Ons Wag op die Swart Spartacus
Swart waardigheid is afhanklik van 'n suksesvolle swart-geleide staat.
Suid-Afrikaanse leerlinge wat vir universiteitstoelating meeding, moet sogenaamde “gestremdheidspunte” in ag neem. Jongmense gebruik dié begrip informeel wanneer hulle hul kanse op toelating tot verkose tersiêre instellings bespreek, waar “gestremde” aansoekers beloon word.
Swart Afrikane kry die meeste “gestremdheidspunte”, terwyl bruin mense en vroue bykomende punte toegeken word. Dit is dus geen verrassing dat fisies gestremdes en diegene met sekere verstandelike toestande ook “gestremdheidspunte” kan opeis nie. Tog is dit duidelik dat toegewings vir veral sielkundige afwykings vatbaar is vir misbruik.
In 'n uitstekende Substack-stuk “The Spectrum”: How Autism Was Hijacked By Narcissists”, bespreek Hannah Spier die ideologiese kaping van psigiatrie deur kulturele sentiment. Omdat die sentiment van ons tyd linksgesind oftewel gelykheid-opeisend is, is dit lonend om valslik 'n slagofferstatus te eis.
Spier wys daarop dat in 1943, toe outisme vir die eerste keer omskryf is, slegs vyf uit 10 000 kinders as outisties gediagnoseer is. Vandag is dit een uit 36. Soos sy dit stel is die diagnose nou 'n ereteken. Dit beteken dat jy sosiaal vreemd maar intellektueel verhewe is, emosioneel afgestomp maar op 'n uitdagende en innemende manier.
Volgens Spier het opeenvolgende wysigings van die DSM (Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesversteurings) die omskrywing van outisme so uitgebrei dat dit vandag toegepas kan word op kinders én volwassenes met “sosiale kommunikasieprobleme en beperkende, herhalende gedragspatrone”. Met ander woorde, byna enigiemand. Soos Spier uitwys, het dié diagnostiese kategorie 'n swartkolk geword wat mense intrek wat geen kliniese ooreenkoms toon nie, en onderskeid tussen diagnoses laat verdwyn. Dan praat ons nog nie eers van die sosiale media-aangedrewe woke narsisme wat sigbaar is in die vorm van ontelbare ouerblogs wat hul en hul kinders se reis met outisme uiteensit nie, soos Spier dit stel.
Danksy die huidige “toksiese kultus van sentimentaliteit”1 het ons nou polities korrekte woorde om geestesversteurde mense te beskryf. Die wat nie “neurodivers” is nie, is die normies. Vervelige mense wat waarskynlik ook fasciste is. Nietzsche het hierdie moderne, omgekeerde manier van dink voorsien. Hy het dit aan die Christendom toegeskryf, wat hy 'n “slawe-opstand in moraliteit” genoem het, waar die wraaksugtige moraliteit van die swakkes (vyandigheid, afguns en minderwaardigheid) dié van die magtiges, glorierykes en selfversekerdes teenstaan. Byvoorbeeld: Queers for Palestine (swak en wraaksugtig) teenoor Israel (magtig en selfversekerd).
Maar Nietzsche het nie heeltemal voorsien hoe elites hierdie slawe-moraliteit vir hul eie doeleindes sou kaap nie. Dit is duidelik in Suid-Afrika, waar ons miljardêr-president van die 31 jaar van ANC-bewind, met groot oë kan vra: “Waarom leef soveel mense in uiterste armoede terwyl so min in weelde leef?”2
Van al die sondes van die slagoffer/pseudogestremdheidsbeweging (oftewel woke) is die grootste hoe dit die maghebbers aanspoor om hulpeloosheid voor te hou. 'n Vlugtige lees van die euwels van die 20ste eeu, en die unieke misdaad teen die Jode, wys hoe gevaarlik dit is wanneer magtiges hulself in selfbejammering hul. So is dit ook in Suid-Afrika, waar die ras-georiënteerdes onder ons swart elite dit moeilik maak om 'n funksionele staat te onderhou. Hulle moet eerder hul rykdom deur plundering in stand hou en hul aansien deur die rol van verpersoonlikde onderdruktes wat glo bestem is om “witheid” te weerstaan.
In haar boek What if There Were No Whites in South Africa? (2015) is die joernalis Ferial Haffajee verbaas dat soveel Afrikane voel bevryding is 'n hersenskim en dat die fundamenteel wit-oorheersde aard van die staat min verander het. Soos sy dit stel: “I find our narrative of black disempowerment by whites, of black domination by whites, of black marginalization by whites, so hard to fathom it makes me feel like I am going stark raving mad.”
Ek ken die gevoel.
In haar artikel oor outisme kritiseer Spier aktivistiese groepe soos die Autistic Self Advocacy Network, wat DSM-wysigings voorstaan wat gewone volwassenes toelaat om narsisties en selfregverdigend hulself as outisties te verklaar. Sy voer aan dat sulke aktiviste werklike outiste skade berokken het omdat hulle almal volhou dat outisme nie 'n gestremdheid is wat behandel moet word nie, maar 'n unieke perspektief wat erken moet word. Sommige aktiviste het selfs so ver gegaan om dit 'n superkrag te noem.
Hierdie tipe benadering is bespot in die Engelse komedieprogram Not the Nine O’Clock News in die “Stout Debate”-skets. Tydens 'n paneelbespreking oor hoe om meer empatie vir oorgewig mense te bevorder, onderbreek Ron Miller (Rowan Atkinson in 'n oorgroot pak) van die vet-aktivistegroep FLAB (Fat Louts Against Bikinis) die paneel en eis 'n oorgewig Eerste Minister, meer vetsug wat in die media uitgebeeld word, die verbanning van die woord “ample”, en die dwangvoeding van maer mense!
