstreer hoe egte dialoog lyk. Neem byvoorbeeld sy gesprek verlede maand met Yoram Hazony, die brein agter die neo-reaksionêre “nasionale konserwatisme”-beweging. Daardie podsending was werklik 'n model van opregte dialoog tussen twee mense wat skerp polities verskil. Dit het stadig ontvou, soms lomp, met Klein wat ernstig betrokke was by iemand wat net so polities en intellektueel ervare is soos hyself. Dit was politiek “op die regte manier” beoefen — nie omdat Hazony Klein oortuig het of andersom nie, maar omdat albei mans in die gesprek demokratiese kognitiewe deugde beliggaam het: probeer verstaan voordat jy van die hand wys, en aannames ondersoek voordat jy veroordeel. Albei het 'n risiko geneem om mekaar as gelykes te betrek. Dit het nie net gegaan oor om inhoud te skep om voorafgaande oortuigings te versterk nie.
Meeste van wat Kirk gelewer het, was 'n nabootsing van sodanige dialoog. Sy “debatte” het die oppervlak-kenmerke van gesprek gehad — mikrofone, argumente oor politiek, 'n sogenaamde botsing van idees — maar geen substansie nie. Die doel was nie oortuiging nie, maar die skep van inhoud wat kon versprei. Alles oor hierdie geleenthede, van die swak teenstanders tot die kamera-hoeke, was gechoreografeer, nie om begrip te bevorder nie, maar om Kirk se oorheersingsritueel uit te voer. Dit het soos 'n gesprek of debat gelyk, maar die funksie en doel was fundamenteel opvoerig en teatraal. Om dit te verwar met opregte demokratiese dialoog is soos om 'n kuns-appel vir middagete aan te sien: oppervlakkig oortuigend, maar voedingloos.
Kirk se “praktyk van politiek” is deel van 'n groter patroon: die ineenstorting van goeie trou, opregtheid en egtheid — wat ons, in Cory Doctorow se terme, die “enbullshitification” oftewel “versnertering” van alles kan noem.
Eg praktiese menslike handelinge is moeilik, duur en soms gevaarlik. Hulle verdien respek presies weens die risiko’s. Hul imitasies is maklik, goedkoop en vleiend. Hulle leen die estetika terwyl hulle die substansie vermy. Soms is die nabootsing blatante leuens, maar dikwels is dit, soos Harry Frankfurt se beroemde onderskeid stel, gewoon bullshit oftewel snert. Die leuenaar gee ten minste om oor die waarheid: hy wil dit verberg. Die “bullshitter” is onverskillig: waarheid is irrelevant, wat saak maak is net die opvoerige effek van sy woorde. Kirk se debatte was presies in hierdie sin snert. Of sy teenstander 'n goeie argument gehad het, en of Kirk se reaksie akkuraat was, was irrelevant. Die enigste maatstaf wat getel het, was of dit 'n selektief-geredigeerde clip of snit kon oplewer wat versprei. Al is Frankfurt se beskrywing reeds in 1986 geskryf, lank voor die kommersiële internet bestaan het, kon dit vir sosiale media-politiek bedoel gewees het: ’n hele ekonomie wat nie op waarheid of valsheid gebou is nie, maar op performatiewe beheersing van die aandag-ekonomie.
Kwasi-staatlikheid as voorbeeld
Oorweeg hierdie onderskeid ten opsigte van regerings. James Scott het eenmaal geargumenteer dat die omskrywing van 'n moderne regering is dat dit “sien soos 'n staat”: dit bou 'n masjinerie van belastingheffing, sensusneming en burokratiese opname wat daarop gemik is om die samelewing vir die heersers leesbaar te maak.
Hierdie leesbaarheid kan onderdrukkend wees, maar dit is werklik: dit skep die kapasiteit om te regeer. Daarteenoor het Steven Pierce daarop gewys dat baie postkoloniale state bloot “lyk soos 'n staat” sonder om werklik een te wees in Scott se sin. Hulle vertoon vlae, uniforms en kolonnade-geboue, maar ontbreek die vermoë om belasting in te vorder of dienste te lewer. Padblokkades spruit oral op, beman deur mans in uniform met gewere. Die estetika is dié van gesag, maar die funksie is afpersing. Die padblokkade beskerm nie; dit buit uit. En tog duur die vertoning voort, omdat dit winsgewend is vir die opvoerders. Die waarheid — dat regering afwesig is — word irrelevant. Hier weer is die leuen minder belangrik as die snert. Die padblokkade maak nie eens asof dit veiligheid afdwing nie; dit is totaal onverskillig teenoor veiligheid. Wat saak maak is dat dit soos 'n staat lyk — en dat verbygangers betaal. Die staat as opvoerige snert.
Wetenskap sonder nederigheid
Die wetenskap het ook sy nonsens-tweeling: sogenaamde pseudowetenskap. Egte wetenskaplike werk is uitputtend: eksperimente misluk, hipoteses stort ineen, keurders rol hul oë leedvermakerig, loopbane stagneer.