Eerder as om oorgewig mense te help om na 'n samelewing te trek waar dit “cool” is om vet te wees, is daar eenvoudig geen manier om hulle waardigheid te gee in 'n kultuur wat jeugdigheid en slankheid verheerlik nie. Dit is waarom die skets so belaglik snaaks was. Die slawe-opstand in moraliteit is maklik om te bespot, maar werklike slawe-opstande is dodelik ernstig.
Van 73 tot 71 v.C. het die gladiator en voormalige slaaf Spartacus 'n rebellie teen die Romeinse Republiek gelei in die Derde Slaweoorlog. Hierdie oorlog het 30 jaar na die Tweede Slaweoorlog gevolg, wat weer 30 jaar na die Eerste gekom het. Die Spartacus-opstand, of Gladiator-oorlog soos dit ook genoem is, was naby daaraan om die wêreld se grootste voor-moderne republiek omver te werp.
So 30 jaar gelede het die Republiek van Suid-Afrika, 'n wit-oorheerserstaat wat daarvan beskuldig is dat dit swart mense skaars beter as slawe behandel het, genoegsaam deur Christelike moraliteit beïnvloed om sy mag te kon verloor. Dit met die wete dat diegene wat eeue lank aan hulle onderdanig was, nou die leisels sou oorneem onder 'n liberale grondwet 'n moderne bloudruk vir slawe-moraliteit is.
In ooreenstemming met hierdie slawe-moraliteit-bloudruk speel ons politieke leiers die speletjie saam met die bloudruk van linkse wokeïsme, reg tot by die plus-teken. In sy onlangse openingsrede by die Nasionale Dialoog het Ramaphosa nie net retoriese vrae oor swart armoede gevra nie, maar ook: “Waarom, as ons 'n Handves van Regte het, word LGBTQI+ mense steeds gediskrimineer, gestigmatiseer en geteister?”
Deur voor te gee dat hy glo in slawe-moraliteit, het Ramaphosa net so absurd geword soos Rowan Atkinson in 'n oorgroot pak wat oor vetregte skree. Ramaphosa, sy party en die swart elite in die algemeen gee in werklikheid die meeste om oor swart waardigheid – iets wat slawe-moraliteit nie kan herstel nie. Daar is net een oplossing vir die swart waardigheidskrisis, en dit is geopolitieke sukses. Soos die Nigeriese joernalis Chigozie Obioma dit stel:
“Great men like Marcus Garvey, W.E.B. Du Bois, and Malcolm X all knew that a people is only respected when it has a nation worthy of respect. A man who lives in a shack cannot expect to be treated with respect at a palace. They knew that for us to reclaim power we must first reclaim dignity and that this comes through the construction of a solid black state with a demonstrable level of development and prosperity – and which can stand as a powerful advocate for the global black. Today, no such state exists.”3
Geen hoeveelheid slawe-moraliteit – geen gekla oor “witheid” – sal die gekoesterde doel van waardigheid vir Afrikane bring nie. Slegs 'n lewensvatbare Afrikastaat kan dit doen. Volgens Obioma se logika is dit nie rassisme wat onwaardigheid veroorsaak nie, maar onwaardigheid wat rassisme veroorsaak: die wêreldwye waardigheidstekort is die kernrede waarom swart mense sinoniem gebly het met die vernederende ervaring van rassisme.
Die rolprent Black Panther (2018) spreek die waardigheidstekort via fiksie aan. Die rolprent gaan oor Wakanda, 'n super-ontwikkelde Suidelike Afrikastaat wat voorgee om agterlik te wees uit vrees vir ongewenste aandag. Maar Black Panther is deel van die slawe-moraliteit probleem. Daar is geen Wakanda in die werklike wêreld nie. Om voor te gee dat swart mense, soos outistiese mense, geheime superhelde is, help nie die regte outiste of gewone swart mense nie.
Elke gepolitiseerde swartmens weet dit is beter om Spartacus te wees – 'n werklike rewolusionêre leier wat op gelyke voet teen sy onderdrukker geveg het – as om 'n fiktiewe superheld te wees, of 'n woke-superheld soos Ibram X. Kendi.
In die harde wêreld van geopolitiek en globale handel kry jy geen punte omdat jy gestremd is nie, maak nie saak hoe woke die wêreld raak nie. Suid-Afrika gaan nie 'n “soliede swart staat” bereik nie. Dit is 'n tragedie nie net vir swart Suid-Afrikaners nie, maar vir swartmense wêreldwyd. Tog is dit 'n geleentheid vir die minderhede hier, wat bekommerd is dat Suid-Afrika soos Zimbabwe gaan word. Moenie vrees nie, en gaan voort met julle enklawelewe, gerus in die wete dat 'n swart Spartacus nie gou die hekke gaan storm nie. Hoekom nie? Want die swart Spartacusse is binne die enklawe ook.4
Hierdie artikel is met vergunning van Angus Douglas vertaal en aangepas. Besoek sy Substack Saving South Africa hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Titel van ’n boek deur Theodore Dalrymple
Uit President Ramaphosa se openingsrede by die Nasionale Dialoog op 15 Augustus 2025.
Obioma, C., 2016. Why Black People Must Help Africa Develop. [Aanlyn] Beskikbaar by: https://foreignpolicy.com/2016/08/09/why-black- people-must-help-africa-develop-racism-pan-africanism/
Algemene nota: sommige dele van hierdie artikel is geneem uit my boek: South Africa: In the Name of the Father