Bo alles aanvaar wetenskap die moontlikheid dat dit verkeerd kan wees. Daardie nederigheid is wat dit betroubaar maak. Pseudowetenskap kan so 'n nederigheid nie aanvaar nie. Dit hunker na die aansien van wetenskap en neem die uiterlike kenmerke daarvan aan — die wit jas, die jargon, die grafieke — sonder om die dissipline daarvan te aanvaar. Die resultaat is 'n faksimilee: vaktydskrifte wat eweknie-evaluering naboots maar nooit manuskripte verwerp solank dit gekoesterde oortuigings bevestig nie, konferensies waar sleggeklede mense vervelige referate voorlees, wetenskaptoeligters wat boodskappe aan 'n swak ingeligte gehoor oordra. Wat saak maak is dat dit soos wetenskap lyk, dat dit 'n gehoor gerusstel, dat dit bestaande oortuigings vlei. Wetenskap is ondersoek. Pseudowetenskap is vertoning. Egtheid lê in die bereidwilligheid om verkeerd bewys te word. Onegtheid lê in die aanneming van die estetika van strengheid sonder die aanvaarding van die risiko daarvan.
Namaaksel van luukse handelsmerke doen dieselfde in die taal van die handel. 'n Louis Vuitton-sak wat by 'n straatstalletjie in Bangkok gekoop word, kan amper ononderskeibaar van die regte ding lyk. Die patroon is reg, die logo lok, die aura van eksklusiwiteit skitter. Maar dit is nie die produk van duur vakmanskap, volhoubare materiale of dekades se opgeboude handelsmerkwaarde nie. Dit is 'n simulakrum, ontwerp nie om die hoë gehalte funksie van 'n regte luukseproduk te verrig nie, maar eerder om die voorkoms van een te sein om maatskaplik-opvoerige redes. Die koper is dikwels deel van die klug: hulle wil die sosiale erkenning van die logo hê sonder om die premie te betaal. Weereens, dit is nie altyd 'n leuen nie, dit is nonsens. Of die handsak waar is, is irrelevant; wat saak maak is dat dit goedkoop is en “waar genoeg” lyk. Die aansien van die egte handelsmerk word deur die namaaksel geleen terwyl geen van die gehalte wat dit onderlê, voortgebring word nie. Egte handelsmerke versamel legitimiteit oor jare van belegging; namaakprodusente ry verniet mee deur net die voorkoms te verkoop. Egtheid lê hier in die koste van produksie en onegtheid in die kortpad.
Hierdie voorbeelde rym almal. Egte praktyke is stadig, duur en soms gevaarlik: Dialoog verg nederigheid, regering verg kapasiteit, wetenskap verg dissipline, en handelsmerke verg belegging. Onegte praktyke is vinnig, goedkoop en lonend. Hulle produseer die voorkoms sonder die werk, onverskillig of dit eg is, solank die effek oortuigend genoeg is. Die intellektuele gelyke van leë kalorieë.
Oorheersing as kamma-dialoog
Die sosiale koste van al hierdie praktyke is nie net dat die nabootsers die mense wat die regte werk doen, kul nie, maar dieper nog, dat hulle die hele kategorie van die werklike ondermyn.
Kirk se pseudo-debatte het gehore geleer om oorheersingsvertonings as demokratiese dialoog te misken. Regerings wat net “lyk soos” state normaliseer rowery as regering. Pseudowetenskap vertroebel die gesag van regte wetenskap, wat kiesers en pasiënte laat twyfel of kundigheid ooit bestaan. Namaaksels hol die waarde van handelsmerke uit en verswak die hele idee van gehalte. In elke geval knaag die parasiet aan die gasheer. Frankfurt se waarskuwing oor nonsens is toepaslik: sodra onverskilligheid teenoor waarheid wydverspreid raak, verloor die kategorie van waarheid self betekenis. Die namaaksel word “goed genoeg.” Die werklike word gedevalueer.
Jean-Paul Sartre se onderskeid tussen goeie en slegte trou help om te verduidelik waarom dit voortduur. Goeie trou vereis erkenning van wat jy werklik doen. Dit eis dat dialoog as riskant erken word, regering as moeilik, wetenskap as vernederend, handelsmerkbou as duur. Slegte trou is selfmisleiding: om binne die nabootsing te leef asof dit die werklike ding is. Kirk het waarskynlik geglo dat hy “politiek op die regte manier beoefen.” Die uniformdraende rower by 'n padblokkade mag glo hy regeer. Die pseudowetenskaplike mag beweer hy stel net vrae. Die koper van die namaaksak mag aandring dat dit “net so goed” is. Dit is nie suiwer bedrog nie, dit is onegte praktyke wat in slegte trou uitgevoer word, min-of-meer geglo deur hul beoefenaars self. Dít is hoekom dit taai is: dit is nie net bedrog teenoor ander nie, maar ook teenoor die Self.
Klein se fout was om Kirk se slegte-trou-vertonings as goeie-trou-praktyk te behandel. Maar die onderskeid maak saak. 'n Samelewing wat nie die verskil kan tref tussen wat eg en oneg is, tussen waarheid en snert, tussen goeie trou en slegte trou nie, is 'n samelewing waarin legitimiteit weggly. Die klip is nie die gesprek nie. Die padblokkade is nie die staat nie. Die grafiek is nie die wetenskap nie. Die logo is nie die handelsmerk nie.
Die egte artikel is duur, daarom verdien dit respek. Die onegte weergawe is goedkoop, daarom versprei dit. Die vraag is of ons nog omgee oor die verskil — of ons tevrede is om tussen namaaksels te leef en dit die werklikheid te noem.
Nils Gilman is ’n geskiedkundige, toekomskundige en skrywer wat tans dien as hoofbedryfbeampte en uitvoerende adjunkpresident van die Berggruen-instituut, ’n dinkskrum in Los Angeles. Hy het ’n BA, ’n MA en ’n doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, behaal. Van 2014 tot 2017 was hy medekanselier by UC Berkeley. Hierdie artikel is met vergunning vertaal vanaf sy Substack, Small Precautions.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.